Georgië

Georgië
საქართველო
Sakartwelo (Georgies)
Vlag van Georgië Wapen van Georgië
Vlag Wapen
Nasionale leuse: ძალა ერთობაშია
Dzala ertobasjia
(Georgies vir: "Sterkte deur Eenheid")
Volkslied: თავისუფლება
Tawisoepleba
(Georgies vir: "Vryheid")
Ligging van Georgië
Hoofstad Tbilisi

42°15′N 42°42′O / 42.250°N 42.700°O / 42.250; 42.700

Grootste stad Tbilisi

41°43′N 44°47′O / 41.717°N 44.783°O / 41.717; 44.783

Amptelike tale Georgies (landswyd)
Abchasies (Abchasië)[1][2]
Regering Unitêre parlementêre
grondwetlike republiek
Salome Zoerabisjwili
Irakli Kobachidze
Onafhanklikheid
Koninkryk Kolchis
Koninkryk Diauehi
Koninkryk Iberië
Koninkryk Lasika
Prinsdom Iberië
Koninkryk Abchasië
Koninkryk Georgië
Russiese verowering
• van die Russiese Ryk
• Sowjetse herowering
• van die Sowjetunie:
• Verklaar
• Bereik
• Huidige grondwet

13de eeu–164 v.C.
12de eeu–8ste eeu v.C.
302 v.C.–580 n.C.
131 v.C.–697 n.C.
580–880 n.C.
767–1014 n.C.
1008
12 September 1801
26 Mei 1918
25 Februarie 1921

9 April 1991
25 Desember 1991
24 Augustus 1995
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
69 700 km2  (119de)
26 900 myl2
Bevolking
 - 2024-skatting
 - 2014-sensus
 - Digtheid
 
3 736 400a[3]
4 012 104b (126ste)
3 713 804a[4]
57,6 / km2 (137ste)
149,2 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$88,087 miljard[5] (101ste)
$24 036[5] (75ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$31,418 miljard[5] (112de)
$8 573[5] (86ste)

MOI (2021) 0,802[6] (63ste)  –  baie hoog
Gini (2021) 34,2[7] –  medium
Geldeenheid Lari (ლ) (GEL)
Tydsone
 - Somertyd
GET (UTC+04)
nie toegepas nie (UTC+04)
Internet-TLD .ge .გე
Skakelkode +995
a. Uitsluitende besette gebiede (Abchasië en Suid-Ossetië).
b. Insluitende besette gebiede.

Georgië (Georgies: საქართველო, Sakartwelo, [sɑkʰɑrtʰvɛlɔ], ) is 'n Eurasiese land in die Kaukasus en is geleë aan die ooskus van die Swartsee. Sy buurstate sluit in Rusland (noord), Turkye en Armenië (suid) en Azerbeidjan (oos). Die hoofstad en grootste stad is Tbilisi; Koetaisi het vanaf Oktober 2012 tot Desember 2018 as regeringsetel gedien. Die land beslaan ’n oppervlakte van 69 700 km² en ’n bevolking van omtrent 3,7 miljoen.

Georgië het ’n demokraties verkose staatshoof. Sedert 2018 is dit Salome Zoerabisjwili. Danksy onder meer die voormalige president, Micheil Saakasjwili, se goeie betrekkinge met die Verenigde State vorder Georgië goed in sy poging om 'n Navo-lidland te word. Dit is onder groot protes van Rusland, wat Georgië en ander oud-Sowjetstate steeds as deel van sy invloedsfeer beskou.

Koninkryke wat in die gebied geleë was, Iberië en Kolchis, het in die 4de eeu n.C. reeds die Christelike geloof aanvaar. Vandag is 80% van die inwoners Georgies-Ortodokse Christene, terwyl 2% Russies-Ortodoks en 4% van die Armeens-Apostoliese Kerk is.

Georgië het die hoogtepunt van sy politieke en ekonomiese mag in die 11de tot 12de eeu bereik toe Iberië en Kolchis in die Koninkryk Georgië verenig is. In die begin van die 19de eeu is Georgië deur die Russiese Ryk geannekseer.[8] Ná ’n kort tydperk van onafhanklikheid ná die Russiese Rewolusie van 1917, het die Sowjetunie Georgië in 1921 beset en het dit die Georgiese Sosialistiese Sowjetrepubliek geword. Ná onafhanklikwording in 1991 het die land verskeie ekonomiese terugslae gehad wat vererger is deur onrus in dele van die land. Dit het voortgeduur tot met die Roosrewolusie van 2003, waarna ’n nuwe regering demokratiese en ekonomiese hervormings ingestel het.[9]

Die land is lid van verskeie internasionale organisasies. Dit bevat twee de facto onafhanklike streke, Abchasië en Suid-Ossetië, wat beperkte internasionale erkenning gekry het ná die Russies-Georgiese Oorlog van 2008.[10]

Een teorie oor die Georgiërs se naam is dat dit van Sint Joris, Georgië se beskermheilige, afgelei is. Standbeeld in Tbilisi

Georgië is die land se volle grondwetlike naam[11] en word reeds sedert die Middeleeue gebruik. Dit is vermoedelik afgelei van die Persies-Arabiese naam vir die Georgiërs, gurğ, ğurğ, wat omstreeks die tyd van die Eerste Kruistog begin gebruik is. Die Persiese Wirshan beteken "land van die wolf", ’n verwysing na die gryswolf, wat steeds bestaan.

Nog teorieë is dat die naam Georgië afgelei is van georgios (Grieks: γεωργός), ’n Griekse woord wat "boer" beteken, of verwys na Sint Joris, wat baie hooggeag word in Georgië.[12]

Die Georgiërs noem hulself Kartwelebi (ქართველები, dus "Kartweliërs"), hul land Sakartwelo (საქართველო) en hul taal Kartoeli (ქართული). Dié name is gebaseer op die heidense leier Kartlos, agterkleinseun van die Bybelse Jafet, wat beskou word as die vader van alle Georgiërs.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Voorgeskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die gebied van die moderne Georgië word reeds sedert die Vroeë Steentydperk deur Homo erectus bewoon. Die proto-Georgiese stamme is in die 12de eeu v.C. die eerste keer in geskrifte genoem.[13] Argeologiese vondste en verwysings in antieke bronne dui op elemente van vroeë politieke en staatsliggame en op gevorderde metallurgiese en goudsmeetegnieke wat uit die 7de eeu v.C. en vroeër dateer.[13]

Antieke tyd

[wysig | wysig bron]
Die antieke state Kolchis en Iberië

In die Klassieke Tydperk, omstreeks die 6de eeu v.C., het die vroeë Georgiese state Kolchis (Oos-Georgië) en Iberië (Wes-Georgië) ontstaan. In die Griekse mitologie was Kolchis die plek waar die Goue Vlies was wat deur Jason en die Argonoute gesoek is. Die Goue Vlies in die mite is geskoei op die destydse gebruik onder die plaaslike inwoners om goudstof uit riviere deur vliese te sif.[14]

In die 4de eeu v.C. het die twee state ’n verenigde koninkryk gestig – ’n vroeë voorbeeld van gevorderde staatsorganisasie onder een koning en ’n aristokratiese hiërargie.[15]

Nadat die Romeinse Ryk in 66 v.C. sy verowering van die Kaukasus voltooi het, was die Georgiese koninkryke sowat 400 jaar lank onderhorige state en bondgenote van die Romeinse Ryk.[14] In 337 n.C. het koning Mirian III van Iberië verklaar dat die Christelike geloof die staatsgeloof is. Die twee state was van die eerste lande in die streek wat gekersten geraak het – in 337 of 319 n.C. Dit het letterkunde en kuns bevorder en eindelik ’n sleutelrol gespeel in die vereniging van die twee Georgiese state. Die aanvaarding van Christenskap het die koninkryk effektief verbind aan die naburige Oos-Romeinse Ryk, wat amper ’n millennium lank ’n groot invloed op Georgië uitgeoefen het en ’n groot deel van sy huidige kulturele identiteit gevestig het.[14]

Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Koningin Tamar het tydens die goue era van die Middeleeuse Georgiese monargie regeer

Die vroeë koninkryke het teen die Middeleeue in verskeie feodale streke verbrokkel. Dit was hierna maklik vir die Arabiese volke om die grootste deel van Oos-Georgië in die 7de eeu te verower. Van toe af tot in die 10de eeu was Georgië deel van die Chasar-ryk. Die streke sou eers weer aan die begin van die 11de eeu ’n enkele Georgiese koninkryk word.

Hoewel die hoofstad, Tbilisi, in 645 n.C. ook verower is, het Iberië onder die Arabiese heersers aansienlike onafhanklikheid geniet.[14] In 813 n.C. was prins Ashot I – ook bekend as Ashot Kurapalat – die eerste lid van die Bagrationi-familie wat heerser van die koninkryk geword het. Ashot se bewind was die begin van ’n periode van byna 1 000 jaar waartydens die Bagrationi-dinastie oor minstens ’n deel van die huidige Georgië regeer het.

