Chester Alan Arthur | |
---|---|
21ste President van die Verenigde State | |
Ampstermyn | 20 September 1881 – 4 Maart 1885 |
Voorganger | James Garfield |
Opvolger | Grover Cleveland |
Geboortedatum | 5 Oktober 1829 |
Geboorteplek | Fairfield, Vermont |
Sterftedatum | 18 November 1886 (op 57) |
Sterfteplek | New York Stad, New York |
Eerste Dame | Ellen Herndon |
Politieke party | Republikein |
Visepresident | Geen |
Handtekening |
Chester Alan Arthur (5 Oktober 1829 – 18 November 1886) was die 21ste President van die Verenigde State. Arthur het president geword nadat James Garfield deur 'n sluipmoordenaar vermoor is.
Arthur is in Fairfield, Vermont, gebore, het in die staat New York grootgeword en het in New York as regspraktisyn gepraktiseer. Hy het gedien as kwartiermeester-generaal van die New York Milisie tydens die Amerikaanse Burgeroorlog. Na die oorlog het hy meer tyd aan New York se Republikeinse politiek gewy en vinnig in Senator Roscoe Conkling se politieke organisasie vooruitgegaan. President Ulysses S. Grant het hom in 1871 in die pos van hoof belastinggaarder van die hawe van New York aangestel, en hy was 'n belangrike ondersteuner van Conkling en die "Staatmaker"-faksie van die Republikeinse Party. In 1878 het president Rutherford B. Hayes, Arthur afgedank as deel van 'n plan om die federale patronaatstelsel in New York te hervorm. Garfield het die Republikeinse benoeming vir president in 1880 gewen, en Arthur is genomineer as visepresident om die kandidaat keuse met 'n "Ooskus Staatmaker - faksie" te balanseer. Vier maande in sy termyn is Garfield deur 'n sluipmoordenaar geskiet; hy is 11 weke later oorlede, en Arthur het die presidentskap aanvaar.
Aan die begin het Arthur gesukkel om 'n negatiewe reputasie as 'n "Staatmaker" en produk van Conkling se organisasie te oorkom. Tot die verbasing van hervormers het hy die Pendleton-staatsdienshervormingswet voorgestaan en afgedwing. Hy het die wedergeboorte van die Amerikaanse Vloot voorgesit, maar hy is gekritiseer omdat hy nie die federale begrotingsoorskot wat sedert die einde van die Burgeroorlog opgehoop het, verlig het nie. Arthur het die eerste weergawe van die Chinese Uitsluitingswet van 1882 geveto, met die argument dat die verbod van twintig jaar op Chinese immigrante na die Verenigde State die Burlingame-verdrag oortree het, maar hy het 'n tweede weergawe onderteken, wat 'n verbod van tien jaar ingesluit het.[1]
Omdat hy aan swak gesondheid gely het, het Arthur slegs 'n beperkte poging aangewend om die Republikeinse Party se nominasie in 1884 te verseker, en hy het aan die einde van sy termyn afgetree. Arthur se swak gesondheid en politieke temperament het gekombineer om sy administrasie minder aktief te maak as 'n moderne presidentskap, maar tog het hy lof onder tydgenote verdien vir sy goeie prestasie in die amp. Joernalis Alexander McClure het geskryf: "Niemand het ooit die Presidensie betree wat so diep en wyd gewantrou is soos Chester Alan Arthur nie, en niemand het ooit afgetree... meer algemeen gerespekteer, sowel deur politieke vriend en vyand nie."[2] Die New York World het Arthur se presidentskap by sy dood in 1886 opgesom as: "Geen plig is in sy administrasie verwaarloos nie, en geen avontuurlike projek het die nasie ontsteld nie."[3] Mark Twain het van hom geskryf: "Dit sou inderdaad moeilik wees om president Arthur se administrasie te verbeter."[3] Ten spyte hiervan beskryf moderne historici Arthur se presidentskap oor die algemeen as middelmatig.[4] of gemiddeld,[5] en Arthur as een van die mins onvergeetlike presidente.[6]