Carel Boshoff

Carel Boshoff (III)
Carel Boshoff
Gebore
Carel Willem Hendrik Boshoff

9 November 1927
Sterf16 Maart 2011 (op 83)
NasionaliteitSuid-Afrika
BeroepAkademikus, politikus
Bekend virStigter van Orania
EggenootAnna Verwoerd
KindersCarel Boshoff IV

Professor Carel Willem Hendrik Boshoff (9 November 1927 - 16 Maart 2011) was die stigter van Orania en die skoonseun van die voormalige Eerste Minister van Suid-Afrika, Hendrik Verwoerd.[1]

Biografie

[wysig | wysig bron]

Carel Willem Hendrik Boshoff is op 9 November 1927 op die plaas Doornfontein naby Nylstroom gebore.[2] Hy was die tweede kind van Willem Sterrenberg Boshoff en Anna Maria (Annie) Boshoff.[3] Annie was Willem se tweede vrou en Carel was een van sewe kinders. Willem en sy eerste vrou het ses kinders gehad.[2]

Boshoff het teologie aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en het sy BA-graad in 1948 verwerf. In 1951 het hy sy Baccalaureus Divinitatis-graad behaal en in 1961 'n meestersgraad in missiologie met die titel van sy proefskrif Streeksontwikkeling in die Sekokoro-, Mamathola- en Mametsa-gebied deur die Departement van Bantoe-Administrasie en -Ontwikkeling, sosiologies en volkekundig beoordeel.[4]

In 1967 het hy die Departement Sending- en Godsdienswetenskap aan die Fakulteit Teologie van die UP tot stand gebring. Voor die tyd het hy in verskeie afgeleë plekke in die Transvaal sendingwerk gedoen en kon gevolglik vlot Noord-Sotho praat. Hy was ook die Sekretaris van Sendingwerk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Transvaal.

Boshoff se vrou Anna, met wie hy in 1954 getroud is, is in 2007 oorlede. Sy was die dogter van dr. Hendrik en mev. Betsie Verwoerd.[5] Van 1981 tot 1989 was Boshoff die leier van die Voortrekkerbeweging en was tot sy afsterwe 'n erelid van dié organisasie. Hy was verder ook die voorsitter van die Afrikaner Broederbond (van 1980 tot 1983) en van SABRA van 1970 tot 2007. Hy was ook leier van die Vryheidsfront Plus in die Noord-Kaap sedert 1994, totdat hy deur sy seun in die pos opgevolg is.

In 1988 was Boshoff een van die Afrikaner Vryheidstigting (AVSTIG), alhoewel hy hoofsaaklik bekend is as die stigter van Afrikanerdorp, Orania, in 1990. Dit is gestig met die doel om dit in 'n volkstaat uit te brei. Tot en met 2007 was Boshoff die president van die Orania Beweging, toe hy ook deur sy seun, Carel Boshoff IV, opgevolg is.

Boshoff is op 16 Maart 2011 op 83-jarige ouderdom aan kanker oorlede. Hy is aanvanklik met dermkanker gediagnoseer, maar dit het sowat twee weke voor sy dood na sy ander organe versprei.

Ampte

[wysig | wysig bron]

Boshoff het die volgende ampte beklee:

Posisie Organisasie Aangestel Afgeloop
Voorsitter Orania Verteenwoordigende Raad 2000 2006
Voorsitter Orania Bestuurdienste (Edms) Bpk. 1990
Uitvoerende hoof Afrikaner Vryheidstigting 1988
Voorsitter Afrikaanse Gereformeerde Bond 1987
Voorsitter Die Afrikaner Volkswag (Kultuurorganisasie) 1984 1999
Voorsitter Die Afrikaner Broederbond 1979 1983
Stigter en voorsitter Instituut vir Missiologiese Navorsing, UP 1979 1988
Voorsitter SABRA 1972 1999
Lid Raad van die Randse Onderwyskollege 1963 1979
Voorsitter NG Kerkboekhandel 1988 1988
Lid Provinsiale Raad, Noord-Kaap 1994 2001
Afgevaardigde Statebondkonferensie, Australië 2000 2000
Nasionale leier Voortrekkerbeweging 1981 1989
Dekaan Fakulteit Teologie, UP 1978 1981
Sendeling NG Kerk 1953 1963

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Stigter van Orania sterf" (html) (in Engels). Nuus24. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Maart 2011. Besoek op 16 Maart 2011.
  2. 2,0 2,1 "Boshoff's van Doornfontein: kort voorgeskiedenis". Geargiveer vanaf die oorspronklike (html) op 18 Oktober 2011. Besoek op 16 Maart 2011.
  3. "Carel Willem Hendrik Boshoff" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike (html) op 20 Maart 2011. Besoek op 16 Maart 2011.
  4. "Professor Carel Boshoff" (in Engels). sahistory.org.za. Geargiveer vanaf die oorspronklike (html) op 19 April 2011. Besoek op 16 Maart 2011.
  5. "Anna Boshoff was a 'community person par excellence'" (html) (in Engels). Mail & Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 16 Maart 2011.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]