Gioachino Rossini | |
---|---|
Gioachino Rossini | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Giovacchino Antonio Rossini |
Gebore | 29 Februarie 1792 Pesaro |
Sterf | 13 November 1868 Parys |
Genres | Klassiek |
Beroep(e) | Komponis |
Gioachino Rossini (29 Februarie 1792 – 13 November 1868) was 'n Italiaanse komponis van hoofsaaklik opera. Hy was een van die invloedrykste komponiste van die 19de eeu. Sy werk word vandag nog gereeld in operahuise wêreldwyd opgevoer. Sommige van sy melodieë het hulle lank reeds in die populêre kultuur gevestig, waaronder "Largo al factotum" uit Barbier van Sevilla en "Ouverture" uit Guillaume Tell. Anderhalf eeu nadat dit geskryf is, oorheers sy meesterwerke steeds die standaardrepertorium.
Die Italiaanse komponis is veral vir sy komiese operas beroemd. Verskeie van sy skitterende opera-ouvertures word gereeld in konsertsale uitgevoer. Gioacchino Antonio Rossini is op 29 Februarie 1792 in Pesaro gebore.
Sy ouers was aan rondreisende opera-groepe verbonde. Die jong Rossini het klavier, viool, tjello en die Franse horing leer speel en dikwels as seunsopraan opgetree. As 14-jarige het hy tjello, klavier en kontrapunt aan die Liceo Musicale in Bologna gestudeer en sy eerste opera, Demetrio e Polibio (opgevoer 1812), gekomponeer.
Hy het veral die musiek van Haydn, Mozart en Cimarosa bestudeer en toe hy die Liceo in 1810 verlaat het, was nog 'n opera, La cambiale di matrimonio ("Die huweliksakte") voltooi, wat in 1812 met redelike welslae in Venesië opgevoer is. In 1812 het Rossini ook sy eerste opera vir die La Scala in Milaan geskryf.
Die komedie II signor Bruschino (1813), die ernstige opera Tancredi (1813) en die uitbundige klug L’'l taliana in Algeri (1813) toon groot musikale vordering en is met soveel welslae opgevoer dat selfs La Scala sy operas verwelkom het. In 1815 het Domenico Barbaja (1778-1841) Rossini 'n kontrak aangebied ingevolge waarvan hy jaarliks 2 operas vir Barbaja se Napelse teaters moes lewer en die leiding van sy San Carlo-operageselskap in Napels moes oorneem.
Hier het Rossini die gevierde sopraan Isabella Colbran (1785-1845) ontmoet, wat verskeie van die hoofrolle in sy operas vertolk het en met wie Rossini in 1819 getroud is. In 1815 het Rossini sy meesterstuk, II barbiere de Siviglia ("Die barbier van Sevilla") gekomponeer, 'n opera wat getuig van oorvloedige inspirasie wat volmaak afgerond is, en wat tot vandag gehore behaag.
Die opera is binne slegs 16 dae deur Rossini voltooi. Die tragedie Otello (1816) en die klug La cenerentola ("Aspoestertjie") was ewe geslaagd, en La gazza ladra ("Die eksterdief"; 1817) was in Milaan 'n triomf. Die koel ontvangs van Semiramide (1823) het Rossini laat besluit om nie weer 'n enkele noot musiek vir sy landgenote te skryf nie. In 1824 het hy egter bestuurder van die Théâtre ltalien in Parys geword en die belangrikste operas uit die Paryse tydperk is Le Comte Ory ("Graaf Ory"; 1828) en Guillaume Tell ("Wilhelm Tell"; 1829), wat met groot toejuiging begroet is.
In 1829, toe hy skaars 37 jaar oud was, het Rossini besluit om op te hou komponeer. Vir die oorblywende 38 jaar van sy lewe het hy enkele godsdienstige stukke soos die Stabat Mater (1842) en die Petite messe solennelle (1863) geskryf, en verder slegs toevallige werkies. Hy is op 13 November 1868 in Passy, Frankryk, oorlede.
Deur sy versiering van die melodiese lyn was Rossini die ware skepper van die bel canto-styl, terwyl sy lewendige ensembles en die gebruik van die sogenaamde Rossini-crescendo, veral in finales, aan die orkes sy regmatige plek besorg het. Veral sedert die vyftigerjare is vergete Rossini-operas weer op die planke gebring.
Rossini se vernaamste operas en die datum waarop dit die eerste keer opgevoer is: