| |||||||||||||||||||
| |||||||||||||||||||
Volkslied: (geen amptelike) Gott erhalte Franz den Kaiser (Keiserlike volkslied van 1797) (Duits vir: "God bewaar Keiser Frans") | |||||||||||||||||||
Die strekking van die Heilige Romeinse Ryk in ongeveer 1600, oorgelê op die moderne Europese staatsgrense | |||||||||||||||||||
Hoofstad | Geen, setel van die Reichstag Regensburg (1594–1806) | ||||||||||||||||||
Taal/Tale | Latyn, Duits, Italiaans, Tsjeggies, Nederlands, Frans, en verskeie ander | ||||||||||||||||||
Godsdiens | Rooms-Katolieke Kerk, Protestantisme, Calvinisme | ||||||||||||||||||
Regering | Monargie | ||||||||||||||||||
Keiser | |||||||||||||||||||
- 962–1002 | Otto I, II en III | ||||||||||||||||||
- 1014–1125 | Hendrik II, Conrad II, Hendrik III, IV en V | ||||||||||||||||||
- 1133–1313 | Lothar III, Frederik I, Hendrik VI, Otto IV, Frederik II, Hendrik VII | ||||||||||||||||||
- 1328–1519 | Lodewyk IV, Karel IV, Sigismund, Frederik III, Maximiliaan I | ||||||||||||||||||
- 1530–1576 | Karel V, Ferdinand I, Maximiliaan II | ||||||||||||||||||
- 1576–1657 | Rudolf II, Matthias, Ferdinand II en III | ||||||||||||||||||
- 1658–1745 | Leopold I, Josef I, Karel VI en VII | ||||||||||||||||||
- 1745–1806 | Frans I, Josef II, Leopold II, Frans II | ||||||||||||||||||
Wetgewer | Reichstag | ||||||||||||||||||
Historiese tydperk | Middeleeue | ||||||||||||||||||
- Otto I gekroon as Keiser van Italië | 2 Februarie 962 | ||||||||||||||||||
- Konrad II neem die kroon van Boergondië aan | 2 Februarie 1033 | ||||||||||||||||||
- Vrede van Augsburg | 25 September 1555 | ||||||||||||||||||
- Vrede van Wesfale | 24 Oktober 1648 | ||||||||||||||||||
- Abdikasie van Frans II | 6 Augustus 1806 | ||||||||||||||||||
- Rynbond gevorm | 12 Julie 1806 | ||||||||||||||||||
|
Staatskundige geskiedenis van die Nederlande | ||
Noordelike Nederlande | Suidelike Nederlande | Heilige Romeinse Ryk & Duitse Bond |
Goue van Oos-Francië | Goue van Wes-Francië | Goue van Oos-Francië |
Luik | ||
1384 Boergondiese Nederlande | ||
1482 Habsburgse Nederlande | ||
1543 Sewentien Provinsies (vanaf 1566 in opstand) | ||
1588 Republiek die Sewe Verenigde Nederlande |
1585 Spaanse Nederlande | |
1713 Oostenrykse Nederlande | ||
1795 Bataafse Republiek |
1794 Eerste Franse Republiek | |
1806 Koninkryk Holland | ||
1810 | 1804 | |
Eerste Franse Keiserryk | ||
1813 Vorstendom die Nederlande |
1814 Generaal- Goewernement | |
1815 Verenigde Koninkryk die Nederlande |
1815 Groothertogdom Luxemburg | |
1830 Koninkryk die Nederlande |
1830 Koninkryk België |
1848 & 1867 Groothertogdom Luxemburg |
Die Heilige Romeinse Ryk was die magsgebied van die Romeins-Duitse keisers van die vroeë Middeleeue en het vir byna 1 000 jaar gestrek tot 1806, toe die ryk tydens die Napoleontiese Oorloë ontbind is. Dié magsgebied het gestrek oor Sentraal- en Wes-Europa.
Ná die afsterwe van Lodewyk die Vrome is die Frankiese Ryk in drie dele verdeel:
Die Heilige Romeinse Ryk is vanaf die 10de eeu onder die heerskappy van die Ottone-dinastie uit die voormalige Karolingiese Oos-Frankiese Ryk gevorm. Die Oos-Frankiese koning het na homself as die rex Francorum orientalium verwys – "koning van die Oos-Franke" – en was in feite die heerser oor 'n ryk met 'n verskeidenheid opstandige stamme.
