Grootvlek-skreeubaber | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Animalia |
Filum: | Chordata |
Klas: | Actinopterygii |
Orde: | Siluriformes |
Familie: | Mochokidae |
Genus: | Synodontis |
Spesie: | S. macrostigma
|
Binomiale naam | |
Synodontis macrostigma Boulenger, 1911
|
Die grootvlek-skreeubaber (Synodontis macrostigma) - in die Caprivi staan die vis bekend as die Grootkol knorvis – is 'n varswatervis wat in die boonste gedeeltes van die Zambezirivier en die Kafuerivier, die Kunenerivier en die Okavangorivier voorkom. In Engels staan die vis bekend as die Largespot squeaker.
Die grootvlek-skreeubaber se kop is hard, met ovaal pantserplate. Daar is drie paar baarde, die buitenste paar is lank en onvertak. Die binneste twee pare is korter en vertak.
Daar is 17-29 tande op die onderkaak teenwoordig.
Die rugvin is korter as die kop, die stekel is sterk, skerp en het weerhakkies. Die vetvin is goed ontwikkel. Die stertvin is goed ontwikkel en diep gevurk. Die anale vin is goed ontwikkel en vierkantig. Die buikvin is gepaar en goed ontwikkel. Die borsvin se stekel is net so lank as die rugvin, baie sterk en skerp, met weerhakkies.
Die grootvlek-skreeubaber het 'n gelerige tot olyfbruin kleur en is effens ligter ondertoe. Daar is groot donkerbruin of swart kolle (of strepe), groter as die oog (tot 20 mm groot) op die lyf. Die kolle is kleiner op die kop en vinne en aan die onderkant is die kolle kleiner of heeltemal afwesig.
Hy word tot 170 mm lank.
Grootvlek-skreeubabers leef in stadigvloeiende riviere of vloedvlaktes met plantegroei. Bedags verkies hul diep water, snags is hul enige plek.
Hulle is omnivore en vreet alles maar behoort aangekeer te word met 'n klein hoekie en 'n stukkie vleis, vis of erdwurm as aas.
Die grootvlek-skreeubaber maak ‘n knorgeluid en hy kan maklik met die newelrige skreeubaber verwar word. Let dan op die verskil in rugvin, analevin, baarde en pantserplaat.