Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Duitsland |
Deelstaat | Berlyn |
Koördinate | 52°31′N 13°24′O / 52.517°N 13.400°O |
Administratiewe verdeling | 12 stadsdistrikte |
Stigting | 1237 |
Stadstatus | 1240 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 891,12 vk km[1] |
Hoogte bo seevlak | 29,9–115 m[2] |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Desember 2020) | 3 769 962[3] |
- Bevolkingsdigtheid | 4 108/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 6 210 574[4][5] |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 8,9 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | −0,6 / 18,5 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 581 mm |
Burgemeester | Kai Wegner (CDU) |
Amptelike webwerf | berlin.de |
Berlyn (Duits: Berlin, [bɛɐ̯ˈliːn], ) is die hoofstad van Duitsland en is die grootste stad in dié land wat sowel oppervlakte as bevolking betref. Die stad het 'n bevolking van 3,77 miljoen van binne die stadsgrense en sowat 6,2 miljoen in die metropolitaanse gebied wat onder meer Potsdam insluit. Die getal buitelandse inwoners het op 31 Desember 2020 789 076 beloop (oftewel 20,9 persent van die land se totale bevolking). Die grootste Turks- en Russiessprekende gemeenskappe word hier in Europa aangetref. Berlyn is tans die grootste stad in die Europese Unie met een van die grootste metropolitaanse gebiede. Administratief bestaan Berlyn tans uit twaalf distrikte wat verder verdeel word in 96 stadsdele.
Berlyn is in die noordooste van Duitsland geleë en word in sy geheel omring deur die deelstaat Brandenburg. Die stad het in die verloop van sy geskiedenis meermale as die hoofstad van Duitse state soos die Keurvorstedom Brandenburg (1417 tot 1618), Brandenburg-Pruise (1618 tot 1701), die Koninkryk Pruise (1701 tot 1918), die Duitse Keiserryk (1871 tot 1918), die Republiek van Weimar (1918/1919 tot 1933), Nazi-Duitsland (1933 tot 1945) en die Duitse Demokratiese Republiek (DDR, 1949 tot 1990) gedien. Met die ontbinding van die ou provinsie, Pruise, deur die geallieerde magte in 1947, het Berlyn 'n afsonderlike deelstaat geword.
Ná die hereniging van die twee Duitse state op 3 Oktober 1990 het Berlyn sy ou funksie as hoofstad van die hele Duitsland herwin en dien sedert 1999 ook weer as regerings- en parlementsetel. Hoewel die stad sy vroeëre rol as ekonomiese en finansiële spilpunt van Duitsland lankal kwytgeraak en aan Wes-Duitse metropole soos Frankfurt am Main afgestaan het, is dit as regeringsetel van Europa se voorste ekonomie een van die invloedrykste hoofstede van die Europese Unie en het veral, danksy sy ryk kulturele erfenis, tot een van die gewildste toeristebestemmings in Europa ontwikkel. Saam met die val van die Ystergordyn het Berlyn ook sy tradisionele rol as Europese vervoerspilpunt hervat.
Berlyn se aanspraak op wêreldstadstatus is in Duitsland nie onomstrede nie,[6] maar sy kulturele en politieke lewe, sy medialandskap en wetenskapsbedryf is nogtans van wêreldformaat.[7][8][9] Die stad se sportgebeurtenisse, tersiêre onderwys- en navorsingsinstellings, museums, boukuns, feeste, naglewe en veelvuldige leefstyle geniet wêreldfaam.[10] Teen die begin van die 21ste eeu het Berlyn in 'n trekpleister vir jong entrepreneurs, kreatiewes en immigrante ontwikkel.[11] Berlyn is die enigste Duitse stad wat drie Unesco-wêrelderfenisgebiede huisves: Paleise en tuine van Potsdam en Berlyn (1990, saam met Potsdam[12]), die Museumsinsel (1999[13]) en Modernistiese Woonbuurte in Berlyn (2008[14]).
Die stadsnaam van Berlyn, wat in die Hoog-Middeleeue gestig is, het sy oorsprong in die Oud-Polabiese woord Birlin of Berlin wat "plek in 'n moerasagtige gebied" beteken. In die stadsdeel Neu-Hohenschönhausen is daar 'n meer met die naam Berl. Die naam bestaan uit die Oud-Polabiese birl-, berl- "moeras", "vlei" en die Slawiese agtervoegsel vir plekname -in.[15] Die verwysing in dokumente met 'n artikel (der Berlin, "die Berlyn") dui op 'n veldnaam wat deur die stadstigters oorgeneem is.[16][17] Soos al die Duitse plekname met 'n Slawiese oorsprong in Noordoos-Sentraal-Europa wat op -in eindig (Schwerin, Stettin, Eutin, Templin, Küstrin, ens.) word ook Berlyn op die laaste lettergreep beklemtoon.
Die naam Kölln is glo oorgeneem van die stad Köln langs die Ryn wat sy oorsprong het in Latyn colonia en "geplante stad in 'n verowerde gebied", "kolonie" beteken. 'n Ontlening van 'n Oud-Polabiese naam *kol’no wat afgelei is van kol, "paal", kan egter nie uitgesluit word nie.[16]
Die stadsnaam Berlyn is nóg aan die beweerde stadstigter, Albrecht die Beer, nóg van die Berlynse wapendier ontleen. Dit is egter 'n "sprekende wapen" wat die stadsnaam in 'n Duitse vertolking probeer daarstel. Aldus is die wapendier van die stadsnaam ontleen, nie andersom nie.[18]
Van Berlyn se twaalf distrikte het vyf 'n naam met 'n Slawiese oorsprong: Pankow, Steglitz-Zehlendorf, Marzahn-Hellersdorf, Treptow-Köpenick en Spandau. Van Berlyn se 96 stadsdele dra 22 'n naam met 'n Slawiese oorsprong: Altglienicke, Alt-Treptow, Britz, Buch, Buckow, Gatow, Karow, Kladow, Köpenick, Lankwitz, Lübars, Malchow, Marzahn, Pankow, Prenzlauer Berg, Rudow, Schmöckwitz, Spandau, Stadtrandsiedlung Malchow, Steglitz, Tegel en Zehlendorf.
As 'n deelstaat van die Federale Republiek van Duitsland vorm Berlyn 'n enklawe in die deelstaat Brandenburg. Die Duitse hoofstad beslaan 'n totale oppervlakte van sowat 891 vierkante kilometer (waarvan 22,9 persent bosgebiede en 6,6 persent water) en is sodoende een van die beduidendste metropolitaanse gebiede van Duitsland asook een van die grootste stede ter wêreld. Die digbevolkte stadskern word omring deur 'n voorstadgordel met 'n landelike karakter. Groot mere soos die Havel (wat deur die gelyknamige rivier gevorm word), Wannsee en Müggelsee maak deel uit van die stadsgebied. Die grootste wydte van die stadsgebied beloop 45, die grootste lengte 38 kilometer. Berlyn is een van die grootste metropolitaanse gebiede van Duitsland.
Die stadsentrum is tussen die platos van Barnim en Teltow in 'n landskap geleë wat gedurende die laaste koueperiode van die Ystydperk, die sogenaamde Weichsel-ystydperk, deur 'n gletserrivier gevorm is. Sowat 20 000 jaar gelede was die stadsgebied nog deur ysmassas bedek wat vanuit die Skandinawiese Skiereiland tot by Sentraal-Europa gestrek en 'n dikte van enkele honderd meter bereik het. Saam met die afsmelting van die gletser sowat 18 000 jaar gelede het die sogenaamde Berlynse Urstromtal ontstaan, 'n magtige glasiale riviervallei.
Die historiese stadsentrum is by die nouste punt van hierdie riviervallei geleë. Die Spreerivier vloei in 'n oos-westelike rigting deur die vallei. In die mees westelike stadsdistrik Spandau mond die Spreerivier in die Havel uit, 'n rivier wat in die weste van Berlyn in noord-suidelike rigting vloei. Die Havel se rivierloop was oorspronklik 'n glasiale rivierbed en lyk op sommige plekke soos 'n meerlandskap met die Tegelse Meer (Duits: Tegeler See) en die Große Wannsee as sy grootste mere.
Groot dele van Berlyn is buite die glasiale riviervallei op die Barnim- en Teltowplato geleë wat in die noorde en suide aan die vallei grens en hoofsaaklik uit grondmorenes bestaan. Die administratiewe distrik Spandau strek sowel oor 'n gedeelte van die riviervallei asook oor die sogenaamde Nauense Plaat wes van Berlyn.
