Eduard III | |
---|---|
Koning van Engeland | |
Middeleeuse skets van Eduard III met die Orde van die Kousband.
| |
Huis | Angevyne |
Regeer | 1 Februarie 1327 – 21 Junie 1377 |
Voorganger | Eduard II |
Opvolger | Richard II |
Eggenote | Philippa van Hainaut |
Kinders | Eduard die Swart Prins, Isabella, Joan, Lionel, John, Edmund, Mary, Margaret, Thomas |
Gebore | 13 November 1312 |
Oorlede | 21 Junie 1377 |
Vader | Eduard II |
Moeder | Isabella van Frankryk |
Eduard III (13 November 1312 – 21 Junie 1377) was van 1327 tot met sy dood koning van Engeland. Sy bewind is gekenmerk deur militêre oorwinnings. Hy is een van net vyf monarge wat langer as 50 jaar oor Engeland of Brittanje regeer het.
Eduard het Engeland tydens sy bewind verander in een van die grootste militêre magte van Europa. Belangrike ontwikkelings het in dié tyd plaasgevind in die reg en regering en Engeland is swaar getref deur die Swart Dood.
Eduard is op 13 November 1312 in Windsor-kasteel gebore en is dikwels in sy jeug Eduard van Windsor genoem.[1] Die bewind van sy pa, Eduard II, was ’n besonder moeilike tydperk in Engeland se geskiedenis.[2] Een van die redes vir ontevredenheid was die koning se onaktiwiteit en herhaalde mislukkings in Skotland se oorlog om onafhanklikheid.[3] ’n Ander was sy klein groepie koninklike gunstelinge.[4]
Nadat Eduard II in 1327 aangekla is van onbevoegdheid en verskeie soorte wangedrag, is hy gedwing om te abdikeer ten gunste van sy seun. Eduard III is gekroon toe hy net 14 jaar oud was.
Op 17 het hy ’n staatsgreep gelei teen die de facto-heerser van die land, sy ma se tweede man, Roger Mortimer, wat al hoe ongewilder in Engeland geword het en Eduard met minagting behandel het. Mortimer is tereggestel en Eduard het self begin regeer.
Ná ’n geslaagde veldtog in 1333 in Skotland, wat in ’n verbondskap met Frankryk was, en nadat Frankryk beslag op Engelse grondgebied gelê het, het Eduard homself verklaar tot die regmatige troonopvolger van die Franse troon. Hy was die enigste oorlewende manlike erfgenaam van sy oupa aan moederskant, Philip IV. Daarmee het hy die oorlog begin wat bekend gestaan het as die Honderdjarige Oorlog.
Ná ’n paar aanvanklike terugslae het die oorlog heel goed verloop vir Engeland. Die grootste veldtog was die beleg van die Franse kusstad Calais met ’n leër van 35 000 soldate.[5] Dit het op 4 September 1346 begin en geduur totdat die stad op 3 Augustus 1347 oorgegee het.[6]
Daarna het buitefaktore Eduard gedwing om sy offensief af te skaal. Daar was ontevredenheid oor die groot koste van sy veldslae en in 1348 het die Swart Dood Engeland getref en meer as ’n derde van die bewoners se lewe geëis. Dit het gelei tot ’n tekort aan plaasarbeiders en ’n styging in lone. Ondanks al die probleme wat die pes veroorsaak het, het dit nie gelei tot ’n ineenstorting van die regering nie en die land het verbasend vinnig herstel.
Hoewel Eduard in sy vroeë jare suksesvol en energiek was, is sy latere bewind gekenmerk deur mislukkings oorsee en binnelandse onrus, grootliks weens sy onaktiwiteit en swak gesondheid.
Onder die nuwe Franse koning, Karel V, het die oorlog tussen die twee lande opnuut opgevlam. Frankryk het geseëvier en die enigste Franse grondgebied wat Engeland behou het, was Calais, Bordeaux en Bayonne.[7]
Ná omstreeks 1375 het Eduard ’n al hoe kleiner rol in die regering gespeel. In September 1376 het hy siek geword met ’n groot abses. Ná ’n aanvanklike herstel is hy op 21 Junie aan ’n beroerte dood.[8] Hy is opgevolg deur sy 10-jarige kleinseun Richard II, seun van Eduard die Swart Prins wat kort voor sy pa oorlede is.