Rouch word beskou as een van die stigterslede van cinéma vérité in Frankryk. Rouch se tegniek as filmmaker (vir meer as sestig jaar in Afrika) word gekenmerk deur die idee van gedeelde antropologie. [1][2] Hy is beïnvloed deur die ontdekking van surrealisme in sy vroeë twintigerjare, en in baie van sy rolprente is die lyn tussen dit wat fiksie is en dit wat dokumentêr is uiters vaag, welke 'n nuwe styl tot gevolg gehad het, naamlik etnofiksie. Hy is deur die Franse New Wave-filmmakers as een van hul eie beskou. Sy film Moi, un noir was 'n baanbreker in die tegniek van jump cut wat deur Jean-Luc Godard gepopulariseer is.[3][4][5][6]
Jean Rouch het sy lang verbintenis met Afrika-onderwerpe in 1941 begin toe hy in Niamey aangekom het as 'n Franse koloniale hidrologie-ingenieur om toesig te hou oor 'n bouprojek in Niger.
Daar het hy Damouré Zika, die seun van 'n Songhai tradisionele geneser en visserman, naby die stad Ayorou, aan die Nigerrivier ontmoet. [7] Nadat tien Sorko-werkers gesterf het weens 'n weerligstraal in 'n konstruksie depot waaroor Rouch toesig gehou het, het Zika se ouma, 'n beroemde waarsêer en geestelike adviseur, 'n ritueel gehou, wat Rouch later beweer het 'n begeerte by hom laat ontstaan het om etnografiese films te maak. [8]
Hy het belanggestel in Zarma - en Songhai etnologie. Hy het die rituele en seremonies van die Songhai-bevolking verfilm. Tydens sy werk in Niger het Jean Rouch die tipe gebeure gedokumenteer en sy werk aan Marcel Griaule, sy onderwyser, gestuur, wat hom aangemoedig het om voort te gaan met die Songhai en sy studies te intensiveer. Hy het kort daarna teruggekeer na Frankryk om aan die Franse weerstand deel te neem. Na die oorlog het hy 'n kort tydjie as joernalis by Agence France-Presse gewerk, voordat hy na Afrika teruggekeer het waar hy 'n invloedryke antropoloog en soms kontroversiële filmmaker geword het.[9]
Damouré Zika en Rouch het vriende geword. In 1950 het Rouch vir Zika begin gebruik as die sentrale karakter van sy films, en gebruik gemaak van die tradisies, kultuur en ekologie van die mense in die Nigerrivier-vallei. Die eerste rolprent waarin Zika verskyn het, was Bataille sur le grand fleuve (1950–52), waarin die lewe, seremonies en jaggewoontes van Sorko-vissers uitgebeeld word. Rouch was vier maande met Sorko-vissers op reis in 'n tradisionele pirogue. [10][11]
Sy vroeë rolprente - soos Chasse à l'Hippopotame, 1946), Cimetière dans la Falaise, 1951) en Les Hommes Qui la Pluie (1951) - was tradisionele verslae, maar hy het geleidelik 'n innoverende invloed geword.[12]
Rouch het sy eerste films in Niger gemaak: Au pays des mages noirs (1947), Initiation à la danse des possédés (1948) en Les magicians de Wanzarbé (1949) waarvan almal die rituele van die Songhai -, Zarma -, en Sorko mense, wat langs die Nigerrivier woon, gedokumenteer het. Jean Rouch word algemeen beskou as die vader van die Nigeriese filmwese en bioskoop. [13] Ondanks sy aankoms as kolonialis in 1941 het Rouch na Niger se onafhanklikheid aangebly en 'n generasie Nigeriese filmmakers en akteurs gementor, waaronder Damouré Zika.
Tydens die 1950's het Rouch langer etnografiese films begin vervaardig. In 1954 het hy Damouré Zika in die rolprent Jaguar as 'n jong Songhai man verfilm wat op soek is na die Goudkus. Drie mans het hul lewensgetroue rolle in die film gedramatiseer en aangegaan om die eerste drie akteurs van die Nigeriese filmwese of bioskoop te word. Dit is verfilm as 'n klanklose etnografiese film, en Zika het gehelp om die rolprent te redigeer na 'n vollengte rolprent wat êrens tussen dokumentêr en fiksie (docufiction) staan. Hy het dialoog en kommentaar gelewer vir 'n 1969 vrystelling daarvan. In 1957 het Rouch Moi un noir in die Ivoorkus geregisseer saam met die jong Nigeriese filmmaker Oumarou Ganda, wat op daardie stadium teruggekeer het uit die Franse militêre diens in Indochina. Ganda het die eerste groot regisseur en akteur in Nigerië geword. Teen die vroeë 1970's het Rouch, met die rolverdeling, bemanning en medeskryfwerk wat deur van sy Nigeriese medewerkers aangepak is, dramatiese films in Niger geproduseer soos Petit à petit (1971) en Cocorico Monsieur Poulet (1974).
Baie van die etnografiese films wat in die koloniale era deur Jean Rouch en ander vervaardig is, is egter steeds deur Afrika filmmakers verwerp omdat dit volgens hul siening die Afrika-realiteit verdraai het.
Hy word beskou as een van die pioniers van Nouvelle Vague, van visuele antropologie en as die vader van etnofiksie. Rouch se rolprente behoort meestal tot die cinéma vérité genre - 'n term wat Edgar Morin gebruik het in 'n artikel in France-Observateur uit 1960, met verwysing na die Kino- Pravda nuusberigte van Dziga Vertov. Sy bekendste rolprent, een van die sentrale werke van die Nouvelle Vague, is Chronique d'un été (1961) wat hy saam met die sosioloog Edgar Morin verfilm het, en waarin die maatskaplike lewe van hedendaagse Frankryk uitgebeeld word. Gedurende sy loopbaan het hy sy kamera gebruik om verslag te doen oor die lewe in Afrika. In die loop van vyf dekades het hy byna 120 films gemaak.
Hy het in 1978 saam met Jean-Michel Arnold die internasionale dokumentêre filmfees, Cinéma du Réel, in die Pompidou Centre in Parys gestig.
Hy het in Februarie 2004 tydens 'n motorongeluk, 16 kilometer vanaf die stad Birni-N'Konni in Niger, gesterf.
Rouch, Jean. Ciné-Ethnography, geredigeer en vertaal deur Steven Feld. University of Minnesota Press, 2003.
Rouch, Jean. La Religion et la Magie Songhay. Presses Universitaires de France, 1960. 2de hersiene uitgawe uitgegee deur Éditions de l'Université de Bruxelles, 1989.
Jean Rouch – artikel deur Matt Losada, Assistent-professor in die Departement van of Spaanse Studies aan die Universiteit van Kentucky, Senses of Cinema, Desember 2010