Dylan Thomas | |
---|---|
Standbeeld van Dylan Thomas, Maritieme kwartier, Swansea | |
Gebore | Dylan Marlais Thomas 27 Oktober 1914 |
Sterf | 9 November 1953 (op 39) Greenwich Village, New York Stad, Verenigde State |
Beroep | Digter en skrywer |
Eggenoot | Caitlin Thomas (née Macnamara) |
Kinders | 3, insluitende Aeronwy Bryn Thomas |
Dylan Marlais Thomas (27 Oktober 1914 – 9 November 1953) [1] was 'n Walliese digter en skrywer. Hy is veral bekend om sy gedigte "Do not go gentle into that good night" en "And death shall have no dominion", die radiodrama "Under Milk Wood", en radiouitsendings soos "A Child's Christmas in Wales" en "Portrait of the Artist as a Young Dog".[2] Ten tyde van sy dood het hy 'n reputasie gehad as 'n "roistering, drunken and doomed poet".[3]
Thomas is in 1914 in Swansea, Wallis, gebore. In 1931 het hy op 16-jarige leeftyd sy skoolloopbaan opgesê en as verslaggewer vir die South Wales Daily Post begin werk. Baie van sy werke het in druk verskyn tydens sy tienerjare. In 1934 het die publikasie van sy gedig "Light breaks where no sun shines", die literêre wêreld op hol geneem. Terwyl hy in Londen gewoon het, het hy vir Caitlin Macnamara ontmoet. Hulle is in 1937 getroud, en het drie kinders gehad: Llewelyn, Aeronwy, en Colm.
Thomas is gedurende sy leeftyd as digter bewonder, hoewel hy die lewe van 'n skrywer veeleisend gevind het. Hy het begin om sy inkomste aan te vul met leestoere en radiouitsendings. In die 1940's het sy radio opnames vir die BBC die aandag van die publiek getrek, en is hy verskeie kere deur die BBC gebruik. Thomas het die eerste keer in die 1950's na die Verenigde State gereis. Sy voordragte aldaar het aan hom 'n mate van bekendheid besorg, terwyl sy onvoorspelbare gedrag en drankverbruik toegeneem het. Sy tyd in die VSA het sy reputasie verstewig, en hy het voortgegaan om werke soos "A Child's Christmas in Wales" op te neem. Gedurende sy vierde besoek aan New York in 1953 het Thomas ernstig siek geword en in 'n koma verval. Hy sterf op 9 November 1953, waarna sy liggaam teruggeneem is na Wallis. Hy is op 25 November 1953 in die St Martin's-kerkhof in Laugharne, Carmarthenshire, begrawe.
Alhoewel Thomas uitsluitlik in Engels geskryf het, word hy erken as een van die belangrikste Walliese digters van die 20ste eeu. Hy word veral onthou vir sy oorspronklike, ritmiese, vernuftige en vindingryke gebruik van woorde en beeldspraak.[4][5][6][7] Sy reputasie as een van die belangrikste en relevantste moderne digters is stewig gevestig, en hy bly een van die gewildste digters onder die publiek.[8][9]
Thomas is in 1914 in Swansea, Wallis gebore. Sy vader, D.J. Thomas, was 'n Engelsonderwyser aan "Swansea Grammar School", en het verkies om sy seun in Engels op te voed in plaas van Wallies, die taal van sy moeder. Sy vader het ook sy liefde vir letterkunde oorgedra aan sy seun.
Thomas se passie vir die poësie en die letterkunde het vroeg reeds in sy middelbare skooljare gemanifesteer. Na enkele maande publiseer die skoolkoerant sy eerste gedig, The Song of the Mischievous Dog. Op 12-jarige leeftyd publiseer The Western Mail sy gedig His Requiem. Later het dit egter gebblyk dat die gedig plagiaat was.
Nadat hy die skool op 16-jarige leeftyd verlaat (in 1931), sluit hy aan by die The South Wales Daily Post, 'n plaaslike koerant. Daar was hy agtereenvolgens proefleser, verslaggewer en vryskut medewerker. Intussen knoop hy ook 'n vriendskap aan met die digter Vernon Watkins, met wie hy die res van sy lewe 'n literêre vriendskap sou geniet. Thomas rebelleer in die tyd ook teen die establishment: sy kleredrag is verslons, hy drink dikwels, en steur hom min aan afsprake. Dié gedrag en voorkoms stem volgens hom ooreen met die beeld wat 'n digter moet uitdra. Thomas skryf verder, en af en toe word sy gedigte gepubliseer. Aan die einde van 1933 en die begin van 1934 skryf hy ongeveer 30 gedigte waarvan 13 gebundel word. Kenmerkend van sy vroeër poësie is die gebruik van alliterasie, binnerym en sprung rhythm.
