Groot Constantia is 'n wynlandgoed in die Constantiavallei in Kaapstad, Suid-Afrika. Dit is een van die bes bewaarde voorbeelde van die Kaaps-Hollandse boustyl en is 'n hoogsaangeskrewe wynmakery.[1]
Die landgoed dateer uit 1685 toe grond aan Simon van der Stel, kommandeur van die Kaap, toegeken is vir 'n plaas wat hy Constantia gedoop het. Nadat hy in 1712 oorlede is, is die plaas verdeel en is 'n kleiner plaas om die plaashuis en buitegeboue geskep. Die nuwe landgoed is in 1716 deur kapt. Olof Bergh gekoop wat dit aan sy vrou, Anna de Koningh, nagelaat het. Ná haar afsterwe het die eienaarskap oorgegaan na Carl George Wieser, Wieser se stiefseun Jacobus van der Spuij, en Jan Serrurier, die eienaar van die naburige plaas Alphen. Serrurier is egter gedwing om die plaas ná net 12 maande in 1778 aan Hendrik Cloete te verkoop, oënskynlik ná haelskade en 'n misoes.[1]
Die landgoed het vyf geslagte die eiendom van die Cloetes gebly totdat dit in 1885 vir £5 275 op 'n openbare veiling aan die Kaapse regering verkoop is. Die Cloetes was verantwoordelik vir die verfraaiing van die landgoed en het die gehalte van die wyn verbeter en het veral bygedra dat die Constantia-dessertwyn internasionale bekendheid verwerf. Die wyn het gesog geword by koningshuise van Europa en is deur bekende figure soos Jane Austen, Charles Baudelaire, Napoleon en Koning Louis Philippe van Frankryk genuttig.[2] Die doel van die latere aanskaffing van die landgoed deur die Kaapse regering was dat die landgoed as 'n model vir wynbou sou dien.[1]
Die Groot Constantia-landgoed is op 27 April 1984 deur Gerrit Viljoen, minister van nasionale onderwys, tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar, en word beskerm as 'n provinsiale erfenisterrein in gevolge die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (25/1999).[3]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Groot Constantia. |