Hierdie artikel bevat nie ’n bronnelys nie, wat beteken dat die inhoud nie geverifieer kan word nie. Enige bevraagtekende inligting mag dus ook mettertyd verwyder word. Help Wikipedia deur betroubare bronne tot die artikel by te voeg. |
George Eastman | |
---|---|
Gebore | 12 Julie 1854 Waterville, New York |
Sterf | 14 Maart 1932 (op 77) Rochester, New York |
Nasionaliteit | Verenigde State |
Beroep | Sakeman, uitvinder, filantroop |
Bekend vir | Fotografie-pionier, stigter van Eastman Kodak |
Ouer(s) | George Washington Eastman (1815–1862) Maria Kilbourn (1821–1907) |
George Eastman is in 1854 in Waterville, New York gebore. Toe hy vyf jaar oud was, het sy gesin na Rochester verhuis, waar sy pa die Eastman Kommersiële Kollege begin het. Na sy pa se dood het die Eastmans finansieel gesukkel en George moes skool op die ouderdom van 14 verlaat om sy gesin by te staan.
Eastman het entoesiasties geraak oor fotografie toe 'n kollega voorgestel het dat hy foto's moet neem tydens sy vakansie. Die fotografietoerusting was egter die grootte van 'n losstaande rekenaar en Eastman het begin eksperimenteer met toerusting wat minder omslagtig is. Hy het alles wat hy oor die onderwerp kon kry, gelees en, met 'n formule uit 'n Britse tydskrif, het hy begin eksperimenteer met droëplaatemulsies teenoor die nat plate wat op daardie stadium in gebruik was. Hy het sy droëplaatformule in Amerika en Engeland gepatenteer en 'n masjien ontwikkel vir die vervaardiging van 'n groot aantal plate en in 1880 begin om droë plate aan ander fotograwe te verkoop.
In 1885 het Eastman die eerste kommersiële rolfilm vervaardig wat deursigtig en buigsaam was. In 1888 het hy 'n klein bokskamera bekend gestel wat 'n filmrol, voldoende vir 100 foto's, bevat het. In 1889 het die maatskappy papiernegatiewe met buigbare selagtige film vervang wat die weg gebaan het vir die eerste rolprente. In 1900 het die Kodak Brownie, bekostigbaar teen $1 elk, fotografie binne die bereik van Jan Alleman gesit. Al wat nodig was, was die druk van 'n knoppie.
George Eastman het nooit getrou nie, maar het die laaste derde van sy lewe spandeer aan al die aktiwiteite waarvoor tyd ontbreek het terwyl hy 'n wêreldmark vir fotografie geskep het. Hy het jag, visvang en timmerwerk geniet en was 'n buitengewoon goeie kok. Hy het gely aan 'n degeneratiewe ruggraatkwaal wat hom toenemend daarvan weerhou het om 'n aktiewe lewe te lei. Gefrustreerd en neerslagtig het hy op 13 Maart 1932 selfmoord gepleeg. Kort voor sy dood het hy geskryf: "My werk is gedoen. Waarvoor wag?"
George Eastman se innoverende ontwerp van droë, buigsame rolfilms en die handkamera wat hierdie films kon aanwend, het fotografie gerewolusioneer en omskep in een van die twintigste eeu se oorheersende kunsvorms en kragtigste kommunikasiemedia. 'n Eeu na hy die wêreld se eerste Kodak hand-kiekiekamera ontwerp het, word miljarde foto's elke jaar deur professionele en amateurfotograwe geneem.
Eastman se welwillendheid was legendaries. Deur sy leeftyd het hy $100 miljoen aan verskeie instansies geskenk. Sy borgskap het op onderwys en gesondheid gefokus en instellings soos MIT en Rochester Universiteit het grootliks voordeel uit sy ondersteuning getrek. Eastman het dit nie snaaks gedink om twee operas op 'n dag te sien nie en sy liefde vir musiek het hom gelei tot die stigting van die bekende Eastman Musiekskool.
George Eastman het sy besigheid opgebou deur noukeurig aandag te skenk aan elke klein detail, van die naam Kodak (wat hy gekies het oor die sterk plosiewe k-klanke en nie omdat die woord enigiets beteken het nie), die sorgvuldige verskaffing van 'n handelsmerk, tot die slim slagspreuk ("Jy druk die knoppie, ons doen die res") en die welstand van sy werknemers. Sy indiensnemingsbeleide was rewolusionêr vir die tyd: hy het 'n winsdeelstelsel vir sy werkers ingestel dekades voor die konsep deur ander aanvaar is.