’n Jaar is die relatiewe eenheid van tyd wat die tydperk beskryf waarin ’n planeet om sy ster wentel. In algemene taalgebruik is dit die tyd waarin die Aarde een maal om die Son wentel.
Vanweë die Aarde se ashelling kom vier seisoene in ’n jaar voor, en dit word gekenmerk deur ’n verandering in die weer, in die ure daglig en in die plantegroei en vrugbaarheid van die grond. In gematigde en subarktiese streke word vier seisoene gewoonlik erken: lente, somer, herfs en winter. In tropiese en subtropiese streke is daar nie gedefinieerde seisoene nie; in die trope kan wel tussen ’n nat en droë seisoen onderskei word.
’n Kalenderjaar is min of meer die getal dae wat die Aarde se wentelperiode duur, soos aangedui op ’n gegewe kalender. Volgens die Gregoriaanse, of moderne, kalender is ’n jaar 365 dae lank. Elke vier jaar word ’n dag bygetel om op te maak vir die feit dat die Aarde se wentelbaan om die Son nie in volledige dae geskied nie. Só ’n jaar word ’n skrikkeljaar genoem. Dieselfde gebeur met die Juliaanse kalender. Volgens eersgenoemde kalender is die lengte van ’n kalenderjaar (of gemiddelde jaar) oor die hele lengte van die skrikkelsiklus van 400 jaar altesaam 365,2425 dae.
Die ISO-standaard ISO 80000-3, bylae C, gebruik die simbool a (vir die Latynse annus) vir ’n jaar van óf 365 óf 366 dae. In Afrikaans word die afkorting j. meestal gebruik.
In sterrekunde is ’n Juliaanse astronomiese jaar ’n tydseenheid van 365,25 dae van presies 86 400 sekondes (SI-eenheid) elk, en dus presies 31 557 600 sekondes.[1]
Die woord "jaar" word ook gebruik vir tydperke wat losweg met ’n jaar of astronomiese jaar verbind word, maar nie identies daaraan is nie, soos die seisoenale jaar, boekjaar, akademiese jaar, ens. Die term word ook gebruik vir die wenteltydperk van enige planeet; ’n Mars- en Venusjaar is byvoorbeeld die tyd waarin dié planete ’n hele wentelbaan voltooi. Dit kan ook in ’n vae sin gebruik word vir ’n lang tydperk, soos mitologie, poësie of algemene spreektaal (byvoorbeeld: "Tot siens. Moenie weer 'n jaar wegbly nie!")
Die Afrikaanse woord "jaar" kom via Nederlands van die Proto-Germaanse *jǣran. Die woord in sommige ander tale is Jahr (Duits), jār (Oud-Hoogduits), ár (Oud-Noors) en 𐌾𐌴𐍂 (Goties), van die Proto-Indo-Europese selfstandige naamwoord *yeh₁r-om "jaar, seisoen". Nog woorde wat van dieselfde Proto-Indo-Europese term afgelei is, is yārǝ (Avesties), ὥρα (hṓra, Grieks) en jarŭ (Ou Kerkslawies).
Die Latynse annus is ’n manlike selfstandige naamwoord (annum is die akkusatief enkelvoud en annō die datief) van die Proto-Indo-Europese selfstandige naamwoord *h₂et-no-.
Hoewel die meeste tale die woord as tematies *yeh₁r-o- behandel, is daar getuienis van ’n oorspronklike afleiding met ’n *-r/n-agtervoegsel, *yeh₁-ro-. Albei Indo-Europese woorde vir jaar, *yeh₁-ro- en *h₂et-no-, sou afgelei gewees het van werkwoordstamme wat beteken "om te gaan, beweeg", *h₁ey- en *h₂et- onderskeidelik (vergelyk Sanskrit éti "gaan", atasi "jy gaan, loop"). In Afrikaans word Latynse uitdrukkings gebruik met afleidings van annus, soos per annum ("per jaar"), anno Domini ("in die jaar van ons Here") en annus mirabilis ("wonderjaar").
In sommige tale is dit algemeen om jare te tel met verwysing na een seisoen, soos in "somers" of "winters". In Russies word byvoorbeeld benewens год (god "jaar") ook лет (ljet, genitief meervoud vir "somer") gebruik.
Die ISO-standaard ISO 80000-3 gebruik die simbool a (vir die Latynse annus) vir ’n jaar van óf 365 óf 366 dae. In Afrikaans word die afkorting j. vir jaar meestal gebruik.