Die hoogste heuwels in Berlyn is die Groot Müggelberg (115,4 meter bo seevlak) in die distrik Treptow-Köpenick, die Teufelsberg ('n rommelhoop wat uit die bouvalle van die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het, 114,7 meter hoog) in die distrik Charlottenburg-Wilmersdorf en die Ahrensfelder Berge (112,1 meter hoog) in die landskapspark Wuhletal in die distrik Marzahn-Hellersdorf. Die Havelmere is die laagste punte van die stadsgebied op 32 meter bo seevlak.
Berlyn is in 'n oorgangsgebied tussen die gematigde en kontinentale sone geleë waar die klimaat geleidelik kontinentale trekke begin aanneem; in die vroeë 21ste eeu was somers gereeld droog en warm, terwyl in die wintermaande dikwels gematigde temperature aangeteken is. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur in Berlyn-Dahlem is 9,5 °C, met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 591 mm.
Die wind waai in die Duitse hoofstad meestal uit die noord- en suidweste (en hier veral in die wintermaande teen hoër snelhede) sodat vars en skoon seelug ooswaarts beweeg, of uit die suidooste en ooste. Die laasgenoemde windrigtings word hoofsaaklik as gevolg van hoëdrukstelsels gemeet wat, afhangende van die seisoen, baie koue of baie warm lugmassas laat instroom.
Weergegewens vir Berlyn | |||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Maand | Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar |
Hoogste maksimum (°C) | 15,2 | 18,6 | 25,1 | 30,9 | 33,3 | 36,1 | 37,8 | 37,7 | 34,2 | 27,5 | 19,5 | 15,7 | 37,8 |
Gemiddelde maksimum (°C) | 2,9 | 4,2 | 8,5 | 13,2 | 18,9 | 21,6 | 23,7 | 23,6 | 18,8 | 13,4 | 7,1 | 4,4 | 13,36 |
Gemiddelde temperatuur (°C) | 0,5 | 1,4 | 4,9 | 8,7 | 14,0 | 17,8 | 19,3 | 18,9 | 14,7 | 9,9 | 4,7 | 2,0 | 9,73 |
Gemiddelde minimum (°C) | −1,9 | −1,5 | 1,3 | 4,2 | 9,0 | 12,3 | 14,3 | 14,1 | 10,6 | 6,4 | 2,2 | −0,4 | 5,88 |
Laagste minimum (°C) | −21,0 | −26,0 | −16,5 | −6,7 | −2,9 | 0,8 | 5,4 | 4,7 | −0,5 | −9,6 | −16,1 | −20,2 | −26,0 |
Neerslag (mm) | 42,3 | 33,3 | 40,5 | 37,1 | 53,8 | 68,7 | 55,5 | 58,2 | 45,1 | 37,3 | 43,6 | 55,3 | 570,7 |
Reëndae (d) | 10,0 | 8,0 | 9,1 | 7,8 | 8,9 | 7,0 | 7,0 | 7,0 | 7,8 | 7,6 | 9,6 | 11,4 | 101,2 |
Bron: Wêreldmeteorologieseorganisasie (UN),[19] HKO[20][21] |
Berlyn se geskiedenis verskil opvallend van dié van ander groot Europese metropole soos Athene, Rome, Londen en Parys – dit is relatief kort en vol breuklyne. Sy ontwikkeling is eerder baseer op 'n verbreking van tradisies as op die hou daarby. Dit het steeds weer 'n skielike draai geneem waarby die stad heeltemal herstruktureer is.
In 1871 is Berlyn tot hoofstad van 'n vinnig groeiende nywerheidsland verhef – die Duitse Keiserryk wat ná die oorwinning oor Frankryk in die Frans-Pruisiese Oorlog 'n ongekende ekonomiese opswaai beleef het. Dié groeifase het met die wêreldresessie van 1873 skielik tot stilstand gekom.
Voor en ná die Eerste Wêreldoorlog was Berlyn 'n laboratorium van die moderne tyd en sy tegnologiese, ekonomiese, kulturele en sosiale omwentelinge – "'n sirkelende wêreldfabriek", soos die digteres Else Lasker-Schüler Berlyn genoem het. Vir Karl Scheffler was die stad, soos hy reeds in 1910 opgemerk het, verdoem "om steeds te word en nooit te wees nie".[22]
Die Nasionaalsosialistiese magsoorname in 1933 het alle dinamiese ontwikkelinge stopgesit en Berlyn as hoofstad van 'n fascistiese diktatuur in isolasie gedompel. Adolf Hitler se gigantomaniese plan om dit in 'n "Germania wêreldhoofstad" om te skep is nooit verwesenlik nie. Die stad is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur bomaanvalle verwoes, deur geallieerde magte beset en dekades lank in twee helftes verdeel.
Ná die Duitse hereniging was die verwagtinge eufories. Grootskaalse en omstrede bouprojekte is verwesenlik, die Duitse regering het teruggekeer na sy ou setel. Berlyn is aan die begin van die 21ste eeu vol kontraste, vraagstukke en uitdagings. Dit is steeds een van die armehuise van Duitsland, in vergelyking met welvarende metropole in Wes-Duitsland. Nogtans het dit sy rol as intellektuele, kulturele en sosiale eksperimenteerruimte in die hart van Europa hervat. Dit is die politieke magsentrum van Duitsland, 'n toeristemagneet, die poort na Oos-Europa en die kulturele en etniese smeltkroes van die nuwe Berlynse Republiek.[23]
Die stadsnaam Berlin is nie van die woord beer afgelei soos die huidige stadswapen suggereer nie. Die etimologiese wortel is vermoedelik die Slawiese terme br’lo of berlo wat as "moeras" en "nat plek" vertaal kan word.[24] 'n Alternatiewe vertaling is "droë plek in 'n moerasgebied". Opvallend dat naas die klemtoon, wat anders as gewoonlik in Duits op die laaste sillabe val, daar ook die gebruik van 'n bepaalde lidwoord in historiese tekste (der Berlin) en die uitgang -in is, wat dikwels in Slawiese plekname voorkom.[25]
Die huidige stadsdele Spandau en Köpenick het as Slawiese nedersettings reeds voor die stigting van Mark Brandenburg in 1157 deur die Askaniër Albrecht I, genoem Albrecht die Beer, bestaan.
Die dubbelstad Berlyn-Cölln, wat teen ongeveer 1200 nog uit twee vissersdorpies bestaan het, het oorspronklik aan die noordelike oewer en op 'n eiland van die Spree-rivier ontstaan. 'n Oorkonde, wat in 1237 deur die biskop van Brandenburg uitgereik is, behels die oudste verwysing na Berlyn se susterstad, Cölln.[26] 'n Ander dokument uit die jaar 1244 bevat die oudste verwysing na Berlyn. In 1307 het die twee nedersettings 'n gemeenskaplike raadsaal gekry.
Teen 1400 was die inwonertal ongeveer 8 000. Frederik I is in 1415 as keurvors van die Mark Brandenburg ingehuldig en het tot 1440 geregeer. Lede van die Huis Hohenzollern het tot 1918 as heersers in Berlyn geregeer – aanvanklik as markgrawe van Brandenburg, daarna as konings van Pruise en uiteindelik as Duitse keisers. Die politieke veranderings is nie altyd deur die plaaslike bevolking verwelkom nie, soos toe Berlyners in 1448 teen die bou van 'n nuwe kasteel vir keurvors Frederik II in opstand gekom. Die rebellie was egter nie suksesvol nie en in die proses het die bevolking baie van sy politieke en ekonomiese voorregte ingeboet. Die stad was in die 15de eeu lid van die Hanse-gemeenskap van stede, maar moes sy lidmaatskap in 1451 opsê nadat Berlyn die regeringsetel van die Brandenburgse markgrawe en keurvorste geword het.
In 1539 het Berlyn die Protestantse belydenis aanvaar. Die Dertigjarige Oorlog, wat in die tydperk tussen 1618 en 1648 groot dele van Duitsland verwoes het, het ook vir Berlyn rampspoedige gevolge gehad. Die stad het sowat die helfte van sy inwoners verloor. Frederik Willem, wat as die Groot Keurvors bekend staan, het vanaf die jaar 1640 geregeer. Berlyn het destyds 6 000 inwoners gehad, en die vors het besluit om hierdie getal deur middel van 'n beleid van verdraagsaamheid en immigrasie te verhoog. In 1641 is Berlyn met nuwe voorstede soos Friedrichswerder, Dorotheenstadt en Friedrichstadt vergroot. Barokgeboue soos die Berlynse Slot en die Zeughaus dateer uit hierdie tydperk.
