Gruneriet / Amosiet | |
Gruneriet uit Suid-Dakota | |
Chemiese formule | Fe7Si8O22(OH)2 |
Mineraalklas | Amfibool / Inosilikaat 9.DE.05 (volgens Strunz) |
Kristalsisteem | Monoklinies |
Kristalklas | Prismaties (2/m) |
Kleur | Askleurig, bruin, bruingroen, donkergrys |
Streepkleur | Kleurloos |
Mohs-hardheid | 5 - 6 |
Digtheid (g/cm³) | 3,4 - 3,5 |
Glans | Glasagtig |
Transparansie | Deurskynend tot ondeursigtig |
Breuk | |
Splyting | |
Habitus | Kolomvormig, akikulêr |
Kristalvlakke | |
Tweelingsvorming | |
Ander eienskappe | |
Radioaktiwiteit | Nie radioaktief |
Besondere kenmerke | Nie-fluoresserend[1][2] |
In mineralogie verwys Gruneriet na 'n mineraal van die amfiboolgroep van minerale met die formule Fe7Si8O22(OH)2. Dit is in 1853 ontdek en vernoem na Emmanuel-Louis Gruner (1809–1883), 'n Franse chemikus wat dit die eerste keer ontleed het.[3] Die amosietvorm van gruneriet is in Suid-Afrika ontgin as 'n bron van asbes, en word na verwys as bruinasbes.
Amfibole is 'n groep inosilikaat minerale, wat prismatige of naaldagtige kristalle vorm,[4] wat uit dubbele ketting SiO4-tetraëder bestaan, gekoppel aan die hoekpunte. Gewoonlik bevat hulle ione van yster en / of magnesium in hul strukture. Amfibole kan groen, swart, kleurloos, wit, geel, blou of bruin wees. Die Internasionale Mineralogiese Vereniging klassifiseer amfibole as 'n mineraalsupergroep, waarbinne twee groepe en verskeie subgroepe bestaan.[5]
Vier van die amfiboolminerale is van die minerale wat algemeen asbes genoem word. Hulle is: antofilliet, riebekiet, die kummingtoniet/gruneriet-reeks en die aktinoliet/tremoliet-reeks. Die kummingtoniet/gruneriet-reeks word dikwels amosiet of bruinasbes genoem. Riebekiet staan bekend as krokidoliet of blouasbes. Hulle word ook gewoonlik amfiboolasbes genoem.[6]
Amfibole van metamorfiese oorsprong sluit in dié wat in kalkstene ontwikkel deur kontakmetamorfisme, genaamd tremoliet. Veselagtige tremoliet is een van die ses erkende soorte asbes.[7]
Gruneriet is die yster-eindlid van die gruneriet-kummingtoniet-reeks. Dit vorm as veselagtige, kolomagtige of massiewe kristalle. Die kristalle is monoklinies-prismaties. Die glans is glasagtig tot pêrelagtig met kleure wat wissel van groen, bruin tot donkergrys. Die Mohs-hardheid van gruneriet is 5 tot 6.[1]
Amosiet is 'n seldsame asbesvormige variëteit van gruneriet wat hoofsaaklik as asbes gemyn is by Penge, Limpopo. Die oorsprong van die naam is Amosa, die afkorting van die Engelse naam van die mynmaatskappy "Asbestos Mines of South Africa LTD". Amosa was 'n onderneming wat onder die Unie van Suid-Afrika gestig is en in Johannesburg geregistreer is. In die 1960's was dit die enigste belangrike produsent van amosiet ter wêreld.[8]