Die Dekadevulkane is 16 vulkane wat deur die International Association of Volcanology and Chemistry of the Earth's Interior (IAVCEI) geïdentifiseer is as van besondere verdienste om te bestudeer vanweë hulle geskiedenis van groot, verwoestende uitbarstings en hulle nabyheid aan dig bevolkte gebiede.
Die Dekadevulkane-projek moedig studies en openbare bedrywighede by dié vulkane aan met die doel om die vulkane en die gevare wat hulle inhou beter te verstaan. So kan die verwoesting van natuurrampe verminder word.
Hulle word Dekadevulkane genoem omdat die projek in die 1990's begin is as deel van die Internasionale Dekade vir die Verkleining van Natuurrrampe, wat deur die Verenigde Nasies geborg is.
'n Vulkaan kon as 'n Dekadevulkaan aangewys word as dit meer as een vulkaangevaar inhou, soos die neerstorting van brokstukke, piroklastiese, lawa- en modderstrome en/of die onstabiliteit of ineenstorting van die struktuur; as dit onlangse geologiese aktiwiteit getoon het; in 'n dig bevolkte gebied geleë is (en die lewe van tien- of honderdduisende mense bedreig); polities en fisiek bereikbaar is vir studie; en daar plaaslik steun vir die werk is.
Sedert dit begin is, het die Dekadevulkane-program 'n paar suksesse behaal in die voorspelling van vulkaangebeure en dreigende gevare. Een van die bekendstes was die geslaagde wegkeer van 'n lawastroom in 1992 by die berg Etna. Die lawa het die dorp Zafferana bedreig en het oor verskeie hindernisse gevloei wat in die pad daarvan in 'n vallei af geplaas is. Wetenskaplikes en ander het besluit om die lawa hoër op te laat opdam en het groot sementblokke in 'n luggat in 'n lawatonnel gegooi wat die lawastroom gevoed het. Die lawa het daarna digby Zafferana ophou vloei.[1]
Die program het die hoeveelheid inligting wat oor die Dekadevulkane bekend was, aansienlik vermeerder. Van dié vulkane was swak bestudeer voordat hulle vir studie gekies is. Die uitbarstingsgeskiedenis van die Galerasvulkaan word ook nou beter begryp as voorheen, en by die Taalvulkaan is die belangrikheid ontdek van water as die dryfkrag agter uitbarstings.
Mates wat ingestel is om die skade van toekomstige rampe te verklein, is 'n nuwe wet in die omgewing van die berg Rainier, waarkragtens geologiese gevare ondersoek moet word voor enige nuwe ontwikkelings mag plaasvind; 'n beperking op die ontwikkeling van digte behuisingsprojekte naby die Taalkaldera; en die ontwikkeling van 'n reddingsplan vir dele van Napels in geval van 'n uitbarsting van Vesuvius.[2]
Hoewel studies by baie vulkane gelei het tot 'n merkbare afname in risiko's vir die nabygeleë nedersettings, het uitbarstings by sommige van die ander die probleme gedemonstreer wat die program in die gesig staar. Uitbarstings by die berg Unzen, wat begin het kort voordat dit as 'n Dekadevulkaan aangewys is, is baie goed gemonitor, maar desondanks het 'n groot piroklastiese stroom 43 mense gedood, onder andere drie vulkanoloë.[3]
Later het 'n Dekadevulkane-konferensie in Pasto, Colombia, in 1993 rampspoedig geëindig toe verskeie van die wetenskaplikes teenwoordig skielik besluit het om 'n ekspedisie na die krater van Galeras te onderneem. Terwyl hulle op die piek was, het 'n uitbarsting skielik plaasgevind. Ses wetenskaplikes en drie toeriste is dood.[4]
Nog 'n probleem wat die program ondervind het, was burgerlike onrus naby verskeie vulkane. Die burgeroorlog in Guatemala het die bestudering van Volcán Santa María belemmer totdat 'n skietstilstand in 1996 uitgeroep is. 'n Burgeroorlog in die Demokratiese Republiek die Kongo het ook die bestudering van die Nyiragongovulkaan bemoeilik.