Vyftig Joodse gesinne uit Oostenryk het in 1671 'n nuwe tuiste in die stad gevind. Met die Edik van Potsdam het Friedrich Wilhelm in 1685 Franse Hugenote uitgenooi om hulle in Berlyn en Brandenburg te vestig. Meer as 15 000 Franse immigrante het na die gebied gestroom, waarvan 6 000 na Berlyn. Teen die jaar 1700 het die Franse inwoners 'n vyfde van die Berlynse bevolking verteenwoordig en 'n groot invloed op die kulturele lewe van die stad uitgeoefen. Groot groepe immigrante het daarnaas uit gebiede soos Boheme, Pole en Salzburg gekom. In 1709 was daar reeds 57 000 inwoners.
Die stad het tot die belangrikste ekonomiese en kulturele sentrum van Pruise ontwikkel. Tydens koning Frederik die Grote se regeringstyd het die inwonertal 100 000 oorskry. Berlyn is in 1760 tydelik deur 'n Russiese leër beset, en tussen 1806 en 1808 deur Franse magte.
In die laaste dekades van die 18de eeu is Berlyn onder die aantreklikste stede in Europa gereken – ongeag die feit dat sy natuurlike omgewing deur landskapsvorme oorheers word wat nie noodwendig met natuurskoon verbind word nie. In sy werk Charakteristik von Berlin. Stimme eines Kosmopoliten in der Wüsten, wat tussen 1784 en 1788 in Berlyn en Leipzig gepubliseer is, gee die publisis, dramatikus en lirikus August Julius Friedrich Knüppeln (1757–1840) 'n nugtere beskrywing van die stad se ligging:
Ná die Pruisiese nederlaag in die oorlog teen die Franse keiser Napoleon Bonaparte en die besetting van Berlyn deur Franse troepe het die administratiewe hervormings van Stein en Hardenberg in 1809 'n nuwe tydperk van munisipale selfregering ingelui. In 1810 is die universiteit gestig wat vervolgens die geestelike en sedelike vernuwing van Pruise sou bevorder. Die beroemde argitek Karl Friedrich Schinkel (1781–1841) het 'n aantal geboue in die styl van die klassisisme geskep. Berlyn was die middelpunt van die Pruisiese Revolusie van 1848 wat met die neerlaag van die demokrate geëindig het.
Die stad het vinnig gegroei gedurende die 19de eeu en het in 1871 die hoofstad van die Duitse Ryk geword. Ná die Pruisiese oorwinning in die oorlog teen Frankryk (1870–1871) moes die Franse regering oorlogskadevergoeding aan die Duitse Ryk betaal. 'n Tyd van ekonomiese opswaai en groeiende welvaart het begin: Berlyn was nou een van die belangrikste stede van die wêreld en die grootste nywerheidsentrum van Europa. Talle kulturele geboue soos die Pergamonmuseum, die Pruisiese Staatsbiblioteek (tans Staatsbiblioteek te Berlyn), die Kaiser-Friedrich-museum, Schiller-teater en Staatsopera is in hierdie periode opgerig. Honderdduisende arbeiders en hulle gesinne is egter nouliks deur die ekonomiese opswaai geraak en het in groot armoede geleef.
Uiteindelik het die ekonomie na 'n depressie oorgeswaai wat tot 1890 voortgeduur het. Berlyn het nogtans 'n magneet vir innovatiewe ondernemings uit die elektriese en chemiese bedrywe gebly, terwyl die bevolking tot 1,9 miljoen gestyg het – 'n ongekende demografiese groei wat groot beleggings in die stedelike infrastruktuur, behuising, vervoer en onderwys geverg het.
Werkersgesinne en ander laeinkomstegroepe is in grootskaalse meerverdieping-woonstelkomplekse in die binnestad gehuisves. Ná hierdie woonstelgeboue, wat beskikbare grond maksimaal benut het en uit een of meer binnehowe, met 'n gebou aan die voorkant, syvleuels, dwarsgeboue en 'n gebou aan die agterkant asook 'n stalgebou of werkswinkel in een van die binnehowe bestaan het, is in die volksmond as Mietskasernen ("huurkasernes") verwys. Hierdie enkelvormige woonkomplekse is in die Duitse Keiserryk met uiters lae woonstandaard en sosiale ellende vereenselwig. Woonstelle was dikwels donker, swak belug en oorbevolk, met buitetoilette wat huurders met ander huisbewoners moes deel.
Reeds in die vroeë 20ste eeu het Berlyn se inwonertal die tweemiljoen-kerf verbygesteek. Die bevolkingsamestelling het die stad se aantreklikheid vir binne- en buitelandse migrante weerspieël – in 1905 was slegs 800 000 bewoners gebore Berlyners.[27]
As gevolg van die verlore Eerste Wêreldoorlog het keiser Wilhelm II in 1918 afstand van die troon geneem, en in Berlyn is die Duitse Republiek uitgeroep. Die jare 1918 en 1919 was gekenmerk deur rewolusionêre onluste, die opkoms van ekstremistiese politieke bewegings soos die kommunistiese spartakiste en ander groepe, wat gereeld in straatgevegte met die polisie en politieke opponente verwikkel was. Regse soldate het die arbeiderleiers Rosa Luxemburg en Karl Liebknecht vermoor.
Die huidige Berlyn is in 1920 geskep toe verskillende stede, dorpe en plase by die stad Berlyn ingelyf is. Berlyn het sommer oornag die tweede grootste stad van Europa geword.
Dit was ook die begin van die dekade, wat as die "Goue Twintigerjare" bekend staan. Na die ontberings van die oorlogsjare het die mense oorgeborrel van lewenslus. Digters, joernaliste, kunstenaars en wetenskaplikes uit die binne- en buiteland het na Berlyn gestroom. Dit was die hoofstad van die natuurwetenskappe, tegniek en kultuur, nie net vir die Duitstalige lande nie, maar ook vir groot dele van Europa. In die jare tussen 1924 en 1929 was Berlyn daarnaas ook die Europese hoofstad van die naglewe en vermaak. Teen die einde van die twintigerjare was daar 49 teaters, drie operateaters, drie variëté-teaters en drie revueteaters. Sowat 1 000 uitgewers het 2 000 tydskrifte en 40 koerante gepubliseer. Danksy Max Reinhardt en Bertolt Brecht het die toneelkuns sy bloeitydperk beleef. Tegelykertyd het die publiek ontslae geraak van die ou morele beperkings. Daar was ook geen taboe meer nie. Ontblote danseresse, lasterlike vermaak, dobbelry, pornografiese kabaretskoue het die naglewe van die stad oorheers. Die tyd was ook ryp vir nuwe kunsvorms soos dadaisme, surrealisme en jazz. Dansverslaafdes was mal oor die nuwe tango, charleston en rumba-danse.
In die 1920's is goeie vordering gemaak met die elektrifisering van Berlyn wat oorspronklik in 1880 begin is.[28] Die eerste elektriese toetsaanleg in Friedrichstraße het vanaf 1883 'n plaaslike koffiehuis, Café Bauer, en enkele winkels op die hoek van Friedrichstraße en Unter den Linden van elektrisiteit voorsien. Terwyl in 1914 nog net vyf persent van alle huishoudings toegang tot elektrisiteit gehad het, was dit in 1925 reeds 25 persent. Teen die einde van die dekade het dié persentasie nog eens verdubbel.
Veral moderne vervoergeriewe soos moltreine en geëlekrifiseerde pendelaarstreine, nywerhede en handel het die vraag na krag in Berlyn skerp laat styg. In 1923 is 'n munisipale elektrisiteitsverskaffer, Bewag, gestig wat hom met die uitbou van die plaaslike kragnet besig gehou het. In dié jaar is slegs sowat 'n derde van alle elektrisiteit, wat in die hoofstad verbruik is, plaaslik opgewek, die res is deur middel van kraglyne uit ander landsdele na Berlyn vervoer.
