Iwan IV | |
---|---|
Tsaar van die hele Rusland | |
'n Gesigsrekonstruksie van Iwan die Verskriklike, deur Michail Gerassimof. | |
Dinastie | Rjoerik |
Bewind | 1547-1584 |
Kroning | 16 Januarie 1547 |
Volle naam | Iwan Wasilijewitsj |
Gebore | 25 Augustus 1530 |
Moskou | |
Gesterf | 18 Maart 1584 |
Moskou | |
Voorganger | Wasili III |
Opvolger | Fjodor I |
Gade | Anastasia Romanowna Zacharina-Joerijewa en vyf ander |
Vader | Wasili III |
Moeder | Jelena Glinskaja |
Iwan IV Wasiljewitsj (Russies: Иван IV Васильевич) (25 Augustus 1530 - 18 Maart 1584) was van 1533 tot 1547 grootprins van Moskowië en van 1547 tot met sy dood die eerste amptelike tsaar van Rusland.[1] Hy is beter bekend as Iwan die Verskriklike (Russies: Иван Грозный, letterlik Iwan die Ontsagwekkende of Formidabele).[2][3] Iwan se bewind is gekenmerk deur Rusland se oorgang van 'n Middeleeuse staat tot 'n ryk, maar teen 'n ontsaglike prys vir sy volk en vir die land se ekonomie op lang termyn.
Iwan was die oudste seun van Wasili III by sy tweede vrou, Jelena Glinskaja, en 'n kleinseun van Iwan III. Hy het sy pa ná dié se dood opgevolg toe hy drie jaar oud was. 'n Groep hervormers het in 1547 om Iwan byeengekom en hom as tsaar gekroon toe hy 16 jaar oud was. In die vroeë jare van sy bewind het Iwan saam met 'n groep hervormers bekend as die Verkose Raad regeer en die Zemski Sobor as 'n nuwe vergadering gestig. Hy het ook die regskode hersien en hervormings ingestel, insluitende elemente van plaaslike selfregering. Verder het hy die eerste Russiese staande mag, die streltsi, gestig. Iwan het die khanate Kazan en Astrachan verower en Rusland se gebied aansienlik uitgebrei.
Nadat hy sy mag gekonsolideer het, het Iwan ontslae geraak van sy raadgewers in die Verkose Raad en die Lyflandse Oorlog van 1558 tot 1583 begin. Dit het Rusland verwoes weens 'n onvermoë om beheer oor Lyfland te neem en die verlies van Ingermanland, maar hom in staat gestel om groter outokratiese beheer oor die Russiese adel te kry. Hy het dit gewelddadig reggekry met behulp van Rusland se eerste politieke polisie, die opritsjniki. Die latere jare van Iwan se bewind is gekenmerk deur die slagting van Nowgorod en die afbrand van Moskou deur die Tartare. Iwan het ook kulturele verbeterings aangebring, soos die invoer van die eerste drukpers, en verskeie prosesse begin wat vir eeue sou duur, soos die verbetering van bande met ander Europese state, veral Engeland, oorloë teen die Ottomaanse Ryk en die geleidelike oorwinning van Siberië.
Kontemporêre bronne het uiteenlopende menings van Iwan se komplekse persoonlikheid gegee. Hy is beskryf as intelligent en toegewy, maar ook geneig tot paranoia, woede en oomblikke van geestelike onstabiliteit, wat met die ouderdom vererger het.[4][5][6] Historici glo hy het sy oudste seun en erfgenaam, Iwan Iwanowitsj,[7] in 'n woedeaanval vermoor, en hy was dalk ook verantwoordelik vir die miskraam van laasgenoemde se ongebore kind. Dit het veroorsaak dat sy jongste seun, die polities onbekwame Fjodor Iwanowitsj, die troon geërf het – 'n man wie se bewind en kinderlose dood regstreeks gelei het tot die einde van die Rjoerik-dinastie en die begin van die Tyd van Beroeringe.