Astronomiese jare het nie ’n heelgetal dae of maanmaande nie. Enige kalender wat ’n astronomiese jaar volg, moet dus ’n stelsel van interkalasie, soos die invoeging van skrikkeldae, hê.
In die Juliaanse kalender is die gemiddelde lengte van ’n jaar 365,25 dae. In ’n jaar wat nie ’n skrikkeljaar is nie, is daar 365 dae; in ’n skrikkeljaar is daar 366 dae. ’n Skrikkeljaar kom elke vier jaar voor, wanneer ’n ekstra dag in die maand Februarie geïnterkaleer word. Die ekstra dag word ’n skrikkeldag genoem.
Die Hersiene Juliaanse kalender, wat in 1923 voorgestel en in sommige Oosters-Ortodokse Kerke gebruik word, het elke 900 jaar 218 skrikkeljare, en dit gee ’n gemiddelde jaarlengte van 365,2422222 dae, amper so lank soos ’n gemiddelde tropiese jaar, 365,24219 dae.
In die jaar 2800 n.C. sal die Gregoriaanse en Hersiene Juliaanse kalender begin om met een kalenderdag te verskil.[2]
Die Gregoriaanse kalender is afgelei van die Juliaanse kalender en deur pous Gregorius XIII ingestel. Dit probeer toesien dat die Maart-nagewening, of noordwaartse nagewening, op of net voor 21 Maart val en daarom volg dit die tropiese jaar.[3] In die Gregoriaanse kalender is jare wat deur 100 deelbaar is, maar nie deur 400 nie, nie skrikkeljare nie om akkuraatheid te verbeter. Dus was 2000 ’n skrikkeljaar, maar nie 1700, 1800 en 1900 nie.
Omdat 97 van elke 400 jaar ’n skrikkeljaar is, is die gemiddelde lengte van die Gregoriaanse kalenderjaar 365,2425 dae, amper so lank soos die huidige lengte van die gemiddelde tropiese jaar (365,24219 dae).
Daar word geraam dat teen die jaar 4000 n.C. die Maart-nagewening ’n dag vroeër sal wees volgens die Gregoriaanse kalender – nie vanweë die kalender nie, maar omdat die Aarde al hoe stadiger draai en die dae dus langer word.
Histories interkaleer maansonkalenders hele skrikkelmaande. Of ’n skrikkelmaand in ’n sekere jaar bygevoeg moet word of nie, kan bepaal word deur die gebruik van gereelde siklusse soos die 19-jaar-maansiklus (in die Hebreeuse kalender en in die bepaling van die Paastyd) of deur die berekening van maanfases (Hindoe- en Chinese kalender). Die Boeddhistekalender voeg beide ’n skrikkeldag en -maand by ’n gewoonlik gereelde siklus.
Dié soort kalenders het meestal in onbruik geraak, behalwe om liturgiese redes (soos die Hebreeuse en verskeie Hindoekalenders).
In ’n kalender-era word ’n nommer toegeken aan elke opeenvolgende jaar, met ’n verwysingspunt in die verlede as die begin van ’n era. Die wêreldwye standaard is Anno Domini ("in die jaar van ons Here"), hoewel sommige die term Algemene of Huidige Jaartelling verkies omdat dit nie eksplisiet na die Christendom verwys nie. Dit is in die 6de eeu ingestel en tel jare sedert die geboorte van Jesus.[4] Die afkorting van "Anno Domini" is AD, van "Algemene Jaartelling" AJ en van "Huidige Jaartelling" HJ. In Afrikaans word meestal n.C. gebruik, vir "ná Christus". Die jare voor 1 n.C. kry die afkorting v.C. agteraan vir "voor Christus" of VAJ/VHJ[5] vir "Voor die Algemene/Huidige Jaartelling". Die jaar 1 n.C. het op 1 v.C. gevolg; daar was geen "jaar nul" nie.
Die Joodse jaartelling begin met die jaar waarin die skepping van die wêreld (Anno Mundi) volgens Bybelse berekenings plaasgevind het. Daarom val die "eerste dag" op Roosj Hasjana (1 Tishrei), ’n belangrike tweedaagse tydperk van gebed en inkeer wat volgens die Gregoriaanse kalender in September of Oktober plaasvind. Die Joodse jaar begin egter met die maand Nisan (lente), die maand van verlossing toe die volk van Israel uit Egipte getrek het.