Die prentjie het ingrypend verander toe in 1926, ná 'n boutyd van slegs vyftien maande, Berlyn se eerste groot kragsentrale, Kraftwerk Klingenberg, in bedryf gestel is – destyds die grootste en modernste aanleg van sy soort in Europa. Sy warm water is gebruik om die kweekhuise van Berlyn se sentrale groente- en vrugtemark te verwarm. Die kragsentrale met sy moderne staalgeraamte is deur Walter Klingenberg en Werner Issel ontwerp en vernoem na Georg Klingenberg, die ingenieur wat die planne vir Berlyn se kragnet ontwikkel het en een jaar voor die opening van die kragsentrale oorlede is. Die kragsentrale is intussen omgebou en gemoderniseer en lewer steeds krag en warmte vir Berlynse huishoudings. 'n Tweede groot kragsentrale is in 1930 in die weste van die stad voltooi. In 1955 is dit na die na-oorlogse regerende burgemeester van Berlyn, Ernst Reuter, vernoem. Die elektrisiteitsverbruik van Berlyn se openbare vervoeronderneming BVG – destyds die derde grootste onderneming in Duitsland en die grootste munisipale maatskappy in die hele Europa – was in 1929 reeds groter as dié van die hele stad München.[29]
Van besondere argitektoniese belang is die meer as veertig Bewag-substasies wat tussen 1924 en 1931 volgens ontwerpe van die argitek Hans Heinrich Müller as rooi baksteengeboue van hoë gehalte ontstaan het. Ondanks hul sobere eenvoud is die buitevoorkoms van die substasies aan historiese bouvorme soos katedrale, kloosters of kastele ontleen wat van hulle geheimsinnige bakens temidde van 'n moderne stadlandskap gemaak het. Ook ekspressionistiese invloede is waarneembaar. Die substasie Buchhändlerhof van 1928 is in die 1990's omgeskep tot 'n tegnomusiek-diskoteek wat as E-Werk bekendgestaan het.
Die elektrotegniese bedryf het in die 1920's tot Berlyn se vernaamste werkgewer gegroei. Die twee grootste ondernemings in dié bedryf, AEG en Siemens, het gesamentlik meer as 100 000 werknemers in diens gehad. In die weste van Charlottenburg, destyds nog 'n selfstandige stad, het in 1898 met Siemensstadt die eerste moderne elektropolis ontstaan – 'n uitgestrekte fabrieksterrein met stasie, kantoorgeboue en aangrensende woonbuurte vir werkers. Hier het tussen 1926 en 1928 die eerste moderne industriële wolkekrabber in Europa, die sogenaamde Schaltwerkhochhaus, volgens planne van die argitek Hans Hertlein met elf verdiepings en fabrieksale met 'n lengte van 175 meter ontstaan.
Om die Viermiljoenestad in die 1920's van die benodigde kos vir sy inwoners asook brandstowwe en onverwerkte goedere vir sy nywerhede te voorsien, was nóg 'n logistiese uitdaging. In dié tyd was daar nog geen uitgebreide vragmotornetwerk nie sodat byna die hele goederevervoer deur die spoor- en waterweë gehanteer is. Omstreeks 1920 het jaarliks 13 000 skepe Berlyn se binnehawens aangedoen. Die nuwe hoofhawe Westhafen – destyds een van die modernste binnehawens in Duitsland – is in 1923 amptelik ingewy en in die volgende jare van 'n derde bekken voorsien.
Sy kenmerkende kantoorgeboue en stoorhuise met fyn ontwerpte fasades van donker ysterklinkerstene en mosselkalk, skilddakke en sokkels van helder graniet het volgens planne van die argitek Richard Wolffenstein ontstaan. Die hoofkantoorgebou se kloktoring het tegelykertyd as watertoring vir die hawelokomotiewe gedien. 'n Nuutgestigte munisipale onderneming, Behala, het Berlyn se hawens begin bestuur en stoorgeriewe verhuur. Die bekendste huurder was die motorreus Ford wat hier tussen 1926 en 1931 motors vir die Duitse mark gemonteer het waarvoor onderdele per skip uit Detroit ingevoer is.
Die voormalige graanstoorhuis is steeds een van die indrukwekkendste geboue op die haweterrein. In die 1920's kon hier tot vyftig ton graan per uur gehanteer word. Sy stoorplek was groot genoeg vir 25 000 ton broodgraan – wat gelykgestaan het aan die hoofstad se halfmaandelikse verbruik. Tans word hier die dagbladversamelings van Berlyn se Staatsbiblioteek bewaar.
Die Berlynse perslandskap in die Weimarrepubliek – in die periode tussen 1919 en 1933 het meer as eenhonderd dagblaaie in die Duitse hoofstad verskyn – is veral gekenmerk deur die politieke teenstellings tussen aanhangers en teenstanders van die na-oorlogse demokratiese bedeling. Die dagblaaie van twee uitgewerye, Mosse (met die gesiene Berliner Tageblatt) en Ullstein (Berliner Morgenpost – destyds die dagblad met die hoogste sirkulasie, en Vossische Zeitung), was die invloedrykste ondersteuners van die demokratiese regeringstelsel, terwyl die nasionaal-konserwatiewe media-entrepreneur Alfred Hugenberg met sy Scherl-uitgewery anti-demokratiese opvattings in dagblaaie soos Der Tag en Berliner Lokal-Anzeiger gepubliseer het.[30]
Die Nasionaalsosialistiese pers het voor Adolf Hitler se magsoorname in 1933 nog geen noemenswaardige rol gespeel nie, alhoewel die NS-beweging met Der Angriff, 'n dagblad wat in 1927 deur die Berlynse NS-Gauleiter Joseph Goebbels in die lewe geroep is, al vroeg sy politieke agitasie begin bedryf het.
In die dertigerjare het Berlyn die rekord van 4,3 miljoen inwoners bereik. Met die magsoorname deur die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Werkersparty onder Adolf Hitler op 30 Januarie 1933 het Berlyn die hoofstad van die "Derde Ryk" geword, en later is planne gesmee waarvolgens Berlyn as die nuwe "Wêreldhoofstad Germania" met reusagtige nuwe gebouekomplekse in die klassieke Romeinse boustyl herbou sou word. Die Nasionaal-Sosialiste het die Olimpiese Somerspele 1936 in Berlyn doelbewus vir hulle propaganda misbruik, maar anti-Joodse geweldpleging ná die moord op 'n Duitse diplomaat in Parys het reeds twee jaar later menselewens geëis, terwyl baie Joodse winkels en ander eiendomme vernietig is. Die Joodse Gemeente van Berlyn met oorspronklik 160 000 lede voor 1933 is stelselmatig vernietig, en duisende Berlynse Jode is ná die pogrome van 1938 in hegtenis geneem en na die konsentrasiekamp Sachsenhausen gedeporteer. Die laaste lede van die gemeente is in Februarie 1943 na verdelgingskampe soos Auschwitz gedeporteer.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog is 'n groot deel van die stadsentrum in 363 lugaanvalle deur geallieerde bomwerpers vernietig, waarin 50 000 mense hulle lewens verloor het. Meer as een miljoen mense het tydens die oorlog uit die stad gevlug. Russiese troepe het die stad verower en van 25 April tot 2 Mei 1945 beset.
Groot dele van Berlyn se middestad was ná die Duitse kapitulasie 'n puinhoop waarin die oorblywende bevolking van 2,8 miljoen hul stryd om oorlewing begin het. Meer as 600 000 woonstelle en driekwart van alle nywerhede was vernietig, water-, gas- en elektrisiteitsvoorsiening onderbroke.[31]
Kort ná die oorlog het die Sowjet-Russiese stadskommandant Bersarin in Mei 1945 die eerste na-oorlogse regering van Berlyn, die Magistrat onder leiding van burgemeester Arthur Werner benoem. Getroue kommunistiese kaders, wat hul politieke opleiding in Moskou ontvang het, soos die sogenaamde Gruppe Ulbricht, is deur die Sowjet-besettingsmag ingespan om invloed op die politieke lewe in die Duitse hoofstad uit te oefen. In Junie van dieselfde jaar is die eerste anti-fascistiese partye toegelaat. Die nuwe vakbond FDGB het van begin af onder kommunistiese invloed gestaan sodat onafhanklike vakbondleiers in 1948 hul eie vakbond afgestig het.
Na die verowering van die stad deur die Rooi Leër en die onvoorwaardelike oorgawe van die Wehrmacht op 8 Mei 1945, is Berlyn volgens die Londense protokolle in vier sektore verdeel. Dit het die sektore van Amerika, Brittanje, Frankryk en die Sowjetunie geskep. In administratiewe opsig is Berlyn ná die oorlog in vier sektore opgedeel wat aanvanklik deur 'n gemeenskaplike Geallieerde Kommandantuur geregeer is. Die Amerikaanse, Franse en Britse sektore (Wes-Berlyn) was van 1949 tot 1989 'n Bundesland (deelstaat) van die Bondsrepubliek Duitsland met 'n besondere statuut, terwyl die Russiese sektor (Oos-Berlyn) die hoofstad van die Duitse Demokratiese Republiek geword het.
Die Russe het probeer om die ekonomie van Wes-Berlyn in 1948 deur 'n blokkade lam te lê, maar geallieerde magte – waaronder ook Suid-Afrikaners – het met die "Lugbrug"-operasie gereageer waarin kos, steenkool en ander goedere vanuit Wes-Duitsland ingevlieg is.