In 1934 verskyn sy eerste digbundel, 18 Poems, wat in literêre kringe byval vind. Intussen huur hy 'n kamer in Londen, waar hy sy boheemse bestaanswyse verder uitleef en ontpop as swaar drinker. Sy tweede bundel, 25 Poems, wat ook 'n groot aantal gedigte bevat uit die produktiewe periode 1933-1934, verskyn in 1936, terwyl Thomas in armoede in Londen en Wallis leef. Die terugkerende temas in sy poësie is die lewe, dood, nostalgie en die verlies van onskuld.
In 1936 leer hy die Ierse danseres Caitlin Macnamara ken in 'n kroeg in Engeland. Macnamara en Thomas tree 'n jaar later in die huwelik en huur 'n huis in Laugharne in Wallis. Hoewel die huwelik redelik gelukkig was, was dit aan die begin stormagtig: geldprobleme, drankprobleme (Macnamara was ook 'n swaar drinker) en rusies het gereeld voorgekom. Hulle skenk geboorte aan twee seuns en 'n dogter.
Thomas lê hom in die tyd toe op prosa. The Map of Love (1939) bevat naas 16 gedigte ook sewe verhale. 'n Jaar later publiseer hy die verhaalbundel Portrait of the Artist as a Young Dog (in die Nederlands vertaal deur Hugo Claus), 'n outobiografiese werk.
Tydens die oorlog skryf hy in opdrag van die Ministerie van Propaganda filmscenario's wat bedoel was om soldate te vermaak, waaronder scenario's wat weens 'n gebrek aan fondse nooit tot uiting kom nie. Na die oorlog kry Thomas 'n weeklikse rubriek op die radio, waar hy gedigte voordra en bespreek. Sy betowerende stem kluister weekliks massas mense aan die radio.
Thomas behaal sy groot deurbraak en verkry internasionale roem met die bundel Death and Entrances (1946). Intussen het Thomas met sy gesin verhuis na die bekende boothuis in Laugharne. Onder andere omdat die geldnood bly knyp, vertrek Thomas in 1950 na Amerika om daar voorleessessies te gee. Sy volledige honorarium word egter aan drank gespandeer.
Saam met sy vrou Caitlin vertrek hy in 1952 vir die tweede maal na Amerika, waar hy stampvol sale trek met sy voorleessessies. Sy sukses was enorm. Na hierdie reis besoek hy die VSA nog enkele kere, maar hy kom nouliks nog by skryf uit. In 1952 verskyn die bundel Collected Poems, met die bekende villanelle Do not go gentle into that good night, 'n gedig oor die dood van sy vader. In dieselfde jaar verskyn ook sy hoorspel Under Milk Wood (eweneens vertaal deur Hugo Claus).
In April 1953 vertrek Thomas opnuut na die VSA vir die Amerikaanse première van Under Milk Wood. Ook tydens die toer val enorme sukses hom ten dele. Hy ontmoet ook vir Igor Strawinski, wat hom versoek om 'n libretto vir 'n opera te skryf; daar sou egter niks hiervan kom nie. Die reis put hom uit, maar in Oktober van dieselfde jaar vertrek hy opnuut en bly in die Chelsea Hotel in New York Stad. Op 5 November 1953 gaan hy stap, en keer meer dood as lewend terug na die hotel. Daar word algemeen aangeneem dat die kombinasie van drank ("I've had 18 straight whiskies. I think that's the record", het hy die aand nog gesê) en sy suikersiekte fataal was. Thomas het in 'n koma verval en sterf op 9 November. Hy is begrawe in Laugharne.
Belangstelling in Dylan Thomas se werk het vanaf die sestigerjare geweldig toegeneem. Die naam 'Dylan' het 'n invloed gehad op die sanger Bob Dylan se keuse van 'n verhoognaam (Dylan is gebore as Robert Zimmerman).
Thomas se sukses na sy oorlye het 'n groot invloed op vele terreine uitgeoefen. Eerstens kan genoem word die kwaliteit van sy werk, waarin die klankkleur van die woorde en die ritme van die sinne in groot mate sy gedigte beïnvloed. Daarnaas is daar ook die kwessie van mitevorming: Dylan Thomas word dikwels ingedeel by kunstenaars wat onder die gewig van hul eie sukses ten gronde gegaan het (James Dean, Arthur Rimbaud, Kurt Cobain). Ook die voorleessessies en radio-optredes (en die opnames hiervan) dra danksy hul sonore, beswerende stem by tot die populariteit van sy werk.
Sommige kritici beweer egter dat hy as digter oorskat is deurdat hy gedurende sy lewe op 'n sensasionele en onvoorspelbare wyse opgetree het [10] en deur die doelgerigte gebruik van droefgeestigheid en geheimsinnigheid daarin geslaag het om die eenvoud van sy gedigte te verbloem.[11]
Wikiquote het aanhalings in verband met Dylan Thomas |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Dylan Thomas. |