Bagrat III (bewind 1027–'72) het Oos- en Wes-Georgië verenig. In die volgende eeu het Dawid IV die Bouer (bewind 1089–1125) die land se goue era begin deur die Seldjoek-Turke uit die land te verdryf en Georgië se kulturele en politieke invloed suidwaarts uit te brei tot in Armenië en ooswaarts tot by die Kaspiese See.[14]

Die Koninkryk Georgië het sy hoogtepunt in die 12de en 13de eeu bereik. Dié tyd onder Dawid die Bouer en koningin Tamar word algemeen Georgië se goue era of die Georgiese Renaissance genoem.[16] Die "renaissance", wat die Wes-Europese Renaissance voorafgegaan het, is gekenmerk deur die opbloei van die romanties-ridderlike tradisie, deurbrake in filosofie en ’n verskeidenheid politieke innovasies in die gemeenskap en die staat, onder meer godsdiens- en etniese verdraagsaamheid.[17]

Oorblyfsels van die goue era is talle groot katedrale, romantiese gedigte en letterkunde en die epiese gedig "Die Ridder in die Luiperd se Vel".[18]

Dawid die Bouer se kleindogter, Tamar, het die opposisie geneutraliseer en ’n energieke buitelandse beleid gevolg wat voordeel getrek het uit die val van mededingende magte van die Seldjoeks en Bisantium. Met die hulp van ’n magtige militêre elite het sy voortgebou op die sukses van haar voorgangers en die Kaukasus oorheers. Sy het die land uitgebrei tot oor groot dele van die hedendaagse Azerbeidjan, Armenië en Oos-Turkye – tot met die Mongoolse indringing binne twee dekades ná haar bewind.

Die Mongole is uiteindelik verdryf deur George V van Georgië, die seun van Demetrius II, en hy het die land se vorige mag en Christelike kultuur hervestig. George V was die laaste groot koning van die verenigde Georgiese staat. Ná sy dood het verskillende plaaslike heersers geveg vir onafhanklikheid van ’n sentrale bewind. In die 15de eeu het die koninkryk heeltemal verbrokkel. Georgië is verder verswak deur verskeie rampspoedige invalle deur Tamerlane. Teen 1466 het die koninkryk in wanorde verval en in drie onafhanklike koninkryke en vyf semi-afhanklike prinsdomme verdeel. Naburige lande het die interne verdeling van die streek uitgebuit en van die 16de eeu af het die Persiese en die Ottomaanse Ryk onderskeidelik die oostelike en westelike deel van Georgië oorgeneem.

Die leiers van die streke wat gedeeltelik outonoom gebly het, het op verskeie geleenthede rebellies gereël. Nog invalle deur die Perse en Ottomane het die streke egter verder verswak. Weens die aanhoudende oorloë het die Georgiese bevolking van vyf miljoen in die 13de eeu afgeneem tot 250 000 aan die einde van die 18de eeu. Met die dood van die Persiese heerser Nader Shah in 1747 het die twee Oos-Georgiese streke Kartli en Kakheti se konings weggebreek onder Persiese beheer. Hulle is in 1762 deur die energieke koning Heraclius II herenig.

Georgië in die Russiese Ryk

[wysig | wysig bron]
Koning George XII was die laaste koning van Georgië, wat in 1801 deur die Russiese Ryk geannekseer is

In 1783 het Rusland en die oostelike koninkryk Kartli-Kacheti die Verdrag van Georgijefsk onderteken waarin die band van Ortodokse Christenskap tussen die Russiese en die Georgiese volk erken word en Oos-Georgië beskerming belowe word. Ondanks dié ooreenkoms het Rusland Georgië nie gehelp toe die Turke en Perse die land in 1785 en 1795 ingeval, Tbilisi verwoes en die inwoners vermoor het nie. In 1801 het Rusland Oos-Georgië geannekseer, die koninklike familie van die troon af gesit en die outokefalie van die Georgies-Ortodokse Kerk beëindig.

Op 22 Desember 1800 het tsaar Paul van Rusland, na bewering ná ’n versoek van die Georgiese koning, George XII, ’n bevel onderteken waarvolgens Georgië (Kartli-Kacheti) in die Russiese Ryk opgeneem word. Dit is op 8 Januarie 1801 gefinaliseer[19][20] en op 12 September 1801 deur tsaar Aleksander I bekragtig.[21][22] Die Georgiese adel het nie die bevel erken nie tot in April 1802, toe hulle in ’n katedraal aangehou en gedwing is om trou aan die Russiese troon te sweer.[23]

Hierna is die westelike deel van Georgië deur tsaar Aleksander geannekseer. Van 1803 tot 1878, tydens oorloë tussen Rusland en die Ottomaanse Ryk, is verskeie van Georgië se voormalige gebiede soos Adzjarië oorgeneem. Die prinsdom Goeria is in 1828 afgeskaf en in die Russiese Ryk opgeneem en Megrelië in 1857. Die streek Swaneti is tussen 1857 en 1859 geleidelik geannekseer.

Verklaring van onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]
Die Georgiese parlement verklaar die land onafhanklik in 1918

Ná die Russiese Rewolusie van 1917 het Georgië hom op 26 Mei 1918 onafhanklik verklaar te midde van die Russiese Burgeroorlog. Die parlementêre verkiesing is gewen deur die Mensjewistiese Georgiese Sosiaal-Demokratiese Party en sy leier, Noe Zjordania, het die eerste minister geword.

In 1918 het ’n oorlog tussen Georgië en Armenië uitgebreek oor Georgiese grondgebied wat hoofsaaklik deur Armene bewoon is. Dit is deur Britse ingryping beëindig en van 1918 tot 1920 was Georgië onder Britse beskerming.

Georgië in die Sowjetunie

[wysig | wysig bron]
Noe Zjordania, wat in 1918 eerste minister geword het

In Februarie 1921 is Georgië deur die Rooi Leër aangeval. Die Georgiese leër is verslaan, die regering het gevlug en op 25 Februarie 1921 is ’n kommunistiese regering deur die Sowjetunie ingestel onder die Bolsjewis Filipp Macharadze.

Die Sowjetregering was egter eers sterk gevestig nadat ’n opstand in Augustus 1924 onderdruk is.[24] Georgië is opgeneem in die Transkaukasiese Sosialistiese Sowjetrepubliek saam met Armenië en Azerbeidjan. Die republiek is in 1936 ontbind en Georgië het die Georgiese Sosialistiese Sowjetrepubliek geword.

Josef Stalin, ’n etniese Georgiër, was ’n vooraanstaande Bolsjewis en het Wladimir Lenin in 1922 opgevolg as algemene sekretaris van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie.

Op 9 April 1989 is ’n vreedsame demonstrasie in die hoofstad, Tbilisi, deur die Sowjetunie onderdruk. In Oktober 1990 is ’n nasionale vergadering verkies. ’n Groep politici het verenig om die Ronde Tafel Vrye Georgië te stig en hulle het 155 van die 250 parlementêre setels gewen. Die heersende Kommunistiese Party het net 64 setels gewen.

Georgië ná onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]
Die vlag van Georgië vanaf 1918 tot 1921 en tussen 1990 en 2004
Die wapen van Georgië vanaf 1918 tot 1921 en tussen 1991 en 2004

Op 9 April 1991, kort voor die verbrokkeling van die Sowjetunie, het Georgië hom onafhanklik verklaar. Op 26 Mei is Zwiad Gamsachoerdia verkies tot die eerste president van ’n onafhanklike Georgië. Hy het nasionalisme aangemoedig en belowe om Georgië se gesag te hervestig oor streke soos Abchasië en Suid-Ossetië, wat onder die Sowjetunie as outonome oblaste geklassifiseer is.

Hy is tussen 22 Desember 1991 en 6 Januarie 1992 afgesit in ’n bloedige staatsgreep. ’n Burgeroorlog het uitgebreek wat byna tot in 1995 voortgeduur het. Edward Sjewardnadze het in 1992 na Georgië teruggekeer en by die leiers van die staatsgreep, Tengiz Kitowani en Jaba Ioseliani, aangesluit en die Staatsraad gevorm.

Sluimerende dispute tussen plaaslike separatiste en die Georgiese bevolking in Abchasië en Suid-Ossetië het ontplof in wydverspreide inter-etniese geweld. Die twee gebiede, wat deur Rusland ondersteun is, het de facto-onafhanklikheid van Georgië verkry. In 1995 is Sjewardnadze amptelik verkies tot president.

In 1992/'93 is rofweg 230 000 tot 250 000 Georgiërs[25] vermoor of uit Abchasië gesit deur separatiste en Noord-Kaukasiese vrywilligers (onder andere Tsjetsjniërs). Sowat 23 000 Georgiërs[26] het ook uit Suid-Ossetië gevlug.

In 2003 is Sjewardnadze, wat in 2000 herkies is, in die Roosrewolusie afgesit nadat die Georgiese opposisie en internasionale monitors beslis het die parlementêre verkiesing van 2 November is deur bedrog gekenmerk.[27] Die rewolusie is gelei deur Micheil Saakasjwili, Zoerab Zjwania en Nino Boerdjanadze, voormalige lede en leiers van Sjewardnadze se regerende party. Saakasjwili is in 2004 tot die nuwe president verkies.

Ná die Roosrewolusie is ’n reeks hervormings ingestel om die land militêr en ekonomies te versterk. Die nuwe regering se pogings om Georgië se gesag in die suidwestelike outonome republiek Adzjarië te hervestig, het in 2004 tot ’n groot krisis gelei. Sukses in Adzjarië het Saakasjwili aangemoedig om dieselfde in Suid-Ossetië te probeer, maar sonder sukses.

