Catherine Deneuve | |
Deneuve in 2014 by die Cannes-rolprentfees.
| |
Geboortenaam | Catherine Fabienne Dorléac |
---|---|
Geboorte | 22 Oktober 1943 |
Aktiewe jare | 1957-hede |
Catherine Deneuve (gebore as Catherine Fabienne Dorléac; 22 Oktober 1943) is ’n Franse aktrise wat bekendheid verwerf het in rolle van afsydige, geheimsinnige skoonhede.[1][2]
Deneuve was 13 jaar oud toe sy haar akteursloopbaan met ’n klein rol in Les Collégiennes (1957) begin het, saam met haar jonger suster, die kinderakteur Sylvie Dorléac.[3] Sy het erkenning gekry as Catherine Dorléac, maar het daarna haar ma se nooiensvan gebruik om haar van haar susters te onderskei.
Deneuve het eindelik in meer as 120 rolprente verskyn en is 14 keer vir die Franse César-prys benoem; sy het dit gewen vir Le Dernier Métro (1980) en Indochine (1992).
Sy het die eerste keer aandag getrek in die 1964-prent Les Parapluies de Cherbourg en het daarna in Répulsion (1965), Belle de Jour (1967) en Tristana (1970) verskyn. Sy is ook vir ’n Bafta benoem vir haar spel in Belle de Jour en vir ’n Oscar vir Indochine. In 1998 het sy die Volpi-beker by die Venesiese Rolprentfees gewen vir Place Vendôme.
Haar ander rolprente sluit in die neo-noir-misdaadprent Hustle (1975), die erotiese riller The Hunger (1983), die musiekdrama Dancer in the Dark (2000), die swart komedie 8 Women (2002) en die komediedrama In the Courtyard (2014).