Die Islamitiese jaartelling begin in die jaar waarin die hidjra (die emigrasie van die profeet Mohammed van Mekka na Medina) plaasgevind het en kom ooreen met 15 Julie of 16 Julie 622 van die Gregoriaanse kalender. Die Islamitiese kalender word in Saoedi-Arabië en enkele omliggende lande as algemene kalender gebruik.[6] In die alledaagse lewe van die meeste Islamitiese lande word die Gregoriaanse kalender egter gebruik.
In ’n moderne alternatiewe jaartelling dui positiewe nommers jare ná Christus aan: Jaar 1 is dus 1 n.C. Negatiewe nommers dui jare voor Christus aan, maar verskil daarvan: Die nommer 0 dui op 1 v.C., -1 op 2 v.C., ensovoorts.
Finansiële en wetenskaplike berekenings maak dikwels gebruik van ’n kalender van 365 dae om daaglike tariewe of maatstawwe te vereenvoudig.
’n Finansiële of boekjaar is ’n tydperk van 12 maande wat gebruik word vir die berekening van finansiële state in ondernemings en ander organisasies, asook vir inkomstebelasting. In baie regsgebiede vereis regulasies oor rekeningkunde dat maatskappye sulke state een keer elke 12 maande publiseer, maar dié 12 maande hoef nie ’n kalenderjaar te wees nie.
In Suid-Afrika is ’n boekjaar byvoorbeeld van 1 Maart af,[7] in Kanada en Indië van 1 April af en in Australië van 1 Julie af.
’n Akademiese jaar is die jaarlikse tydperk waarin ’n student ’n opvoedingsinstelling bywoon. Dit kan in termyne soos kwartale of semesters verdeel word. Die skooljaar in sommige lande begin in Januarie en ander lande in Augustus of September. In Israel begin die akademiese jaar omstreeks Oktober of November, om saam te val met die tweede maand van die Hebreeuse kalender.
Die skooljaar in Suid-Afrika word in vier kwartale verdeel. Sommige skole in Brittanje en die VSA verdeel die akademiese jaar in drie termyne wat omtrent ewe lank is en min of meer ooreenstem met die herfs, winter en lente. Ander skole verdeel die jaar rofweg in twee hoofsemesters, waarvan elk in die helfte verdeel kan word deur middeltermyneksamens.
In Suid-Afrika[8] en Australië is daar min of meer 200 skooldae per jaar, in die VSA 180 en in Kanada, Nieu-Seeland en Brittanje 190.
Die Juliaanse jaar, soos dit in sterrekunde en ander wetenskappe gebruik word, is ’n eenheid van presies 365,25 dae. Dit is die gewone betekenis van die woord "jaar" in verskeie wetenskaplike kontekste. Die Juliaanse eeu van 36 525 dae en Juliaanse millennium van 365 250 dae word in sterrekundige berekenings gebruik. Om ’n tydperk in Juliaanse jare aan te gee is ’n manier om aan te dui presies hoeveel dae (en nie "regte" jare nie) iets geduur het waar die aangee van die getal dae onprakties sou wees. Die Juliaanse jaar word ook gebruik in die berekening van die afstand wat in ’n ligjaar afgelê word.
In die Unified Code for Units of Measure verwys die simbool a altyd na die Juliaanse jaar, of aj, of presies 31 557 600 sekondes.
SI-voorvoegsels kan aangelas word soos ka (kilo-annus, vir duisend jaar), Ma (mega-annus, vir miljoen jaar), ensovoorts.
Elk van dié drie jare kan rofweg ’n "astronomiese jaar" genoem word.
Die sideriese jaar is die tyd wat die Aarde neem om een keer om die Son te wentel, soos gemeet teen ’n vaste verwysingsraamwerk (soos die sterre; Latyn sidera, enkelvoud sidus). Dit is dus die tyd wat die Son neem om terug te keer na dieselfde posisie teen die agtergrond van vaste sterre nadat dit oënskynlik een keer om die sonnebaan beweeg het. Die gemiddelde duur daarvan is 365,256363004 dae (365 d 6 h 9 m 9,76 s; by die epog J2000.0 = 1 Januarie 2000, 12:00:00 Terrestriale Tyd).[9]
Vandag word die gemiddelde tropiese jaar gedefinieer as die tydperk waarin die gemiddelde ekliptiese lengtegraad van die Son met 360 grade toeneem.[10] Omdat die Son se ekliptiese lengtegraad gemeet word ten opsigte van die nagewening,[11] omvat die tropiese jaar ’n volle siklus van die seisoene. Vanweë die biologiese en sosiaalekonomiese belangrikheid van die seisoene, is die tropiese jaar die basis van die meeste kalenders.
