Frankenstein;
or, The Modern Prometheus | |
---|---|
Volume I, eerste uitgawe.
| |
Skrywer | Mary Shelley |
Land | Engeland |
Taal | Engels |
Genre | Gotiese roman, rillerfiksie, wetenskapsfiksie[1] |
Uitgewer | Lackington, Hughes, Harding, Mavor & Jones |
Uitgegee | 1 Januarie 1818 |
Bladsye | 280 |
Frankenstein; or, The Modern Prometheus is 'n roman van 1818 deur die Engelse skrywer Mary Shelley. Frankenstein vertel die verhaal van Victor Frankenstein, 'n jong wetenskaplike wat in 'n onortodokse wetenskaplike eksperiment 'n intelligente wese skep. Shelley het die storie begin skryf toe sy 18 jaar oud was, en die eerste uitgawe is op 1 Januarie 1818, toe sy 20 was, naamloos in Londen gepubliseer. Haar naam verskyn die eerste keer in die tweede uitgawe, wat in 1821 in Parys gepubliseer is.
Shelley het in 1815 deur Europa getoer. Sy het met die Ryn in Duitsland langs gereis en Gernsheim besoek, wat 17 km van Frankenstein-kasteel af is. Vroeër het 'n alchemis (Johann Konrad Dippel, 1673-1734) daar eksperimente gedoen.[2][3][4]
Sy vertrek van daar na Genève, Switserland, waar 'n groot deel van die verhaal afspeel. Chemiese eksperimente en die okkultisme was gespreksonderwerpe van haar medereisigers, onder andere haar toekomstige man, Percy Shelley.
In 1816 het Mary, Percy, John Polidori en Lord Byron 'n kompetisie gehou om te kyk wie die beste rillerverhaal kon skryf.[5] Shelley is geïnspireer om Frankenstein te skryf nadat sy haar 'n wetenskaplike voorgestel het wat lewe skep en met afsku vervul is oor wat hy gedoen het.[6]
Hoewel Frankenstein vol elemente van die Gotiese roman en die Romantiese beweging is, meen Brian Aldiss dit is die eerste ware wetenskapsfiksieverhaal.[7] Die roman het 'n aansienlike invloed op die letterkunde en op die moderne kultuur gehad; dit het gelei tot 'n hele genre van rillerstories, rolprente en toneelstukke.
Sedert die publikasie van die roman word die naam "Frankenstein" dikwels verkeerdelik gebruik om na die monster te verwys, eerder as na die skepper daarvan.[8][9]
Frankenstein is 'n raamwerkverhaal in 'n briefvorm. Dit speel in die 18de eeu af en vertel van 'n fiktiewe korrespondensie tussen kaptein Robert Walton en sy suster, Margaret Walton Saville. Robert Walton is 'n mislukte skrywer wat die Noordpool verken in 'n poging om wetenskaplike kennis op te doen.
Tydens hulle reis sien die bemanning 'n hondeslee wat deur 'n reusefiguur getrek word. 'n Paar uur later red die bemanning 'n halfverkluimde en uitgemergelde man met die naam Victor Frankenstein. Frankenstein het die reuseman agtervolg wat deur Walton se bemanning gesien is. Hy begin van sy inspannende ondervinding herstel en sien in Walton dieselfde obsessie wat hom vernietig het. Hy vertel as 'n waarskuwing aan Walton die verhaal van sy lewe se ellendes.
Victor begin sy verhaal by sy kinderjare. Hy is in Napels, Italië, gebore; hy en sy broers, Ernest en William, was die seuns van welgestelde ouers. Victor het van 'n jong ouderdom af die behoefte gehad om die wêreld te verstaan. Hy het 'n obsessie gehad om teorieë van alchemie te bestudeer. Toe hy ouer word, het hy besef dié teorieë is taamlik verouderd. Toe hy vyf jaar oud was, het sy ouers Elizabeth Lavenza aangeneem en Victor trou later met haar. Victor se ouers neem later nog 'n kind, Justine Moritz, in en sy word William se oppasser.
