Cass Elliot | |
---|---|
Cass Elliot in 1972 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Ellen Naomi Cohen |
Gebore | 19 September 1941 Baltimore, Maryland, VSA |
Sterf | 29 Julie 1974 Londen, Engeland, Verenigde Koninkryk |
Genres | Popmusiek Folk rock |
Beroep(e) | Sangeres |
Instrumente | Stem |
Jare aktief | 1959 tot 1974 |
Etikette | FM Dunhill RCA |
Assosiasies | The Mamas & the Papas |
Webwerf | casselliot.com |
Cass Elliot (gebore as Ellen Naomi Cohen; * 19 September 1941, † 29 Julie 1974), ook bekend as Mama Cass, was 'n Amerikaanse sangeres en lid van die popgroep The Mamas & the Papas. Ná die ontbinding van dié groep het Elliot vyf soloalbums vrygestel. In 1974 is Elliot op die hoogtepunt van haar loopbaan, toe sy 'n konserttoer in die Verenigde Koninkryk onderneem en onder meer in die London Palladium opgetree het, in die woonstel van haar vriend, die Amerikaanse sanger Harry Nilsson (1941–1994), in Mayfair, Londen, waar sy tydens die toer gebly het, skielik in haar slaap aan 'n hartaanval oorlede.
Reeds kort ná haar afsterwe het onware gerugte die rondte gedoen dat sy aan 'n toebroodjie verstik het. Tydens die nadoodse ondersoek, wat deur Keith Simpson, een van die Verenigde Koninkryk se voorste forensiese patoloë op daardie tydstip, en die Londense lykskouer Dr Gavin Thurston gedoen is, is geen onverteerde kos in haar maag gevind nie.[1] Cass Elliot het haar laaste rusplek op die Mount Sinai-begraafplaas in Hollywood Hills, Los Angeles gevind.
In 1998 is Elliot postuum saam met die drie ander groeplede van The Mamas & the Papas - John Phillips, Denny Doherty en Michelle Phillips - in die Rock and Roll Hall of Fame opgeneem.[2] Die Hollywoodse Kamer van Koophandel se Walk of Fame-keurkomitee het op 22 Junie 2015 bekendgemaak dat Cass Elliot as deel van die Klas van 2016 postuum met 'n ster op die Hollywood Walk of Fame vereer sal word.[3] Cass Elliot se amptelike webtuiste word onderhou deur haar dogter Owen Elliot-Kugell.
Cass Elliot is een van honderde musikale kunstenaars wie se bandopnames in die groot brandramp op 1 Junie 2008 in die Universal Music-ateljees in Universal City, Kalifornië verlore gegaan het.[4]
Cass Elliot is in Baltimore, Maryland as dogter van Philip Cohen († 1962), eienaar van 'n klein besigheid, en Bess Levine (1915–1994), 'n opgeleide verpleegster, gebore.[5] Haar ouers is as kinders van Joodse immigrante gebore wat hulle tydens die groot emigrasiegolf uit die Russiese Tsareryk vanaf 1881 in die Verenigde State gevestig het.[6]