Die Afrikaanse woord "verskriklik" word gewoonlik gebruik om die Russiese грозный (grozni) in Iwan se bynaam te vertaal, maar dit is nie heeltemal reg nie: Die woord "verskriklik" hier weerspieël die ouer gebruik van "die inboeseming van vrees", "gevaarlik", "magtig". Dit dra egter nie die moderner betekenis oor van "verskriklik" soos "skrikwekkend" nie.[8] Volgens Edward L. Keenan kom die beeld van Iwan in populêre kultuur as 'n tiran van verpolitiseerde Westerse geskrifte oor die Renaissance-tydperk.[9] Anti-Russiese propaganda gedurende die Lyflandse Oorlog het Iwan uitgebeeld as 'n sadistiese, Oosterse despoot.[1] Vladimir Dal definieer grozni as 'n argaïese gebruik en 'n bynaam vir tsaars: "dapper, voortreflik en gesaghebbend; "iemand wat vrees by die vyand inboesem, maar 'n volk gehoorsaam hou".[10]
Moderne geleerdes het ook al ander vertalings voorgestel, soos "formidabel"[11][12][13] en "ontsagwekkend".[1]
Iwan was die oudste seun van Wasili III en sy tweede vrou, Jelena Glinskaja. Wasili se moeder, Sophia Palaiologina, was 'n Oos-Romeinse prinses en lid van die Bisantynse Palaiologos-familie. Sy was die dogter van Thomas Palaiologos, die jonger broer van die laaste Bisantynse keiser, Konstantyn XI Palaiologos (bewind: 1449-'53). Jelena se moeder was 'n Serwiese prinses en haar pa se familie, die Glinski's, was 'n adellike familie wat gebaseer was in die Groothertogdom Litaue en aanspraak gemaak het op afstamming van Ortodokse Hongaarse adellikes en die Mongoolse heerser Mamai (1335-'80).[14][15][16][17]
Iwan is op 25 Augustus gebore en is genoem na Johannes die Doper, wat eeue tevore op 29 Augustus onthoof is.[18] Volgens tradisie is die Kerk van die Hemelvaart in Kolomenskoje ter ere van Iwan se geboorte gebou.
Toe Iwan drie jaar oud was, is sy vader aan bloedvergifting dood ná 'n abses en ontsteking in sy been. Benewens Iwan was net twee van Wasili se ses broers oor, Andrei en Joeri. Iwan is op versoek van sy vader uitgeroep tot grootprins. Sy moeder het aanvanklik as regentes opgetree, maar sy is in 1538 oorlede[19][20] toe Iwan net agt jaar oud was; baie glo sy is vergiftig.
Die regentskap het daarna gewissel tussen verskeie strydende bojarefamiljies wat om beheer baklei het. Volgens sy eie briewe het Iwan en sy jonger broer, Joeri, dikwels verwaarloos en beledig gevoel deur die magtige bojare van die Sjoeiski- en Belski-familie. In 'n brief aan Andrei Koerbski onthou Iwan hy en Joeri is soos die kinders van armes grootgemaak. "Hoe het ek nie gely weens 'n gebrek aan kos en klere nie!"[21] Die gebeure word deur die historikus Edward Keenan in twyfel getrek omdat hy onseker is oor die egtheid van die bron daarvan.[22]
Op 16 Januarie 1547, op 16-jarige ouderdom, is Iwan in die Moskouse Kremlin tot tsaar gekroon. Hy was die eerste Russiese monarg wat as "Tsaar van die Hele Rusland" gekroon is, deels in navolging van sy oupa, Iwan III. Voorheen is heersers van Moskou as grootprinse (groothertoë) gekroon, maar Iwan III het die titel "Monarg van die Hele Rusland" aangeneem en die titel tsaar in sy korrespondensie met ander monarge gebruik.[23] Twee weke ná sy kroning is Iwan die Verskriklike getroud met sy eerste vrou, Anastasia Romanowna, 'n lid van die Romanof-familie, wat die land se eerste tsaritsa geword het.
