Etswerk is tradisioneel die proses om deur chemiese wegvreting 'n ontwerp in ’n metaalplaat aan te bring. 'n Sterk suur word gebruik om deur die onbeskermde dele van die metaal te vreet (in die metaal in te byt, word gesê), terwyl die beskermde dele onveranderd gelaat word. Die resultaat is ’n geëtste plaat met 'n ontwerp waarvan baie papierafdrukke met 'n drukpers gemaak kan word.
In moderne vervaardigingsprosesse word ander chemikalieë ook op ander soorte materiaal aangewend. As 'n metode van die drukkuns, saam met gravure, is dit die belangrikste tegniek waarmee afdrukke van die etswerke van die ou meesters gemaak kon word, en dit word vandag steeds wyd gebruik.
Die verskil tussen etse en gravures is dat die eersgenoemde chemiese wegvreting behels, terwyl gravures slegs deur fisieke werking geskep word. Gravering is 'n tegniek waar die kunstenaar self met sy gereedskap in 'n metaalplaat insny om sy ontwerp daarin aan te bring.
In die tradisionele suiwer ets word 'n metaalplaat (gewoonlik koper, sink of staal) bedek met 'n wasagtige stof wat bestand is teen suur.[14] Die kunstenaar skraap dan van die stof af met 'n skerp etsnaald,[15] om die kaal metaal te ontbloot waar hy of sy 'n lyn in die finale werk wil laat verskyn. Die échoppe ('n instrument soos 'n etsnaald met 'n geboë punt) word ook gebruik vir "bultende" lyne,[16] en die plaat word dan in suur gedoop.[17] Die suur "byt" in die metaal (dit reageer daarmee in 'n redoksreaksie) tot 'n diepte afhangende van die indoop-tyd en die suur se krag, en laat die tekening op die plaat agter. Die res van die wasagtige stof word dan van die plaat verwyder. Die plaat word vervolgens met ink bedek en weer afgevee; die oorblywende ink lê dan in die groewe van die ets.
Hierna word die plaat in 'n hoëdruk-drukpers geplaas, saam met 'n vel papier (dikwels klam gemaak om dit te versag).[18] Die papier tel die ink van die geëtste lyne op, wat dan op die drukwerk verskyn. Die proses kan baie kere herhaal word; 'n paar honderd afskrifte kan gedruk word voordat die plaat te veel slytasie begin toon. Dele van die werk op die plaat kan dan, waar nodig, herstel word of bykomende etswerk kan aangebring word. So 'n etsplaat kan herhaalde wysigings deurleef, wat meebring dat verskeie veranderde weergawes van die etsafdrukke – van 'n werk in verskillende stadiums – vir die nageslag nagelaat word.
Etswerk is dikwels gekombineer met ander intaglio-tegnieke soos gravure (bv. by Rembrandt) of die aqua (bv. by Francisco Goya).
Etswerk is reeds in die oudheid vir dekoratiewe doeleindes gebruik. Geëtsde karneool krale is antieke dekoratiewe krale wat gemaak was van karneool met 'n geëtsde ontwerp in wit, wat waarskynlik vervaardig was deur die Indusvallei beskawing gedurende die 3de millennium v.C. Hulle is gemaak volgens 'n tegniek van alkaliese ets wat ontwikkel is deur die Harappans, en groot hoeveelhede van hierdie krale is gevind in die argeologiese terreine van die Indusvallei beskawing.[20][19] Hulle word beskou as 'n belangrike teken van die antieke handel tussen die Indus-Vallei, Mesopotamië en selfs Antieke Egipte, omdat hierdie kosbare en unieke vervaardigde items versprei was in groot getalle tussen hierdie geografiese gebiede gedurende die 3de millennium v.C., en is in talle grafte gevind.
Etswerk deur die goudsmede en ander metaal-werkers om metaal items soos gewere, wapens, koppies en borde te versier is sedert die Middeleeue bekend in Europa, en kan terug gaan na die oudheid. Die ingewikkelde versiering van wapens, in Duitsland, was 'n kuns waarskynlik ingevoer uit Italië, rondom die einde van die 15de eeu—bietjie vroeër as die koms van die ets as 'n drukkuns tegniek. Drukkunstenaars van die Duits-sprekende lande en Sentraal-Europa het die kuns vervolmaak en het hul vaardighede oorgedra aan die Alpe en oor die hele Europa.
