Dwergisme | ||
Klassifikasie en eksterne bronne | ||
Kyle Pacek is 'n Amerikaanse akteur en waaghals. Pacek het 'n vorm van dwergisme bekend as achondroplasie; hy is 137 cm lank. | ||
ICD-10 | E23.0, E34.2, E45.0, Q77.4 | |
ICD-9 | 253.3, 259.4 | |
DiseasesDB | 80 | |
MedlinePlus | 001176 | |
MeSH | D004392 | |
Mediese waarskuwing |
Dwergisme beskryf 'n toestand waarin 'n organisme besonder klein is. Dit kom veral onder diere voor.[1] In mense word dit soms gedefinieer as 'n volwasse lengte van minder as 147 cm, ongeag die geslag. Die gemiddelde volwasse lengte onder mense met dwergisme is 122 cm, hoewel sommige effens langer is.[2][3][4] Disproporsionele dwergisme word gekenmerk deur óf kort ledemate óf 'n kort torso. In gevalle van proporsionele dwergisme is beide die ledemate en torso ongewoon klein.
Intelligensie is gewoonlik normaal en die meeste mense met dwergisme het 'n byna normale lewensverwagting.[5][6] Hulle kan gewoonlik kinders kry, hoewel dit bykomende risiko's vir die ma en kind inhou, na gelang van die onderliggende toestand.
Die algemeenste en makliks herkenbare vorm van dwergisme in mense (70% van gevalle) is die genetiese steuring achondroplasie, waar die ledemate baie klein is.[7] 'n Tekort aan groeihormone veroorsaak die meeste van die ander gevalle.[8]
Behandeling hang af van die onderliggende oorsaak. Mense met genetiese steurings kan soms met chirurgie of fisieke terapie behandel word. Hormoonsteurings kan ook behandel word met groeihormoonterpaie voordat die kind se groeiplate vasgroei. Individuele aanpassings, soos spesiale meubels, word soms deur mense met dwergisme gebruik.[9]
Baie steungroepe verskaf dienste om individue te help, onder meer teen die diskriminasie wat hulle in die gesig staar.[10]
Benewens die mediese aspek van die toestand, is daar ook die sosiale aspekte. Iemand met dwergisme kan as kind bespot word weens sy lengte en as volwassene kan daar teen hom gediskrimineer word.[11][12]
'n Definiërende eienskap van dwergisme is 'n lengte van minder as 147 cm by volwassenes. Daar is 'n groot verskeidenheid fisieke eienskappe. Variasies in individue word geïdentifiseer deur die onderliggende steurings te diagnoseer en monitor. Daar is soms geen komplikasies buiten om aanpassings te moet maak vir hulle grootte nie. Mense met ligte skeletdisplasie word nie altyd deur dwergisme gekenmerk nie.
Disproporsionele dwergisme word gekenmerk deur korter ledemate of 'n korter torso. Mense met achondroplasie het 'n torso van gemiddelde grootte met kort ledemate en 'n groter voorkop.[13] Gelaatstrekke word dikwels geraak en probleme kan met sekere liggaamsdele ervaar word. Spinale stenose, oorinfeksie en 'n waterhoof is algemeen. Mense met spinale disostose het 'n klein torso, en ledemate van gemiddelde grootte.
Proporsionele dwergisme word gekenmerk deur 'n kort torso met kort ledemate,[4] en dit lei tot 'n grootte ver onder die gemiddelde. Daar kan lang tydperke sonder enige noemenswaardige groei wees. Seksuele ontwikkeling word dikwels vertraag of belemmer tot met 'n volwasse ouderdom. Dié soort dwergisme word deur 'n endokriene steuring veroorsaak en nie 'n skeletdisplasie nie.
Die fisieke gevolge van misvormde bene wissel na gelang van die spesifieke siekte. Baie mense ervaar pyn van die gewrigte wat deur abnormale beenoplyning of die samepersing van senuwees veroorsaak word.[14] Ander toestande soos 'n vernouing van die rugmurg kan ook pyn en ongeskiktheid veroorsaak.[15] 'n Verkleining van die bors kan die groei van die longe beperk en longfunksie belemmer. Sommige vorme van dwergisme word verbind met die belemmering van ander organe, soos die brein of lewer.[16][17]
Die uitwerking op die denkproses wissel van steuring tot steuring. In die meeste gevalle van skeletdisplasie, soos achondroplasie, word die breinfunksie nie aangetas nie.[4] Daar is egter steurings wat die skedelstruktuur en groei van die brein raak en die denkvermoë aansienlik aantas. Tensy die brein regstreeks deur die onderliggende steuring geraak word, is daar feitlik geen kans dat die denkvermoë deur dwergisme aangetas sal wees nie.[18]
Die psigososiale beperkings van die gemeenskap kan stremmender wees as die fisieke simptome, veral in die kinder- en tienerjare. Die mate waarin mense met dwergisme se sosiale deelname en emosionale gesondheid geraak word, wissel egter grootliks.
In kuns, letterkunde en rolprente word dwerge selde as gewone mense uitgebeeld. Skrywers en kunstenaars kan spesiale morele en astetiese betekenis heg aan hulle uniekheid of onvolmaaktheid.
Uitbeeldings van dwerge word aangetref op Griekse vase en ander antieke artefakte, insluitend antieke Egiptiese kuns, waarin dwerge dikwels beskou word as 'n goddelike manifestasie, met rekords wat daarop dui dat hulle hoë posisies in die gemeenskap kon bereik.[21][22]
Die Hindoeïstiese teks Bhagavat Purana staan nege hoofstukke af aan die avonture van Vamana, 'n dwerg-avatar van Vishnu.
Uitbeeldings van dwergisme kom ook voor in baie Europese skilderye en illustrasies. Talle Europese skilderye van die 16de-19de eeu, veral in Spanje, beeld dwerge alleen of saam met ander uit. In die Talmoed word gesê die tweede oudste seun van die Egiptiese farao van die Bybel was 'n dwerg.[23] Volgens onlangse studies is dwerge in antieke Egipte hooggeag.[24]
Namate die gewilde media algemener geraak het, het die getal werke wat dwerge uitbeeld drasties meer geraak. Dwergisme word in baie boeke, rolprente en TV-programme uitgebeeld. In September 2014 het Creative Business House en Donnons Leur Une Chance die Internasionale Dwergmodevertoning gehou om bewustheid van dwergisme te kweek en die selfvertroue van mense met dwergisme 'n hupstoot te gee.[25]