Weke voordat hy na die Uiniversiteit van Ingolstadt in Duitsland gaan, sterf sy moeder aan skarlakenkoors. Victor begrawe hom in sy eksperimente om sy hartseer te verwerk. Op universiteit blink hy uit in chemie en ander wetenskappe, en hy ontwikkel gou 'n geheime tegniek om lewe aan nielewende dinge oor te dra. Hy onderneem om 'n mensagtige figuur te maak, maar omdat dit so ingewikkeld is om al die klein besonderhede van die menslike liggaam na te maak, maak Victor die wese groot en omtrent 8 voet (2,4 m) lank. Victor probeer sy gelaatstrekke so kies dat hy mooi sal wees, maar toe sy skepping lewend word, is hy aaklig: met dowwe, waterige geel oë en 'n geel vel wat skaars die spiere en are daaronder verberg. Victor vlug, met afsku vervul deur sy werk. Hy loop die volgende dag deur die strate en toe hy na sy woonstel terugkeer, is sy skepping weg.
Victor word siek van sy ondervinding en dit duur vier maande voordat hy herstel. Hy ontvang 'n brief van sy vader om hom in te lig dat sy broer William vermoor is. Toe Victor in Genève aankom, sien hy die monster naby die misdaadtoneel en raak oortuig daarvan dat hy vir sy broer se dood verantwoordelik was. Justine Moritz, William se oppasser, word aan sy moord skuldig bevind nadat 'n sluithouertjie, met 'n portret van Caroline, in haar sak ontdek word. Victor weet niemand sal sy verhaal glo as hy Justine probeer red nie, en sy word gehang. Oorkom deur hartseer en skuld, trek Victor hom terug in die Alpe. Daar word hy deur die monster gekonfronteer, wat by hom pleit om na sy verhaal te luister.
Die monster is intelligent en welsprekend en vertel van die eerste dae ná sy skepping. Hy het alleen in die wildernis gewoon en uitgevind mense is bang vir hom en haat hom oor sy voorkoms, en dit het daartoe gelei dat hy vir hulle bang was en vir hulle weggekruip het. Terwyl hy in 'n verlate struktuur gewoon het wat vas was aan 'n huis, het hy begin hou van die arm gesin wat in die huis gewoon het. Hy het vir hulle vuurmaakhout bymekaargemaak, die sneeu uit hulle paadjie gevee en ander take verrig om hulle te help. Hy het maande in die geheim langs die huis gewoon en leer praat deur na hulle te luister. Hy het leer lees nadat hy 'n verlore sak boeke in die woud ontdek het. Toe hy sy weerkaatsing in 'n poel water sien, het hy besef hy is aaklig en dit het hom met net soveel afsku vervul as vir die mense wat hom gesien het.
Hy het al hoe meer van die gesin in die huis begin hou en eindelik besluit om hulle te nader in die hoop om hulle vriend te word. Hy het in die huis ingegaan toe net die blinde vader tuis was. Die twee het gesels, maar toe die res van die gesin terugkeer, was hulle bang. Die blinde man se seun het hom aangeval en die monster het uit die huis gevlug. Die volgende dag het die gesin hulle huis verlaat, want hulle was bang hy keer terug. Die monster was woedend oor die manier waarop hy behandel is en het moed opgegee dat mense hom ooit sal aanvaar.
Hoewel hy sy skepper gehaat het omdat hy hom alleen gelos het, het hy besluit om na Genève te reis om hom te vind, want hy het geglo Victor het die verantwoordelikheid gehad om hom te help. Op pad het hy 'n seun se lewe gered, maar die seun se pa, wat gedink het die monster wil hom seermaak, het hom in die skouer geskiet. Die monster het toe wraak teen alle mense gesweer. Hy het in Genève uitgekom met besonderhede in Victor se dagboek, William vermoor en Justine na die skuldige laat lyk.
Die monster eis dat Victor 'n vroulike maat vir hom skep, want hy voel as 'n mens het hy 'n reg op geluk. Die monster belowe dat hy en sy maat in die wildernis sal verdwyn en nooit terugkom nie as Victor aan sy versoek voldoen. As hy egter weier, sal die monster Victor se oorblywende familielede en vriende ook vermoor en hom heeltemal verwoes. Hy sal ook op sy troudag vir hom wag. Uit vrees vir sy familie stem Victor teensinnig in. Die monster sê hy sal oor Victor se skouer loer om sy vordering dop te hou.
