Bul | ||||
![]() | ||||
Latynse naam | Taurus | |||
Genitief | Tauri | |||
Afkorting | Tau | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 4,9 h | |||
Deklinasie | +19º | |||
Grootte | 797 vk. grade | |||
Kwadrant | NQ1 | |||
Besonderhede | ||||
Hoofsterre | 19 | |||
Helderste ster | Aldebaran (α Tau) | |||
Naaste ster | Gliese 176 | |||
Sterre helderder as 3 m | 4 | |||
Sterre met planete | 7 | |||
Messier-voorwerpe | 2 | |||
Bayer-/Flamsteed-sterre | 132 | |||
Meteoorreëns | 2 | |||
Aangrensende sterrebeelde | ||||
Koetsier, Perseus, Ram, Walvis, Eridanus, Jagter, Tweeling | ||||
|
Die Bul of Stier (Latyn: Taurus) is ’n sterrebeeld in die noordelike hemelruim. Dit is een van die 48 konstellasies wat deur die 2de-eeuse sterrekundige Ptolemaeus beskryf is en is steeds een van die 88 moderne sterrebeelde.
Die Bul is een van die sterrebeelde van die diereriem en een van die oudstes. Dit was reeds in die vroeë Bronstydperk bekend, toe dit die ligging van die son aangedui het tydens die lentenagewening. Dit is opgeneem in die Antieke Babiloniese, Egiptiese en Griekse mitologie.
Die Bul het verskeie interessante aspekte. Twee van die naaste oop sterreswerms aan die Aarde kom hierin voor: die Plejades en die Hiades, wat albei met die blote oog gesien kan word. Die rooi reus Aldebaran is die helderste ster in die sterrebeeld. In die noordwestelike deel is die supernova-oorblyfsel Messier 1, beter bekend as die Krap-newel. Die veranderlike ster T Tauri is die prototipe van ’n klas voor-hoofreekssterre, die T Tauri-sterre. Verskeie meteoorreëns kom in die sterrebeeld voor.
Die helderste ster van die Bul is Aldebaran, ’n oranje K5 III-tipe reus.[1] ’n V-vormige asterisme vorm die gesig van die Bul. Dit bestaan uit helder sterre van die Hiades-sterreswerm.[2] Aldebaran vorm die Bul se bloedbelope oog wat na die sterrebeeld Jagter gluur.[3]
In die weste word die twee horings van die Bul gevorm deur Beta en Zeta Tauri, twee veelvoudige sterre wat deur 8° geskei word. Beta is die tweede helderste ster in die sterrebeeld en grens aan die sterrebeeld Koetsier (Latyn: Auriga). Daarom word dit ook Gamma Aurigae genoem.
In die noordoostelike kwadrant van die sterrebeeld lê die Plejades of Sewe Susters, een van die naaste sterreswerms wat met die blote oog gesien kan word. In die noordelike deel noordwes van die Plejades lê die Kristalbal-newel, of NGC 1514. Dié planetêre newel is van historiese belang ná sy ontdekking in 1790 deur die Duitsgebore Britse sterrekundige William Herschel. Voorheen het sterrekundiges aangeneem dat die newel ’n groep sterre is. Herschel het egter ’n ster waargeneem omring deur ’n wolk van die een of ander aard. In 1864 het die Britse sterrekundige William Huggins die spektrum van die newel gebruik om te bepaal dat die newel glimmende gas is, eerder as sterre.
Ook in die Bul is die Krap-newel (M1), ’n supernova-oorblyfsel. Dit is geskep deur die ontploffing van ’n tipe II-supernova wat op 4 Julie 1054 van die Aarde af gesien is. Dit was helder genoeg om in die dag te sien en word in Chinese historiese dokumente genoem. Op sy helderste het die supernova ’n magnitude van −4 mag bereik, maar tans is dit net 8,4 mag en ’n teleskoop is nodig om dit te sien.[4][5] Van die inheemse volke van Noord-Amerika het dit ook gesien en dit is op verskeie potte uitgebeeld asook op ’n skildery in ’n Nieu-Mexiko-canyon. Die oorblyfsel self is egter eers in 1731 deur John Bevis ontdek.[6]
T Tauri is die prototipe van ’n klas veranderlike sterre wat T Tauri-sterre genoem word. Die ster ondergaan wisselvallige veranderinge in helderheid; dit wissel tussen 9 en 13 mag oor ’n tydperk van weke of maande.[7] Dit is ’n nuut gevormde stervoorwerp wat nou uit gas en stof ontstaan, maar nog nie ontwikkel het tot ’n hoofreeksster nie.[8] Die omringende newel, NGC 1555, word deur T Tauri verlig, en dié se helderheid wissel dus ook.[9]
Die verbinding tussen die sterrebeeld en ’n bul kom van die vroegste tye af. Michael Rappenglück van die Universiteit van München glo die sterreteken word uitgebeeld in ’n grottekening in die Saal van Bulle in Lascaux (uit omstreeks 15000 v.C.), en daarmee saam die Plejades.[10] Die naam Sewe Susters word in baie tale gebruik vir die Plejades, onder meer dié van die inheemse volke van Australië, Noord-Amerika en Siberië. Dit dui daarop dat die naam ’n gemeenskaplike antieke oorsprong het.[11]
In die Babiloniese mitologie word die sterrebeeld MUL.APIN (die Hemelse Bul) genoem.[12] In die Mesopotamiese Heldedig van Gilgamesh, een van die vroegste literêre werke, stuur die godin Ishtar die Bul van die Hemel om Gilgamesh te vermoor omdat hy haar die koue skouer gegee het.[13] Gilgamesh word uitgebeeld as die aangrensende sterrebeeld Jagter, en in die lug kom hulle van aangesig tot aangesig teen mekaar te staan.[14] Vir die Egiptenare was die Bul ’n heilige bul wat vereenselwig is met die hernuwing van lewe in die lente. Vir die vroeë Hebreërs was die Bul die eerste sterrebeeld in hul diereriem en dit word dus voorgestel deur die eerste letter van die Hebreeuse alfabet, Aleph.
In die Griekse mitologie word die Bul verbind met Zeus, wat die vorm van ’n manjifieke wit bul aangeneem het om Europa, ’n legendariese Fenisiese prinses, te ontvoer. In ’n ander Griekse mite is die Bul Io, ’n minnares van Zeus. Om haar van sy vrou, Hera, weg te steek, het Zeus haar in ’n vers verander.[15] Die Griekse mitograaf Acusilaus noem die Bul as die Kretensiese Bul in die mite van die twaalf take van Hercules.[16]
{{cite journal}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp)[dooie skakel]