In 1961 is die twee helftes deur 'n betonmuur – die Berlynse Muur – geskei om 'n einde te maak aan die reuse stroom Oos-Duitse vlugtelinge wat beter lewensomstandighede in die Weste gesoek het. 'n Wêreldkrisis was die gevolg, en die Russiese regering het geëis dat Wes-Berlyn tot 'n "vrye stad" verklaar moet word, 'n voorstel wat deur die westelike geallieerdes summier verwerp is. Ná die bou van die muur het die politieke en ekonomiese situasie in Oos-Berlyn gestabiliseer: Die historiese oostelike stadsentrum met die Alexanderplatz is teen die einde van die sestigerjare vergroot en van 'n reeks moderne geboue voorsien, wat Oos-Berlyn se rol as "sosialistiese" hoofstad van die Duitse Demokratiese Republiek sou bevestig. Duisende nuwe woonstelle is aan die oostelike stadgrens opgerig. In 1971 is 'n ooreenkoms gesluit wat Wes-Duitse toegang tot Wes-Berlyn verseker het.
Berlyn het in die middelpunt van die studentebeweging van die sestigerjare gestaan. Die regse pers, wat veral deur die uitgewer Axel Springer verteenwoordig is, het geprobeer om die bevolking deur haatspraak teen die studente op te stook. Tydens 'n betoging teen die besoek van die Sjah van Iran is die student Benno Ohnesorg, 'n verklaarde pasifis, op 2 Junie 1967 sonder enige rede deur 'n polisieman in die kop geskiet en gedood. Die voorval het tot die radikalisering van 'n deel van die studentebeweging gelei, wat onder meer as Rote Armee Fraktion (RAF, gestig deur Ulrike Meinhof en Andreas Baader) 'n gewapende stryd teen die staat en sy verteenwoordigers begin voer het.
Ná die hereniging van Wes- en Oos-Berlyn in 1990 het die Duitse parlement besluit om van Berlyn weer die regeringsetel van Duitsland te maak. Nuwe regeringsgeboue het in die stadsentrum ontstaan, ministeries en ambassades het van die Wes-Duitse regeringsetel Bonn na die nuwe hoofstad begin verhuis.
Berlyn is vandag 'n aparte deelstaat van die Bondsrepubliek Duitsland. Een van die erfenisse van meer as veertig jaar se politieke skeiding is die dubbele infrastruktuur wat in Oos- en Wes-Berlyn geskep is – die stad beskik nou byvoorbeeld oor twee sentrale besigheidsdistrikte (Kurfürstendamm en Mitte/Friedrichstraße), drie operateaters, twee planetariums (Insulaner-Sternwarte en Zeiss-Großplanetarium) en twee dieretuine (Zoologischer Garten en Tierpark Friedrichsfelde).
Van die 3,4 miljoen inwoners in 2015 was 52,9 persent vroue en 48,8 persent mans. 5 persent van die inwoners was jonger as 6 jaar; 10,4 persent was tussen 6 en 18 jaar oud; 41,4 persent was in die ouderdomsgroep tussen 18 en 45 jaar; 26,6 persent was in die ouderdomsgroep 45–65; en 16,6 persent was ouer as 65 jaar.
In 2013 was daar 35 038 lewende geboortes en 32 792 sterfgevalle. 169 466 mense het hulle in Berlyn gevestig, terwyl 127 574 inwoners na ander stede en lande verhuis het.[32] Die grootste geloofsgroepe volgens amptelike gegewens was in 2008: 676 000 (19,7 persent) Lutherane, 318 000 (9,3 persent) Rooms-Katolieke, 248 000 (7,2 persent) Moslems, 90 000 ander Christelike kerke, 12 000 Jode, 6 500 Boeddhiste; 60 persent ongebonde.
Op 31 Desember 2013 het die getal buitelandse inwoners 538 729 beloop, van wie 99 558 Turke, 51 084 Pole, 22 693 Italianers, 19 137 Serwiërs, 18 982 Russe, 18 352 Bulgare, 12 600 Amerikaners, 16 806 Franse, 13 231 Spanjaarde en 12 512 Britte was. Die aantal Suid-Afrikaners in Berlyn het in 2010 386 beloop.[33] Daar is vermoedelik sowat 200 000 onwettige immigrante. 41,5 persent van die buitelanders in Berlyn is werkloos.
Die getal Berlyners van Russiese afkoms beloop intussen meer as 100 000 sodat 'n volledige Russiessprekende infrastruktuur met sewe Russiese dagblaaie en tydskrifte (waaronder Russkij Berlin, 'n streeksuitgawe van Russkaja Germanija, 'n Russiese weekblad vir Duitsland en Europa), 'n radiostasie (Radio Russkij Berlin), supermarkte met ingevoerde en Duits-vervaardigde Russiese kos en drank, media soos boeke en DVD's, 'n Russiese biblioteek, apteek, Russiessprekende advokate, restaurante, nagklubs, diskoteke, kroeë en ander instellings ontstaan het.
Groter konsentrasies Russiessprekende inwoners word in die oostelike stadsdistrikte aangetref.
Die Berlynse dialek (Duits: Berlinisch of Berlinerisch) word oor die algemeen as 'n variant van die Middelduitse Berlyn-Brandenburgse dialekte beskou wat in Berlyn en sy omgewing gepraat word en wendings en segswyses behels wat net in Berlyn voorkom. In taalkundige opsig word na die Berlynse dialek as 'n sogenaamde metrolek verwys – 'n stedelike mengdialek wat nie van plaaslike oorsprong is nie, maar op basis van Hoogduits ontstaan het met groot invloed van verskillende oorspronklike dialekte. Die huidige Brandenburgse dialek is 'n variant van die Berlynse metrolek.
Oorspronklik (tot ongeveer 1800) was Nederduits die omgangstaal van die Berlynse bevolking. In 'n groot deel van die voorstede het die inwoners net soos in die omliggende Brandenburg nog tot in die 20ste eeu Nederduitse dialekte gebesig. Hulle is as gevolg van die verstedelikingsproses van die voorstadgordel en die taalkundige invloed van Berlyn as metropool grotendeels deur Middelduitse dialekte of 'n Berlyns-beïnvloede Standaardduitse streektaal verdring en word vandag nog nouliks gepraat.
Danksy die immigrasie van 'n groot verskeidenheid bevolkingsgroepe het die Berlynse dialek 'n groot aantal woorde en wendings uit ander tale en dialekte soos Vlaams, Frans en Jiddisj oorgeneem. Die dialek was in die geskiedenis hoofsaaklik die omgangstaal van die gewone mense, terwyl opgeleides en welgesteldes steeds moeite gedoen het om suiwer Hoogduits te praat. Baie mense, wat hulle in die stad gevestig het, het in hul omgangstaal wél elemente van die plaaslike dialek oorgeneem, tog is sy bestendige gebruik meestal as "proletaries" of "onvanpas" beskou.
In die DDR het hierdie sienswyse gedeeltelik verander sodat ook opgeleide inwoners die dialek begin besig het. Gevolglik word die dialek deesdae hoofsaaklik in die oostelike stadsdele, die tradisionele werkersbuurte van Wes-Berlyn en in die omgewing van Berlyn gepraat. Die plaaslike omgangstaal is danksy die vestiging van nuwe immigrante ook vandag nog aan voortgesette veranderings onderworpe.
Sedert die einde van die 19de eeu was Berlyn die grootste nywerheidstad in Europa. Die verwoestings van die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge van die verdeling het ná 1945 tot die verskuiwing van baie nywerhede na Wes-Duitsland gelei. 'n Groot deel van Wes-Berlyn se nywerhede is ná die Tweede Wêreldoorlog, toe die stad as 'n kapitalistiese eiland in die hart van die DDR bestaan het, deur staatssubsidies aangemoedig om in die stad te bly.
As hoofstad en toonvenster van die sosialistiese Duitsland het Oos-Berlyn in die Duitse Demokratiese Republiek steeds voorrang bo ander stede en streke geniet wat die verskaffing van gebruiksgoedere en huisvesting betref het.
Terwyl vandag nog groot inheemse farmaseutiese ondernemings soos Bayer-Schering en Berlin Chemie hulle hoofkwartiere en aanlegte in Berlyn het, het die tersiêre sektor in die laat 20ste eeu sterk groei getoon en verteenwoordig tans meer as 80 persent van die Berlynse ondernemings. Tegelykertyd het die stad sy rol as die nywerheidsentrum van Europa intussen kwytgeraak en beskik tans nog net oor 'n beperkte industriële basis. Terwyl daar in Duitsland sowat 70 nywerheidswerkers per 1 000 inwoners getel word, het hierdie getal in Berlyn tot sowat 30 gedaal.
