Jared Leto | |
Leto in 2009 in Venesië.
| |
Geboorte | 26 Desember 1971 Bossier City, Louisiana, VSA |
---|---|
Nasionaliteit | Amerikaans |
Beroep(e) | Akteur, musikant (alternatiewe rock), aktivis, fotograaf, sakeman |
Aktiewe jare | 1992 – hede |
Webwerf | http://www.jaredleto.com |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Jared Joseph Leto (geb. 26 Desember 1971 in Bossier City, Louisiana) is ’n Amerikaanse akteur, musikant, vervaardiger, aktivis, fotograaf en sakeman. Hy het sy loopbaan vroeg in die 1990's afgeskop in die TV-reeks My So-Called Life (1994).
In 1995 het hy sy rolprentdebuut gemaak in How to Make an American Quilt en in 1997 lof ontvang vir sy spel in Prefontaine. Leto het hierna byrolle gehad in The Thin Red Line (1998), Fight Club (1998) en American Psycho (2000), sowel as die hoofrol in Urban Legend (1998). In 2000 het hy lof ontvang vir sy uitbeelding van die heroïenverslaafde Harry Goldfarb in Requiem for a Dream (2000). Hy het daarna op sy musiekloopbaan gekonsentreer en toe in 2002 in Panic Room (2002), Alexander (2004), Lord of War (2005), Lonely Hearts (2006), Chapter 27 (2007) en Mr. Nobody (2009) gespeel. Hy het sy debuut as regisseur in 2012 gemaak met die dokumentêre prent Artifact.
Leto het groot lof ingepalm vir sy rol as ’n transgender-vrou in Dallas Buyers Club (2013) en het in 2014 onder meer ’n Oscar as beste manlike byspeler daarvoor gewen. Hy word beskou as ’n metodetoneelspeler wat sy rolle deeglik navors en dit met oorgawe vertolk.[1][2] Hy is ook baie kieskeurig met sy rolle.[3]
Leto is die hoofsanger en -liedjieskrywer van die musiekgroep Thirty Seconds to Mars, wat hy in 1998 in Los Angeles, Kalifornië, gestig het saam met sy ouer broer, Shannon Leto. Hul debuutalbum van 2002 met dieselfde naam het groot lof ingepalm, maar beperkte sukses behaal.[4] Die groep het wêreldwyd roem behaal met hul tweede album, A Beautiful Lie (2005). Ook hul volgende albums, This Is War (2009) en Love, Lust, Faith and Dreams (2013), het lof ingepalm en sukses behaal.[5] In Mei 2013 het die groep reeds meer as 10 miljoen albums wêreldwyd verkoop.[6]
Leto was ook die regisseur van musiekvideo's, onder meer The Kill (2006), wat die MTV Video Music Award gewen het, Kings and Queens (2009) en Up in the Air (2013).