Die moderne definisie van "gemiddelde tropiese jaar" verskil van die werklike tyd tussen posisies, byvoorbeeld die noordwaartse nagewening, om verskeie redes wat onder verduidelik word. As gevolg van die Aarde se aksiale presessie, is dit sowat 20 minute korter as die sideriese jaar. Die gemiddelde tropiese jaar is sowat 365 dae, 5 uur, 48 minute, 45 sekondes volgens die moderne definisie.[12] (= 365,242 19 dae van 86 400 sekondes)
Die anomalistiese jaar is die tyd waarin die Aarde een omwenteling met betrekking tot sy apsides voltooi. Die Aarde se wentelbaan is ovaal; die uiterse punte, wat apsides genoem word, is die perihelium, waar die Aarde die naaste aan die Son is (5 Januarie 07:48 UT in 2020), en die afelium, waar dit die verste is (4 Julie 11:35 UT in 2020). Die anomalistiese jaar word gewoonlik gedefinieer as die verloop van tyd tussen periheliumposisies. Dit duur gemiddeld 365,259 636 dae (365 d 6 h 13 min 52,6 s) (by die epog J2011.0).[13]
Die drakoniese of ekliptiese jaar is die tyd waarin die Son (soos van die Aarde af gesien) een omwenteling voltooi met betrekking tot dieselfde maanknoop (’n punt waar die Maan se wentelbaan dié van die Son kruis). Die jaar word verbind met eklipse: Hulle kom net voor wanneer die Son en Maan naby hierdie knope is; eklipse kom dus voor binne ’n maand van elke halwe ekliptiese jaar. Dus is daar twee ekliptiese seisoene in elke ekliptiese jaar. Die gemiddelde duur van die ekliptiese jaar is:
Die volmaansiklus is die tyd waarin die Son (soos van die Aarde af gesien) een omwenteling voltooi met betrekking tot die perigeum (naaste afstand) van die Maan se wentelbaan. Dié tydperk word verbind met die oënskynlike grootte van die volmaan, en ook met die wisselende duur van die sinodiese maand. Die duur van ’n volle volmaansiklus is:
Die maanjaar omvat 12 volle siklusse van die maanfases, soos van die Aarde af gesien. Dit duur sowat 354,37 dae. Moslems gebruik dit vir die viering van hulle eids en om die begin van die vasmaand Ramadan aan te dui. ’n Islamitiese kalenderjaar is op die maansiklus gebaseer.
Dit is ’n heelgetalweergawe van ’n jaar en is 365 dae lank. Dit wyk dus af van meer presiese jare. ’n Voldagjaar word gewoonlik verdeel in 12 maande van 30 dae elk plus vyf ingevoegde dae. Dit is gebruik in die kalenders van Ethiopië, Antieke Egipte, Iran, Armenië en in Meso-Amerika onder die Asteke en Maja.[14] Dit word steeds gebruik deur baie Zoroastristiese gemeenskappe.
’n Heliakiese jaar is die tussenposes tussen die heliakiese opkoms van ’n ster (wanneer ’n ster elke jaar vir ’n kort rukkie voor sonsopkoms bo die horison verskyn nadat dit ’n ruk lank nie sigbaar was nie). Dit verskil van die sideriese jaar vir sterre weg van die sonnebaan vanweë hoofsaaklik aksiale presessie.
Die Sothis-jaar is die tussenposes tussen die heliakiese opkomste van die ster Sirius. Dit is tans korter as die sideriese jaar en baie na aan die Juliaanse jaar van 365,25 dae.
Die Gaussiese jaar is die sideriese jaar vir ’n planeet met ’n onbeduidende massa (in vergelyking met die Son), en onversteur deur ander planete, wat beheer word deur die Gaussiese swaartekragkonstante. So ’n planeet sou effens nader aan die Son gewees het as die Aarde. Die lengte van ’n Gaussiese jaar is:
Die presiese lengte van ’n astronomiese jaar wissel mettertyd.