Dié gebeure, asook beskuldigings dat Georgië betrokke was in die Tweede Tsjetsjniese Oorlog,[28] het daartoe gelei dat betrekkinge tussen die land en Rusland versuur het, en dit is vererger deur Rusland se openlike hulp aan die twee wegbreekstreke. Ondanks die toenemende probleme het Georgië en Rusland in Mei 2005 ’n ooreenkoms onderteken[29] waarvolgens Rusland sy militêre basisse (wat uit die Sowjet-era dateer) in Desember 2007 aan Adzjarië en die suidelike streek Samtsche-Jawacheti onttrek het.[30] Rusland het egter nie sy troepe aan Abchasië onttrek nie, hoewel hy veronderstel was om dit te doen kragtens ’n verdrag wat in 1999 in Istanboel onderteken is.[31]

Die Suid-Ossetiese Oorlog en daarna

[wysig | wysig bron]
’n Amerikaanse vlootoffisier groet Georgiërs in 2008 in Adzjarië tydens die oorlog tussen Rusland en Georgië

Op 7 Augustus 2008 het Georgiese magte die hoofstad van Suid-Ossetië, Zchinwali, begin bombardeer en die volgende dag het Georgiese voetsoldate, tenks en polisiekommando's die streek binnegegaan.[32] Verskeie sleuteldorpe is oorgeneem en Russiese vredehouers en Suid-Ossetiese magte het teruggewyk.[33][34]

Nadat ’n Russiese vredehouersbasis egter gebombardeer en personeellede gedood is, het Russiese soldate die streek binnegeval en dit het gelei tot ’n geveg van drie dae waarin die stad Zchinwali in puin gelê is.[35][36][37] Hierna is Georgiese magte gedwing om terug te val en die Russiese lugmag het lugaanvalle op Georgiese magte in Suid-Ossetië asook teikens in Georgië self begin uitvoer.[38] Die Georgiese lugmag het teenaanvalle gedoen. ’n Tweede oorlogsfront het ontstaan toe Abchasië, met Russiese hulp, Georgiese troepe in die Kodori-vallei aanval. Die Georgiese troepe het gou teruggewyk.[39][40]

Russiese troepe het die Georgiese dorp Gori, waar Georgiese troepe vroeër saamgetrek het voordat hulle na Tbilisi teruggewyk het, binnegeval. Guerrillastryders het gevolg en hulle het gesteel en gemoor, en brandstigting is ook aangemeld.[41][42]

Op 12 Augustus 2008 het oudpres. Dmitri Medwedef gelas dat Russiese operasies in Georgië beëindig word[43] en dat Russiese troepe geleidelik aan onder meer Gori onttrek word. Russiese magte het egter in Abchasië en Suid-Ossetië agtergebly[44][45] en Rusland het kort daarna dié twee gebiede se onafhanklikheid erken.[46]

Sedert die oorlog hou Georgië vol Rusland beset die twee wegbreekstreke en dat hulle wetlik deel van Georgië bly.[47][48] Die land het groot internasionale steun gekry vir dié standpunt, hoewel pogings om internasionale toegang te beperk en ’n ekonomiese verbod op die streke te plaas, gemengde reaksie ontlok het.[49]

Administratiewe verdeling

[wysig | wysig bron]
’n Kaart van Georgië wat die gebiede Abchasië en Suid-Ossetië aandui, wat albei de facto onafhanklik is

Georgië is verdeel in nege streke, een stad en twee outonome republieke.[50] Hulle is weer onderverdeel in 69 munisipaliteite.

Daar is twee amptelike outonome streke in Georgië, waarvan een hom onafhanklik verklaar het. Nog ’n streek het hom onafhanklik verklaar, maar is nie amptelik outonoom nie.

Die outonome streek Abchasië het hom in 1999 onafhanklik verklaar.[51][52] Die de facto- onafhanklike Suid-Ossetië is amptelik bekend as die Zchinwali-streek om dit te onderskei van die Russiese Noord-Ossetië.[53] Dit was outonoom in die Sowjetunie, maar sy outonomiteit is weggeneem toe dit in 1995 tot Zchinwali hernoem is.[54] Hoewel daar ’n aanbod was om die streek weer outonoom te maak, het die inwoners in 2006 in ’n referendum, wat nie deur Georgië erken word nie, gestem om onafhanklik te wees.[53] Rusland erken Suid-Ossetië se onafhanklikheid, maar Georgië nie; die land beskou die Russiese teenwoordigheid as ’n besetting van Georgiese grondgebied.[47][55] Albei streke het nou minimale internasionale erkenning as onafhanklike gebiede.

Adzjarië was 'n outonome republiek in die Sowjet-tye, en het dit gebly binne onafhanklike Georgië. Onder leier Aslan Abasjidze, wat noue bande met Rusland gehad het, het Tbilisi effektief gesag verloor. Ná die verkiesing van Micheil Saakasjwili as president in 2004, wat Georgiese gesag oor die hele twyfel wou herwin, het spanning tussen Adzjarië en Georgië toegeneem, wat gelei het tot betogings in die streek en Abasjidze se bedanking. Die streek het sy outonomie behou.[56]

Geografie en klimaat

[wysig | wysig bron]
Die streek Tusheti in Noordoos-Georgië
Nasa-Satellietbeeld van Georgië
Die streek Swaneti in Noordwes-Georgië

Georgië is in die Suid-Kaukasus geleë,[57][58] tussen die breedtegrade 41° en 44° N en die lengtegrade 40° en 47° O. Dit het ’n oppervlakte van 69 700 km² en is baie bergagtig. Die Lichi-bergreeks verdeel die land in oos (die historiese Iberië) en wes (Kolchis). Berge skei ook die noordelike deel van die res van Georgië.

Die Groot Kaukasus-bergreeks vorm die land se noordgrens. Die hoofpaaie na Rusland deur die bergreeks loop deur die Roki-tonnel tussen Suid- en Noord-Ossetië en die Darial-kloof in die Georgiese streek Chevi. Die suidelike deel van die land word begrens deur die Klein Kaukasus-bergreeks.

Die hoogste berg is Sjchara (5 068 m bo seevlak), gevolg deur Janga (Dzjangi-Taoe) (5 059 m). Ander prominente pieke sluit in Kazbek, Sjota Roestaweli, Tetnoeldi, Oesjba en Ailama. Van laasgenoemde pieke is net Kazbek van vulkaniese oorsprong. Die gebied tussen Kazbek en Sjchara (sowat 200 km aan die hoof-Kaukasus-bergreeks) word oorheers deur gletsers. Van die sowat 2 100 gletsers in die Kaukasus kom sowat 30% in Georgië voor.

Die term Klein Kaukasus-bergreeks word dikwels gebruik vir die bergagtige Suid-Georgië wat aan die Groot Kaukasus-bergreeks verbind word deur die Lichi-reeks. Die gebied bestaan uit verskeie bergreekse (grootliks van vulkaniese oorsprong) wat met mekaar verbind is en plato's wat nie hoër as 3 400 m is nie. Prominente geografiese eienskappe sluit in die vulkaniese plato Jawacheti, mere soos Tabatskoeri en Parawani, en minerale- en warmbronne. Twee van die grootste riviere is die Rioni en die Mtkwari.

Die Kroebera-grot is die diepste bekende grot in die wêreld. Dit is in die Arabika-massief van die Gagra-bergreeks in Abchasië geleë. In 2001 het ’n Russies-Oekraïnse span ’n wêreldrekord opgestel toe hulle 1 710 m diep geduik het. In 2004 het ’n Oekraïnse span die 2 000 m-merk bereik. In Oktober 2005 is ’n ongerepte deel deur die CAVEX-span ontdek en hulle het bevestig dat die grot 2 140 m diep is.

Topografie

[wysig | wysig bron]
Die grotstad Wardzia en die vallei van die Koera-rivier daaronder
Oesjba, ’n prominente piek in die Kaukasus

Die Georgiese landskap is taamlik uiteenlopend. In die weste is van moeras- en reënwoude tot permanente sneeu en gletsers, terwyl ’n klein deel in die ooste ook halfdroë vlaktes bevat. Woude bedek sowat 40% van Georgië se oppervlak, terwyl die alpynse en subalpynse sone sowat 10% beslaan.

’n Groot deel van die natuurlike habitat in die laagliggende dele van Wes-Georgië het die afgelope 100 jaar verdwyn weens die uitbreiding van landbou en stede. Die meeste van die woude wat die Kolchis-vlakte bedek het, bestaan nie meer nie – behalwe in nasionale parke en reservate (soos die Paliastomi-meergebied). Vandag kom die meeste woude in die bergagtige gebiede voor. Wes-Georgië se woude laer as 600 m bo seevlak bestaan hoofsaaklik uit bladwisselende bome – veral eikebome, haagbeuke, Oosterse beuke, olms, esbome en kastaiings. Immergroen spesies soos buksbome word ook wyd aangetref.

Die wes-sentrale hange van die Mescheti-bergreeks in Adzjarië en sommige plekke in Samegrelo en Abchasië is bedek met gematigde reënwoude. Tussen 600 en 1 000 m bo seevlak raak die bladwisselende woude gemeng met breëblaar- en keëldraende spesies. Dié sone bevat veral beuke-, Kaukasiese sparhoutboom- en denneboomwoude. Van 1 500 tot 1 800 m raak die woude grootliks keëldraend. Die boomlyn eindig gewoonlik op sowat 1 800 m en dan begin die alpynse sone; in die meeste gebiede strek dit tot sowat 3 000 m bo seevlak. Bokant dié merk lê sneeu en gletsers.

Die landskap van Oos-Georgië (die gebied oos van die Lichi-bergreeks) verskil heelwat van dié in die weste, hoewel die woude in die laagliggende gebiede soos die Mtkwari- en Alazani-riviervalleie ook moes plek maak vir landbou.

Oos-Georgië bestaan in die algemeen uit valleie en klowe wat deur berge geskei word. Hier is byna 85% van die woude bladwisselend. Keëlboomwoude kom net oorheersend voor in die Borjomi-kloof en in die heel westelike dele. Veral beuke, eieke en haagbeuke kom voor, maar daar is ook esdorings, esse en haselneutbome. In die Bo-Alazani-riviervallei is daar taksisboomwoude.

