Banteay Srei

Banteay Srei
Koördinate 13°35′56″N 103°57′46″O / 13.59889°N 103.96278°O / 13.59889; 103.96278
Plaaslike naam  ប្រាសាទបន្ទាយស្រី
Land Vlag van Kambodja Kambodja
Soort Tempel
Streek Angkor
Geskiedenis
Bouer Yajnavaraha
Gestig 967 (ingewy)
Tydperk Middeleeue
Kulture Khmer-ryk

Banteay Srei of Banteay Srey (Khmer: ប្រាសាទបន្ទាយស្រី) is ’n 10de-eeuse tempel uit die Khmer-ryk in Angkor, Kambodja. Dit is gewy aan die Hindoegod Shiva en is naby die heuwel Phnom Dei, 25 km noordoos van die hoofgroep tempels van die Middeleeuse stede Yasodharapura en Angkor Thom.[1]

Die terrein

[wysig | wysig bron]
Banteay Srei is bekend vir die opgesmuktheid van sy graveerwerk, soos hierdie mitiese figuur.

Banteay Srei is grotendeels gebou van rooi sandsteen, ’n medium wat hom leen tot die ryklik versierde muurgraveerwerk wat vandag nog sigbaar is. Die geboue self is klein, wat ongewoon is in die lig van die groot konstruksies van Angkor. Dit is daarom ’n groot trekpleister onder toeriste en word algemeen beskryf as "die juweel van Khmer-kuns".[2]

Die terrein bestaan uit drie konsentriese, reghoekige ingeslote areas wat op ’n oos-wes-as gebou is. ’n Paadjie loop van ’n buitenste toringhek na die derde, buitenste insluiting. Die binneste insluiting bevat die heiligdom en twee geboue wat biblioteke genoem word.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die tempel is op 22 April 967 ingewy[3] en was die eerste tempel in Angkor wat nie deur ’n koning laat bou is nie. Die howelinge Vishnukumara en Yajnavaraha word as die bouers erken.[4]:367 Laasgenoemde was die kleinseun van koning Harsavarman I,[5]:117 ’n geleerde en filantroop wat mense gehelp het wat gebuk gegaan het onder siektes, onregverdigheid of armoede.[6] Die tempel was hoofsaaklik gewy aan die Hindoegod Shiva. Dit lyk egter of die geboue suid van die sentrale oos-wes-as aan Shiva gewy was en dié noord van die as aan Vishnu.

Die tempel se moderne naam, Banteay Srei – vesting van die vroue of vesting van skoonheid – verwys moontlik na die opgesmuktheid van die basreliëfgraveerwerk aan die mure en die klein dimensies van die geboue self.[7]

In die 11de eeu is die tempel vergroot en herbou.[8]:96 Die een of ander tyd het die koning beheer daaroor gekry en weer aan Shiva gewy.[9]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Higham, The Civilization of Angkor, p.79.
  2. Glaize, The Monuments of the Angkor Group p. 183.
  3. Date in stansa XLIV van die inskripsie
  4. Higham, C., 2014, Early Mainland Southeast Asia, Bangkok: River Books Co., Ltd., ISBN 9786167339443
  5. Coedès, George (1968). Walter F. Vella (red.). The Indianized States of Southeast Asia. vert. Susan Brown Cowing. University of Hawaii Press. ISBN 978-0-8248-0368-1.
  6. Higham, The Civilization of Angkor, p.80.
  7. Freeman en Jacques, Ancient Angkor p. 206.
  8. Higham, C., 2001, The Civilization of Angkor, London: Weidenfeld & Nicolson, ISBN 9781842125847
  9. Cœdès & Dupont, 1943, pp. 141-150; Higham, The Civilization of Angkor, p. 114.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Cœdès, George / Dupont, Pierre: «Les stèles de Sdŏk Kăk Thoṃ, Phnoṃ Sandak et Práḥ Vihằr», BEFEO XLIII, 1943, pp. 56–154.
  • Freeman, Michael; Jacques, Claude (2003). Ancient Angkor (Sagteband). Bangkok: River Books. ISBN 974-8225-27-5.
  • Glaize, Maurice (2003-weergawe van die Engelse vertaling van die Franse vierde uitgawe van 1993). The Monuments of the Angkor Group. Besoek op 14 Julie 2005.
  • Charles Higham (2001). The Civilization of Angkor. Phoenix. ISBN 1-84212-584-2.
  • Inscriptions du Cambodge Éditées et traduites par G[eorge] Cœdès. Vol. I, Hanoi 1937

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

13°35′56″N 103°57′46″O / 13.59889°N 103.96278°O / 13.59889; 103.96278