'n Algemener probleem was dat die min geld vir vulkaannavorsing daartoe gelei het dat programme met mekaar meegeding het om die beperkte fondse.[2]
Die volgende vulkane is as die 16 huidige Dekadevulkane aangewys:[5]
Vulkaan | Hoogte | Streek | Land | Bevolking* | Laaste uitbarsting | Streek geraak/ Hoekom 'n Dekadevulkaan? |
---|---|---|---|---|---|---|
Awatsjinski-Korjakski | 2 741 m (Awatsjinski) 3 456 m (Korjakski) |
Kamtsjatka | Rusland | |||
Volcán de Colima | 3 820 m | Colima/Jalisco | Mexiko | 770 000 (2019) [6] | Hele staat Colima | |
Galeras | 4 276 m | Nariño | Colombia | 1 630 000 (2018)[7] | Hele Nariño | |
Mauna Loa | 4 169 m | Hawaii | VSA | Grootste van die aktiewe skildvulkane in Hawaii. Gevaarlikste vir die stad Hilo | ||
Berg Etna | 3 326 m | Sisilië | Italië | 1 100 000[8] | 2013-tans | Hele stad Catania; Sisilië in die algemeen weens lugbesoedeling en aswolke. Kan gewelddadig uitbars; grootste uitbarsting het in 1669 altesaam 20 000 mense gedood.[9] Die Romeine het eens geglo die god Vulcanus het 'n werkwinkel hier en die uitbarstings word veroorsaak deur woede jeens sy vrou, Venus.[10] |
Berg Merapi | 2 910 m | Sentraal-Java | Indonesië | 5 050 000 (2019)[11] | Hele streek Yogyakarta | |
Nyiragongo | 3 470 m | Noord-Kivu | Demokratiese Republiek die Kongo | 2 000 000 | 22 Mei 2021-tans | Geen sensus die afgelope dekades vir uitgestrekte stad Goma. Lawa uiters vloeitraag of taai en beweeg vinnig. Mei 2021-uitbarsting het 32 mense gedood en duisende beseer.[12] |
Berg Rainier | 4 392 m | Washington | VSA | 795 000 (2010) | 1894-1895 | Hele Pierce County, insluitende stad Seattle. Kan enorme modderstortings veroorsaak, soos bewys deur die valleie daaronder in alle rigtings. Een van die gevaarlikste vulkane in die VSA.[13] |
Vesuvius | 1 281 m | Kampanië | Italië | 3 085 000[8] | 17-23 Maart 1944 | Hele stad Napels. Baie lang geskiedenis van verwoesting van stede in Suid-Italië, in staat tot groot piroklastiese strome. Het Herculaneum en Pompeji in 79 n.C. verwoes |
Berg Unzen | 1 486 m | Nagasaki/Kumamoto | Japan | 1 320 000 (2019)[14] | Nagasaki, potensiaal vir tsoenami's | |
Sakurajima | 1 117 m | Kagoshima | Japan | 1 470 000 (2019)[14] | Hele Kagoshima buiten Amami-eilande | |
Santa María | 3 772 m | Quetzaltenango | Guatemala | 1 127 000 (2018)[15] | 23 Augustus 2013 | Hele Quetzaltenango en Retalhuleu |
Santorini (Thera) | 367 m | Suid-Egeïese See | Griekeland | Hele eiland Santorini, een veel groter. In 1646 v.C. het Santorini, toe Thera genoem, 'n uitbarsting gehad veel kragtiger as die een in die 1880's by Krakatoa.[16] Wat eens een eiland was, is nou drie met 'n kaldera onderwater. Risiko van tsoenami; rekord van een in 1646 v.C.[17] | ||
Taalvulkaan | 311 m | Calabarzon | Filippyne | 24 393 000 (2020)[18] | Hele streke van Batangas, Cavite, Manila en Laguna | |
Teide | 3 715 m | Kanariese Eilande | Spanje | 900 000 | Tenerife, tsoenami-potensiaal | |
Ulawun | 2 334 m | Oos- en Wes-Nieu-Brittanje | Papoea-Nieu-Guinee |