Meer as 1 000 m bo seevlak (veral in die streke Toesjeti, Chewsoereti en Chewi) oorheers denne- en berkewoude. In die algemeen kom woude in Oos-Georgië voor tussen 500 en 2 000 m bo seevlak, terwyl die alpynse sone strek van 2 000 tot 3 500 m. Bo dié merk lê sneeu en gletsers.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Klimaatsones in Georgië volgens die Köppen-klimaatklassifikasie
Die Swartsee-kus van Batoemi in Wes-Georgië

Georgië se klimaat is taamlik uiteenlopend vir so ’n klein land. Daar is twee hoofstreke, min of meer oos en wes. Die Groot Kaukasus speel ’n belangrike rol daarin om die klimaat gematig te maak en die land te beskerm teen die kouer lug uit die noorde. Die Klein Kaukasus beskerm weer die land gedeeltelik teen droë, warm lug uit die suide.

’n Groot deel van Wes-Georgië val in die noordelike buiterand van die vogtige subtropiese sone met ’n jaarlikse reënval van tussen 1 000 en 4 000 mm. Die reën kom meestal eweredig deur die jaar voor, hoewel meer reën in die herfs kan voorkom. Die klimaat wissel na gelang van die hoogte; die laelande van Wes-Georgië is relatief warm dwarsdeur die jaar, terwyl die bergagtige gebiede koel, nat somers en winters met sneeu het. Adzjarië is die natste streek in die Kaukasus, met die Berg Mtirala-reënwoud oos van Koboeleti wat ’n jaarlikse reënval van 4 500 mm het.

Oos-Georgië het ’n oorgangsklimaat tussen vogtig suptropies en kontinentaal. Die streek se weerpatroon word beïnvloed deur droë lug vanaf die Kaspiese See in die ooste en vogtige lug vanaf die Swartsee in die weste. Die vogtige lug vanaf die Swartsee word dikwels afgekeer deur verskeie bergreekse (Lichi en Mescheti) wat die ooste en die weste van die land skei. Die jaarlikse reënval is minder as in die weste en wissel tussen 400 en 1 600 mm.

Die natste seisoene is die lente en herfs, terwyl dit in die winter en somer droër is. ’n Groot deel van Oos-Georgië het warm somers, veral in die laagliggende gebiede, en relatief koue winters. Nes in die weste speel die hoogte bo seevlak ’n belangrike rol; die klimaat bo 1 500 m is aansienlik kouer as in die laagliggende dele. Die dele van die streek bo 2 000 m kry dikwels selfs in die somer ryp.

Biodiversiteit

[wysig | wysig bron]
Die Kaukasiese skaaphond

Vanweë die verskeidenheid in die landskap en sy lae ligging is Georgië die tuiste van sowat 1 000 spesies gewerweldes (330 voëls, 160 visse, 48 reptiele en 11 amfibieë). ’n Groot getal karnivore woon in die woude, soos bruinbere, wolwe, rooikatte en Kaukasiese luiperds. Die fisant is ’n endemiese voël wat nou ook algemeen in die res van die wêreld voorkom. Die getal ongewerweldes is ook groot, maar syfers wissel tussen publikasies. Daar is bv. 501 spesies spinnekoppe in Georgië.

Daar is net meer as 6 500 spesies fungusse aangeteken,[59][60] maar daar is waarskynlik veel meer, veral in die lig daarvan dat geskat word net sowat 7% van alle fungusse wêreldwyd is al ontdek.[61]

Regering en politiek

[wysig | wysig bron]
Die Georgiese parlementsgebou in Koetaisi, setel van die parlement tussen 2012 en 2018
Micheil Saakasjwili was die Georgiese president van 2004 tot 2007 en van 2008 tot 2013

Georgië is ’n demokratiese, semi-presidensiële republiek. Die president is die staatshoof en die eerste minister die regeringshoof. Die uitvoerende gesag bestaan uit die president en kabinet. Die kabinet bestaan uit ministers, met die eerste minister aan die hoof, en word deur die president aangestel. Die ministers van verdediging en binnelandse sake is nie deel van die kabinet nie en val onder die president self.

Die wetgewende gesag lê by die parlement. Dit het 150 lede, bekend as afgevaardigdes. Hulle word vir ’n termyn van vier jaar verkies. Vyf partye en verkiesingsblokke het verteenwoordigers in die parlement gekry in die 2008-verkiesings. Op 26 Mei 2012 het Saakasjwili ’n nuwe parlementsgebou ingewy in die stad Koetaisi in Wes-Georgië in ’n poging om mag te desentraliseer en politieke beheer nader aan Abchasië te skuif.[62] Die parlementsetel is in Desember 2018 na Tbilisi teruggeskuif.[63]

Die politieke stelsel is steeds in ’n oorgangstadium en aanpassings word gereeld gedoen aan die magsbalans tussen die president en die parlement, met voorstelle uit die opposisie wat wissel van ’n oorgang na ’n parlementêre republiek tot die herinstelling van die monargie.[64][65] Volgens waarnemers is daar ’n gebrek aan vertroue tussen die regering en die opposisie.[66]

Opinies verskil oor die mate van politieke vryheid in Georgië. Saakasjwili het in 2008 geglo die land is "op pad om ’n Europese demokrasie te word".[67] Freedom House lys Georgië as ’n gedeeltelik vrye land.[68]

In die Georgiese parlementsverkiesing van Oktober 2012 het die opposisie-koalisie "Georgiese Droom – Demokratiese Georgië" geseëvier. Dit is die volgende dag deur die destydse president, Saakasjwili, bevestig.[69] Salome Zoerabisjwili is die huidige president nadat sy in 2018 altesaam 59,52% van die stemme in die presidentsverkiesing gewen het.[70] Irakli Kobachidze dien sedert 2024 as eerste minister.

Menseregte

[wysig | wysig bron]
’n Demonstrasie op 10 April 2009 voor die ou Georgiese parlement

Menseregte in die land word in die grondwet gewaarborg. ’n Onafhanklike "openbare verdediger" is deur die parlement aangestel om te verseker dié regte word toegepas.[71] Georgië het ook die internasionale Raamwerkkonvensie vir die Beskerming van Nasionale Minderhede in 2005 onderteken.

Die regering is gekritiseer vir die gewelddadige optrede op 26 Mei 2011 teen betogers, onder andere die Georgiese opposisieleier Nino Boerjanadze, toe hulle met traangas en rubberkoeëls uiteengejaag is. Hulle het geweier om Roestaweli-laan in Tbilisi te verlaat tydens ’n onafhanklikheidsdag-parade al het hul permit reeds verval en al is hulle gevra om op ’n alternatiewe plek byeen te kom.[72][73][74][75] Mensregte-aktiviste sê die betogings was vreedsaam, maar volgens die regering het baie betogers maskers gedra en was hulle gewapen met stokke en petrolbomme.[76] Boerdjanadze het gesê daar is geen gronde vir bewerings dat ’n staatsgreep beplan is nie en dat die betoging wettig was.[75][77][78][79]

Buitelandse betrekkinge

[wysig | wysig bron]
Micheil Saakasjwili en die Amerikaanse president Barack Obama en hul eggenotes in 2009

Georgië handhaaf goeie betrekkinge met sy buurlande Armenië, Azerbeidjan en Turkye. Die land is lid van die Verenigde Nasies, Raad van Europa, die Wêreldhandelsorganisasie, die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa, die Asiatiese Ontwikkelingsbank en verskeie ander internasionale organisasies. Dit handhaaf politieke, ekonomiese en militêre betrekkinge met Japan, Uruguay,[80] Suid-Korea,[81] Israel,[82] Sri Lanka,[83] die Oekraïne en baie ander lande.

Die groeiende invloed van Amerika en Wes-Europa op Georgië plaas stremming op die land se betrekkinge met Rusland. Georgië streef tans daarna om ’n volle lid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) te word. In Augustus 2004 is die Individuele Vennootskapsaksieplan van Georgië amptelik by Navo ingehandig. Op 29 Oktober 2004 het die Noord-Atlantiese Raad van Navo die plan goedgekeur en Georgië het die tweede stadium van Euro-Atlantiese Integrasie betree. In 2005 is ’n staatskommissie aangestel om die plan in werking te stel.

Op 14 Februarie 2005 is die ooreenkoms onderteken waarvolgens ’n Navo-samewerkingsoffisier aan Georgië toegeken is. In 2006 het die Georgiese parlement eenparig gestem vir die wetsontwerp wat voorsiening maak vir integrasie met Navo. Die meeste Georgiërs en politici steun Navo-lidmaatskap.

Weermag

[wysig | wysig bron]
Die Georgiese krygsmag in die buiteland sedert 1991
Die 33ste Ligte Infanteriebataljon berei voor vir ontplooiing in Afganistan

Die weermag bestaan uit ’n leër en lugmag. Hulle is saam bekend as die Georgiese Gewapende Magte.[50] Die sendings en funksies van die weermag is geskoei op die grondwet, die land se wet op verdediging en nasionale militêre strategie asook die internasionale ooreenkomste wat Georgië onderteken het. Dit word uitgevoer onder die leiding en gesag van die departement van verdediging.

