Hor-Aha | |||||||||||||||||||||||||||||||
Aha, Horus die Vegter | |||||||||||||||||||||||||||||||
Fragment met die Horusnaam Aha (Britse Museum). | |||||||||||||||||||||||||||||||
Farao van die 1ste Dinastie | |||||||||||||||||||||||||||||||
Periode | 31ste eeu v.C. | ||||||||||||||||||||||||||||||
Voorganger | Narmer | ||||||||||||||||||||||||||||||
Opvolger | Djer | ||||||||||||||||||||||||||||||
Vader | Narmer ? | ||||||||||||||||||||||||||||||
Moeder | Neithhotep | ||||||||||||||||||||||||||||||
Hor-Aha in Egiptiese hiërogliewe | |||||||||||||||||||||||||||||||
| |||||||||||||||||||||||||||||||
|
Hor-Aha (ook bekend as Aha en Horus-Aha) word beskou as die tweede Egiptiese farao van die 1ste Dinastie. Hy het tydens die 31ste eeu v.C. geleef en het vermoedelik ’n lang bewind gehad.
Vir die 1ste Dinastie word die Horusnaam, ’n deel van koninklike name wat met die god Horus verbind word, in argeologiese rekords gebruik, terwyl die historiese koningslyste ’n alternatiewe naam, die Nebtynaam, gebruik.[1][2] Die name is dikwels saam gebruik, maar baiekeer apart.[2] Die naam Hor-Aha is die farao se Horusnaam. ’n Meer volledige vorm is Horus-Aha, wat "Horus die Vegter" beteken.[1]
Die meeste Egiptoloë volg die bevindings van Petrie dat Hor-Aha (argeologies) se Nebtynaam Ity (histories) was.[1][2][3]
Dieselfde proses het gelei tot die verbinding van die Nebtynaam Menes met die Horusnaam Narmer, en daar word geglo dit is dieselfde persoon wat die eerste farao van die 1ste Dinastie was, en dus die voorganger van Hor-Aha.[1][2][3]
Daar is ’n effense omstredenheid oor Hor-Aha. Sommige[4] glo hy is dieselfde persoon as die legendariese Menes en dat hy Bo- en Benede-Egipte verenig het. Ander dink hy was die seun van Narmer, wat ook Menes genoem is en wat Egipte verenig het. Daar word egter algemeen aanvaar dat Narmer die farao is wat Egipte verenig het en dat Hor-Aha sy seun en erfgenaam was.
Volgens die Egiptiese historikus Manetho het Hor-Aha op sowat 30 farao geword en het hy 60 jaar lank regeer. Dit lyk of hy baie godsdienstige bedrywighede gehad het. ’n Besoek aan ’n altaar van die godin Neith is op verskeie tablette uit sy bewind aangeteken.[5] Die altaar was in die Nyldelta by die stad Saïs.[6] Daar is ook melding gemaak van die god Seker op ’n tablet wat uit sy bewind dateer.[7]
Inskripsies uit die grakelders van Hor-Aha en Neithhotep dui daarop dat die koningin tydens sy bewind dood is. Hy het haar in ’n manjifieke mastaba laat begrawe wat deur Jacques de Morgan opgegrawe is.[8] Sy was moontlik Hor-Aha se ma.[9]
’n Inskripsie op ’n ivoortablet van Abydos dui daarop dat Hor-Aha ’n veldtog teen die Nubiërs gelei het. ’n Sekere jaar op ’n tablet word spesifiek genoem die "Jaar waarin Ta-Sety (Nubië) verslaan is".[10]
Dit lyk of handel met die Suid-Levant tydens sy bewind afgeneem het. Anders as sy voorganger se naam, word syne nie genoem buite die Nylvallei nie.
Hor-Aha se hoofvrou was Benerib, wie se naam op ’n paar historiese stukke saam met syne verskyn, spesifiek in grafkelder B14 by Abydos.[11][12][13] Dié grafkelder is reg langs Hor-Aha s'n.[14] Hy het ook ’n ander vrou, Chenthap, gehad[15] by wie hy die seun Djer gehad het. Sy word genoem as Djer se ma op die Kaïro-annalesteen.
Hor-Aha se grafkelder is in die dodeakker by Abydos bekend as Umm el-Qa'ab. Dit bevat drie groot kamers, B10, B15 en B19, wat reg langs Narmer se grafkelder is.[16][17]
’n Treffende aspek van sy grafkelder is dat lede van sy huishouding saam met hom begrawe is. Dit is onduidelik of hulle vermoor is of selfmoord gepleeg het. Van dié mense is bediendes, dwerge en vroue. Selfs honde is saam met hom begrawe.