Die bruto binnelandse produk het in 2013 109,2 miljard € (1429,45 miljard ZAR) of 30 642 € (401 424 ZAR) per capita beloop.[34] Berlyn het enkele jare lank die laagste ekonomiese groeikoers van alle Duitse Bundesländer getoon, en die werkloosheidsyfer was in Maart 2015 met 11 persent nog duidelik bo die gemiddelde syfer vir Duitsland.[35] As gevolg van die herenigingsproses is daar 'n massiewe skuldlas opgehoop.
As regeringsetel van Europa se voorste ekonomie word Berlyn onder die belangrikste sentrums van Europese politiek gereken.[36] Duitse vakbonde, stigtings, ekonomiese verenigings en belangegroepe het hul hoofkwartiere in die stad om inspraak in besluitnemingsprosesse in parlement en regering te verkry. Staatsbesoeke en onthale op verskillende politieke vlakke dra, net soos staatsplegtighede en belangrike feesvieringe, by tot die veelvuldige jaarlikse politieke kalender van Berlyn.
Ná die Duitse hereniging het die afgevaardigdes van die Duitse parlement, die Bundestag, in 1991 ten gunste van Berlyn as setel van die Duitse parlement en regering gestem. Die stad het reeds met die toetreding van die ses deelstate van die voormalige Duitse Demokratiese Republiek tot die Federale Republiek van Duitsland die status van "federale hoofstad" gehad.
Sedert 1994 het ook die federale president van Duitsland sy hoofkantoor en ampswoning in die Berlynse Bellevue-kasteel. In 1999 het die meeste regeringsinstellings vanaf Bonn na Berlyn verskuif. Die ou parlementsgebou van die Duitse Keiserryk en Duitse Ryk, die Reichstag, is van 'n glaskoepel voorsien wat oop staan vir besoekers en gemoderniseer om die nuwe federale parlement te huisves, terwyl die Federale Raad (Bundesrat), waarin die sestien deelstate verteenwoordig word, in die vroeëre Pruisiese parlement, die Pruisiese Here- of Hoërhuis, ingetrek het.
Die federale departemente is óf in bestaande geboue gehuisves óf het in nuut opgerigte kantoorgeboue ingetrek. Die nuwe kantoorgebou van die Duitse kanselier (Bundeskanzleramt) is in 2001 deur die destydse kanselier Gerhard Schröder amptelik ingewy. Agt van die huidige veertien federale departemente het hul setels in Berlyn, waaronder die Departement van Buitelandse Sake wat in die Detlev-Rohwedder-huis (vroeër Ryksdepartement van Lugvaart) gehuisves word, terwyl ses tans in die sogenaamde Federale Kwartier van die vroeëre (Wes-Duitse) federale hoofstad Bonn gesetel is. Alle federale departemente, insluitende dié in Berlyn, het 'n tweede setel in die ander stad. Eers vanaf 2008 was 'n meerderheid van die personeel van federale departemente, sowat 9 000 van altesaam 17 000 amptenare en ander medewerkers, in Berlyn werksaam.[37]
Die ambassades van 158 state het hulle setels tans in Berlyn.
In die tydperk tussen 1808 en 1935 en tussen 1945 en 1948 is Berlyn deur 'n magistraat onder leiding van 'n burgemeester geadministreer. In die tyd tussen 1935 en 1945 het die Nasionaalsosialistiese bewind alle demokratiese munisipale strukture afgeskaf en is munisipaliteite in die Duitse Ryk regstreeks deur die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty (NSDAP) bestuur. Vanaf 1948 tot die hereniging van Berlyn en Duitsland in 1990 is Oos-Berlyn as hoofstad van die Duitse Demokratiese Republiek deur 'n magistraat bestuur, terwyl Wes-Berlyn deur 'n senaat geregeer is wat as deelstaatregering gefungeer het.
Berlyn het eers met die Duitse hereniging die status van 'n Duitse deelstaat gekry. Alhoewel Berlyn volgens die Berlynse grondwet van 1950 en die (Wes-Duitse) grondwet van 1949 formeel as deelstaat van die Federale Republiek van Duitsland bestaan het, was hierdie reëling weens die geallieerde status van Berlyn volkeregtelik voor 1990 nog ongeldig. Wes-Berlyn het de facto vanaf 1949 deel uitgemaak van die (Wes-Duitse) Federale Republiek van Duitsland – met enkele beperkings. So is byvoorbeeld besondere identikeitskaarte aan Wes-Berlynse burgers uitgereik en was jong mans hier, anders as in Wes-Duitsland, nie aan nasionale diensplig onderworpe nie. Verwysings na Oos-Berlyn was in albei grondwette suiwer fiktief.
Die huidige deelstaat Berlyn behels die Berlynse stadsgebied. Die deelstaatparlement van Berlyn (Abgeordnetenhaus) word elke vyf jaar deur die bevolking gekies. Tussen 2002 en 2011 het 'n koalisie van SPD (Sosiaal-Demokratiese Party van Duitsland) en Die Linke die regering (Senat) gevorm, en van 2016 tot 2023 die Sosiaal-Demokrate in koalisie met die Linke en Bündnis 90/Die Grünen. Sedert 2023 regeer die Christelik-Demokratiese Unie in koalisie met die Sosiaal-Demokrate. Die regerende burgemeester (Regierender Bürgermeister) is Kai Wegner (CDU). Net soos in die twee ander Duitse stadstate – Hamburg en Bremen – is die amp van regerende burgemeester vergelykbaar met dié van 'n eerste minister in ander deelstate.
Setels in die parlement (Abgeordnetenhaus)
Party | 2023 | 2021 | 2016 | 2011 | 2006 | 2001 | 1999 |
---|---|---|---|---|---|---|---|
SPD | 34 | 36 | 38 | 47 | 53 | 44 | 42 |
CDU | 52 | 30 | 31 | 39 | 37 | 35 | 76 |
Bündnis 90/Die Grünen | 34 | 32 | 27 | 29 | 23 | 14 | 18 |
Die Linke | 22 | 24 | 27 | 19 | 23 | 33 | 33 |
FDP | 0 | 12 | 12 | 0 | 13 | 15 | 0 |
AfD | 17 | 13 | 25 | 0 | 0 | 0 | 0 |
Totaal | 159 | 147 | 160 | 149 | 149 | 141 | 169 |
Onderwys val in Duitsland onder die jurisdiksie van die deelstate. So het Berlyn sy eie drievlak-onderwysstelsel met primêre (skooljaar een tot ses) en sedert 2010 tweeledige sekondêre skole met sogenaamde geïntegreerde sekondêre skole en gimnasiums (skooljaar sewe tot twaalf). Die laasgenoemdes se onderrig dien ter voorbereiding van akademiese studies by tersiêre instellings as derde vlak van die onderwysstelsel.
In Februarie 2004 het die deelstaatparlement 'n nuwe skoolwet aanvaar waarvolgens skoolplig op die ouderdom van 5½ jaar begin, persvryheid vir skoolkoerante gewaarborg word en die maksimale skoollewe vir leerders in gimnasiums van dertien tot twaalf jaar verkort is. Leerders kan in graad 10 hul skooleindeksamen aflê en 'n sertifikaat verwerf waarmee hulle vir verdere beroepsopleiding kwalifiseer. Gimnasiums bied dieselfde eksamen aan. Leerders in gimnasiums kan ná 'n verdere twee jaar van onderwys hul matriekeksamen (Duits: Abitur) aflê. Verpligte vakke hiervoor is Duits, Wiskunde en vreemde tale. In dertien gimnasiums is 'n toetsprogram begin waarvolgens die eindeksamen reeds in graad elf aangebied word.
Berlin beskik met die sogenaamde Europaschule oor 'n unieke tweetalige skoolprogram, wat die kurrikulum sowel op laer- asook op hoërskoolvlak in Duits en 'n vreemde taal aanbied. 29 skole in die meeste van Berlyn se nege distrikte bied onderwys in altesame 29 vreemde tale aan. Die bekendste tweetalige skole is die John-F.-Kennedy-Schule, 'n tweetalige Duits-Amerikaanse hoërskool in Zehlendorf, en die Franse Hoërskool (Französisches Gymnasium) wat oorspronklik in 1689 vir Hugenote-kinders opgerig is en tans tweetalige Duits-Franse onderwys aanbied. Skoliere kan sowel die Duitse asook die Amerikaanse en Franse matriekeksamen aflê.
Vier universiteite en 'n aantal Hochschulen (tegnikons, Engels amptelik Universities of Applied Sciences) — waaronder die Freie Universität Berlin, Technische Universität, Humboldt-Universität, Universität der Künste, Hochschule für Wirtschaft und Recht (Berlin School of Economics and Law, HWR), Beuth Hochschule für Technik Berlin en Hochschule für Technik und Wirtschaft (HTW) — het altesaam 160 100 studente (wintersemester 2012//13[38]).
