Die Fermi-paradoks is die oënskynlike teenstelling tussen hoë ramings van die moontlike bestaan van buiteaardse beskawings en die mens se onvermoë om met hulle kontak te maak of bewyse te kry dat hulle bestaan.[1]
Die basiese punte van die argument, soos uiteengesit deur die fisici Enrico Fermi en Michael H. Hart, is:
Volgens dié denkrigting moes die Aarde al gekoloniseer, of ten minste besoek, gewees het. Maar geen bewyse hiervoor is nog gevind nie. Daar is ook geen tekens van die bestaan van intelligente lewe in die Melkweg of elders in die heelal (sover dit waargeneem sou kon word) nie.
In ’n informele bespreking in 1950 het Enrico Fermi gevra hoekom daar nie bewyse van buiteaardse ruimtetuie is as daar so baie beskawings in die Melkweg is nie. Hy het gevra: "Waar is almal?"[3]
’n Meer gedetailleerde ondersoek van die implikasies van die onderwerp het begin met ’n geskrif in 1975 deur Michael H. Hart,[4] en dit word soms die Fermi-Hart-paradoks genoem.[5]
Sedert Hart is baie moeite al gedoen om wetenskaplike hipoteses oor buiteaardse lewe, en moontlike modelle daarvan, te ontwikkel. Die Fermi-paradoks het ’n teoretiese verwysingspunt in baie van dié werk geword. Die probleem het verskeie geleerdes aangespoor om dit te probeer oplos, terwyl vrae wat daarop betrekking het, al behandel is in velde so uiteenlopend as sterrekunde, biologie, ekologie en filosofie. Die opkoms van astrobiologie het ’n interdissiplinêre benadering tot die Fermi-paradoks en die vraag oor buiteaardse lewe tot gevolg gehad.