Gemiddelde jaarlengtes in hierdie afdeling word aangedui vir 2000, en verskille in jaarlengtes in vergelyking met 2000 word vir jare in die verlede en toekoms aangedui. In die tabelle is ’n dag 86 400 sekondes lank.[15][16][17]
Soort jaar | Dae | Ure | Minute | Sekondes |
---|---|---|---|---|
Tropiese jaar | 365 | 5 | 48 | 45 |
Sideriese jaar | 365 | 6 | 9 | 10 |
Anomalistiese jaar | 365 | 6 | 13 | 53 |
Ekliptiese jaar | 346 | 14 | 52 | 55 |
Jaar | Tropies | Sideries | Anomalisties | Eklipties |
---|---|---|---|---|
−4000 | −8 | −45 | −15 | −174 |
−2000 | 4 | −19 | −11 | −116 |
0 | 7 | −4 | −5 | −57 |
2000 | 0 | 0 | 0 | 0 |
4000 | −14 | −3 | 5 | 54 |
6000 | −35 | −12 | 10 | 104 |
Dae | Soort jaar |
---|---|
346,62 | Drakonies, ook genoem eklipties. |
354,37 | Maanjaar. |
365 | Afwykend, en ’n algemene jaar in sommige sonkalenders. |
365,24219 | Tropies, gemiddeld en daarna afgerond vir epog J2000.0. |
365,2425 | Gregoriaans, gemiddeld. |
365,25 | Juliaans. |
365,25636 | Sideries, vir epog J2000.0. |
365,259636 | Anomalisties, gemiddeld en daarna afgerond vir epog J2000.0. |
366 | Skrikkeljaar in baie sonkalenders. |
’n Gemiddelde Gregoriaanse jaar is 365,2425 dae (52,1775 weke, 8 765,82 uur, 525 949,2 minute of 31 556 952 sekondes). Vir hierdie kalender is ’n algemene jaar 365 dae (8 760 uur, 525 600 minute of 31 536 000 sekondes), en ’n skrikkeljaar is 366 dae (8 784 uur, 527 040 minute of 31 622 400 sekondes). Die 400-jaarsiklus van die Gregoriaanse kalender het 146 097 dae en dus presies 20 871 weke.
’n Seisoenale jaar is die tyd tussen opeenvolgende gebeure wat met ’n seisoen verband hou, soos die oorstroming van ’n rivier, die migrasie van ’n voëlspesie, die blom van ’n plantspesie, die eerste ryp of die eerste wedstryd van ’n sekere sportsoort. Al hierdie gebeure kan in ’n groot mate van jaar tot jaar wissel, met tot ’n maand.
Die galaktiese jaar is die tyd waarin die Sonnestelsel om die middel van die Melkweg wentel. Dit is rofweg 230 miljoen aardjare[18] en is 'n gerieflike eenheid om kosmiese en geologiese typerke saam mee weer te gee. (Miljoene jare gee aanleiding tot te groot getalle en biljoene jare is te lank om werklik van toespassing op geologiese tydperke te wees.)[19]
Die Sonnestelsel beweeg teen 'n gemiddelde spoed van 230 km/s (828 000 km/h) in sy wentelbaan om die galaktiese sentrum,[20] wat ooreenstem met 'n voorwerp wat in 2 minute 54 sekondes om die Aarde se ewenaar beweeg; dit is sowat 1/1300 van die ligsnelheid.
Soos reeds gesê, word die simbool a in die ISO-standaard ISO 80000-3 vir ’n jaar as eenheid van tyd gebruik, en dit kom van die Latynse woord annus.[21] In Afrikaans word jaar gewoonlik nie afgekort nie, maar indien wel, word die afkorting j. meestal gebruik.
In Engels word die afkortings y of yr meer algemeen gebruik in niewetenskaplike geskrifte, maar veral ook in geologie en paleontologie, waar kyr, myr, byr (onderskeidelik duisende, miljoene en miljarde jare) en soortgelyk afkortings gebruik word om tydperke lank voor of ná die huidige tyd aan te dui.[21][22][23]
Die Unified Code for Units of Measure[24] maak ’n onderskeid tussen verskeie simbole vir die verskillende soorte jaar:
Die volgende SI-voorvoegsels word gebruik veral in berekenings en om plek te bespaar, soos in tabelle met data.
{{cite web}}
: |archive-date=
/ |archive-url=
timestamp mismatch (hulp)
{{cite book}}
: |journal=
ignored (hulp)