Victor en 'n vriend, Clerval, reis na Engeland, maar hulle paadjies skei op aandrang van Victor in Perth, Skotland. Victor vermoed die monster volg hom. Hy werk op Orkney aan die maat vir die monster, maar word geteister deur gedagtes van onheil. Hy is bang die vrou haat die monster of word wreder as hy. Nog kommerwekkender is die idee dat die twee monsters 'n hele ras kan maak wat die mensdom treiter. Hy ruk die onvoltooide vrou uitmekaar nadat hy die monster deur 'n venster sien kyk. Die monster storm in en konfronteer Victor, maar Victor weier om verder te werk.
Victor seil op die see uit om van sy instrumente ontslae ta raak, maar raak op die boot aan die slaap. Hy kan daarna nie terugkeer land toe nie, want die wind het verander, en hy word na die Ierse kus gewaai. Toe Victor in Ierland land, word hy vir Clerval se moord gearresteer, want die monster het Clerval verwurg en die lyk gelos waar sy skepper land. Victor kry 'n senuweeineenstorting en word in die tronk wakker. Hy word egter onskuldig bevind en vrygelaat.
Terug in Genève gaan Victor en Elizabeth trou en hy berei hom voor om tot die dood teen die monster te veg, onder meer met pistole en 'n dolk. Die aand ná hulle troue vra Victor Elizabeth om in haar kamer te bly terwyl hy die monster soek. Terwyl Victor die huis en erf deursoek, verwurg die monster Elizabeth. Victor sien die monster spottenderwys na Elizabeth se lyk wys; hy probeer die monster skiet, maar dié ontsnap. Victor se pa, verswak deur ouderdom en Elizabeth se dood, sterf 'n paar dae later.
Victor agtervolg nou die monster deur Europa, en daarna noord tot in Rusland, maar die monster bly hom ontwyk. Eindelik ly die jaagtog na die Arktiese Oseaan en daarna na die Noordpool. Toe hy naby die monster kom, stort hy ineen van uitputting en hipotermie, en die monster ontsnap.
Aan die einde van Victor se vertelling sit kaptein Walton die storie voort. 'n Paar dae nadat die monster ontsnap het, val sy skip in die ys vas en 'n paar van die bemanningslede sterf voordat die res daarop aandring om suid te vaar sodra die skip los is. Victor is woedend en steek ondanks sy toestand 'n kragtige toespraak af. Hy herinner hulle aan hoekom hulle by die ekspedisie aangesluit het en dat dit harde werk en gevaar is wat 'n onderneming soos hulle s'n suksesvol maak, nie gerief nie. Hy sê hulle moet mans wees, nie lafaards nie. Die bemanning is beïndruk, maar nie oortuig nie, en toe die skip vry is besluit Walton om suid te vaar. Victor sê hy sal alleen voortgaan; hy is vasbeslote om die monster te vang.
Victor sterf kort daarna en sê in sy sterwensuur aan Walton om "geluk en vrede te soek en ambisie te vermy." Walton kry die monster op sy skip waar hy oor Victor se liggaam treur. Hy vertel vir Walton dat Victor se dood nie vir hom vrede gebring het nie; sy misdade het hom ongelukkiger gemaak as wat Victor ooit was. Die monster belowe om homself te verbrand sodat niemand anders van sy bestaan sal weet nie. Walton kyk terwyl die monster wegvaar, en hy word nooit weer gesien nie.
Mary Shelley se moeder, Mary Wollstonecraft, is 11 dae ná haar geboorte aan infeksie oorlede. Shelley was dus baie na aan haar pa, William Godwin. William se tweede vrou, Mary Jane Clairmont, het nie gehou van die noue band tussen pa en dogter nie en dit het groot wrywing veroorsaak.