Deur as tsaar gekroon te word het Iwan 'n boodskap aan die wêreld en aan Rusland gestuur dat hy nou die opperheerser van die land is, en dat sy wense nie bevraagteken moet word nie. Volgens die historikus Janet Martin het die nuwe titel "'n aanname van mag gesimboliseer wat gelykstaande en parallel was met dié van die voormalige Bisantynse keiser en die Tartaarse khan, wat albei in Russiese bronne as tsaar bekend was. Die politieke effek was om Iwan se posisie te verhef."[24] Die titel het nie net die kroon gewaarborg nie, maar ook aan Iwan 'n nuwe dimensie van mag gegee wat op die ou end aan godsdiens verbind was. Hy was nou 'n "goddelike" leier wat aangestel is om God se wil uit te voer, want in "kerklike geskrifte is konings van die Ou Testament "tsaars" genoem en Christus die "Hemelse Tsaar".[25] Die nuwe titel is daarna van geslag tot geslag oorgedra en "daaropvolgende Moskouse heersers het voordeel getrek uit die goddelike aard van die Russiese monarg se mag".[26]
Nes monarge van Europa het die eerste Russiese tsaars mitologiese stamboeke aanvaar wat hulle aan antieke Rome gekoppel het. In Die Verhaal van die Prinse van Wladimir is hulle afkoms teruggespeur na Rjoerik, die eerste prins van Nowgorod in Noord-Rusland.[27]
Ondanks die rampspoedige gevolge van die Groot Brand van 1547 in Moskou, was die vroeë deel van Iwan se bewind vol vreedsame hervormings en modernisering. Iwan het die regskode hersien; 'n staande leër (die streltsi) op die been gebring;[28] die eerste Russiese parlement van feodale landgoede (die Zemski Sobor) en die raad van die adellikes (die Verkose Raad) daargestel; en die Kerk se rituele en ekklesiastiese regulasies oor die hele land gelykvormig gemaak. Hy het ook plaaslike selfregering in plattelandse gebiede ingestel.
In 1553 het Iwan 'n ernstige siekte opgedoen waarvan hy vermoedelik nie sou herstel nie. Terwyl hy op sy veronderstelde sterfbed was, het hy die bojare gevra om 'n eed van getrouheid af te lê aan sy oudste seun, wat toe 'n baba was. Baie bojare het geweier, want hulle het geglo hy sou nie sy siekte oorleef nie. Dit het Iwan woedend gemaak en sy wantroue in die bojare vergroot. Wreedaardige vergeldings en teregstellings het gevolg.[29]
In 1553 het Iwan die stigting van die Moskouse drukkerswerf gelas en die eerste drukpers is ingevoer en in Rusland bekend gestel. Verskeie godsdiensboeke in Russies is in die 1550's en 1560's gedruk. Die nuwe tegnologie het ontevredenheid onder die tradisionele skribas veroorsaak, en die drukkerswerf is afgebrand. Die druk van boeke is egter in 1568 hervat.
Iwan het die Sint Basilius-katedraal in Moskou laat bou ter herdenking van die oorname van Kazan. Ander gebeure uit dié periode sluit in die bekendstelling van die eerste wette wat die beweegbaarheid van die kleinboere beperk het. Dit sou eindelik lei tot die instelling van lyfeienskap onder die bewind van tsaar Boris Godoenof in 1597.[30][31][32]
Die kombinasie van swak oeste, verwoesting wat deur die opritsjnina en Tartaarse plundertogte meegebring is, die uitgerekte oorlog en oorbevolking het 'n ernstige sosiale en ekonomiese krisis in die tweede helfte van Iwan se bewind teweeggebring.
Probleme in die 1560's het 'n verandering in Iwan se beleide teweeggebring. Rusland is verwoes deur 'n kombinasie van droogte, hongersnood, onsuksesvolle oorloë teen die Pools-Litause Gemenebes, Tartaarse invalle en die seehandelsblokkade wat ingestel is deur Swede, Pole en die Hanseverbond. Iwan se eerste vrou, Anastasia Romanowna, is in 1560 oorlede en vergifting is vermoed. Die persoonlike tragedie het Iwan swaar getref en vermoedelik sy persoonlikheid, indien nie sy geestesgesondheid nie, ernstig beïnvloed. Terselfdertyd het een van Iwan se raadgewers, prins Andrei Koerbski, na Litaue oorgeloop, bevel van die Litause troepe oorgeneem en die Russiese streek Welikije Loeki verwoes. Dié reeks gebeure het Iwan die adel laat wantrou.
