John Richard Hersey | |
---|---|
Gebore | 17 Junie 1914 |
Sterf | 24 Maart 1993 Key West, Florida, |
Nasionaliteit | Verenigde State |
Beroep | Skrywer, joernalis |
John Richard Hersey (17 Junie 1914 – 24 Maart 1993) was 'n Amerikaanse skrywer en joernalis. Hy word beskou as een van die vroegste praktisyns van sogenaamde "Nuwe Joernalisme" (New Journalism) waarin fiksie storievertellingstegnieke aangepas word vir niefiksieverslagdoening.[1]
Hersey se relaas van die nasleep van die kernbom wat op Hirosjima, Japan laat val is, is deur 'n 36-lid paneel van die New York-universiteit se departement van joernalisme aangewys as die beste Amerikaanse joernalistieke werk van die 20ste eeu.[2]
Hersey is in Tientsin, China, gebore [3] as die seun van Grace Baird en Roscoe Hersey, 'n Protestantse sendeling vir die Young Men's Christian Association in Tientsin.
Die jong Hersey het geleer om Chinees te praat voordat hy Engels kon praat. Hersey se roman, The Call (1985), is gebaseer op die lewens van sy ouers en ander sendelinge van hul generasie.[4]
John Hersey was 'n afstammeling van William Hersey (of Hercy, soos die familienaam toe gespel is) van Reading, Berkshire, Engeland. William Hersey was een van die eerste setlaars van Hingham, Massachusetts in 1635.[5]
Hersey het op 10-jarige leeftyd saam met sy familie na die Verenigde State teruggekeer. Hy het die openbare skool in Briarcliff Manor, New York en Briarcliff Hoërskool (twee jaar), bygewoon. By Briarcliff sou hy sy groep se eerste Eagle Scout (Boy Scouts van Amerika) word.[6][7][8]
Later het hy Hotchkiss Skool bygewoon, gevolg deur Yale, waar hy 'n lid was van die Skull and Bones-genootskap saam met sy klasmaats Brendan Gill en Richard A. Moore.[9] Hersey het Amerikaanse voetbal aan Yale gespeel en is afgerig deur Ducky Pond, Greasy Neale en Gerald Ford. Hy was ook 'n spanmaat van Yale se twee Heisman-trofee wenners, Larry Kelley en Clint Frank.[10]
Hersey kon daarna aan die Universiteit van Cambridge studeer danksy 'n beurs wat hy van die Andrew W. Mellon-stigting ontvang het.
Na sy tyd aan Cambridge het Hersey gedurende 1937 'n somervakansiewerk as 'n privaat sekretaris en drywer vir die skrywer Sinclair Lewis gekry; hy het egter sy pligte afgeskeep en daardie herfs vir Time begin werk, [11] wat hom aangestel het nadat hy 'n essay geskryf het oor die tydskrif se kwaliteit.[12] Twee jaar later (1939) is hy oorgeplaas na Time se Chongqing-buro. In 1940 het William Saroyan hom genoem as een van die "bydraende redakteurs" by Time in die toneelstuk Love's Old Sweet Song.[13]
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Hersey die gevegte in Europa sowel as in Asië gedek en artikels geskryf vir Time sowel as Life. Hy het die Geallieerde troepe vergesel tydens hulle inval van Sisilië en vier vliegtuigongelukke oorleef, [14] en is eervol vermeld deur die Sekretaris van die Amerikaanse Vloot vir sy bystand met die ontruiming van gewonde soldate uit Guadalcanal.[15]
Na die oorlog (gedurende die winter van 1945-46) was Hersey in Japan waar hy verslaggewing gedoen het vir The New Yorker oor die rekonstruksie van die verwoeste land. Hiertydens het hy afgekom op 'n dokument deur 'n Jesuïetsendeling wat die atoombom wat op Hiroshima laat val is oorleef het. Hersey het die sendeling besoek, wat hom bekendgestel het aan ander oorlewendes.[14]
Op presies vyftien minute na agt die oggend van 6 Augustus 1945 Japannese tyd, op die oomblik toe die atoombom geflits het bo Hirosjima, het Mejuffrou Toshiko Sasaki, 'n klerk in die personeel-afdeling van East Asia Tin Works, sopas gaan sit op haar stoel in die kantoor, sy besig om haar gesig te draai om 'n woord te wissel met die meisie langsaan.[16]
Hersey het kort daarna gesprekke begin voer met William Shawn, 'n redakteur vir The New Yorker, om 'n stuk te skryf oor die vorige somer se bombardering. Hersey het voorgestel dat 'n storie geskryf word wat reg sal laat geskied aan die kataklismiese verhaal en dit behoorlik sou oordra, deur indiwidue wat dit oorleef het aan die woord te stel. Die volgende Meimaand in 1946 het Hersey na Japan gereis waar hy drie weke spandeer het en onderhoude gevoer het met oorlewendes.
