Antoine Henri Becquerel (Parys, 15b Desember, 1852 – Le Croisic, 25 Augustus, 1908) was 'n Franse fisikus. Die SI eenheid vir radioaktiwiteit, die becquerel (Bq), is na hom vernoem.
Hy het op 1 Maart 1896 radioaktiwiteit per toeval ontdek. In 1903 is die Nobelprys vir Fisika, saam met Pierre en Marie Curie, aan hom toegeken "ter erkenning vir die buitengewone diens wat gelewer is deur sy ontdekking van spontane radioaktiwiteit."
Henri Becquerel is in Parys gebore in 'n familie wat aan wetenskaplike navorsing toegewy is. Sy pa, Alexandre-Edmond Becquerel, was 'n professor in toegepaste fisika en het sonstrale, fotografie, die aktiwiteit van warm gasse en luminesensie nagevors. Sy oupa, Antoine César Becquerel, was 'n lid van die Royal Society en uitvinder van 'n elektrolitiese metode vir die onttrekking van metale uit hul ertse.
Becquerel se vroeë opleiding het by die Lyceé Louis-le-Grand plaasgevind; daarna studeer hy wetenskap aan die École Polytechnique en siviele ingenieurswese aan die École des Ponts et Chaussées. In 1877 het hy gegradueer en 'n pos as ingenieur by die Nasionale Ministerie van Brûe en Paaie aanvaar.
Gedurende sy studiejare aan die École des Ponts et Chaussées het Becquerel diep geïnteresseerd geraak in Michael Faraday se navorsingswerk oor die effek van magnetisme op lig. Faraday het in 1845 ontdek dat gepolariseerde lig 'n rotasie ondergaan terwyl dit deur 'n magnetiese veld beweeg ('n verskynsel wat die Faraday-effek genoem word). Becquerel het 'n formule ontwikkel wat die verband tussen hierdie rotasie en die breking wat deur 'n ligstraal ervaar word, verduidelik wanneer dit van een medium (deurskynende stof) na 'n ander beweeg. Hy het die resultate in 1875 in sy eerste wetenskaplike artikel gepubliseer, hoewel hy later ontdek het dat sy aanvanklike resultate op sekere punte verkeerd was.
Hierdie effek is in vaste stowwe en vloeistowwe waargeneem, en Becquerel het getoon dat dit ook in gasse voorkom. Hy het jare lank belang gestel in vrae oor magneto-optika. Sy entoesiasme het herleef toe die Nederlandse fisikus Pieter Zeeman in 1897 die Zeeman-effek ontdek het, die splitsing van spektrale lyne onder die invloed van sterk magnetiese velde. Dit het nuwe perspektiewe vir Becquerel se navorsing geopen.
In 1874 trou Becquerel met Lucie-Zoé-Marie Jamin, die dogter van Jules Célestin Jamin – professor in fisika aan die Universiteit van Parys. Sy is vier jaar later in Maart 1878 oorlede, kort na die geboorte van hul enigste kind, Jean. Hierdie seun sou later ook 'n fisikus word. Sy oupa is twee maande vroeër oorlede, en sy pa het sy pos as professor in fisika by die Muséum d'Histoire Naturelle (Museum van Natuurgeskiedenis) in Parys aangeneem, en Antoine Henri het sy assistent geword.
In 1888 het Becquerel sy PhD aan die Universiteit van Parys ontvang oor 'n onderwerp waaraan sy pa vir baie jare gewerk het: luminesensie, die uitstraal van lig van onverhitte voorwerpe. Vir sy PhD het hy navorsing gedoen oor die effek van polarisasie op luminesensie. In 1889 is hy verkies tot lid van die Académie des Science.
Toe sy pa in 1891 oorlede is, is hy as sy opvolger by die Muséum d'Histoire Naturelle aangestel. In dieselfde jaar het hy ook die siek Alfred Potier by die École Polytechnique vervang. Uiteindelik, in 1894, is hy aangestel as hoof van ingenieurswese by die École des Ponts et Chaussées.
Becquerel het in 1890 met sy tweede vrou, Louise-Désiree Lorieux, die dogter van 'n myninspekteur, getrou; hierdie huwelik het kinderloos gebly.
Becquerel se navorsing het momentum gekry ná die ontdekking deur Wilhelm Röntgen in 1895 van die X-strale wat na hom vernoem is. Wat hom veral opgeval het, was die ooreenkomste tussen hierdie X-straalbestraling en die luminesensie, wat hy self jare lank nagevors het.
Becquerel het geglo daar is 'n moontlikheid dat X-strale se "X-strale" verantwoordelik was vir fluoressensie, die verskynsel van stowwe wat 'n nagloei het nadat dit aan sonlig blootgestel is. As sy hipotese korrek was, sou dit beteken dat die strale ook spore op 'n fotografiese plaat gelaat het.
Becquerel se hipotese het hom daartoe gelei om 'n baanbrekende eksperiment uit te voer. In die laboratorium van die Muséum het Becquerel 'n kristal uraansout, 'n stof wat Becquerel geglo het fluoresserend is, vir 'n geruime tyd aan die sonlig blootgestel en dit dan op 'n fotografiese plaat geplaas. Die plaat het geblyk swart te wees na ontwikkeling.
Becquerel het eers sy ware ontdekking gemaak nadat hy reeds sy toetsopstelling skoongemaak en weggesit het: al was die uraansout nie aan die son blootgestel nie, het dit spore op die plaat gelaat. Becquerel se verduideliking was dat die uraansout spontaan 'n onsigbare en deurdringende straling uitstraal, wat blykbaar verskil van X-strale. Omdat hy vermoed dat hulle uit die uraan self afkomstig is, het hy hulle rayons uraniques (uraanstrale) genoem; en sy kollegas die "strale van Becquerel". Becquerel het opgemerk dat hierdie strale 'n gas ioniseer. Hy het ook opgemerk dat suiwer uraan 'n sterker invloed as uraansout uitgeoefen het. Hy het die verskynsel vir meer as 'n jaar bestudeer, maar in April 1897 het hy aanbeweeg na ander werk, met die mening dat die navorsing uitgeput was. Die navorsing is voortgesit deur Marie en Pierre Curie, wat hierdie verskynsel radioaktiwiteit genoem het.
In 1908, die jaar van sy dood, is Becquerel verkies tot permanente sekretaris van die Académie des Sciences. Hy was ook 'n lid van die Accademia dei Lincei en van die Koninklike Akademie van Berlyn. Hy is op die ouderdom van 55 in Le Croisic, Frankryk, oorlede. Benewens die Nobelprys in 1903 het hy ook die Rumford-medalje (1900), die Helmholtz-medalje (1901) en die Barnard-medalje (1905) ontvang. Daarbenewens is hy in 1900 'n Offisier van die Franse Legioen van Eer aangestel.[1][2][3][4][5][6][7]