Op 3 Desember 1564 het Iwan Moskou verlaat vir Aleksandrowa Sloboda. Hier het hy twee briewe gestuur waarin hy sy abdikasie aankondig weens die beweerde bedrog en verraad van die aristokrasie en kerklikes. Die bojarehof was nie in staat om te regeer in Iwan se afwesigheid nie en was bang vir wraak deur die Moskouse burgers. 'n Afvaardiging van bojare is na Aleksandrowa Sloboda om Iwan te smeek om die troon te herbestyg.[33][34] Iwan het ingestem op voorwaarde dat hy absolute mag kry. Hy het die reg opgeëis om verraaiers skuldig te vind, tereg te stel en beslag te lê op hulle eiendom sonder inmenging deur die Bojareraad of Kerk. Iwan het ook die stigting van die opritsjnina aangekondig.[35]
Aleksandrowa Sloboda was 'n aparte gebied binne die grense van Rusland, hoofsaaklik in die streek van die voormalige Republiek Nowgorod in die noorde. Iwan het eksklusiewe mag in die gebied gehad. Die Bojareraad het oor die res van die land regeer. Iwan het ook 'n persoonlike wag bekend as die opritsjniki aangestel. Daar was aanvanklik 1 000 van hulle.[34][36] Die opritsjniki het sosiale en ekonomiese voorregte gehad en moes net aan Iwan verantwoording doen.[34]
Die teiken van die eerste golf vervolgings was hoofsaaklik die prinslike clans van Rusland, veral die invloedryke families van Soezdal. Iwan het vooraanstaande lede van die bojareclans laat teregstel, verban of die tonsuur gegee (hulle kruin laat skeer en hulle so gedwing om monnike te word) op twyfelagtige aanklagte van sameswering. In 1566 het Iwan die opritsjnina na agt sentrale distrikte uitgebrei. Van die 12 000 adellikes het 570 opritsjniki geword en die res is verban.[37]
Onder die nuwe politieke stelsel is landgoede aan die opritsjniki gegee, maar anders as vorige grondbesitters kon hulle nie vir hulle dade verantwoordelik gehou word nie. Die mans "het feitlik alles gevat wat die kleinboere besit het en hulle gedwing om in een jaar soveel te betaal as wat hulle voorheen in tien jaar betaal het".[38] Dié onderdrukking het daartoe gelei dat al hoe meer kleinboere gevlug het. Dit het weer die algehele produksie verlaag en die prys van graan het vertiendubbel.
Iwan was boetvaardig ná die dood van sy seun en sy dade met die opritsjnina, en hy het agterna lyste van Christelike gestorwenes na kloosters gestuur en gevra dat vir almal gebid word.[39]
Toestande onder die opritsjnina is versleg deur die epidemie van 1570, 'n pes wat 10 000 lewens in Nowgorod en daagliks 600 tot 1 000 in Moskou geëis het. Tyens die skrikwekkende toestande van die epidemie, 'n hongersnood en die voortslepende Lyflandse Oorlog het Iwan begin vermoed die adel van die ryk stad Nowgorod beplan om te vlug en die stad onder beheer van die Groothertogdom Litaue te plaas. 'n Burger van Nowgorod, Pjotr Wolinets, het die tsaar gewaarsku oor die beweerde sameswering, wat volgens moderne historici nie waar was nie. In 1570 het Iwan die opritsjniki opdrag gegee om die stad te plunder. Hulle het die stad en omringende dorpe afgebrand en gestroop, en die stad sou nooit weer sy voormalige prominensie terugkry nie.[40]
Die ongevallesyfer verskil grootliks van bron tot bron. Die Eerste Pskofse Kroniek raam die getal slagoffers op 60 000.[40][41]
Volgens die Derde Nowgorodse Kroniek het die slagting vyf weke geduur. Mans, vroue en kinders is op grond van onbewese beskuldigings van verraad aan sleë vasgemaak en in die vriesende water van die Wolchofrivier gejaag. Iwan het die res van die inwoners laat martel en duisende laat vermoor.[42] Feitlik elke dag is 500 of 600 inwoners vermoor, baie deur verdrinking.
Die amptelike syfer is egter net 1 500 van Nowgorod se "groot" inwoners (adellikes) en omtrent dieselfde getal "kleiner" inwoners. Baie moderne navorsers raam die slagoffers op 2 000 tot 3 000.[43] Baie oorlewendes is verban.
Die opritsjnina het nie lank ná die verwoesting van Nowgorod voortbestaan nie. Tydens die Russies-Krimse Oorlog van 1571-'72 kon die opritsjniki hulle nie teen 'n gewone leër waardig bewys nie. In 1572 het Iwan die opritsjnina beëindig en die opritsjniki ontbind.
