Mokgadi Caster Semenya[1] OIB (* Ga-Masehlong, naby Polokwane, 7 Januarie 1991) is 'n Suid-Afrikaanse middelafstandatleet wat in die 800 m-item spesialiseer. Sy het in hierdie baanitem Suid-Afrikaanse en wêreldkampioen geword.
Op 6 Julie 2010 het die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) toestemming verleen dat sy weer teen vroueatlete mag deelneem, na uitgerekte spekulasie oor haar geslag.[2] Sy wen haar eerste wedloop na haar hertoetrede toe sy op 15 Julie 2010 gemaklik met 'n tyd van 2:04.22 by die Lappeenranta-spele in Finland wen.[3]
Tydens die Olimpiese Somerspele van 2012 wen sy 'n silwermedalje in die 800 m-wedloop, wat later deur die IOK opgegradeer is na goud. Semenya het by die openingseremonie die Suid-Afrikaanse vlag gedra.[4]
Op 20 Augustus 2016 wen sy 'n goue medalje in die 800 m-wedloop by die Olimpiese Spele van 2016 in Rio de Janeiro, in 'n tyd van 1:55.28.[5]
Datum | Kompetisie | Plek | Uitslag | Item |
---|---|---|---|---|
2009 | Wêreldatletiekkampioenskap | Berlyn | 1ste | 800 m |
2011 | Wêreldatletiekkampioenskap | Daegu | 2de | 800 m |
2012 | Olimpiese Somerspele 2012 | Londen | Goud | 800 m |
2015 | Afrika-atletiekkampioenskap | Brazzaville | 1ste | 800 m |
2016 | Olimpiese Somerspele 2016 | Rio de Janeiro | Goud | 800 m |
Item | Prestasie | Datum | Plek |
---|---|---|---|
400 m | 52,54 s | 26 Maart 2011 | Germiston |
600 m | 1.25,56 | 13 Junie 2012 | Turku |
800 m | 1.55,28 (nasionale rekord) | 20 Augustus 2016 | Rio de Janeiro |
1500 m | 4.08,01 | 2 Augustus 2009 | Bambous |
Semenya het tydens Vryheidsdag op 27 April 2014 die Orde van Ikhamanga in brons van die president ontvang.[6]
Voorafgegaan deur Natalie du Toit |
Vlagdraer vir Suid-Afrika Londen 2012 |
Opgevolg deur Wayde van Niekerk |