Die Jagter se Belt, die Gordel van Orion of die Drie Konings is ’n patroon in die sterrebeeld Jagter. Dit bestaan uit drie helder sterre: Alnitak, Alnilam en Mintaka. Deur na die drie sterre aan die naghemel te soek, is die maklikste manier om die Jagter te vind. Die sterre lyk byna presies eweredig versprei in ’n reguit lyn, en lyk dus soos die belt of gordel van die Jagter se uitrusting. Hulle is in die Suidelike Halfrond in die somer die beste sigbaar.[1]
Daar is verskeie name vir die drie sterre. In Spanje, Portugal en Brasilië staan hulle ook bekend as die "Las Tres Marías". In Suid-Afrika word hulle meestal die "Drie Konings" genoem,[5] en in die Filippyne en Puerto Rico "Los Tres Reyes Magos".[6] Die sterre is elke jaar om en by Epifanie of Driekoningedag (6 Januarie), die sigbaarste aan die naghemel. Dis die tyd toe die drie wyse manne die baba Jesus in die Bybel besoek het.
Richard Hinckley Allen, die skrywer van Star Names: Their Lore and Meaning, noem talle ander name vir die sterrepatroon, soos: Jakobstaf, die Goue Ra-nok, die El, die Drie Wyse Manne of bloot die Drie Sterre.[7]
Die vers "Sou jy die Sewester (Sewe Susters) met ’n band kon vasknoop of die band van Orion kon losmaak?" kom in Job 38:31 voor. Orion word ook in Job 9:9 en Amos 5:8 genoem.