In September of Oktober 1575[44] het Iwan sy staatsman van Tartaarse afkoms, Simjon Bekboelatowitsj, as nuwe grootprins van die hele Rusland aangestel.[45] Simjon was omtrent 'n jaar lank 'n soort seremoniële staatshoof. Volgens die Engelse gesant Giles Fletcher die Ouere het Simjon op Iwan se bevel beslag gelê op al die grond wat aan kloosters behoort het, en Iwan het gemaak of hy die besluit teenstaan. Toe Iwan die troon in September 1576 terugkry,[44] het hy 'n deel van die gekonfiskeerde grond teruggegee en die res gehou.
In 1547 het Hans Schlitte, Iwan se agent, ambagslui uit Duitsland gewerf om in Rusland te werk. Hulle is almal in Lübeck in hegtenis geneem op versoek van Pole en Lyfland. Die Duitse handelaarsmaatskappye het die nuwe hawe geïgnoreer wat Iwan in 1550 aan die Narwarivier in die Oossee laat bou het en steeds goedere in die Oosseehawens van Lyfland laat aflewer. Rusland het afgeslote van die seehandel gebly.
Iwan het noue bande met Engeland aangeknoop. Russies-Engelse betrekkinge kan teruggespeur word na 1551, toe die Muscovy Company deur Londense handelaars gestig is. Iwan het die Witsee en die hawe van Archangelsk vir die maatskappy oopgestel en aan hulle die voorreg om handel te dryf toegeken sonder dat hulle die gewone doeaneheffings betaal het.[46]
Deur middel van Engelse handelaars het Iwan 'n lang korrespondensie met Elizabeth I van Engeland gevoer. Die koningin was meer op handel ingestel, maar Iwan was geïnteresseerd in 'n militêre bondgenootskap.[47] Iwan het haar selfs eenkeer gevra om te trou, en tydens sy swak verhouding met die bojare het hy haar 'n waarborg gevra dat hy asiel in Engeland kan kry as sy bewind in gevaar sou wees.[48] Elizabeth het ingestem, solank hy vir homself kon sorg tydens sy verblyf daar.[49]
Iwan het ook met oorsese Ortodokse leiers gekorrespondeer.[50] Hy was die eerste leier wat op groot skaal met die vrye kosakke begin saamwerk het. In 1549 het Iwan die Don-Kosakke opdrag gegee om die Krim aan te val.[51]
Toe Iwan 'n kind was, het leërs van die khanaat Kazan Noordoos-Rusland herhaaldelik aangeval.[52] In die 1530's het die khan van die Krim 'n aanvalsverbond gesluit met Safa Giray van Kazan, 'n familielid van hom. Toe Safa Giray Rusland in Desember 1540 inval, het die Russe Tartare van die Qasimkhanaat gebruik om hom te keer. Safa Giray moes noodgedwonge na sy eie grense terugtrek.
'n Faksie het die gesag van Safa Giray in Kazan ondermyn. 'n Pro-Russiese groep, wat deur Sjah-Ali van die Qasimkhanaat verteenwoordig is, het genoeg gewilde steun gekry om verskeie pogings aan te wend om die troon in Kazan oor te neem.
In 1545 het Iwan 'n ekspedisie na die Wolgarivier gestuur om sy steun aan die pro-Russe te wys.
Op 16 Junie 1552 het Iwan 'n sterk Russiese leër na Kazan gelei. Die laaste beleg van die Tartaarse hoofstad het op 30 Augustus begin. Die stad se watertoevoer is afgesny en die mure deurbreek. Kazan is eindelik op 2 Oktober verower en 'n groot deel van die bevolking is vermoor.
Iwan het sy oorwinning gevier deur verskeie kerke met Oosterse kenmerke te laat bou, waarvan die Sint Basilius-katedraal op Rooiplein in Moskou die bekendste is.
In veldtogte in 1554 en 1556 het Russiese soldate die khanaat Astrachan aan die mond van die Wolgarivier verower. Die anneksasie van die Tartaarse khanate het die verowering van groot gebiede beteken, asook toegang tot groot markte en beheer oor die hele lengte van die Wolga. Die onderwerping van die Moslemse khanate het Rusland in 'n ryk omskep.[53]
In 1568 het die Ottomaanse Ryk 'n plan bedink om die Wolga en die Don met 'n kanaal te verbind. In die somer van 1569 het 'n groot mag van duisende soldate Astrachan beleër en die werk aan die kanaal begin, terwyl 'n Ottomaanse vloot Azof beleër het.