Die term Romanum Imperium (Latyns "Romeinse Ryk") was eers vanaf 1034 gebruiklik, Sacrum Imperium ("Heilige Ryk") vanaf 1157, terwyl die titel Sacrum Romanum Imperium vir die eerste keer in 1254 in 'n historiese dokument gebruik is.
Vanaf die 15de eeu is ook die bynaam "van die Duitse Nasie" (Nationis Germaniae) gebruik om spesifiek na die Duitssprekende gebiede van die ryk te verwys, en die bewoners het geleidelik 'n soort kulturele gemeenskapsgevoel ontwikkel. Die term "Duitse Nasie" verwys daarnaas ook na die Duitse herkoms en moedertaal van alle Romeinse keisers vanaf 962 (toe Otto I die kroon van die ryk verwerf het) tot die einde van die Heilige Romeinse Ryk in 1806. Geskiedkundiges verwys na die Heilige Romeinse Ryk soms ook as die Ou Ryk, ter onderskeiding van die Duitse Ryk, wat in 1871 gestig is.
Vanweë sy supranasionale karakter het die ryk nooit tot 'n nasionale staat in die moderne sin ontwikkel nie, maar het dit steeds 'n soort monargiese raamwerk vir die groot aantal onafhanklike Duitse state gebly. Behalwe vir die keiser en die ryksstande was daar ook min gemeenskaplike instellings.
Danksy sy swak strukture was die Heilige Romeinse Ryk ná die Middeleeue ook nie meer in staat om 'n oorlog te voer of sy magsgebied uit te brei nie. Die ryk se bevoegdhede was in die algemeen beperk tot gebiede soos die regssekerheid en die bewaring van vrede. Die ryk het sorg gedra vir politieke stabiliteit en die vreedsame beslegting van konflikte deur die magsdinamiek binne perke te hou: dit het die onderdane beskerm teen willekeurige magsmisbruik van plaaslike heersers en kleiner ryksstande teen regsverkragting deur die magtige ryksstande en die keiser.
Ná die Vredesluiting van Münster (Wesfalen) in 1648 was ook die buurlande as ryksstande 'n deel van die bedeling. Die Heilige Romeinse Ryk het sodoende ook 'n rol gespeel by die bewaring van vrede binne die Europese konstellasie van state.
Sedert die middel van die 18de eeu was die ryk nogtans te swak om sy deelstate teen die magsuitbreiding van interne en eksterne magte te beskerm. Sy politieke onmag was uiteindelik ook een van die redes vir sy agteruitgang. Napoléon Bonaparte se verowerings en die stigting van die Rynbond het die ryk byna heeltemal verlam. Nadat keiser Frans II op 6 Augustus 1806 afstand van die rykskroon gedoen het, is die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie uiteindelik ontbind.
Koningskap en keiserdom is in die Duitse Ryk steeds as twee verskillende konsepte van wêreldlike mag beskou. Gedurende die Middeleeue is die Duitse koning deur die hoë adel, biskoppe en hertoë (eers later ook deur die keurvorste) verkies, maar nie die keiser nie. Die keiserdom was in politieke opsig selfs 'n fiksie, gebore uit die oortuiging dat daar ook ná die ontbinding van die Romeinse Ryk 'n gemeenskaplike Westers-Christelike beskawing sou bestaan.
Volgens hierdie idee is die heerskappy (Latyns: imperium) oor die ryk vir die eerste keer deur keiser Konstantyn vanuit die weste na Griekeland oorgedra. Met die kroning van Karel die Grote het die pous die imperium later aan die Franke oorgedra, en uiteindelik is dit aan die Romeinse koning Otto I gegee wat eweneens deur die pous gekroon is. Die translatio imperii of oordrag van die ryksheerskappy was 'n uitsluitlike voorreg van die pous.
Pous en keiser was dit eens oor die posisie wat hulle in die Middeleeuse wêreld beklee het – hulle het die twee swaarde gedra wat deur Christus aan hulle verleen is, die geestelike en die wêreldlike – en hulle was net aan God verantwoordelik. Nogtans het soms konflikte uit die pous se besondere beklemtoning van die geestelike mag voortgespruit: indien hulle mag regstreeks deur God verleen was, sou die pous as sy verteenwoordiger op aarde voorkeur oor die wêreldlike keiser moet geniet. Daarenteen het die keiser met nadruk op die besondere rol van sy mag binne die tydelik-wêreldlike sfeer verwys – 'n mag waaraan immers ook die pous se wêreldlike gesag en die Kerkstaat onderworpe was.
