Die Fosterbende was ’n groep misdadigers wat tussen 1912 en 1914 ’n reeks geslaagde rooftogte in Suid-Afrika uitgevoer het. Die vier bendelede is op 18 September 1914 in 'n grot in Kensington, Johannesburg, om die lewe gebring nadat hulle ’n skrikbewind aan die Witwatersrand gevoer het.
Genl. Koos de la Rey het omgekom in die polisie se optrede teen die bende. Dit het onvoorsiene politieke gevolge ingehou.
William Robert Clem Foster (1886-1914) beroof in 1912 'n juwelier in Kaapstad. Hy ontsnap uit die gevangenis en laat saam met die Amerikaanse avonturier John Maxim en die 19-jarige Carl Mezar 'n spoor van geweld agter. In Boksburg beroof hulle 'n bank, in Roodepoort en Vrededorp breek hulle kluise in poskantore oop en in Doornfontein val hulle 'n drankwinkel binne. Een van die gootste polisiesoektogte tot op daardie stadium in Suid-Afrika vind plaas. In 'n huis in Regent's Park (Johannesburg) is hulle gewaar, maar kom weg. Die polisie trek toe 'n kordon om sekere stadsdele en rig padblokkades op. By een van hierdie barrikades skiet die polisie per ongeluk dr. Gerald Grace dood wat haastig op pad was na 'n pasiënt. Veral is gesoek na 'n motor met drie mans. Met behulp van speurhonde is die bende in 'n grot in die heuwel by Kensington (Johannesburg) weer vasgepen. Onderhandelinge vir oorgee het plaasgevind en Foster vra dat sy vrou Peggy en hul babadogtertjie 'n ruk by hulle in die grot kan aansluit. 'n Oomblik later is die dogtertjie uit die grot, skote klap en die polisie vind die vier se lyke. Ongeveer 15 mense het deur die bende se aktiwiteite die lewe gelaat, waaronder minstens drie speurders.
Genl. De la Rey en genl. C.F. Beyers was op 15 September 1914 van Pretoria op pad na Potchefstroom om 'n moontlike rebellie teen die regering te organiseer. Die generaals was heeltemal onbewus van die polisiepatrollies en padblokkades oor die hele Witwatersrand om die bende rowers en moordenaars vas te trek. Die patrollies het opdrag gehad om alle motors te stop. Maar die generaals het gedink dat hul rebellieplanne uitgelek het en gee daarom aan hul motorbestuurder die bevel om verby die eerste padblokkade te jaag. Ook by die tweede barrikade jaag hulle verby, maar 'n polisieman skiet op die agterwiele van hul motor. 'n Opslagkoeël tref De la Rey in die hart en hy sterf.
In die Afrikanergemeenskap is geglo dat De la Rey se dood nie 'n ongeluk was nie, maar 'n opsetlike sluipmoord en 'n sameswering van die regering om die beplande rebellie in die kiem te smoor. De la Rey se dood en sy begrafnis het bygedra tot die politieke onrus in die land en tot die uitbreek van die Rebellie (die Maritz-rebellie) op 26 Oktober 1914. Met die algemene verkiesing van die volgende jaar was die dood van De la Rey en die Rebellie nog vars in die geheue van die Afrikanerkiesers en het talle hulle hul rug op genl. Louis Botha en genl. J.C. Smuts gedraai.