Die Golden Gate-brug is 'n brug oor die San Franciscobaai in Kalifornië in die Verenigde State van Amerika. Die 2 824 meter (9 266 voet) lange brug strek van San Francisco na Marin County. Bouwerk het in 1933 begin en dis in 1937 vir verkeer oopgestel. Na voltooiing was dit die langste brug ter wêreld, maar vandag is daar verskeie brûe wat langer as dit is.
Die Golden Gate-brug is een van sewe projekte van siviele ingenieurswese wat deur die American Society of Civil Engineers (ASCE) as die "Sewe Wonders van die Moderne Wêreld" aangewys is.[1][2]
Aanvanklik kon die baai slegs per veerdiens, wat 20 minute duur, oorgesteek word. Voor die brug gebou is, was San Francisco die grootste Amerikaanse stad wat steeds meestal deur veerbote bedien is. Sommige kenners het gemeen dat 'n brug nie haalbaar is nie, omdat die seestrome uiters sterk is. Die baai is ook baie diep in die middel (102 m) en sterk winde en mis sou die konstruksie bemoeilik.
In 1916 nooi San Francisco se stadsingenieur ander ingenieurs om voorstelle vir 'n brug in te dien. Joseph Strauss het 'n goedkoop ontwerp voorgelê, wat slegs $17 miljoen sou kos, maar baie het gedink dat dit lelik sou lyk. Plaaslike owerhede het hom gevra om saam met ander kenners te werk en die ontwerp aan te pas. Hy aanvaar die voorstel. Die nuwe ontwerp, waartoe veral Irving Morrow bygedra het, was dié van 'n hangbrug. Die ontwerp maak van hoë torings gebruik, met die brug wat aan kabels daaronder hang.
Die brug is die Golden Gate-brug genoem omdat dit die Golden Gate-seestraat, die waters tussen die San Francisco-skiereiland en die Marin County-skiereiland, oorspan.
In 1930 het die plaaslike regerings van San Francisco en Marin County ooreengekom om effekte te verkoop om geld vir die brug in te samel. Die nuwe brug sou $30.1 miljoen kos, maar as gevolg van Wall Street se 1929-ineenstorting kon hulle nie die effekte verkoop kry nie. Uiteindelik het die Bank van Amerika, wat in San Francisco gebaseer is, ingestem om al die effekte te koop en sodoende die plaaslike ekonomie te stimuleer.
Konstruksie het op 5 Januarie 1933 begin en die brug is in April 1937 voltooi. Elf mense sterf tydens die bou van die brug. Later word nette vir veiligheid onder die brug gespan. Negentien man is in hierdie nette van 'n gewisse dood gered.
Na voltooiing word die brug met 'n roosoranje seëlaar, 'n tipe verf wat die brug teen water en humiditeit moet beskerm, geverf. Mense hou van die kleur, omdat dit by die omgewing inpas en maklik in die mis gesien kan word. Gevolglik is die brug oranje geverf.
Mense kan die brug enige tyd van die dag per motor of motorfiets oorsteek. Fietse en voetgangers word slegs in die dagure toegelaat. Die brug mag glad nie met rolskaatse, skaatsplanke of bromponies oorkruis word nie.
Nadat die brug geopen is, moes bestuurders 50 sent betaal om die brug in enige rigting te gebruik. Vandag hoef bestuurders vanaf die noordelike kant (as hulle San Francisco verlaat) nie te betaal nie. Op 2 September 2008 is 'n fooi van $6 ingestel vir voertuie vanaf die suidekant (na San Francisco). 'n Pas kan ook gekoop word wat die fooi na $5 per rit verlaag.
Mense spring gereeld van die brug af om selfmoord te pleeg. Hulle val 75 meter en meeste is opslag dood as hulle die water tref. Niemand weet presies hoeveel mense al hier selfmoord gepleeg het nie.