Hy het aan die einde van Juniemaand teruggekeer na die Verenigde State en begin skryf oor die ses Hirosjima-oorlewendes met wie hy onderhoude gevoer het: 'n Duitse Jesuïetpriester, 'n weduwee-naaldwerkster, twee dokters, 'n predikant, en 'n jong vrou wat in 'n fabriek gewerk het.[18]
Die resultaat was sy bekendste werk, die 31,000-woord artikel "Hiroshima". Dit is in die tydskrif se uitgawe van 31 Augustus 1946 gepubliseer. Die verhaal handel met die atoombom wat laat val is op Hirosjima op daardie noodlottige dag van 6 Augustus 1945 en die effek daarvan op Japannese burgers. Die artikel het amper die hele uitgawe van die tydskrif in beslag geneem– iets wat The New Yorker nog nooit vantevore gedoen het nie.[18][19]
Hersey het dikwels self die Nuwe Joernalisme-beweging veroordeel wat hy in vele opsigte help skep het. Hy sou waarskynlik nie saamgestem het met 'n beskrywing van sy artikel oor Hirosjima as "Nuwe Joernalisme" nie. Later het die asketiese Hersey gevoel dat sommige eienskappe van die Nuwe Joernalisme van die 1970's nie streng genoeg was oor feitekontrolering en -verslaggewing nie.
Na publikasie van Hiroshima het Hersey opgemerk dat "die belangrike 'flitse' en 'bulletins' reeds vergete is teen die tyd dat gisteroggend se koerantpapier gebruik word om die vullisdrom mee te belyn. Die dinge wat ons onthou is emosies, indrukke, illusies, beelde en karakters: die eienskappe van fiksie."[20]
Kort voordat hy Hiroshima geskryf het, het Hersey sy roman, Of Men and War, oorlogsverhale soos beleef en gesien deur die oë van soldate eerder as deur die oë van oorlogskorrespondente, gepubliseer. Een van die stories in Hersey se roman is geïnspireer deur President John F. Kennedy en die Motor Torpedo Boot PT-109. Kort daarna het die voormalige oorlogskorrespondent begin om fiksie te publiseer. Hersey se oorlogsroman, The Wall, (1950) word voorgestel as 'n herontdekte joernaal wat die vernietiging van die Warskou-ghetto, die grootste van die Joodse ghetto's wat deur Duitsland opgerig is tydens die Holocaust, beskryf.
Diè topverkoper [21] het die Nasionale Joodse Boektoekenning gewen gedurende die tweede jaar van die toekenning se bestaan [22]. Dit het ook Sidney Hillman-stigting se joernalistieke toekenning gewen.[23]
Hersey se eerste roman, A Bell for Adano, handel oor die Geallieerde besetting van 'n Sisiliaanse dorpie gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Dit het in 1945 die Pulitzerprys vir Fiksie gewen en is vir rolprent verwerk. Henry King was die regisseur en John Hodiak en Gene Tierney het rolle vertolk.
Sy kort roman van 1956, A Single Pebble, gaan oor 'n jong Amerikaanse ingenieur wat in die 1920's stroomop-reis deur die Yangtze op 'n saamgeflanste rivierboot en ontdek dat sy romantiese begrip van China rampspoedige gevolge dra.
Sy roman uit 1956, White Lotus, is 'n ontdekking van die Afro-Amerikaanse ondervinding van voór die burgerregtebeweging. Dit is 'n alternatiewe-geskiedenis werk, waarin blanke Amerikaners die slawe van Chinese word nadat hulle "die Groot Oorlog" verloor.