Shelley se pa was 'n bekende skrywer van sy tyd en haar opvoeding was vir hom baie belangrik, hoewel dit nie formeel was nie. Shelley het grootgeword omring deur haar pa se vriende, skrywers en vername politici, wat dikwels by die gesin se huis byeengekom het. Dit het haar geïnspireer om van jongs af te skryf. Toe sy 16 jaar oud was, het sy Percy Bysshe Shelley (wat later haar man geword het) ontmoet toe hy haar vader besoek. Godwin het nie gehou van die verhouding tussen sy dogter en die ouer, getroude man nie. Hulle het dus na Frankryk gevlug saam met Mary se halfsuster, Claire Clairmont. Op dié reis het Percy moontlik 'n affair met Claire gehad.[10] Op 22 Februarie 1815 het Shelley te vroeg die lewe aan haar eerste kind, Clara, geskenk en dié is twee weke later dood. Oor die volgende agt jaar het sy 'n paar kinders verloor.[11]
In die somer van 1816 het Mary, Percy en Claire na Genève gereis na Claire se minnaar, Lord Byron. Die winteragtige weer het Byron en sy besoekers egter gedwing om binnenshuis te bly. Om die tyd te help omkry het Byron voorgestel hy, Mary, Percy en Byron se dokter, John Polidori, kyk wie die beste rillerstorie kan skryf.[12] Historici dink daar was ook 'n affair, en selfs dat Byron die pa van een van Shelley se kinders was.[11] Mary was net 18 jaar oud toe sy die kompetisie met Frankenstein wen.[13][14]
Shelley se werk is baie deur haar ouers se skryfwerk beïnvloed. Haar pa was bekend vir Enquiry Concerning Political Justice en haar ma vir A Vindication of the Rights of Woman. Haar pa se romans het ook haar boek Frankenstein beïnvloed. Dié romans sluit in Things as They Are; or, The Adventures of Caleb Williams, St. Leon en Fleetwood. Al dié boeke speel in Switserland af, nes Frankenstein.
Sommige van die temas in Shelley se roman stem met dié werke ooreen. Ander letterkundige invloede in Frankenstein is Pygmalion et Galatée deur Mme de Genlis en Ovidius.[15] Ovidius was ook die inspirasie vir die gebruik van Prometeus se naam in Shelley se titel.[16]
Die invloed van John Milton se Paradise Lost en Samuel Taylor Coleridge se The Rime of the Ancient Mariner is duidelik in die roman. In The Frankenstein of the French Revolution skryf Julia Douthwaite dat Shelley moontlik 'n paar idees vir Frankenstein se karakter gekry het uit Humphry Davy se boek Elements of Chemical Philosophy. Verwysings na die Franse Rewolusie kom deur die hele boek voor; 'n waarskynlike bron is François-Félix Nogaret se Le Miroir des événemens actuels, ou la Belle au plus offrant (1790), 'n politieke gelykenis oor wetenskaplike vooruitgang met onder andere 'n uitvinder met die naam Frankésteïn wat 'n lewensgroot robot skep.[17]
Beide Frankenstein en die monster haal dele aan uit Percy Shelley se gedig van 1816 "Mutability". Samuel Taylor Coleridge se gedig "The Rime of the Ancient Mariner" (1798) word verbind met die tema van skuld en William Wordsworth se "Tintern Abbey" (1798) met dié van onskuld.
Shelley se persoonlike ondervindings het ook die temas in Frankenstein beïnvloed. Die temas verlies, skuld en die gevolge daarvan om die natuur uit te daag in die roman het almal uit Mary se eie lewe ontwikkel. Die verlies van haar moeder, haar verhouding met haar pa en die dood van haar eerste kind het waarskynlik die monster geïnspireer, asook sy verwydering van ouerlike leiding.
In die reënerige somer van 1816, die "jaar sonder 'n somer", was die wêreld vasgevang in 'n lang, koue vulkaniese winter wat veroorsaak is deur die uitbarsting van die berg Tambora in 1815.[18][19] Mary Shelley, op 18, en haar minnaar (en toekomstige man), Percy Bysshe Shelley, was op besoek aan Lord Byron in Switserland. Die weer was daardie somer te koud om buite te wees en aan die vakansiebedrywighede deel te neem wat hulle beplan het, en die groep het binnenshuis gebly.
