Ian Lancaster Fleming (Mayfair, Londen, 28 Mei 1908 – Canterbury, 12 Augustus 1964) was 'n Britse skrywer, bekend vir die reeks boeke met die fiktiewe spioen James Bond as hoofkarakter.
Gebore in Londen op 28 Mei 1908, was Ian Fleming die jonger broer van die reisskrywer Peter Fleming. Hy is opgelei by Eton en die militêre kollege in Sandhurst. Daarna is hy na die buiteland om tale te studeer. Hy het in die jare voor die Tweede Wêreldoorlog as joernalis gewerk. Aan die begin van die oorlog is hy gehuur as persoonlike assistent van die Direkteur van Vlootintelligensie, Admiraal John Henry Godfrey. Fleming was by verskeie operasies in die oorlog betrokke. ’n Belangrike een hiervan was Operasie Goldeneye, wat deur hom ontwikkel is, om te verseker dat die Britte steeds via Gibraltar kon kommunikeer as Spanje uiteindelik by die Spilmoondhede sou aansluit. In 1944 is Fleming in beheer van die sogenaamde 30 Assault Unit gestel, en het later 'n lid van die T-Force-komitee geword.
Sy wedervaringe het hom die agtergrond gegee om goeie spioenasieverhale te skryf. Daar word selfs beweer dat sommige gebeure uit die Bond-verhale werklik gebeur het en dat die figuur van James Bond gebaseer is op 'n geheime agent wat werklik bestaan het. Gerugte dat die Bond-karakter op Fleming self gebaseer sou wees, is altyd deur Fleming ontken.
In die vroeë 1950's het Fleming spioenverhale begin skryf. Die hoofkarakter het 'n geheime agent van MI6, die Britse intelligensiediens, geword. Fleming het met die idee vir die naam vorendag gekom na die boek Birds of the West Indies, wat deur voëlkundige James Bond geskryf is. Fleming het van hierdie onopvallende naam gehou. Bond se kodenommer het 007 geword. Die dubbele nul in die stories dui op 'n gesag om dood te maak, maar is in werklikheid 'n skepping van Fleming self.
Fleming het altyd in die somer in Engeland gebly, maar in die winter het hy na sy Goldeneye-huis in Jamaika gereis, waar hy die meeste van sy Bond-stories geskryf het. In 1953 is die eerste boek gepubliseer: Casino Royale. Casino Royale het relatief ongemerk deur die algemene publiek gegaan. Die Amerikaanse televisiekanaal CBS het die boek in 1954 aangepas vir 'n regstreekse televisieprogram van Climax Mystery Theatre. Fleming se tweede boek Live and Let Die is in 1954 gepubliseer. Die verhaal speel grootliks in Jamaika af. Deur hierdie area goed te ken, kon Fleming 'n berg onbenullige kennis rondom die eiland lys. Sulke besonderhede was 'n treffende aspek van sy skryfstyl. Hierna het nog Bond-boeke verskyn. Soos die jare verbygegaan het, het die boeke gewild geword en genoeg geld ingesamel vir Fleming om in vrede by Goldeneye af te tree. Die boeke het veral in Noord-Amerika gewild geraak nadat president John F. Kennedy die boek From Russia with Love op sy lys van gunstelinge ingesluit het. Alhoewel From Russia with Love as een van Fleming se beste werke beskou word, eindig die boek wanneer Bond vergiftig op die 'wynrooi tapyt' ineenstort. Dit moet nog gesien word of Bond dit gaan oorleef.
Die rolprentbedryf het intussen belangstelling in Bond begin toon. Vervaardiger Gregory Ratoff het die regte op Casino Royale gekoop. Ratoff het Casino Royale voorlopig op ys geplaas en gesterf voordat hy met sy fliekplanne kon begin. Sy weduwee het die regte aan vervaardiger Charles K. Feldman verkoop. Feldman het egter niks met sy aankoop gedoen nie en rustig gewag. Op die ou end het die rolprent eers in 2006 vervaardig.
Die eiland Inagua het Fleming die idee gegee vir 'n nuwe boek. In dr. No (1958) het Fleming Bond se wapen gewysig nadat die wapenkenner Geoffrey Boothroyd hom in 'n brief meegedeel het dat Bond se Beretta 'n middelmatige vrouepistool was. In dr. No vervang Flemming die Beretta met 'n Walther PPK. MI6 se wapenmeester het die naam Majoor Boothroyd gekry. In die flieks is hierdie persoon beter bekend as Q (kwartiermeester). Hierna skryf Fleming die roman Goldfinger (1959).
In 1958 het CBS, wat voorheen Casino Royale geredigeer het, voorgestel om 'n James Bond-televisiereeks te maak. Fleming het ingestem en nuwe idees vir die reeks begin ontwikkel. Toe die reeks uiteindelik deurval, is die nuutontwikkelde verhale in die kortverhaalbundel For Your Eyes Only (1960) verwerk. Tog was daar nog fliekplanne. Fleming het Longitude 78 West saam met vervaardiger Kevin McClory en draaiboekskrywer Jack Whittingham begin skryf. Om 'n interessante, ietwat tydlose skurk te hê, het hulle met die idee van die organisasie SPECTRE vorendag gekom. Hierdie projek het egter ook nie van die grond af gekom nie en dit is uiteindelik gestaak. Fleming het nou dieselfde gedoen met die stories uit For Your Eyes Only, en dit verwerk tot die roman Thunderball (1961). McClory en Wittingham was nie gelys nie, en hulle het 'n regsgeding aanhangig gemaak: 'n stresvolle tydperk waarin Fleming, 'n swaar roker en drinker, 'n hartaanval gehad het. In Desember 1961 is 'n skikking bereik: van toe af moes verklaar word dat die boek gebaseer is op 'n filmintrige deur McClory, Wittingham en Fleming. Boonop het McClory die filmregte op die boek verkry.
In 1962 is The Spy Who Loved Me gepubliseer, waarin Fleming 'n treffende stylverandering aangebring het: die boek is in die eerste persoon vertel, vanuit die perspektief van die fiktiewe protagonis Vivienne Michel (wat selfs as mede-outeur erken is) . Die boek vertel haar lewensverhaal, totdat Bond haar per ongeluk van twee moordenaars red. Dieselfde jaar is die eerste James Bond-fliek vrygestel. Teen 1961 het Fleming die regte op al sy gepubliseerde en opkomende Bond-verhale (behalwe Casino Royale en Thunderball) aan Harry Saltzman verkoop. Albert R. Broccoli het ook belang gestel, maar het by Saltzman by EON Productions aangesluit. Hulle sou Thunderball as die eerste Bond-rolprent verkies het, maar weens die probleme met McClory het hulle op Dr. No (1962) besluit. Ian Fleming het gehoop dat David Niven die rol van Bond sou kry. Hy het ook sy neef Christopher Lee aanbeveel. Maar die rol het uiteindelik na Sean Connery gegaan. Fleming was aanvanklik nie gelukkig hiermee nie, hoewel hy Bond in On Her Majesty's Secret Service (1963), ’n Skotse pa, gegee het.
Fleming het ook die stel van die tweede rolprent From Russia with Love (1963) besoek en tevredenheid uitgespreek met die keuse van akteurs. Terwyl die derde film, Goldfinger (1964), in vervaardiging was, is Fleming op 12 Augustus 1964 aan 'n hartaanval dood. Dieselfde jaar is 'n kinderboek deur hom gepubliseer: Chitty Chitty Bang Bang.
Fleming se laaste roman, The Man with the Golden Gun, is postuum gepubliseer. Die boek is nie baie goed ontvang nie. Dit het ook 'n mate van kontroversie ontketen, weens onbevestigde gerugte dat die boek moontlik deur 'n spookskrywer (Christopher Wood) voltooi is. Die laaste versameling kortverhale Octopussy en The Living Daylights is in 1966 gepubliseer.
Die reeks James Bond-boeke is later voortgesit. In die laat 1960's is 'n boek gepubliseer deur Kingsley Amis, onder die skuilnaam Robert Markham. Vanaf die 80's het die reeks weer aan die gang gekom, onder John Gardner en later Raymond Benson. Van 2005 tot 2009 het Charlie Higson die Young Bond-reeks geskryf wat in Bond se tienerjare gedurende die tussenoorlogse jare afspeel.
In 2008, ter geleentheid van Fleming se eeufees, is die boek Devil May Care geskryf deur Sebastian Faulks, wat Fleming se skryfstyl vir die geleentheid gebruik het. In 2010 is aangekondig dat Jeffery Deaver nuwe Bond-romans gaan skryf.