Van 1965 tot 1970 was Hersey verbonde aan Pierson Kollege, een van die twaalf residensiële kolleges van Yale, waar sy uitgesproke aktivisme en opposisie teen die Viëtnamoorlog hom berug gemaak het met alumni, maar veroorsaak het dat hy bewonder is deur studente.[24]
Na die verhoor van die Black Panthers in New Haven, Connecticut, het Hersey 'n "Letter to the Alumni" (1970) geskryf waarin hy op simpatieke wyse die kwessie van burgerregte en anti-oorlog aktivisme aanspreek.
Hersey het vir agtien jaar ook twee voorgraadse skryfkursusse aangebied in die skryf van fiksie en niefiksie. Hersey het sy eerste klas aan Yale gegee gedurende 1984. Hersey is bekend daarvoor dat hy somtyds tydens sy indiwiduele besprekingsessies met voorgraadse studente sy kommentaar in die kantlyn geskryf het, en nadat hy sy voorstelle met die betrokke student bespreek het, sy potlood geneem het en sy kommentaar uitgevee het.
As Meester van Pierson Kollege het hy later opgetree as gasheer van sy voormalige baas, Henry Luce– met wie Hersey versoen geraak het na hulle geskil van vroeër–toe Luce die kollege se voorgraadse studente aangespreek het.
As stigter van Time was Luce 'n berugte en vervelige spreker; sy toespraak aan die voorgraadse studente van Pierson was geen uitsondering hierop nie. Na Luce se "slaperige" toespraak het die voormalige uitgewer vir die eerste keer in privaat aan Hersey beken dat hy en sy vrou Clare Boothe Luce onder toesig van 'n geneesheer LSD (D-Lisergiensuur-Diëtielamied) geneem het. Hersey het later beken dat hy verlig was dat Luce die openbaring vir 'n meer private gehoor oorgehou het.
Gedurende 1985 het Hersey teruggekeer na Hirosjima waar hy beriggewing gedoen het en Hiroshima: The Aftermath— 'n opvolgwerk op sy oorspronklike verhaal—geskryf het. The New Yorker het Hersey se opvolgstuk in sy uitgawe van 15 Julie 1985 gepubliseer. Die artikel is gevolglik aangeheg tot 'n gewysigde uitgawe van die oorspronklike boek. Hersey het geskryf dat "Wat die wêreld sedert 1945 veilig gehou het van die bom nie afskrikking ten opsigte van spesifieke wapens was nie, maar herinnering.", "Die herinnering van wat gebeur het by Hiroshima."
John Hersey is al 'n "kompulsiewe plagiaris." genoem. Hy het byvoorbeeld volledige paragrawe van die biografie oor James Agee deur Laurence Bergreen gebruik vir sy eie New Yorker-essay oor Agee. Die helfte van sy boek Men on Bataan is afkomstig van werke wat geliasseer is vir Time deur Melville Jacoby en sy vrou.[25]
Hersey was 'n jarelange inwoner van Vineyard Haven, Martha's Vineyard, Massachusetts–soos opgeteken in sy 1987 werk Blues–maar het op 24 Maart 1993 by sy wintertuiste in Key West, Florida beswyk. Hy en sy vrou het die huis gedeel met sy vriend, die skrywer Ralph Ellison. Ellison se Invisible Man was een van Hersey se gunsteling werke, en hy het dikwels sy studente aangemoedig om Ellison se tegnieke en prosastyl te bestudeer.
Hersey se dood was voorbladnuus in die volgende dag se uitgawe van die New York Times.[26] Hersey is begrawe naby sy huis in Martha's Vineyard.[27] Hersey is oorleef deur sy tweede vrou Barbara (die voormalige vrou van Hersey se kollega by The New Yorker, die kunstenaar Charles Addams, en die model vir Morticia Addams) en sy vyf kinders (waarvan die komponis en musikus Baird Hersey een is) asook ses kleinkinders. Barbara Hersey het veertien jaar later op 16 Augustus 2007 in Martha's Vineyard gesterf.[28]
Hersey se boeke sluit in:
Wikimedia Commons bevat media in verband met John Hersey. |
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |