Carlo Maria Giulini | |
---|---|
![]() | |
Gebore | Barletta, Koninkryk van Italië | 9 Mei 1914
Sterf | 14 Junie 2005 (op 91) Brescia, Italië |
Beroep | Dirigent |
Jare aktief | 1944–1998 (54 jaar) |
Carlo Maria Giulini (Cavaliere di Gran Croce OMRI) (Italiaanse uitspraak: [ˈkarlo maˈriːa dʒuˈliːni]; * 9 Mei 1914 – † 14 Junie 2005) was 'n Italiaanse dirigent.
Giulini het op die ouderdom van vyf jaar viool begin speel. Sy musikale opvoeding is uitgebrei toe hy op die ouderdom van sestien by Italië se mees vooraanstaande konservatoria, te wete die Accademia Nazionale di Santa Cecilia in Rome begin studeer het. Aanvanklik het hy die altviool en dirigeer gestudeer en daarna, na 'n oudisie, het hy 'n plek gewen in die Orchestra dell'Accademia Nazionale di Santa Cecilia.
Alhoewel hy twee jaar later 'n dirigeerkompetisie gewen het, kon hy nie van die prys - naamlik die geleentheid om te dirigeer - gebruik maak nie aangesien hy opgeroep is tydens die Tweede Wêreldoorlog. Soos die oorlog einde se kant toe beweeg het, het hy tot die bevryding sou aanbreek weggekruip ten einde te verhoed dat hy saam met die Duitsers moes veg. Terwyl hy weggesteek was het hy met sy metgesel, Marcella, getrou en hulle het tot haar dood in 1995 onafskeidbaar gebly. Hulle het drie kinders gehad.[1]
Na die 1944 bevryding is hy uitgenooi om wat toe bekend gestaan het as die Augusteo Orkes (nou die Santa Cecilia Orkes)[2] te lei in die orkes se eerste na-oorlogse konsert. Ander geleenthede het gou na sy kant toe gekom. Die geleenthede het sommige van die wêreld se grootste simfonieorkeste ingesluit, soos die Chicago Simfonieorkes, Londen se Philharmonia Orkes, en die Weense Filharmoniese Orkes. Sy loopbaan het oor 54 jaar gestrek en hy het eers in 1998 afgetree. Giulini is op die ouderdom van 91 jaar in Brescia, Italië, oorlede.
Giulini se mees noemenswaardige opera-opnames sluit die Philharmonia Orkes en Koor 1959-weergawes van Mozart se operas Le nozze di Figaro en Don Giovanni vir EMI in, sowel as sy lewendige opname in 1955 van Verdi se La traviata met Maria Callas. Hy het ook opnames gemaak van Verdi se Requiem en die Vier Gewyde Stukke, wat hoog aangeprys was.
Bewonderenswaardige orkestrale stukke sluit Debussy se La mer (Debussy) en Nokturnes (Debussy), Dvořák se 9de Simfonie en Tsjaikofski se 6de Simfonie met die Philharmonia Orkes, Moessorski se Prente by 'n Uitstalling, Brahms se 4de Simfonie en Mahler se 1ste en 9de simfonieë met die Chicago Simfonieorkes, Beethoven se 3rde en 5de Simfonieë, en Schumann se 3rde Simfonie met die Los Angeles Filharmoniese Orkes, Mahler se Das Lied von der Erde met die Berliner Philharmoniker, Brahms se vier simfonieë, Bruckner se 7de, 8ste en 9de simfonieë met die Weense Filharmoniese Orkes, en Dvořák se 7de en 9de Simfonieë met die Koninklike Concertgebouw Orkes van Amsterdam in. Die meeste van hierdie opnames was gemaak vir die Deutsche Grammophon plate-etiket. Sy lewendige opname van Britten se War Requiem wat gemaak is in die Royal Albert Hall in 1969, is beskikbaar as 'n BBC Legends opname en is 'n Gramophone-toekenningwenner.
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Carlo Maria Giulini. |
Kulturele poste | ||
---|---|---|
Voorafgegaan deur Victor de Sabata |
Musikale Direkteurs, La Scala, Milaan 1953–1956 |
Opgevolg deur Guido Cantelli |