Hürrem Sultan (Ottomaanse Turks: خُرَّم سلطان, Ḫurrem Sulṭān; 1502 – 15 April 1558, ook bekend as Roxelana, Roxolana, Ruziac, Rosanna of Roxelane) was die gunsteling metgesel en later die hoofgade en wettige vrou van die Ottomaanse Sultan Süleyman die Manjifieke en die moeder van Şehzade Mehmed, Mihrimah Sultan, Şehzade Abdullah, Sultan Selim II, Şehzade Bayezid, en Şehzade Cihangir.[1]
Sy was een van die mees invloedryke vroue in die Ottomaanse geskiedenis en 'n prominente sowel as kontroversiële figuur tydens die era bekend as die Sultanaat van Vroue. Sy was die eerste "Haseki Sultan" (Hoofgade van die Sultan) en het daardeur mag en invloed binne die politiek van die Ottomaanse Ryk behaal. Sy het 'n aktiewe rol in sake van die Ryk gespeel.[2]
Hürrem Sultan was 'n boorling van Pools-Roethenië en was van Slawiese afkoms (onder andere aangehaal as "Pools" of "Rusyn"). Sy is gebore in die dorp van Rohatyn, 68 km Suid-Oos van Lwif, 'n groot stad van die Woiwodskap Roethenië in die Kroon van die Koninkryk van Pole (vandag in Wes-Oekraïne).
In die 1520's is sy deur die Krim-Tartare ontvoer tydens een van hul gereelde aanvalle op hierdie gebied. Hulle het haar as 'n slaaf gevat (waarskynlik eers na die Krim-stad van Kaffa, 'n belangrike sentrum van die slawe-handel, en later na Konstantinopel). Daarna is sy gestuur na die harem van Süleyman.
Mikhalon Lytvyn, ambassadeur van die groothertog van Litaue aan die Krim-khanaat het in sy De moribus tartarorum, lituanorum et moscorum ("Op die gebruike van die Tartare, Litaue en Moscovians", geskryf c. 1548–1551) vermeld dat:
Volgens bronne uit die laat 16de-eeu en vroeë 17de-eeu, soos die poolse digter Samuel Twardowski (oorlede 1661), wat hierdie onderwerp in Turkye ondersoek het, was Hürrem skynbaar die dogter van 'n Russies-Ortodokse priester.[4][5]
Roxelana het iewers tussen 1517 en 1520 by die keiserlike harem aangekom; beslis voor Süleyman die sultan in 1520 geword het. Sy het vinnig die aandag van haar meester getrek. Sy het gou Süleyman se mees prominente metgesel langs Gülfem en Mahidevran (ook bekend as Gülbahar) geword. Haar vreugdevolle gees en speelsheid het vir haar 'n nuwe naam verdien, Hürrem, van die Persiese Khorram, "die vrolike een". In die Istanbulse harem het Hürrem 'n mededinger teen Mahidevran geword terwyl sy haar invloed op die Sultan versterk het.
Onder sy pennaam, Muhibbi, het Sultan Süleyman hierdie gedig vir Hürrem Sultan geskryf:
"Troon van my eensame nis, my rykdom, my liefde, my maanlig.
My opregte vriend, my vertroueling, my bestaan, my Sultan, my een en enigste liefde.
Die mooiste onder die mooi...
My lente, my geseënde vrolike liefde, my dag, my geliefde, laggende blaar...
My plante, my soet, my roos, die een wat nie my ontstellend in hierdie wêreld laat voel...
My Istanbul, my Kraman, die aarde van my Anatolië
My Badakhshan, my Bagdad en Khorasan
My vrou van pragtige hare, my liefde van die skuins-voorkop, my liefde van oë vol vrolikheid...
Ek sal altyd jou lof sing
Ek, geliefde van die gekwelde hart, Muhibbi van die oë vol trane, ek is gelukkig."[6]
Hürrem Sultan het opgetree as Süleyman se hoofadviseur oor sake van die staat, sy het ook 'n invloed op die buitelandse beleid en internasionale politiek gehad. Hierdie posisie het haar as een van die magtigste en invloedryke vroue in die Ottomaanse geskiedenis gevestig.
Om hierdie rede is sy as 'n kontroversiële figuur gesien weens bewerings van haar manipulering van politieke figure en planne om haar politieke teenstanders te vermoor.
Sy het twee briewe aan Koning Sigismund II Augustus van Pole (regentskap 1548–1572) geskryf.
Haar invloed op die buitelandse beleid het vreedsame verhoudings tussen Pole en die Ottomaanse Ryk verseker wat uiteindelik gelei het tot die Pools-Ottomaanse alliansie.
Hürrem was betrokke by die konstruksie van 'n paar groot werke van openbare geboue. Onder haar eerste fondamente was 'n moskee, twee Koraniese skole (madrassa), 'n fontein, en 'n vroue-hospitaal naby die vroue se slawe-mark (Avret Pazary) in Konstantinopel (Haseki Sultan Kompleks). Dit is die eerste kompleks in Istanbul gebou deur die destydse nuwe imperiale argitek, Mimar Sinan. Sy het ook moskee-komplekse in Adrianopole en Ankara gebou.
Met Süleyman het sy vyf seuns en een dogter gehad.