Nadat geskille tussen pous en keiserdom begin verskerp het, het die twee heersers na mekaar as leenhere en vasalle verwys. Gelyktydig het albei pogings onderneem om hulself ook as die leenhere van alle Christelike Europese koninkryke te vestig.[1]
In teenstelling met baie ander Europese lande was Duitsland tot in die moderne tydperk nie as 'n nasionale staat georganiseer nie, maar eerder 'n voormoderne ryk beskou waarin 'n groot aantal selfregerende gebiede volgens 'n ingewikkelde staatsbedeling bestaan het. Geeneen van die verskillende gebiede het belang gestel in die opbou van 'n sentrale, nasionale gesag nie, en die Heilige Romeinse Ryk was ook allesbehalwe 'n staat van uitsluitlik Duitssprekendes: die ryk het steeds ook Slawiese, Romaanse en Baltiese landsdele – Boheme, Morawië, die huidige Slowenië, Istrië en 'n tyd lank ook Lyfland as deel van die Duitse Ordenstaat, dele van Noord-Italië, Switserland, die Lae Lande asook Lotaringe, Boergondië en – tydelik – Provence en Savoie ingesluit.[2]
As 'n veeltalige en supranasionale instelling, wat geleidelik tot 'n statebond op die basis van leenregtelike beginsels (en juis nie die moderne volkereg nie) ontwikkel het, het die Heilige Romeinse Ryk tot in die vroeë moderne tydperk voortbestaan. Alhoewel die ryk in die loop van sy geskiedenis gedwing is om gebiede aan Frankryk – as 'n nasionale staat aan sy westelike grens – af te staan en Switserland en Nederland met die Vredesluiting van Münster in 1648 (die sogenaamde Wesfaliese Vrede) amptelik onafhanklik geword het, is die internasionalisering van die Heilige Romeinse Ryk deur die geïnstitusionaliseerde belange van Europese moondhede bevestig: die koning van Denemarke het van oudsher gelyktydig as hertog van Holstein geregeer en was sodoende 'n lid van die Ryksstate. Swede en Frankryk, wat as Europese moondhede die bepalings van die Vrede van Münster en die Ryk se politieke bedeling gewaarborg het, het hom in 1648 vergesel. Vanaf 1714 het ook die Engelse koning – vanweë sy dinastiese verbintenis met Hannover – as derde buitelandse monarg 'n afgevaardigde op die Regensburgse Ryksdag geword.
Duitsland het nie net vanweë sy ligging in die sentrum van die Europese vasteland veral in die vroeë moderne tydperk die belangstelling van sy buurlande gewek nie. Dit was ook aan die feit te danke dat die Duitse Ryk 'n supranasionale karakter gehad het. Die politieke gebeure in die hartland van Europa het sodoende steeds 'n internasionale dimensie gekry – state soos Frankryk het die politieke en staatkundige orde van die Heilige Romeinse Ryk as 'n saak van nasionale belang beskou omdat die politieke ewewig in Sentraal-Europa regstreeks daaraan gekoppel was. Gevolglik is 'n aantal Europese oorloë, waaronder die Dertigjarige Oorlog, die Franse uitbreidingsoorloë onder koning Lodewyk XIV asook die Spaanse, Poolse en Oostenrykse Opvolgingsoorloë op Duitse bodem uitgeveg.
Ongeag sy insluiting van vreemde volke en alle pogings van buitelandse konings om hulle as keisers te laat bekroon, was die Heilige Romeinse Ryk steeds veral 'n ryk van die Duitse nasie – 'n ryk wat met sy Middeleeuse tradisies nog invloed op die politieke ontwikkeling van Duitsland in die 19de en 20ste eeu uitgeoefen het. Anders as byvoorbeeld in Spanje, Frankryk, Engeland en selfs in Nederland (wat tot in die 15de en 16de eeu self nog deel van die ryk uitgemaak het) is die ontwikkeling van 'n moderne nasionale staat in Duitsland sodoende belemmer en vertraag. Dit het uiteindelik nie op nasionale vlak sy aanvang geneem nie, maar op deelstaatvlak. In die loop van die 16de eeu het Duitsland as gevolg van die Reformasie ook sy godsdienstige en kerklike eenheid kwytgeraak – naas die voortbestaan van die ou Middeleeuse staatsstrukture en die verdeling in selfregerende deelstate wat by die proses van nasiewording met die ryk meegeding het was Duitsland as die oorsprongsland van die Reformasie nou ook deur religieuse diversiteit gekenmerk.