Die Staatsbiblioteek te Berlyn (Staatsbibliothek zu Berlin), wat in 1661 as Keurvorstelike Biblioteek gestig is, is die grootste wetenskaplike universele biblioteek in die Duitse taalgebied asook een van die vernaamste instellings van sy soort in Europa met meer as tien miljoen gedrukte media wat in twee gebouekomplekse in die distrik Mitte bewaar word. Die Staatsbiblioteek maak deel uit van die Stigting Pruisiese Kultuurbesit en word deur die federale en die deelstaatregerings gesamentlik befonds.
As keurvorstelike en later – vanaf 1701 – koninklike privaatbiblioteek is die versameling aanvanklik, alhoewel dit toeganklik vir die publiek was, volgens die persoonlike voorkeure van Brandenburgse en Pruisiese heersers saamgestel. Eers vanaf 1810 het dit 'n onafhanklike instelling geword wat deur die Pruisiese Staatsadministrasie in noue samewerking met die nuutgestigte Universiteit van Berlyn bestuur is en in die volgende dekades tot die vernaamste biblioteek in Pruise gegroei het. In die tydperk tussen 1885 en die dertigerjare van die 20ste eeu het die biblioteek, wat sedert 1918 amptelik as Pruisiese Staatsbiblioteek bedryf is, tot een van die voorste instellings ter wêreld ontwikkel.[39]
Die diktatoriale Nasionaalsosialistiese bewind en die Tweede Wêreldoorlog het groot verliese vir die biblioteek meegebring, en deur die verdeling in 'n Oos- en 'n Wes-Berlynse afdeling is verdere skade berokken. Die biblioteek se ontwikkeling is sodoende byna 'n halfeeu lank belemmer. Die biblioteek is tans steeds besig om sy versamelings te herstel en sy dienste te moderniseer.
Ander belangrike wetenskaplike biblioteke in Berlyn sluit die universiteitsbiblioteke van die Vrye Universiteit en die Humboldt-universiteit asook die sentrale biblioteek van die Tegniese Universiteit en die Universiteit van Kunste in. Die Amerika-Gedenkbiblioteek is ná die einde van die Sowjet-Russiese Berlynblokkade in 1948 deur die Verenigde State aan die Wes-Berlynse bevolking geskenk en maak tans deel uit van die Sentrale en Deelstaatbiblioteek van Berlyn.
Die Berlynse Kunsbiblioteek van die Staatsmuseums te Berlyn word met sy versameling van 400 000 boekdele oor die Europese kunsgeskiedenis vanaf die laat-antieke tydperk tot die huidige tyd en sowat 1 400 internasionale kunstydskrifte onder die vernaamste kunswetenskaplike biblioteke in Duitsland gereken.
Die gedesentraliseerde verskaffing van biblioteekdienste aan die Berlynse leserspubliek staan sentraal in die spesiale program Bibliotheken im Stadtteil (BIST) wat tussen 2007 en 2015 deurgevoer is.[40]
Met sy groot verskeidenheid tersiêre onderwys- en navorsingsinstellings het van Berlyn in die vroeë 21ste eeu die sentrum van navorsing in Duitsland gemaak.[41] Navorsingsaktiwiteite in die Duitse hoofstad word jaarliks met sowat 1,8 miljard € se openbare fondse befonds, en meer as 13 persent van alle wetenskaplike patente, wat in Duitsland aangemeld word, kom uit Berlyn.
'n Sewentigtal nie-universitêre navorsingsinstellings, wat deur die staat befonds word, het meer as 60 000 personeel as dosente, navorsers en ander medewerkers in diens. Groot nasionale navorsingsorganisasies soos die Fraunhofer-Gesellschaft, Helmholtz-Gemeinschaft, Leibniz-Gemeinschaft en Max-Planck-Gesellschaft bedryf institute in Berlyn, net soos 'n aantal federale departemente met altesaam agt navorsingsinstitute. Die meeste wetenskaplike instellings is in die stadsdele Buch, Charlottenburg, Dahlem, Mitte en Adlershof saamgetrek.
Toe Berlyners hul werkplekke nog uitsluitlik per voet of per perdevoertuig kon bereik, moes hul woonplekke binne kort afstand daarvan geleë wees. So was die vinnig groeiende bevolking in die 19de eeu binne die bestaande stadsgrense en rondom fabrieke saamgetrek. Nywerhede was op hulle beurt aangewese op nabygeleë water- en spoorweë. Die steeds toenemende industrialisering het 'n gekoördineerde openbare vervoernetwerk vereis.
Berlyn se eerste spoorweglyn na Potsdam is op 29 Oktober 1838 ingewy. Die uitbou van Pruise se vervoerstelsel het sentraal gestaan by die stigting van nuwe aandelemaatskappye en banke, en Berlyn het vinnig tot die middelpunt van dié stelsel ontwikkel. Die uitgebreide spoorwegnetwerk was aanvanklik nie op pendelaars gemik nie: nog omstreeks 1860 het treine slegs 'n aantal voorstede aan die rand van die huidige stadsgebied met die middestad verbind, soos byvoorbeeld Zehlendorf, Spandau, Köpenick, Bernau of Trebbin. In 1874 het die nuwe Wannseebahn-spoorlyn die stadsentrum met die suidwestelike voorstede verbind en die bou van huise tien of twintig kilometer buite die middestad vir Berlyners aantreklik gemaak.
In ander nuwe stadsdele soos Westend het die ontwikkeling van openbare vervoergeriewe nie tred gehou met die uitbreiding van woongebiede nie en sodoende verdere groei voorlopig belemmer. Die nuwe treine was immers vinniger en geriefliker as perde-omnibusse. Die laasgenoemde voertuie was vanaf 1865 twee dekades lank die belangrikste openbare vervoermiddel in die stadsgebied en aangrensende voorstede. Die perde-omnibusnetwerk is in die laat 1880's deur stoomtrems aangevul wat die middestad met voorstede suid-wes van Berlyn verbind het.
Maar eers met die voltooiing van die sogenaamde Ringbahn (sirkellyn) het treine as openbare vervoermiddel aantreklik geword. Die sirkellyn het Berlyn se bestaande treinstasies met mekaar verbind en goederevervoer vergemaklik. Die oostelike deel van die sirkellyn is in 1871, die westelike in 1877 in bedryf gestel. Vir die binnestedelike treinlyne moes viadukte gebou word. Die uitbou van verbindings na die voorstede het tot in die 1890's voortgeduur. Met nuwe bekostigbare tariewe vir pendelaars het treine vanaf 1891 'n massavervoermiddel vir Berlyners geword.
Stoomlokomotiewe het byna vier dekades lank stoom en roet in die stadsgebied uitgeblaas voordat sirkel-, stads- en pendelaarstreine omstreeks 1930 geleidelik deur elektriese lokomotiewe getrek is. Op binnestedelike lyne is perde en stoomlokomotiewe al dekades vroeër deur elektriese trems (vanaf 1881) en moltreine (vanaf 1902) vervang. Die eerste elektriese stadstreine (S-Bahn) het vanaf 1924 tussen Bernau en Berlyn gery.
Die openbare vervoerstelsel het kort voor die eeuwisseling 'n effektiewe mededinger gekry. In 1892 het die eerste privaat motor sy verskyning in Berlyn gemaak. Reeds ses jaar later is die eerste motorwedren in die stad gehou. Keiser Wilhelm II, wat daarvan gehou het om in een van sy chauffeur-gedrewe motors op die Unter den Linden-boulevard of na Potsdam te ry, het in 1905 die eerste internasionale motorskou geopen. Kort daarna is die Keiserlike Motorklub (Kaiserlicher Automobil-Club) gestig.
Motorvoertuie het as huurmotors vanaf 1899 met perdewaens meegeding, en in 1905 is die eerste motorbusse in bedryf gestel. Die laaste perdebus is in 1920 uitgefaseer.
Die uitgebreide openbare vervoerstelsel, wat tot in die omgewing van Berlyn gestrek en ook nuwe waterweë soos die Teltowkanaal ingesluit het, het die ongekende groei van Berlyn, moderne stadsbeplanning en die skepping van goeie en ordelike woon- en werkomstandighede eers moontlik gemaak. Nuwe nywerhede kon sodoende oral in die stadsgebied en in die voorstede gevestig word. Tussen 1890 en 1900 is 'n radius van tussen 30 en 50 km om die middestad deur industrialisering geraak. Ondernemings soos Siemens en Borsig het nuwe fabrieke in die noordelike voorstede laat oprig, en tegelykertyd het nuwe werkerswoonbuurte soos Tegel-Borsigwalde en Siemensstadt ontstaan. Nuwe nywerheidsgebiede het ook in die suide langs die Teltowkanaal en die Dresdner Bahn-spoorweglyn naby Teltow, Tempelhof, Mariendorf, Marienfelde, Britz en Johannisthal begin uitbrei.