Vroeg in 1570 het Iwan se ambassadeurs 'n verdrag in Konstantinopel onderteken wat vriendskaplike betrekkinge tussen die sultan en die tsaar herstel het.[54]
In 1558 het Iwan die Lyflandse Oorlog begin in 'n poging om toegang tot die Oossee en sy groot handelsroetes te kry. Die oorlog, wat 24 jaar geduur het, was eindelik onsuksesvol; dit het Swede, die Groothertogdom Litaue, die Pools-Litause Gemenebes en die Duitse Orde van Lyfland betrek. Die uitgerekte oorlog het byna die ekonomie vernietig, en die opritsjnina het die regering versteur. Intussen het die Groothertogdom Litaue en Pole verenig, en die Pools-Litause Gemenebes het 'n energieke leier, Stephen Báthory, gekry wat ondersteun is deur Rusland se suidelike vyand, die Ottomaanse Ryk. Iwan se ryk is van weerskante deur twee van dié tyd se grootste moondhede gedruk.
In 1579-'81 het Báthory 'n reeks aanvalle teen Moskowië geloods om Lyfland van Moskowië te probeer afsny. In die eerste aanval in 1579 het hy Polotsk met 22 000 soldate terugverower. In die tweede aanval, in 1580, het hy Welikije Loeki met 'n mag van 29 000 soldate ingeneem. In 1581 het hy die Beleg van Pskof begin met 'n leër van 100 000 soldate.
In die latere jare van Iwan se bewind is Moskowië se suidelike grense deur Tartare van die Krim versteur, hoofsaaklik om slawe te vang.[55] Khan Devlet I Giray van die Krim het die Moskoustreek herhaaldelik aangeval. In 1571 het 'n Krim- en Turkse leër van 40 000 soldate 'n grootskaalse strooptog geloods. Weens die Lyflandse Oorlog was Moskou se garnisoen net 6 000 soldate sterk, en hulle kon nie die khan se aantog verhinder nie. Sonder teenstand het Devlet onbeskermde dorpe om Moskou verwoes en die Groot Brand in Moskou (1571) veroorsaak. Historici raam die slagoffers van die brand op tussen 10 000 en 80 000.
Om vrede met Devlet Giray te koop, moes Iwan afstand doen van sy aanspraak op Astrachan ten gunste van die Krim. Die voorgestelde oordrag was egter net 'n diplomatieke skuif en is nooit regtig voltooi nie. Die nederlaag het Iwan woedend gemaak. Tussen 1571 en 1572 is voorbereidings in opdrag van hom getref en innoverende versterkings is aan die ander kant van die Okarivier opgestel. Dit het die grens afgebaken.
Die volgende jaar het Devlet Moskou weer aangeval, dié keer met 'n sterk horde.[56] Die Russiese leër was die helfte so groot, maar was ervare en is deur die streltsi met moderne wapens ondersteun. Anders as in die nederlaag van 1571, was hulle ook nie meer deur die opritsjnina verdeel nie.[57] Op 27 Julie het die horde deur die verdedigingslinie aan die Oka gebreek en na Moskou beweeg. Die Russiese troepe het nie tyd gehad om hulle voor te keer nie, maar het die Tartare van agter af aangeval. Die khan het net 30 km van Moskou halt geroep, omgedraai en sy hele leër op die Russe afgestuur. Ná 'n paar dae van gevegte het die Russe die Tartare omsingel en aangeval. Die Tartare is heeltemal verslaan en het gevlug.[58]
Gedurende Iwan se bewind het Rusland 'n grootskaalse verkenning en kolonialisasie van Siberië begin. In 1555, kort ná die verowering van Kazan, het die Siberiese khan, Jadegar, en die Nogai-horde, onder khan Ismail, trou aan Iwan gesweer in die hoop dat hy hulle teen hulle teenstanders sou help. Jadegar kon egter nie die volle som van die heffings wat hy aan die tsaar moes betaal, insamel nie en Iwan het dus niks gedoen om dié onbevoegde vasal te red nie. In 1563 is Jadegar se bewind deur khan Koetsjoem omvergewerp en hy het Jadegar vermoor. Koetsjoem het geweier om heffings aan Moskou te betaal.
In 1558 het Iwan die Stroganof-handelaarsfamilie die patent gegee vir die kolonisasie van die streek aan die Kamarivier en in 1574 die grond oor die Oeralgebergte aan die riviere Toera en Tobol. Die familie het ook toestemming gekry om forte aan die Ob- en Irtisjrivier te bou. Omstreeks 1577 het die Stroganofs die kosakleier Jermak Timofejewitsj aangestel om hulle grondgebied teen aanvalle van Koetsjoem te beskerm.