Hulle het om 'n vuur gesit en hulle vermaak deur Duitse spookstories voor te lees wat in die boek Fantasmagoriana in Frans vertaal is.[20] Byron het voorgestel hulle skryf elkeen 'n spookstorie.[21] Mary kon nie aan een dink nie. Een aand tydens hulle gesprek in die middel van die somer is die aard van die beginsel van die lewe bespreek. "Dalk sal 'n lyk weer lewe kry," het Mary opgemerk.[22] Hulle het eers ná middernag gaan slaap en omdat Mary nie kon slaap nie, het haar verbeelding met haar weggehardloop in 'n "wakker droom":[6]
I saw the pale student of unhallowed arts kneeling beside the thing he had put together. I saw the hideous phantasm of a man stretched out, and then, on the working of some powerful engine, show signs of life, and stir with an uneasy, half vital motion. Frightful must it be; for supremely frightful would be the effect of any human endeavour to mock the stupendous mechanism of the Creator of the world.[23]
In September 2011 het die sterrekundige Donald Olson, nadat hy die Meer van Genève besoek en data oor die beweging van die maan en sterre bestudeer het, tot die gevolgtrekking gekom dat haar "wakker droom" tussen 02:00 en 03:00 die oggend van 16 Junie 1816 plaasgevind het, verskeie dae ná Lord Byron se voorstel dat hulle elkeen 'n spookstorie skryf.[24]
Mary Shelley het begin skryf wat sy gedink het 'n kortverhaal sou wees, maar met Percy Shelley se aanmoediging het sy die storie uitgebrei tot 'n vollengteroman.[25] Sy het later daardie somer in Switserland beskyf as die oomblik "toe ek uit my kinderjare in die volwasse lewe ingestap het".[26] Shelley het die eerste vier hoofstukke geskryf in die weke ná die selfmoord van haar halfsuster Fanny.[27] Dit was een van baie tragedies wat Shelley se werk beïnvloed het. Shelley se eerste kind is as baba dood, en toe sy Frankenstein in 1816 begin skryf, het sy waarskynlik haar tweede kind versorg, wat ook dood was teen die tyd van Frankenstein se publikasie.[28]
Shelley het 'n groot deel van die boek geskryf terwyl sy in 1816 in 'n huurkamer in die middel van Bath, Somerset, gebly het.[29]
Byron kon net 'n fragment skryf geskoei op die vampierlegende wat hy gehoor het terwyl hy in die Balkan gereis het, en hieruit het John Polidori The Vampyre (1819) geskep, wat die voorloper was van die romantiese vampiergenre.
Shelley se manuskripte vir die eerste uitgawe van drie volumes wat in 1818 gepubliseer is (en in 1816-'17 geskryf is), asook haar konsepmanuskrip vir haar uitgewer, word nou in die Bodleian-biblioteek in Oxford gehou.[30][31]
Hoewel die monster later beskryf is as 'n samestelling van hele liggaamsdele wat uit kadawers saamgestel is en reanimasie deur die gebruik van elektrisiteit, is dit nie hoe Shelley dit beskryf het nie; albei is eerder die resultaat van James Whale se gewilde rolprent van 1931 en ander vroeë flieks.
In Shelley se oorspronklike werk ontdek Victor Frankenstein 'n voorheen onbekende maar basiese beginsel van lewe, en daardie insig stel hom in staat om 'n metode te ontwikkel om lewe in nielewende voorwerpe te blaas, hoewel die ware aard van die proses dubbelsinnig is. Ná 'n groot mate van weifeling oor die uitoefening van sy mag, bestee Frankenstein twee jaar om die monster se liggaam nougeset te skep (een anatomiese deel ná die ander) van rou materiale wat verskaf is deur "die dissekteerkamer en die slagpale". Hy laat dit dan lewe kry met sy ongespesifiseerde proses.
Deel van Frankenstein se verwerping van sy skepping is dat hy dit nie 'n naam gee nie. Hy word beskryf met woorde soos "monster", "drommel", "skepsel", "demoon", "duiwel" en "dit". In die roman word die monster vergelyk met Adam,[32] die eerste man in die tuin van Eden. Die monster vergelyk homself ook met die "gevalle engel". Hy sê vir Frankenstein: "Ek behoort jou Adam te wees, maar ek is eerder jou gevalle engel". Dié engel is Lucifer (wat beteken "ligbringer") in Milton se Paradise Lost, wat die monster gelees het.
