Edith Picht-Axenfeld (1 Januarie 1914, Freiburg im Breisgau[1] – 19 April 2001, Hinterzarten[2]) was 'n Duitse pianis en klavesimbelspeler.
Picht-Axenfeld het in 1935 haar loopbaan begin as konsertpianis, en twee jaar later deelgeneem aan die III Internasionale Chopin Klavier-kompetisie, waartydens sy die sesde prys ontvang het;[3][4] wat 'n hupstoot aan haar loopbaan gegee het. Na die Tweede Wêreldoorlog het Picht-Axenfeld op interkontinentale vlak klavier gespeel. Sy was ook 'n kamermusiek musikant en het opnames gemaak vir plaatetikette soos Deutsche Grammophon, Philips en Erato.[3] RCA het 'n LP vrygestel van Chopin se Études op. 10 en op. 25, met Picht-Axenfeld voor die klavier.[5]
Picht-Axenfeld is in 1936 met professor van filosofie, Georg Picht, getroud.[4] Hulle het saam sewe kinders gehad, waaronder Robert Picht.[6]
Sy het van 1947 tot 1979 onderwys gegee aan die Staatliche Hochschule für Musik in Freiburg im Breisgau.[4] Verskeie pianiste en ook komponiste soos Manfred Stahnke, maak melding van haar as 'n belangrike invloed.[7]
Haar opname uit 1968 van Bach se Goldberg Variasies[8][9] word beskou as 'n gesaghebbende interpretasie van die werk, en sy beskik steeds oor 'n groot groep toegewyde luisteraars wat verskeie van haar albums op YouTube gelaai het.[10]