Die proses soos toegepas op drukkuns is glo uitgevind deur Daniel Hopfer (circa 1470-1536) van Augsburg, Duitsland. Hopfer was 'n vakman wat wapens op hierdie manier versier het en het ysterplate gebruik om drukwerk op hierdie manier te doen. Daar is twee voorbeelde van sy werk op wapens: a skild van 1536 (nou in die Real Armeria van Madrid) en 'n swaard in die Duitse Nasionale Museum in Neurenberg. Die oudste etswerk is gedoen deur Albrecht Dürer in 1515, hoewel hy teruggekeer het na gravure na ses etse in plaas van die ontwikkeling van die handwerk.[21]
Jacques Callot (1592-1635) van Nancy in Lorraine (nou deel van Frankryk) het 'n belangrike tegniese vooruitgang in etswerk gemaak. Hy het die échoppe ontwikkel, 'n tipe ets-naald met 'n skewe ovaal afdeling aan die punt, wat etsers kon help om 'n bultende lyn te vorm.
Callot ook blyk ook verantwoordelik te wees vir 'n verbeterde, harder resep vir die ets grond met behulp van 'n nuwe was-gebaseerde formule. Nou kon lyne dieper gemaak word en die leeftyd van die plaat kon langer hou as voorheen. Etsers kon ook nou meer gedetailleerde werk doen, danksy die nuwe vooruitgang.
Callot ook gebruik gemaak van 'n meer gesofistikeerde metode waar die suur net liggies in die plaat in byt. Dit het in geheel 'n beter indruk geskep omdat skaduwees en lig beter waargeneem kon word.
Een van sy volgelinge, die Paryse Abraham Bosse, het Callot se innovasies versprei oor die hele Europa en het die eerste handleiding van etswerk gepubliseer, wat vertaal is in Italiaans, Nederlands, Duits en Engels.
Die 17de eeu was die groot era van etswerk, met Rembrandt, Giovanni Benedetto Castiglione en baie ander meesters. In die 18de eeu was Piranesi, Tiepolo en Daniel Chodowiecki die meesters van 'n kleiner groep etsers. In die 19de en vroeë 20ste eeu, was daar 'n herlewing in etswerk, deur 'n groot groep kunstenaars en dit word vandag steeds beoefen.
'n Wasagtige suur-weerstandsmiddel word aangewend op 'n metaal plaat, dikwels koper of sink maar 'n staal plaat is 'n ander medium met verskillende eienskappe. Daar is twee algemene vorme van grond: die harde grond, en die sagte grond.
Die harde grond kan toegepas word op twee maniere. Soliede harde grond kom in 'n harde wasagtige blok. Om harde grond op die plaat aan te wend moet die plaat warm wees (stel teen 70° C, 158° F). Die plaat verhit en die grond word aangewend met die hand en dit smelt op die plaat soos wat dit aangewend word. Die grond word versprei oor die plaat so egalig as moontlik met die hulp van 'n roller. Die volgende stap is om dan die plaat te laat afkoel sodat die grond kan hard word.
Nadat die grond verhard het, "rook" die kunstenaar die plaat, gewoonlik met byewas, waar die vlam naby aan die plaat om die grond te laat verdonker, 'n klein hoeveelheid was bly ook dan agter op die plaat. Hierna gebruik die kunstenaar 'n skerp voorwerp om deur die grond te krap en om die metaal bloot te stel.
Die tweede manier om harde grond aan te wend is deur 'n vloeistofvorm. Dit kom voor in 'n houer en kan met 'n kwas oor die plaat gesmeer word. Wanneer dit aan lug blootgestel word, verhard die grond. Sommige drukkunstenaars gebruik olie/teer gebaseerde bitumen, hoewel bitumen gebruik word om staal te beskerm teen roes en koper plate teen veroudering.[22]
Sagte grond kom ook in vloeibare vorm voor en kan ook gelos word om droog te word, maar dit word nie so hard droog soos harde grond nie. Sodra die sagte grond droog is, kan die kunstenaar voorwerpe soos blare en ander voorwerpe byvoeg, wat dan sal deurdring en die blootgestelde plaat agterlaat.
Die grond kan ook aangewend word in 'n fyn mis, met behulp van verpoeierde vorm of sproeiverf. Hierdie proses maak dit moontlik om skaduwees en verskillende skakerings te kan skep.
{{cite journal}}
: Cite journal requires |journal=
(hulp)