Sedert Saakasjwili in 2004 aan die bewind gekom het, het hy die begroting vir die weermag verhoog en die weermag vergroot. Van die lede ondergaan opleiding in gevorderde tegnieke deur Amerikaanse militêre instrukteurs en intelligensiepersoneel. Georgiese troepe was al in Irak en Afganistan gestasioneer.[84]

Wetstoepassing

[wysig | wysig bron]
Georgiese polisie in Tbilisi

Die departement van binnelandse sake is in beheer van wetstoepassing. Die polisie het in die afgelope jare ’n groot transformasie ondergaan en die polisie het baie pligte oorgeneem wat voorheen deur onafhanklike regeringsagentskappe uitgevoer is. Nuwe pligte sluit in grensveiligheid, doeanefunksies en gekontrakteerde veiligheidsverskaffing. Die polisie het ook in 2004 ’n nuwe 022-noodtelefoonlyn ingestel.[85] ’n Intelligensiediens is in beheer van nasionale veiligheid.

In 2005 het Saakasjwili die hele verkeerspolisiemag afgedank weens korrupsie.[86][87] ’n Nuwe mag is toe opgebou met nuwe rekrute.[86] Dié nuwe Patroeli-mag is in die somer van 2005 ingestel.

Demografie

[wysig | wysig bron]
’n Georgiese paartjie in tradisionele klere
Etniese kaart van die Kaukasus-streek

Soos die meeste inboorlinge van die Kaukasus pas die Georgiërs nie in een van die etniese hoofgroepe van Europa en Asië nie. Georgies, die grootste van die Kartweliese tale, is nie Indo-Europees, Turks of Semities nie. Die huidige Georgiese volk het waarskynlik ontstaan uit ’n samesmelting in die antieke tye tussen plaaslike volke en immigrante wat uit die rigting van Anatolië na die Suid-Kaukasus gekom het.[88]

Etniese Georgiërs maak sowat 84% van die land se huidige bevolking van 4 661 473 uit (soos in Julie 2006). Dit sluit die wegbreekstreke Abchasië en Suid-Ossetië in.[89] Ander etniese groepe sluit in Abchasiërs, Armene, Azerbeidjanners, Belarusse, Bulgare, Estlanders, Duitsers, Grieke, Moldawiërs, Ossetiërs, Pole, Russe, Turke, Oekraïners en Georgiese Jode. Laasgenoemde is een van die oudste Joodse gemeenskappe in die wêreld. In April 2013 was daar "meer as 6 000" geregistreerde Iranse burgers in Georgië.[90]

Die grootste taalgroep is die Kartweliese tale; dit sluit in Georgies, Swan, Mingrelies en Laz.[91] Die amptelike taal is Georgies, met Abchasies die amptelike taal in Abchasië. Georgies is die eerste taal van sowat 71% van die bevolking, gevolg deur Russies (9%), Armeens (7%) en Azerbeidjans (6%). Sowat 7% praat ander tale.[50]

In die vroeë 1990's, ná die verbrokkeling van die Sowjetunie, het gewelddadige konflikte uitgebreek in die outonome streke Abchasië en Suid-Oossetië. Baie Ossetiërs het die land verlaat en veral na Rusland (Noord-Ossetië) getrek.[92] Aan die ander kant het meer as 150 000 Georgiërs Abchasië verlaat ná die uitbreek van gevegte in 1993.[89]

Volgens die 1989-sensus was 341 000 inwoners, of 6,3% van die bevolking, etniese Russe,[93] 52 000 was Oekraïners en 100 000 Grieke.[94] Sedert 1990 het 1,5 miljoen Georgiërs die land verlaat.[94] Minstens 1 miljoen etniese Georgiërs woon onwettig in Rusland.[95] Die meeste van die land se immigrante kom van Turkye en die Volksrepubliek China.


Godsdiens

[wysig | wysig bron]
Die Svetitskhoveli-katedraal, setel van die hoof van die Georgies-Ortodokse Kerk

Die meeste Georgiërs (83,9% in 2002)[96] behoort tot die Georgies-Ortodokse Kerk. Dit is een van die oudste Christelike kerke en is volgens die Kerk deur Andreas gestig.[97] Die historiese Iberië (die huidige Oos-Georgië) het die Christelike geloof in die 4de eeu n.C. aangeneem ná sendingwerk deur St. Nino van Kappadosië.[98][99] Die Kerk het in die Middeleeue outokefaal geword. Die outokefalie is tydens die Russiese oorheersing van die land afgestel, maar in 1917 heringestel; dit is in 1990 deur die Ekumeniese Patriargaat van Konstantinopel erken. Hoewel daar godsdiensvryheid is en die kerk en staat geskei is, word die spesiale status van die Georgies-Ortodokse Kerk in die grondwet erken.

Godsdienstige minderheidsgroepe sluit in Moslems (9,9%), Armeens-Apostoliese Christene (3,9%) en Rooms-Katolieke (0,8%). Volgens 'n landwye opname het 0,8% tot ander gelowe behoort en 0,7% het geen godsdiens aangedui nie.[50][100]

Ondanks ’n lang geskiedenis van godsdienstige harmonie in Georgië[101] was daar al verskeie voorvalle van diskriminasie teen "nietradisionele" godsdienste, soos Jehovasgetuies, deur die volgelinge van Wasil Mkalawisjwili, wat van sy Ortodokse priestersamp onthef is.[102]

Onderwys

[wysig | wysig bron]

Die onderwysstelsel het sedert 2004 groot, hoewel omstrede, hervormings ondergaan.[103][104] Opvoeding is verpligtend vir alle kinders tussen die ouderdomme van ses en veertien. Daar is drie vlakke: elementêr (6–12 jaar), basies (12–15 jaar) en sekondêr (15–18 jaar), of ’n alternatiewe beroepsvlak van twee jaar. Studente met ’n sekondêreskool-sertifikaat het toegang tot hoër onderwys.

In 2008 was daar 20 instellings wat hoër onderwys aangebied het.

Kultuur

[wysig | wysig bron]
Die Georgiese tradisionele oorlogsdans Khorumi

Die Georgiese kultuur het oor duisende jare ontwikkel sedert die dae van die historiese state Iberië en Kolchis.[105] Dit het voortgeduur in die verenigde Georgiese koninkryk onder die heerskappy van die Bagrationi-dinastie. In die 11de eeu het die kultuur ’n goue eeu en renaissance beleef van klassieke letterkunde, kuns, filosofie, argitektuur en wetenskap.[106]

Die taal Georgies en die klassieke Georgiese letterkunde van die digter Sjota Roestaweli het in die 19de eeu ’n herleweing ondergaan ná ’n lang tydperk van onrus in die geskiedenis. Dit het die basis gevorm vir romantisisme en die romanskrywers van die moderne era, soos Grigol Orbeliani, Nikoloz Baratasjwili, Ilia Tsjawtsjawadze, Akaki Tsereteli, Wazja Psjawela en baie ander.[107] Die kultuur is ook beïnvloed deur Klassieke Griekeland en die Romeinse, die Bisantynse en later die Russiese Ryk.

Die Georgiërs het hul eie, unieke drie Georgiese skrifte wat volgens tradisie in die 3de eeu v.C. ontwerp is deur koning Pharnavaz I van Iberië.[108][109]

Die land is bekend vir sy uitgebreide folklore, unieke tradisionele musiek, teater, rolprentwese en kuns. Bekende kunstenaars van die 20ste eeu sluit in skilders soos Niko Pirosmani, Lado Goediasjwili, Elene Achwlediani; balletchoreograwe soos George Balantsjine, Wachtang Tsjaboekiani en Nino Ananiasjwili; digters soos Galaktion Tabidze, Lado Asatiani en Moechran Matsjawariani; en rolprent- en teaterregisseurs soos Robert Stoeroea, Tengiz Aboeladze, Georgi Danelija en Otar Ioseliani.[107]

Argitektuur en kuns

[wysig | wysig bron]
Ou Tbilisi. Argitektuur in Georgië is in baie opsigte ’n vermenging van Europa en Asië

Die Georgiese argitektuur is deur baie beskawings beïnvloed. Daar is verskeie argitektuurstyle vir kastele, torings, forte en kerke. Die forte van die Bo-Swaneti en die kasteeldorp Sjatili in Chewsoereti is van die beste voorbeelde van Middeleeuse kasteelargitektuur. Nog voorbeelde van argitektuurstyle is onder meer Roestaweli-laan in Tbilisi in die Hausmann-styl en die Ou Stasdistrik.

Kerkargitektuur meng klassieke koepels en oorspronklike basilika-styl, en is bekend as die Georgiese kruiskoepelstyl. Dit het in die 9de eeu in die land ontwikkel; voorheen was die meeste kerke basilikas. Voorbeelde van Georgiese kerkargitektuur kan ook buite die land gevind word: die Batsjkowo-klooster in Bulgarye (1083), die Iviron-klooster op Berg Athos in Griekeland (10de eeu) en die Klooster van die Kruis in Jerusalem (9de eeu).

Georgiese kuns strek oor die voorhistoriese tye, die Antieke Griekse en Romeinse tyd, die Middeleeue en die moderne tyd. Een van die beroemdste skilders van die laat 19de en vroeë 20ste eeu is Niko Pirosmani.

Musiek

[wysig | wysig bron]

Die land het ’n lewendige musiekkultuur, wat veral bekend is vir die vroeë ontwikkeling van veelstemmigheid. Baie streke het hul eie tradisionele musiek.

Voedselgeregte

[wysig | wysig bron]
Die Georgiese gereg chinkali en bier

Georgiese kos en wyn het oor eeue heen ontwikkel en is deur elke era beïnvloed. Een van die ongewoonste tradisies is soepra, of "Georgiese tafel", wat ook ’n manier is om saam met vriende en familie te kuier. Die hoof van die soepra is die tamada. Hy stel die hoogsfilosofiese heildronke in en maak seker almal geniet die ete.

