Dimitri Verhulst | |
---|---|
Dimitri Verhulst | |
Gebore | 2 Oktober 1972 |
Nasionaliteit | Belgies |
Beroep | digter, skrywer |
Dimitri Verhulst (2 Oktober 1972) is 'n Belgiese skrywer en digter. Hy is veral bekend vir sy romans De helaasheid der dingen (In Afrikaans vertaal deur Daniël Hugo as Die helaasheid van die dinge) en Problemski Hotel.
Verhulst kom uit 'n gebroke huis, en het sy latere kinderjare in 'n weeshuis deurgebring. [1] Hy het as 'n Katoliek grootgeword. [2] As skrywer maak hy sy debuut in 1994 met die self-gepubliseerde Assevrijdag. [1] In 1999 verskyn sy eerste amptelike publikasie, 'n versameling verhale oor sy jeug, getiteld De kamer hiernaast, waarvoor hy genomineer is vir die NRC Literair Prijs. [1] Die roman Niets, niemand en redelijk stil (2000) handel ook oor sy jeug, maar De verveling van de keeper (2002) dui op 'n stylverandering en word gekenmerk deur groter maatskaplike en politieke betrokkenheid. [3] In 2001 publiseer Verhulst Liefde, tenzij anders vermeld, 'n bundel gedigte.
Sy deurbraak wat die algemene publiek betref het in 2003 gekom met Problemski Hotel. Dit handel oor die inwoners van 'n sentrum vir asielsoekers in Arendonk (België). Die boek is in meer as tien tale vertaal. [3] Die Belgiese filmmaker Manu Riche het 'n rolprent gemaak wat gebaseer is op die boek, en wat in Januarie 2016 verskyn het. [4] In 2006 verskyn sy roman De helaasheid der dingen (vertaal in Afrikaans deur Dr. Daniël Hugo as Die helaasheid van die dinge), en ook die novelle Mevrouw Verona daalt de heuvel af. In 2008 is Godverdomse dagen op een godverdomse bol gepubliseer, waarvoor Verhulst die 2009 Libris-prys gewen het; [1][2] Verhulst het ook die 2015 Boekenweekgeschenk, De zomer hou je ook niet tegen geskryf. [2] Sy roman uit 2015 getiteld Bloedboek, 'n hervertelling van die Pentateug, is geprys in De Morgen vir die vermaaklikheidswaarde daarvan; [5] in die Nederlandse dagblad Trouw is dit 'n "grusame bijbel" genoem, met die onderhoudvoerder wat Verhulst bevraagteken het oor sy gebruik van frases soos "Finale oplossing" in die her-vertelling van die eerste vyf boeke van die Bybel. Verhulst het geantwoord dat hy die "wêreldwye taal van volksmoord" gebesig het.[2]
Verhulst publiseer gereeld in die literêre tydskrifte Underground, Nieuw Wereldtijdschrift en De Brakke Hond. Hy dien ook as 'n redakteur vir die tydskrif Underground. [1] Hy woon en werk in Huccorgne. [6]
Verhulst se skryfstyl kan gekarakteriseer word as sarkasties, maar deernisvol. Sy taalgebruik kan eksplisiet en skreeusnaaks wees. [1] Die Belgiese skrywer Louis Paul Boon is 'n bron van inspirasie vir Verhulst.[1]
Sy skryfwerk is kontroversieel; soveel so dat Verhulst reeds twee keer gedagvaar is.[1]
Op 27 Julie 2019 publiseer Verhulst 'n rubriek in die Belgiese dagblad De Morgen oor Palestynse moderne letterkunde. [7] In die rubriek beweer Verhulst dat hy Serge Gainsbourg aanhaal; en skryf: "Jood-zijn is geen godsdienst; er is geen enkele God die Zijn schepsels zo’n lelijke neus zou geven." Volgens The Times of Israel, was dit egter nie Gainsbourg se oorspronklike woorde nie, en beskuldig Verhulst Israeliese Jode van verskeie misdade in sy rubriek. The Times of Israel het vermeld dat die Forum van Joodse Organisasies van België se Vlaamse streek Verhulst van "ongebreidelde antisemitisme" in sy rubriek beskuldig het. Die Nederlandse hoofrabbi Binyomin Jacobs het die rubriek "suiwer antisemitisme" genoem.[8]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |