Ilja Repin | |
---|---|
Selfportret, 1878 (Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg). | |
Geboortenaam | Ilja Jefimowitsj Repin (Илья́ Ефи́мович Ре́пин) |
Gebore | 5 Augustus [O.S. 24 Julie] 1844 Tsjoegoejef, Rusland (nou in die Oekraïne) |
Sterf | 29 September 1930 (op 86) Kuokkala, Finland (nou in Rusland) |
Nasionaliteit | Rus |
Veld | Skilderkuns |
Opleiding | Keiserlike Kunsakademie |
Beweging | Realisme |
Ilja Jefimowitsj Repin (Russies: Илья́ Ефи́мович Ре́пин; Oekraïens: Ілля Юхимович Рєпін); 5 Augustus [O.S. 24 Julie] 1844 – 29 September 1930) was ’n vooraanstaande Russiese skilder[1] en beeldhouer. ’n Groot deel van sy werk is gewy aan sy vaderland, Oekraïne.[2] Sy realistiese werke toon dikwels psigologiese diepte en spanning binne die bestaande maatskaplike orde.
Repin is gebore in Tsjoegoejef, Rusland (nou in Oekraïne). Sy ouers was Russiese militêre setlaars. In 1866, nadat hy ikoon- en portretskildering bestudeer het, is hy na Sint Petersburg, waar hy tot die Keiserlike Kunsakademie toegelaat is. Van 1873 tot 1876 het op sy akademiese toelae in Italië gereis en in Parys, Frankryk, gewoon waar hy aan die Franse Impressionisme blootgestel is. Dit het ’n blywende invloed gehad op sy gebruik van lig en kleur. Sy styl was egter altyd nader aan die ou Europese meesters, veral Rembrandt, en hy het nooit self ’n Impressionis geword nie.
Repin het bekend geword deur sy skildery Bootslepers op die Wolga, waarin die lot van hierdie arme mense uitgebeeld is. Hy was deur sy hele loopbaan aangetrokke tot gewone mense soos hyself, en hy het dikwels plattelandse mense geskilder, hoewel hy later ook lede van die Russiese imperialistiese adel, die intelligentsia en die aristokrasie geskilder het, onder wie tsaar Nikolaas II.
Kort voor die sluipmoord op tsaar Aleksander II in 1881 het hy ’n reeks skilderye geskilder met die rewolusionêre beweging as tema. In 1885 het Repin een van sy psigologies mees intense skilderye voltooi: Iwan die Verskriklike en Sy Seun. Dit beeld ’n geskokte Iwan uit wat sy sterwende seun omhels nadat hy hom in ’n woedebui doodgeslaan het. In teenstelling met hom is sy seun kalm, amper Christus-agtig.
Een van Repin se mees komplekse skilderye, Antwoord van die Zaporozje-Kosakke, het baie jare van sy lewe in beslag geneem. Hy wou dit skilder as ’n studie in lag, maar het ook geglo dit betrek die ideale van vryheid, gelykheid en broederskap; dus Kosak-republikanisme. Hy het dit in die laat-1870's begin en in 1891 voltooi. Ironies is dit dadelik gekoop deur die tsaar, wat 35 000 roebel daarvoor betaal het – ’n buitensporige bedrag vir dié tyd.
In sy latere jare het Repin baie van sy beroemde tydgenote geskilder, soos die skrywer Leo Tolstoi, die wetenskaplike Dmitri Mendelejef en die komponis Modest Moessorgski.
Repin het self sy huis in Kuokkale, Finland (nou Repino in Sint Petersburg), ontwerp. Ná die Oktober-rewolusie het Finland homself onafhanklik verklaar. Repin is deur verskeie Russiese instellings genooi om na sy vaderland terug te keer, maar hy het dit van die hand gewys met die verskoning dat hy te oud was om so ver te reis. Hy het in dié tyd godsdienstige onderwerpe geskilder, hoewel sy behandeling daarvan gewoonlik innoverend eerder as tradisioneel was. Met die uitsondering van ’n portret van die hoof van die Russiese voorlopige regering, Aleksander Kerenski, het hy nooit iets beduidends geskilder wat met die Russiese Rewolusie of die Sowjetunie te doen gehad het nie.
Repin is in 1930 in Kuokkala dood. Kuokkala is later aan die Sowjetunie afgestaan en is hernoem tot Repino (Leningrad-oblast).