Verskeie streke is bekend vir hul spesifieke geregte, soos chinkali (vleiskluitjies) uit die oostelike berggebied en chatsjapoeri hoofsaaklik uit Imereti, Samegrelo en Adzjarië. Geregte is ook van lande soos Rusland, Griekeland en meer onlangs China na Georgië gebring.

Sport

[wysig | wysig bron]
’n Lynstaan tydens ’n wedstryd tussen Ierland en Georgië tydens die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk

Die gewildste sportsoorte in die land is sokker, basketbal, rugby, stoei, judo en gewigoptel. Georgië is histories bekend vir sy fisieke opvoeding; dit is bekend dat die Romeine gefassineer was deur die Georgiërs se fisieke eienskappe nadat hulle die oefentegnieke van Iberië gesien het. Hulle het ’n standbeeld van die Iberiese koning Pharsman opgerig nadat hy Georgiese oefenmetodes tydens ’n besoek aan Rome demonstreer het.[110]

Die gewildste stoeistyl is kakhetian. Ouer style bestaan ook wat minder algemeen is; die streek Khevsureti het byvoorbeeld drie verskillende style. Nog gewilde sporte in die 19de eeu was polo en lelo burti (ლელო ბურთი), ’n tradisionele Georgiese sportsoort wat later deur rugby vervang is.[111] Rugby word as nasionale sport van Georgië beskou.[112] Die Georgiese nasionale rugbyspan, met die bynaam Lelos, het tot dusver vir ses rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer, maar nog nie tot die uitklopfase deurgedring nie. Hulle behoort tot die sterkste Europese spanne buite die Sesnasies-toernooi en ding gereeld met ander opkomende rugbyspanne in die Europese Rugbykampioenskap mee. Veral wedstryde teen die politieke aartsvyand Rusland geniet groot aandag en word as 'n soort "Dawid teen Goliat" beskou, veral as gevolg van Georgië se sterk wenrekord teen die noordelike buurland. Sedert 2002 ding Georgië en Roemenië om die Antimbeker mee; dié beker is na die Metropolis van Moentenië en Dobroedja van die Roemeens-Ortodokse Kerk, die Georgiër Antim Iverianul, genoem.

Ook motorsport word beoefen. Die Roestawi Internasionale Motorpark, wat oorspronklik in 1978 gebou is, is in 2012 heropen ná opknappingswerk van $20 miljoen volgens die FIA-regulasies en word as die eerste professionele renbaan in die Kaukasusstreek beskou. Die destydse Georgiese president Micheil Saakasjwili het aan die inwydingsplegtigheid op 29 April 2012 deelgeneem en persoonlik 'n Formel-3-renmotor bestuur.[113]

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
Die Georgiese spoorweë verskaf ’n belangrike verbinding tussen die Swart- en Kaspiese See – die kortste roete tussen Europa en Sentraal-Asië
Wynbou is ’n belangrike faktor in die Georgiese ekonomie

Daar is argeologiese bewyse dat Georgië al sedert antieke tye handel dryf met ander lande, hoofsaaklik vanweë sy ligging aan die Swartsee en later aan die historiese Syroete. Goud, silwer, koper en yster word tradisioneel in die Kaukasua-berge gemyn. Wynmakery is ook ’n baie ou tradisie. Regdeur Georgië se moderne geskiedenis was landbou en toerisme groot bronne van inkomste vanweë die land se klimaat en topografie.[50]

Vir die grootste deel van die 20ste eeu was Georgië se ekonomie deel van die Sowjetunie se beheerde ekonomie. Sedert onafhanklikwording in 1991 het die Georgiese ekonomie strukturele hervormings ondergaan om ’n vryemarkekonomie te vestig. Nes ander voormalige Sowjetrepublieke het ’n ekonomiese ineenstorting Georgië in die gesig gestaar. Die burgeroorlog en militêre konflik in Abchasië en Suid-Ossetië het die krisis vererger. Die landbou en nywerheid het agteruitgegaan en teen 1994 het die BBP gekrimp tot ’n kwart van wat dit in 1989 was.[114] Die eerste internasionale hulp uit die Weste is in 1995 verleen deur die Wêreldbank, Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en Duitsland.

Sedert die vroeë 21ste eeu was daar merkbare positiewe ontwikkelings in die ekonomie. In 2007 het Georgië se reële BBP ’n groeikoers van 12% bereik en dit het die land een van die vinnigs groeiende ekonomieë in Oos-Europa gemaak.[50]

Die Russiese verbod op die invoer van wyn uit Georgië en Moldowa in 2006 en die verbreking van finansiële bande in 2007 is deur die IMF as ’n "eksterne skok" beskryf[115] – Rusland was tot in 2007 een van Georgië se grootste handelsvennote. Boonop het Rusland die prys van gas vir Georgië verhoog. Dit het inflasie die hoogte laat inskiet.[116]

Vandag is Georgië in ’n groter mate deel van die wêreldwye handelsnetwerk.[50] Die grootste bron van inkomste is steeds uit toerisme om die Swartsee. Volgens die regering is daar 103 oorde in verskillende klimaatsones in die land. Toeriste-aantreklikhede sluit in meer as 2 000 mineraalbronne en meer as 12 000 historiese en kulturele monumente, waarvan vier Unesco-wêrelderfenisgebiede is (die Bagrati-katedraal Koetaisi, die Gelati-klooster, die historiese monumente van Mtscheta en die Bo-Swaneti).[117] Van die land se belangrikste produkte is sitrusvrugte, tee, metale, chemikalieë en tekstielprodukte. Georgië het verder aansienlike hidroëlektrisiteitsbronne.[118] Sy grootste invoerprodukte is gas, olieprodukte, masjinerie en onderdele, en vervoertoerusting. Die chroniese tekort aan energie- en gastoevoer in die verlede is oorbrug deur toenemende invoere uit Azerbeidjan in plaas van Rusland.

Georgië is ook ’n belangrike internasionale vervoertussenganger danksy die hawens van Batoemi en Poti, die oliepyplyn van Bakoe deur Tbilisi na Ceyhan (die Bakoe-Tbilisi-Ceyhan-pyplyn) en ’n parallelle pyplyn, die Suid-Kaukasus-pyplyn.

Dienste (wat nou 65% van die BBP uitmaak) in plaas van landbou (10,9%) word ’n al hoe groter faktor in Georgië se ekonomie,[119] wat in 2008 ondanks die internasionale finansiële krisis met 2,3% gegroei het. In 2010–'12 het die ekonomie ’n groeikoers van 6% per jaar getoon. Die reële BBP het in 2010 met 6,3% gegroei en in 2011 het dit gestyg tot 7%.[50] Buitelandse beleggings, wat voor die 2008-konflik die kern van die ekonomiese groei was, het egter nog nie ten volle herstel nie en werkloosheid was in 2010 steeds 16,3%.[120]

Georgië hoop om in die toekoms ekonomiese groei te stimuleer deur belasting, buitelandse beleggings, hidroëlektrisiteit, landbou, toerisme en tekstielvervaardiging. Die regering het ook lof van die Wêreldbank gekry vir sy stryd teen korrupsie, wat ook ’n positiewe uitwerking op die ekonomie het.

Vervoer

[wysig | wysig bron]
’n Padteken wys onder meer die rigting van die ს 1-snelweg aan (in groen)

Vervoer vind plaas per spoor, pad, lug en waterweë. Vanweë sy posisie in die Kaukasus en aan die Swartsee is Georgië ’n sleutelland waardeur energie-invoere van Azerbeidjan na die Europese Unie plaasvind. Die land het in onlangse jare baie geld bestee aan die modernisering van sy vervoerstelsels. Die bou van nuwe paaie was ’n prioriteit en dus het die paaie by groot stede soos Tbilisi drasties verbeter. Binnelandse paaie is egter steeds in ’n swak toestand en tot op datum is nog net een nasionale snelweg, die ს 1, gebou.[121]

Die Georgiese spoorweg verskaf ’n belangrike verbinding met die Kaukasus, asook tussen die Swart- en Kaspiese See. Dit het die land in staat gestel om voordeel te trek uit toenemende energie-invoere van Azerbeidjan en die Europese Unie, die Oekraïne en Turkye.[122] Die spoorweg het sedert 2004 nuwe treine aangeskaf en die bestuur hervorm om die diens doeltreffender en geriefliker te maak.[123] Groot klem word ook gelê op infrastruktuele ontwikkeling, veral vir die Tbilisi-spoorwegaansluiting.[124] Nog ’n projek wat beplan word, is ’n Kars-Tbilisi-Bakoe-spoorlyn wat ’n belangrike standaard-spoorverbinding sal verskaf tussen ’n groot deel van die Kaukasus en Turkye.[125]

Lug- en seevervoer word ook uitgebrei – eersgenoemde vir veral passasiers en laasgenoemde vir hoofsaaklik vrag. Georgië het tans vier internasionale lughawens; die grootste is die Tbilisi Internasionale Lughawe – die tuiste van die Georgiese Lugdiens, wat vlugte na talle groot Europese stede bied. Ander lughawens is redelik onderontwikkel, maar planne bestaan om dié probleem op te los.[126]