Berlyners was vry om hul woon- en werkplekke ook in buitewyke of voorstede te soek. Hoe groter afstande tussen woon- en werkplek geword het, des te sneller het die lewe vir Berlyners geword. Uitdrukkings soos Berliner Tempo het na die nuwe haastige lewensritme begin verwys.
Berlyn beskik oor 5 334 kilometer se openbare strate en 1,44 miljoen geregistreerde voertuie. Moltreine, S-Bahn-treine (stadstreine), trems, busse, nagbusse en snelbusse (X- en metrobusse) dek die hele stadsgebied met 2 286 kilometer se linies. Daar is ook fietspaaie dwarsoor die stad. Die internasionale lughawens is Berlyn-Brandenburg Internasionale Lughawe in die suidooste, wat op 31 Oktober 2020 amptelik geopen is en as 'n gemeenskaplike lughawe vir die deelstate Berlyn en Brandenburg dien. Die belangrikste internasionale lughawe in Duitsland is egter Frankfurt am Main.
Tot op 8 November 2020 het Berlin-Tegel Otto Lilienthal in die noordweste as Berlyn saam met Berlin-Schönefeld as Berlyn se twee internasionale lughawens gedien, totdat die nuwe lughawe Berlyn-Brandenburg Internasionale Lughawe geopen is. Albei lughawens het 37,4 miljoen passasiers in 2018 hanteer.[42]
'n Derde internasionale lughawe, Berlin Tempelhof, was in die middestad geleë, maar is om ekonomiese en veiligheidsredes op 30 Oktober 2008 gesluit. Die lughawe is in sy laaste jare nog oorwegend deur kleiner stralers aangedoen en was veral gemik op sakereisigers. Met 'n oppervlak van 450 hektaar en 'n hoofgebou wat oor 'n lengte van 1,2 kilometer strek en 300 000 vierkante meter beslaan was Tempelhof vroeër die grootste lughawe ter wêreld en het ook met die grootste gebou gepronk. Toe die lughawe in 1936 in bedryf gestel is, is dit jaarliks deur sowat 200 000 passasiers gebruik, terwyl dit uiteindelik op 'n jaarlikse aantal van sowat ses miljoen reisigers gemik was. Die lughawe is grotendeels in sy oorspronklike vorm bewaar en is vanweë sy baanbrekende konsep deur die Britse argitek Norman Foster "die moeder van alle moderne lughawens" genoem.[43] Weens die verwagte snelle groei van Berlyn ná die Duitse hereniging in 1990 is daar aanvanklik beplan om die terrein vir die oprigting van 40 000 nuwe woonstelle, wat 120 000 bewoners sou huisves, te gebruik. Berlyn se bevolkingsgroei was egter aansienlik laer, en die oorspronklike planne is intussen duidelik afgeskaal. Nuwe woonstelle gaan waarskynlik net aan die rand van die vliegveld opgerig word.
Die nuwe Berliner Hauptbahnhof (Berlynse hoofstasie) is op 26 Mei 2006 feestelik ingewy. Die stasie, wat volgens die Duitse Spoorweë Deutsche Bundesbahn die modernste ter wêreld is, is deur die Letties-gebore Duitse argitek Meinhard von Gerkan ontwerp en teen 'n koste van sowat 700 miljoen Euro opgerig. Die stasie verbind die tradisionele treinstasie-argitektuur met moderne konsepte en sal daagliks sowat 1 100 treine en 300 000 passasiers hanteer.
Belangrike uitstallings waaraan ook Suid-Afrika deelneem is die Internationale Grüne Woche Berlin ('n landbouskou vir voeding, land- en tuinbou; dit word jaarliks in Januarie gehou) en die Internationale Tourismusbörse (reis- en toerisme-ekspo, jaarliks in Maart). Naas die Consumer Electronics Show (CES) in Las Vegas (Verenigde State) is die Internationale Funkausstellung die grootste uitstalling van elektroniese verbruikersware (soos televisie en hoëtroustelle) wat vanaf 2005 jaarliks plaasvind en – anders as sy Amerikaanse eweknie – oop staan vir privaatbesoekers.
Februarie is die maand van die jaarlikse Berlinale, die internasionale filmfees van Berlyn.
Die Love Parade, wat in die jare negentig nog as 'n klein straatfees gehou is, het in sy hoogty meer as een miljoen jongmense gelok. Die reuse partytjie van dans en tegnomusiek het in Julie 2006 vir die laaste keer in Berlyn plaasgevind. In 2004 en 2005 is dit weens 'n gebrek aan fondse en borge gekanselleer, en Essen, Dortmund en Duisburg het in 2007, 2008 en 2010 as nuwe gasheerstede opgetree.[44]
Die ander bekende feeste is die Karneval der Kulturen, 'n kleurryke fees met meer as 4 000 groepe en dansers van dwarsoor die wêreld, wat gedurende Pinkster plaasvind, en die Christopher Street Day-parade wat deur Berlyn se gay en lesbiese gemeenskap jaarliks in Junie georganiseer word en gereeld meer as 'n halfmiljoen toeskouers lok.
Berlyn het vanaf die laat 20ste eeu tot een van die gewildste reisbestemmings in Europa ontwikkel. 16,1 persent van alle internasionale toeriste, wat 'n besoek aan Duitsland bring, kies die hoofstad as hul reisbestemming. In 2013 is altesaam 11,32 miljoen besoekers geregistreer – 'n styging van 4,4 persent teenoor die vorige jaar. Die aantal oornagtings het selfs met 8,2 persent gestyg tot meer as 26,9 miljoen.[45]
Tans bied 786 hotelle en ander verblyfondernemings 132 600 hotelbeddens aan waarvan 'n gemiddeld van 56,4 persent bespreek is. Daar is ook vyf kampeerterreine binne die stadsgebied. Berlyn se verblyfondernemings en restaurante het in 2013 altesaam meer as 90 000 werknemers in diens gehad en beroepsopleiding vir byna 5 000 jongmense verskaf.
Die Duitse hoofstad raak ook toenemend gewild by kongresgangers. In 2013 is 126 200 kongresse van een of meer dae met 10,6 miljoen deelnemers in Berlyn gehou.
Die gewildste geregte is moontlik die beroemde Berlynse kerriewors en die Turkse döner ('n met vleis en groente gevulde brood), wat albei by straatstalletjies verkoop word. Nietemin is daar ook sowat 6 000 restourante, waarvan die helfte tradisionele Duitse kookkuns bied. Byna alle lande het 'n restourant met hulle spesialiteite in die stad.
Kuns en sakewêreld het in die vroeë 20ste eeu 'n vrugbare verbintenis gehad waaruit 'n florerende rolprentbedryf ontstaan het. Gedurende die 1920's, wat algemeen as die goue tydperk van Duitse filmkuns beskou word, was Berlyn saam met Potsdam-Babelsberg danksy die grootste ateljees in Europa en eersterangse moderne toerusting die spilpunt van 'n bedryf waar rolprentmakers ongekende vryheid geniet het.
Hier het filmwerke ontstaan waarin ekspressionistiese stomfilmakteurs hul rolle temidde van kunsvolle coulisses met gesofistikeerde beligting vertolk het. Die plaaslike filmbedryf het ook gedurende die Nazi-bewind nog gefloreer, alhoewel baie regisseurs en sterre na Hollywood geëmigreer het.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het Berlyn met die Berlinale sy eie filmfees gevestig waartydens een van die mees prestigieuse pryse in die filmwêreld, die Goue Beer, toegeken word. Plaaslike rolprentmakers het hulle naas komedies op films toegespits waarin Berlyn en sy besondere geskiedenis sentraal staan. The Grand Budapest Hotel, 'n komedie wat as Brits-Duitse koproduksie ontstaan het, het in Februarie 2015 vier Oscars ingepalm.
Voormalige susterstede (ná die Russiese inval in Oekraïne sedert 2022 beëindig):
Wikimedia Commons bevat media in verband met Berlyn. |
Sien Berlyn in Wiktionary, die vrye woordeboek. |
Deelstate van Duitsland | |
---|---|
Baden-Württemberg | Beiere | Berlyn | Brandenburg | Bremen | Hamburg | Hesse | Mecklenburg-Voorpommere | Nedersakse | Noordryn-Wesfale | Rynland-Palts | Saarland | Sakse | Sakse-Anhalt | Sleeswyk-Holstein | Thüringen |