Die monster is al dikwels verkeerdelik Frankenstein genoem. In 1908 het een skrywer gesê: "Dit is vreemd om op te merk hoe algemeen die term "Frankenstein" verkeerdelik gebruik word, selfs deur intelligente mense, om die aaklige monster te beskryf."[33] In Edith Wharton se The Reef (1916) word 'n onhebbelike kind beskryf as 'n "infant Frankenstein."[34] In David Lindsay se "The Bridal Ornament" (12 Junie 1844) word "the maker of poor Frankenstein" genoem. Ná die uitreiking van Whale se rolprentweergawe van Frankenstein het die publiek algemeen van die monster begin praat as "Frankenstein". Dié verkeerde benaming kom ook voor in die geslaagde opvolgprent, Bride of Frankenstein (1935).
Mary Shelley het volgehou sy het die naam "Frankenstein" uit 'n visioen gekry. Dié bewering is intussen betwis en gedebatteer deur geleerdes wat alternatiewe bronne vir die naam voorgestel het.[35]
Die Duitse naam Frankenstein beteken "steen van die Franke" en word verbind met verskeie plekke in Duitsland, insluitende die Frankenstein-kasteel in Darmstadt, Hesse, en die kasteel in Frankenstein, 'n dorp in die Palts. Die dorp Frankenstein in Silesië (nou in Pole) was die toneel van 'n skandaal in 1606 wat grafgrawers behels het, en dit is al voorgestel as die skrywer se inspirasie.[36]
Volgens die Roemeense akademikus Radu Florescu het Mary en Percy Shelley in 1814 die Frankenstein-kasteel in Darmstadt besoek, waar die alchemis Johann Konrad Dippel met menslike liggame geëksperimenteer het. Sy het dit egter nie genoem nie om haar bewering van oorspronklikheid te handhaaf.[37] 'n Letterkundige essay deur A.J. Day ondersteun dié siening.[38] Volgens Jörg Heléne kan Day en Florescu se bewerings egter nie gestaaf word nie.[39]
'n Moontlike vertolking van die naam "Victor" is dat dit van John Milton se Paradise Lost kom. Dit was 'n groot invloed op Shelley ('n aanhaling van Paradise Lost kom op die eerste bladsy van Frankenstein voor en Shelley skryf die monster het die roman gelees).[40][41] Milton verwys dikwels na God as "the victor" in Paradise Lost, en Victor se skepping van lewe in Frankenstein word vergelyk met God se skepping van lewe in die boek.
Daar is ook al op ooreenkomste gewys tussen Victor Frankenstein en Mary se man, Percy Shelley. Percy kom uit net so 'n vooraanstaande familie as Victor. Percy se suster en Victor se aangenome suster was albei Elizabeth. Daar is ook baie ander ooreenkomste, soos dat Percy die skuilnaam Victor gebruik het vir Original Poetry by Victor and Cazire, 'n versameling gedigte wat hy en Elizabeth geskryf het,[42] en Percy se tyd op Eton, waar hy met elektrisiteit en magnetisme geëksperimenteer het, asook met buskruit en verskeie ander chemiese reaksies".[43][44]
Die roman se subtitel is The Modern Prometheus (hoewel dié deel deesdae meestal weggelaat en net in die inleiding genoem word). Prometeus was in die Griekse mitologie die Titaan wat mense na die beeld van die gode gemaak het sodat Zeus lewe in hulle kon blaas. Prometeus leer dan die mens om te jag, maar nadat hy Zeus verkul het om "offerandes van swak gehalte" van mense te aanvaar, weerhou Zeus vuur van die mens. Prometeus neem toe die vuur terug van Zeus en gee dit aan die mens. Toe Zeus dit uitvind, veroordeel hy Prometeus tot 'n ewige straf: Hy word aan 'n rots vasgemaak en 'n arend eet elke dag sy lewer, maar die lewer groei die volgende dag terug omdat hy as god onsterflik is.
