HD 209458 b, ook bekend onder sy bynaam, Osiris,[1] is ’n eksoplaneet wat sowat 150 ligjare van hier om die ster HD 209458, soortgelyk aan die Son, wentel in die sterrebeeldVlieënde Perd. Die radius van die planeet se wentelbaan is 7 miljoen kilometer, sowat 0,047 AE of ’n agtste van Mercurius se wentelbaan. Dié klein wentelbaan het tot gevolg dat ’n jaar op die planeet gelyk is aan sowat 3,5 dae op Aarde en dat die temperatuur op die oppervlak sowat 1 000 °C is. Sy massa is 220 keer die Aarde s’n, of 0,69 Jupiter-massas. Sy volume is 2,5 keer dié van Jupiter. Die groot massa en volume dui daarop dat dit ’n gasplaneet is.
Die eerste planeet wat deur meer as een metode opgespoor is;
Die eerste bekende eksoplaneet met ’n atmosfeer;
Die eerste eksoplaneet waar die verdamping van waterstof in sy atmosfeer waargeneem is;
Die eerste eksoplaneet met ’n atmosfeer wat suurstof en koolstof bevat;
Een van die eerste eksoplanete wat spektroskopies regstreeks waargeneem is;
Die eerste gasreus buite die sonnestelsel waarvan die superstorm gemeet is;
Die eerste planeet waarvan die wentelspoed gemeet is, waardeur sy massa regstreeks bepaal kon word.[2]
Volgens studies in April 2007 is dit na bewering die eerste eksoplaneet met waterdamp in sy atmosfeer.[3][4][5][6]
In Julie 2014 het Nasa aangekondig ’n baie droë atmosfeer is op HD 209458 b en twee ander eksoplanete, HD 189733 b en WASP-12b, ontdek. Al drie wentel om Sonagtige sterre.[7]
Spektroskopiese studies het op 5 November 1999 die eerste keer die teenwoordigheid van ’n planeet om die ster HD 209458 onthul. Kort daarna het verskillende spanne ’n oorgang van die planeet met die ster waargeneem, wat dit die eerste planeet maak waarvan ’n oorgang bekend was. Op 9 en 16 September 1999 het een span ’n verdowwing van 1,7% in HD 209458 se helderheid waargeneem wat toegeskryf is aan die planeet se oorgang.
Op 8 November het ’n ander span ’n gedeeltelike oorgang waargeneem toe hulle net die ingang gesien het.[8] Artikels van die twee spanne is gelyktydig in die Astrophysical Journal gepubliseer. Elke oorgang het sowat drie uur geduur, waartydens sowat 1,5% van die ster verduister is.
Die Hipparcos-satelliet het sterrekundiges gehelp om die wentelperiode op 3,524736 dae vas te stel.[9]