Daar is verskeie seehawens aan die Swartsee; die grootste is by Batoemi en is ’n belangrike vragterminaal in die Kaukasus wat dikwels ook deur Azerbeidjan gebruik word. Passasiersveerbote verbind Georgië met Turkye en die Oekraïne.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "Artikel 8", Grondwet van Georgië 
  2. (en) "Grondwet van Georgië" (PDF). Parlement van Georgië. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 10 Desember 2017. Besoek op 9 September 2019.
  3. (en) "Population as of 1 January, thousands". Nasionale Statistiekkantoor van Georgië. 1 Januarie 2024. Besoek op 9 Februarie 2024.
  4. (en) "2014 General Population Census Main Results General Information — National Statistics Office of Georgia" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 2 Mei 2020. Besoek op 9 September 2019.
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 (en) "Georgia". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2024. Besoek op 9 Februarie 2024.
  6. (en) "Human Development Report 2021/2022" (PDF). United Nations Development Programme. 2021. Besoek op 9 Februarie 2024.
  7. (en) "Gini Index – Georgia". Wêreldbank. Besoek op 9 Februarie 2024.
  8. (en) David M. Lang, A Modern History of Georgia, bl. 109
  9. (en) Parsons, Robert (11 Januarie 2008), "Mikheil Saakashvili’s bitter victory Geargiveer 15 April 2017 op Wayback Machine", openDemocracy.net. URL besoek op 21 Mei 2008.
  10. (en) "The Law of Georgia on Occupied Territories (431-IIs)" (PDF). Staatsbediening vir Herintegrasie. 23 Oktober 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 17 April 2016. Besoek op 1 Februarie 2015.
  11. (en) "Article 1.3", Grondwet van Georgië 
  12. (en) Lang, David Marshall (1966), The Georgians, bl. 5–6. Praeger Publishers. Khintibidze, Elguja (1998), The Designations of the Georgians and Their Etymology, bl. 29–30. Tbilisi State University Press, ISBN 5-511-00775-7.
  13. 13,0 13,1 (en) Phoenix: The Peoples of the Hills: Ancient Ararat and Caucasus by Charles Burney , David Marshall Lang, Phoenix Press; Nuwe Uitgawe (31 Desember 2001)
  14. 14,0 14,1 14,2 14,3 14,4 (en) "Christianity and the Georgian Empire" (early history) Library of Congress, Maart 1994, webpage:LCweb2-ge0015.
  15. (en) Lives and Legends of the Georgian Saints, St Vladimirs Seminary Pr (Maart 1997) deur David Marshall Lang
  16. (en) David Marshal Lang, History of Modern Georgia, bl. 29
  17. (en) Goldstein, Darra The Georgian Feast: the Vibrant Culture and Savory Food of the Republic of Georgia bl. 35
  18. (en) Howard Aronson en Dodona Kiziria, Georgian Literature and Culture, bl. 119
  19. (en) Gvosdev (2000), bl. 85
  20. (en) Avalov (1906), bl. 186
  21. (en) Gvosdev (2000), bl. 86
  22. (en) Lang (1957), bl. 249
  23. (en) Lang (1957), bl. 252
  24. (en) Knight, Amy. Beria: Stalin's First Lieutenant, Princeton University Press, Princeton, New Jersey, bl. 237, ISBN 978-0-691-01093-9.
  25. (en) "Georgia/Abchasia: Violations of the laws of war and Russia's role in the conflict". Hrw.org. Maart 1995. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Januarie 2020.
  26. (en) "Russia – The Ingush-Ossetian conflict in the Prigorodnyi region". Human Rights Watch/Helsinki. Mei 1996.
  27. (en) "EurasiaNet Eurasia Insight – Georgia's Rose Revolution: Momentum and Consolidation". Eurasianet.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2017. Besoek op 5 Mei 2009.
  28. (en) Gorshkov, Nikolai (19 September 2002). "Duma prepares for Georgia strike". BBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 November 2019. Besoek op 9 Februarie 2024.
  29. (en) "Russia, Georgia strike deal on bases". Civil Georgia, Tbilisi. 30 Mei 2005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Oktober 2017.
  30. (en) "Russia Hands Over Batumi Military Base to Georgia". Civil Georgia, Tbilisi. 13 November 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Oktober 2017. Besoek op 24 Julie 2009.
  31. (en) Russia's retention of Gudauta base – An unfulfilled CFE treaty commitment Geargiveer 5 Februarie 2017 op Wayback Machine Socor, Vladirmir. The Jamestown Foundation. 22 Mei 2006
  32. (en) (video) Heavy fighting in South Ossetia (Georgian MLRS launched rockets on Tskhinvali), UK: BBC, 8 Augustus 2008, http://news.bbc.co.uk/1/hi/world/europe/7546639.stm, besoek op 9 Februarie 2024 
  33. (en) C. J. Chivers, Ellen Barry (6 November 2008). "Georgia Claims on Russia War Called Into Question". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Maart 2020. Besoek op 12 November 2008.
  34. (en) "The West Begins to doubt Georgian leader", Der Spiegel, 15 September 2008, http://www.spiegel.de/international/world/0,1518,578273,00.html 
  35. (en) "Armaments, Disarmament and International Security", Stockholm International Peace Research Institute Yearbook, Oxford University Press, 2009, ISBN 978-0-19-956606-8 
  36. (en) Finn, Peter (18 Augustus 2008). "Ground zero in the Georgia-Russia war:South Ossetia city's residents are certain Russia is in the right". The Washington Post.
  37. (en) Ames, Mark. "How To Screw Up A War Story: The New York Times At Work". Exiled Online. Besoek op 2 November 2010.
  38. (en) Chivers, C. J.; Barry, Ellen (7 November 2008), Georgia Claims on Russia War Called Into Question, NY Times, http://www.nytimes.com/2008/11/07/world/europe/07georgia.html?_r=1&scp=4&sq=georgia&st=cse&oref=slogin 
  39. (en) Pronina, Lyubov (10 Augustus 2008). "Georgia Pulls Out of Ossetia as Second Front Opens (Update1)". Bloomberg. Besoek op 2 November 2010.
  40. (en) "Russian military pushes into Georgia". CNN. 11 Augustus 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Desember 2008. Besoek op 6 Oktober 2008.
  41. (en) Harding, Luke (13 Augustus 2008). "Georgian villages burned and looted as Russian tanks advance". The Guardian. Londen. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Februarie 2013. Besoek op 9 Januarie 2008.
  42. (en) Harding, Luke (13 Augustus 2008). "Russia's cruel intention". The Guardian. Londen. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Februarie 2013. Besoek op 7 Oktober 2008.
  43. (en) "Russian President Orders Halt To Military Operations In Georgia". GlobalSecurity.org. 12 Augustus 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2017. Besoek op 6 Oktober 2008.
  44. (en) "Russia hands over control of Georgian buffer zones to EU". RIA Novosti. 9 Oktober 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2013. Besoek op 10 Oktober 2008.
  45. (en) 00:52. "RIA Novosti — Russia — Russia fully staffs bases in Abkhazia, S.Ossetia". En.rian.ru. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2013. Besoek op 10 Mei 2009.{{cite web}}: CS1 maint: numeric names: authors list (link)
  46. (en) Russia recognised the independence of Abkhazia and South Ossetia from Georgia Geargiveer 31 Augustus 2008 op Wayback Machine, Azerbaijan Business Centre, 26 Augustus 2008. Besoek op 26 Augustus 2008.
  47. 47,0 47,1 (en) Resolution of the Parliament of Georgia declaring Abkhazia and South Ossetia occupied territories Geargiveer 3 September 2008 op Wayback Machine, 28 Augustus 2008.
  48. (en) Abkhazia, S.Ossetia Formally Declared Occupied Territory. Geargiveer 3 September 2008 op Wayback Machine Civil Georgia. 28 Augustus 2008
  49. (en) "Turkish Investment and Trade Booms in Abkhazia". Tabula Magazine English. 1 April 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2013. Besoek op 10 Junie 2012.
  50. 50,0 50,1 50,2 50,3 50,4 50,5 50,6 50,7 (en) "CIA Factbook Georgia". Central Intelligence Agency. Besoek op 9 Februarie 2024.
  51. (en) "Government of Georgia – Abkhazia". Government.gov.ge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2020. Besoek op 3 Julie 2011.
  52. "Regions and territories: Abkhazia". BBC. 8 Februarie 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2019. Besoek op 19 Februarie 2021.
  53. 53,0 53,1 (en) "Regions and territories: South Ossetia". BBC. 8 Februarie 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 November 2019. Besoek op 9 Februarie 2024.
  54. (en) "Georgia Districts". Statoids.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Oktober 2019. Besoek op 3 Julie 2011.
  55. (en) Abkhazia, S.Ossetia Formally Declared Occupied Territory. Geargiveer 3 September 2008 op Wayback Machine Civil Georgia. August 28, 2008.
  56. (en) "Regions and territories: Ajaria". BBC. 8 Februarie 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Oktober 2019. Besoek op 9 Februarie 2024.
  57. (en) "Caucasus". Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Mei 2020. Besoek op 9 September 2019.
  58. (en) "CESWW – Definition of Central Eurasia". Cesww.fas.harvard.edu. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 September 2018. Besoek op 6 Augustus 2010.
  59. (en) Nakhutsrishvili, I.G. ["Flora of Spore Producing Plants of Georgia (Summary)"]. 888 bl., Tbilisi, Academy of Science of the Georgian SSR, 1986
  60. (en) "Cybertruffle's Robigalia – Observations of fungi and their associated organisms". cybertruffle.org.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Desember 2018. Besoek op 27 Julie 2011.
  61. (en) Kirk, P.M., Cannon, P.F., Minter, D.W. and Stalpers, J. "Dictionary of the Fungi". Edn 10. CABI, 2008
  62. (en) "Georgia opens new parliament in Kutaisi, far from the capital". Washington Post. 26 Mei 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Desember 2018. Besoek op 26 Mei 2012.