As 'n Pitagoreër, wat glo in An Essay on Abstinence from Animal Food, as a Moral Duty deur Joseph Ritson,[45] het Mary Shelley Prometeus nie as 'n held beskou nie, maar eerder as iets soos die duiwel, en sy het hom blameer vir die bring van vuur aan die mens en om die mens so te verlei om vleis te eet.[46] Percy het verskeie essays geskryf oor wat bekend geword het as vegetarisme, insluitende A Vindication of Natural Diet.[45]
Byron het veral gehou van die toneelstuk Prometheus Bound deur Aischulos, en Percy Shelley het sy eie Prometheus Unbound (1820) geskryf. Die term "moderne Prometeus" kom van Immanuel Kant, wat Benjamin Franklin as die "Prometeus van moderne tye" beskryf het met verwysing na sy eksperimente met elektrisiteit.[47]
Shelley het die skryfwerk aan haar roman in April/Mei 1817 voltooi, en Frankenstein is op 1 Januarie 1818 gepubliseer[48] deur die klein uitgewery Lackington, Hughes, Harding, Mavor, & Jones.[49] Dit is sonder die naam van die skrywer gepubliseer, met 'n voorwoord vir Mary deur Percy Bysshe Shelley. Die boek is opgedra aan die filosoof William Godwin, haar vader. Net 500 eksemplare is uitgegee, in drie volumes, wat die tipiese standaard van eerste uitgawes in 19de eeu was.
'n Franse vertaling, Frankenstein: ou le Prométhée Moderne, wat deur Jules Saladin vertaal is, het reeds in 1821 verskyn. Die tweede Engelse uitgawe van Frankenstein het op 11 Augustus 1823 in twee volumes verskyn (uitgegee deur G. en W.B. Whittaker) ná die sukses van die toneelstuk Presumption; or, the Fate of Frankenstein deur Richard Brinsley Peake.[50] In dié uitgawes het Mary se naam as skrywer verskyn.
Op 31 Oktober 1831 het die eerste "gewilde" uitgawe in een volume verskyn, uitgegee deur Henry Colburn & Richard Bentley. Dié uitgawe is radikaal deur Mary aangepas, onder meer om die storie minder radikaal te maak. Dit sluit 'n lang nuwe voorwoord deur die skrywer in, waarin sy meer van die oorsprong van die verhaal vertel.
Frankenstein is beide goed ontvang en gekritiseer toe dit in 1818 die eerste keer sonder 'n skrywersnaam gepubliseer is. Resensies uit dié tyd weerspieël die volgende twee sienings, asook verwarrende gissings oor die identiteit van die skrywer. Walter Scott het in Blackwood's Edinburgh Magazine die roman geprys as 'n "buitengewone verhaal, waarin die skrywer lyk of hy ongewone magte van digterlike verbeelding onthul," hoewel hy minder oortuig was oor die manier waarop die monster inligting oor die wêreld en oor taal opgedoen het.[51] Die Edinburgh Magazine and Literary Miscellany het gehoop nog boeke van dié skrywer verskyn.[52] Aan die ander kant het John Wilson Croker naamloos in Quarterly Review geskryf die roman is 'n "reeks verskriklike en walglike absurditeite".[53]
Resensies sedert die middel 20ste eeu is hoofsaaklik positief.[54] Belangrike resensente soos M.A. Goldberg en Harold Bloom het die "estetiese en morele" tersaaklikheid van die roman geprys.[55] Daar was agter mense wat dit gekritiseer het, soos Germaine Greer (vir sy tegniese defekte). Sy beweer onder meer die drie vertellers praat almal op dieselfde manier.[56]
Die rolprentregisseur Guillermo del Toro beskryf Frankenstein as "die tipiese tienerboek". Hy skryf die gevoelens "dat jy nêrens behoort, dat jy in die wêreld gebring is deur mense wat nie vir jou omgee nie en dat jy gegooi word in 'n wêreld van pyn en lyding, en trane en hongerte" is 'n belangrike deel van die storie. Hy sê dit is 'n "ongelooflike boek wat deur 'n tienermeisie geskryf is. Dit is sinsbegogelend."[57] 'n Professor van filosofie, Patricia MacCormack, sê die monster vra die "mees basiese menslike vrae: Hoekom is ons hier? Wat kan ons doen?"[57]
Op 5 November 2019 het BBC News Frankenstein ingesluit op sy lys van die 100 inspirerendste romans.[58]
The reveal kickstarts the BBC's year-long celebration of literature.