In 1580 het Jermak sy verowering van Siberië begin. Met 540 kosakke het hy gebiede geïnfiltreer wat aan Koetsjoem heffings betaal het. Hy het druk op die verskeie familiegebaseerde stamme uitgeoefen en hulle oorreed om hulle lojaliteit te verskuif en eerder heffings aan Rusland te betaal. Sommige het vrywillig ingestem, terwyl ander beter terme as met Koetsjoem aangebied is en nog ander gedwing is. Jermak het ook forte in die nuut verowerde gebiede laat oprig.
Die veldtog was suksesvol en Jermak het die Siberiese leër in 'n geveg verslaan, maar hy het versterkings nodig gehad. Hy het gesante na Iwan die Verskriklike gestuur en verklaar dat die gebiede van Siberië wat hy verower het, deel van Rusland is. Dit het die Stroganofs, wat Siberië vir hulleself wou hou, woedend gemaak. Iwan het ingestem om die kosakke te help deur streltsi te stuur, maar dié is op pad van verhongering dood. Die plaaslike volke het die kosakke verslaan, Jermak is dood en die oorlewendes het Siberië onmiddellik verlaat. Eers in 1586, twee jaar ná Iwan se dood, sou die Russe daarin slaag om 'n vastrapplek in Siberië te kry deur die stad Tjoemen te stig.
Iwan die Verskriklike het minstens ses vroue (moontlik agt) gehad, maar net vier is deur die Kerk erken. Drie van hulle is na bewering vermoor, óf deur sy vyande óf deur mededingende aristokratiese families wat wou hê hulle dogters moes met hom trou.[8] Hy het nege kinders gehad.
In 1580 het sy erfgenaam, tsarewitsj Iwan Iwanowitsj, getrou met Jelena Sjeremetewa van die adellike familie Sjeremetef,[59] wat 'n seldsame voorbeeld was van die dogter van 'n bojaar wat in die dinastie ingetrou het.[60]
Op 19 November [O.S. 9 November] 1581 het Iwan Jelena betig omdat sy nie behoorlik aangetrek was vir haar gevorderde swangerskap nie, en dit het tot 'n rusie tussen Iwan en sy seun gelei.[61] Historici glo oor die algemeen Iwan het sy seun in 'n woedeaanval vermoor[7] deur die jonger man met sy gepunte staf te slaan.[62] Jelena het ook binne 'n paar uur ná die voorval 'n miskraam gehad.[61]
Volgens die historikus Simon Sebag Montefiore het Iwan ook 'n affair gehad met die howeling Fjodor Basmanof. Toe die magnaat Dmitri Oblenski Owtsjinin vir Basmanof toesnou: "Ons dien die tsaar op nuttige maniere, soos jy met jou vuil sodomitiese dade," het Iwan hom met warm water gebrand en doodgesteek.[66]
Iwan was 'n taamlik talentvolle digter en komponis. Sy Ortodokse liturgiese himne, "Stichiron No. 1 ter Ere van sint Petrus", en dele van sy briewe is deur die Sowjetse komponis Rodion Sjtsjedrin getoonset.
Die opname, die eerste CD wat in die Sowjetunie vervaardig is, is in 1988 uitgereik ter herdenking van 'n millennium van die Christendom in Rusland.[67][68]
Iwan is op 28 Maart [O.S. 18 Maart] 1584[69] aan 'n beroerte dood terwyl hy skaak met die Russiese staatsman Bogdan Belski gespeel het.[69] Hy is opgevolg deur sy middelste seun, Fjodor,[62] 'n swaksinnige figuur.[70]
Fjodor is in 1598 kinderloos dood, en dit het die Tyd van Beroeringe begin.
Patrilineale herkoms |
---|
Patrilineale (ook patriliniêre of patrilineêre) herkoms is die beginsel agter lidmaatskap in koningshuise, want dit kan deur die eeue nagespeur word. Dit beteken as Iwan IV 'n histories akkurate huisnaam moes kies, dit die Huis van Rjoerik sou gewees het, omdat al die mans deur die vaderlike linie in sy stamboek afstammelinge van dié huis was.
|
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link) CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)