  63. (en) "New Constitution of Georgia comes into play as the presidential inauguration is over". Agenda.ge. 17 Desember 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Julie 2019. Besoek op 9 September 2019.
  64. (en) Zaza Jgharkava (18 Oktober 2007). Will a Constitutional Monarchy Be Restored in Georgia? Geargiveer 11 Januarie 2015 op Wayback Machine. Georgia Today, Issue #379.
  65. (en) Giorgi Lomsadze (18 Desember 2007). Time for a King for Georgia?. EurasiaNet Civil Society.
  66. (en) "Western observers offer varied judgments on the conduct of the Georgian presidential election and its consequences". Armenian Reporter. 1 Augustus 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2019. Besoek op 17 Oktober 2008.
  67. (en) Berry, Lynn (7 Januarie 2008). "Georgia Leader: Country on Right Track". Fox News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Junie 2019. Besoek op 17 Oktober 2008.
  68. (en) "Freedom in the World 2008" (PDF). Freedom House. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 9 Januarie 2012. Besoek op 23 Desember 2011.
  69. (en) "Saakashvili Concedes Defeat in Parliamentary Election", Civil, 2 Oktober 2012, http://civil.ge/eng/article.php?id=25299 
  70. (en) "Results 2018". Sentrale Verkiesingskommissie. 28 November 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 November 2018. Besoek op 9 September 2019.
  71. (en) "Georgia's public defender". Ombudsman.ge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Augustus 2019. Besoek op 3 Julie 2011.
  72. (en) "US, Britain, call for probe into May 26 events in Georgia". News.Az. 28 Mei 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Julie 2019. Besoek op 3 Julie 2011.
  73. (en) Rachel Denber, Europe and Central Asia deputy director (26 Mei 2011). "Georgia: Police Used Excessive Force on Peaceful Protests | Human Rights Watch". Hrw.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Januarie 2015. Besoek op 3 Julie 2011.
  74. (en) "Tbilisi Mayor's Offers Protesters Alternative Venues for Rally". Civil.ge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Oktober 2017. Besoek op 30 Oktober 2012.
  75. 75,0 75,1 (en) MISHA, DZHINDZHIKHASHVILI (26 Mei 2011). "Georgian Police Say 2 Killed in Protest Dispersal". ABC News. Associated Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2012. Besoek op 24 Desember 2011.
  76. (en) "Audio, Video Recordings Implicate Protest Leaders to 'Plotting Violence'". Civil.ge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Oktober 2017. Besoek op 30 Oktober 2012.
  77. (en) ""Saakashvili has basically endorsed dictatorship" – Georgian opposition – RT". Rt.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2019. Besoek op 3 Julie 2011.
  78. (en) "People disappear in Georgia after violent dispersal of opposition rally". Rt.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 November 2018. Besoek op 3 Julie 2011.
  79. (en) Luke Harding in Moscow and agencies (9 April 2009). "Thousands gather for street protests against Georgian president Mikheil Saakashvili". The Guardian. UK. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Februarie 2013. Besoek op 3 Julie 2011.
  80. (en) "Ministry of Foreign Affairs of Georgia – Oriental Republic of Uruguay". Mfa.gov.ge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 September 2008. Besoek op 5 Mei 2009.
  81. (en) "Ministry of Foreign Affairs of Georgia – Visa Information for Foreign Citizens". Mfa.gov.ge. 30 April 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 September 2008. Besoek op 5 Mei 2009.
  82. (en) "Ministry of Foreign Affairs of Georgia – Relations between Georgia and the State of Israel". mfa.gov.ge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 September 2011. Besoek op 28 Maart 2010.
  83. (en) "Ministry of Foreign Affairs of Georgia – Democratic Socialist Republic of Sri Lanka". Mfa.gov.ge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 September 2008. Besoek op 5 Mei 2009.
  84. (en) Saakashvili, Mikheil. "Why Georgia sends troops to Afghanistan"The Telegraph
  85. (en) "Security Notice". American Embassy Tbilisi. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Augustus 2007. Besoek op 23 Desember 2007.
  86. 86,0 86,1 (en) Mark McDonald, Knight Ridder Newspapers. "Firing of traffic police force stands as a symbol of hope in Georgia | McClatchy". Mcclatchydc.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Januarie 2013. Besoek op 30 Oktober 2012.
  87. (en) "Georgia's National Police Corruption Project". NPR. 15 September 2005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Februarie 2020. Besoek op 30 Oktober 2012.
  88. (en) History of Modern Georgia, David Marshal Lang, bl. 18
  89. 89,0 89,1 (en) Statistical Yearbook of Georgia 2005: Population, Table 2.1, bl. 33, Department for Statistics, Tbilisi (2005)
  90. (en) Damien McGuinness (15 April 2013). "The Iranians who come to Georgia". BBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Augustus 2019. Besoek op 9 Februarie 2024.
  91. (en) "Ethnographic map of the Caucasus". Hunmagyar.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Maart 2017. Besoek op 2 November 2010.
  92. (en) Human Rights Watch/Helsinki, Russia: The Ingush-Ossetian Conflict in the Prigorodnyi Region, Mei 1996.
  93. (en) Georgia: Ethnic Russians Say, "There’s No Place Like Home" Geargiveer 16 Februarie 2018 op Wayback Machine. EurasiaNet.org. 30 April 2009.
  94. 94,0 94,1 (en) Ethnic minorities in Georgia (PDF). Federation Internationale des Ligues des Droits de l'Homme.
  95. (en) "Georgians deported as row deepens". BBC. 6 Oktober 2006. Besoek op 9 Februarie 2024.
  96. (en) "2002 census results" (PDF). p. 132. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 14 Maart 2019. Besoek op 10 Junie 2012.
  97. (en) "Patriarchate of Georgia – Official web-site". Patriarchate.ge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 April 2015. Besoek op 10 Junie 2012.
  98. (en) Toumanoff, Cyril, "Iberia between Chosroid and Bagratid Rule", in Studies in Christian Caucasian History, Georgetown, 1963, bl. 374–377. Aanlyn by [1]
  99. (en) Rapp, Stephen H., Jr (2007). "7 – Georgian Christianity". The Blackwell Companion to Eastern Christianity. John Wiley & Sons. p. 138. ISBN 978-1-4443-3361-9. Besoek op 11 Mei 2012.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  100. (en) "Georgian Religion statistics". NationMaster. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2013. Besoek op 2 November 2010.
  101. (en) Spilling, Michael. Georgia (Cultures of the world). 1997
  102. (en) "Memorandum to the U.S. Government on Religious Violence in the Republic of Georgia (Human Rights Watch August 2001)". Hrw.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 November 2008. Besoek op 5 Mei 2009.
  103. (en) "Georgia purges education system". BBC. 29 Julie 2005. Besoek op 9 Februarie 2024.
  104. (en) Molly Corso (13 Mei 2005) Education reform rocks Georgia Geargiveer 31 Julie 2016 op Wayback Machine. Eurasianet. UN-ontwikkelingsprogram. URL besoek op 2 September 2008.
  105. (en) Georgia : in the mountains of poetry 3rd rev. ed., Nasmyth, Peter
  106. (en) Rapp, Stephen H. (2003), Studies In Medieval Georgian Historiography: Early Texts And Eurasian Contexts. Peeters Publishers, ISBN 90-429-1318-5
  107. 107,0 107,1 (en) Lang David, Georgians
  108. (en) Lang, David Marshall. Georgia. bl. 515.
  109. (en) "Georgian Alphabet". 101languages.net. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Desember 2019. Besoek op 30 Oktober 2012.
  110. (en) Cassius Dio, Roman History, LXIX, 15.3
  111. (en) Louis, Victor & Jennifer (1980). Sport in the Soviet Union. Oxford Pergamon. p. 39. ISBN 0-08-024506-4.
  112. (en) "There is far more to savour in European rugby union than just the Six Nations". The Guardian. 11 Februarie 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Julie 2019. Besoek op 9 Februarie 2024.
  113. (en) "Rustavi 2 Broadcasting Company". Rustavi2.com. 29 April 2012.
  114. (en) "The World Bank in Georgia 1993–2007" (PDF). World Bank. 2009. Besoek op 14 Augustus 2013.
  115. (en) IMF Mission Press Statement at the Conclusion of a Staff Visit to Georgia Geargiveer 28 September 2007 op Wayback Machine. 1 Junie 2007
  116. (en) Central Bank Chief Reports on Inflation. Civil Georgia, Tbilisi. 10 Mei 2007.
  117. (en) Invest in Georgia: Tourism Geargiveer 26 Junie 2010 op Wayback Machine
  118. (en) "U.S. Energy Informationa Administration "World Hydroelectricity Installed Capacity"". Eia.doe.gov. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 November 2010. Besoek op 30 Oktober 2012.
  119. (en) World Development Indicators 2008, The World Bank. Data on composition of GDP is available at worldbank.org[dooie skakel]
  120. (en) Main Macroeconomic Indicators, Nasionale Statistiekkantoor, Georgië
  121. (en) "Roads Department of Georgia". Georoad.ge. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Februarie 2019. Besoek op 10 Junie 2012.
  122. (en) "Georgian Railway". Railway.ge. Besoek op 10 Junie 2012.
  123. (en) "Georgian Railway". Railway.ge. Besoek op 10 Junie 2012.
  124. (en) "Georgian Railway". Railway.ge. Besoek op 10 Junie 2012.
  125. (en) "Georgian Railway". Railway.ge. Besoek op 10 Junie 2012.
  126. (en) "Kutaisi's airport: Georgia's opportunity". Evolutsia.Net. 18 Januarie 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Februarie 2012. Besoek op 10 Junie 2012.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
Algemeen

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]