Joseph Smith, Jr. (* 23 Desember 1805 in Sharon, Windsor County, Vermont; † 27 Junie 1844 in Carthage, Illinois) was die stigter van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, 'n wêreldkerk en godsdienstige stroming wat ook as Mormonisme bekend staan. Smith, die seun van 'n boer wat ook as onderwyser werksaam was, het min formele opleiding geniet, maar was hoogs intelligent en het sy hele lewe lank sy kennis en vaardighede met geesdrif vermeerder. Hy was 'n bibliofiel wat saam met 'n tutor Hebreeus gestudeer het. Een van die bekendste aforismes in sy kanonieke werke is The glory of God is intelligence, or, in other words, light and truth (Doctrine & Covenant 93:36).[1]
In die 1830's en 1840's het Smith 'n beduidende invloed op die religieuse, kulturele en politieke lewe in die Verenigde State uitgeoefen. Sy erfenis word bewaar deur die Kerk wat hy gestig het - die grootste ooit wat sy oorsprong in die VSA het.
Met sy vertaling van 'n aantal goue plate (saam met Oliver Cowdery), wat hy volgens sy berig van 'n engel ontvang het en waarin Jesus van Nasaret se besoek aan die inheemse volke van Amerika (Indiane) beskryf word, het hy 'n eerste groep aanhangers aangetrokke. Die vertaling van die teks het in 1830 as die Boek van Mormon verskyn, en in dieselfde jaar het Smith sy eie geloofsgemeenskap gestig, aanvanklik nog bekend as The Church of Christ.
In die 1830's het Smith oorwegend in Kirtland in die deelstaat Ohio gebly wat as hoofkwartier van sy kerk gedien het. Eers nadat die koste vir die oprigting van 'n groot tempel handuit geruk en konflikte binne die geloofsgemeenskap na vore getree het, het Smith met sy aanhangers na Missouri verhuis. Spanninge met teenstanders van sy geloof het in 1838 tot onluste gelei waarna later as "Mormone-oorlog" verwys is. Smith en sy aanhangers het hulle vervolgens in Nauvoo, Illinois gevestig waar hulle met die oprigting van 'n tweede tempel begin het. Die beweging het intussen ook aanhangers uit Europa gelok.
Aantygings oor die beweging se poligamiese praktyke en beweerde pogings om 'n religieuse outokrasie te vestig het skerp kritiek van 'n plaaslike dagblad uitgelok, tog het Smith daarin geslaag om hierdie kritiese stemme te onderdruk. Smith en sy broer Hyrum is kort daarna deur 'n menigte felle teenstanders van sy beweging vermoor.
Smith het steeds 'n omstrede persoonlikheid gebly. Terwyl sy aanhangers hom as 'n profeet beskou en sommige van sy openbarings as heilige skrifte gekanoniseer het wat aan die Christelike Bybel gelykgestel word, verwys kritici na die gebrek aan argeologiese bewyse vir sy bewerings en kritiese analises van sy tekste wat hom as die skrywer daarvan identifiseer.
Nogtans sluit Smith se religieuse erfenis 'n aantal religieuse organisasies met miljoene aanhangers in waarby die spektrum van behoudende strominge soos die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (tans die grootste organisasie binne Mormonisme) tot meer liberale gemeenskappe soos die Community of Christ kan strek.
In 2016 is die verseëlde protokolle van die Raad van Vyftig (Council of Fifty), 'n geheime organisasie wat in die lente van 1844 deur Joseph Smith gestig is, deur die Kerk van Jesus van Christus van die Heiliges van die Laaste Dae vir navorsers toeganklik gemaak. Die dokumente gooi lig op 'n moeilike fase in Joseph Smith se lewe toe hy onder die indruk verkeer het dat die jong Amerikaanse demokrasie, destyds nog 'n ongewone eksperiment wat twee dekades later een van sy grootste beproewings in die Amerikaanse Burgeroorlog sou ervaar, moontlik bedreig sou wees - die nasionale ramp van 'n burgeroorlog is deur Smith voorspel.
Smith was van plan om self kandidaat te staan in 'n presidensiële verkiesing en om 'n utopiese model van 'n samelewing te verwesenlik. Die Raad van Vyftig het 'n alternatiewe grondwet saamgestel en 'n teokratiese regeringstelsel oorweeg. Tegelykertyd is die afskaffing van slawerny voorgestel.[2] Die gebeure, waarna as Kingdom of Nauvoo verwys word, word deur Benjamin E. Park, assistentprofessor in geskiedenis aan die Sam Houston-staatsuniversiteit in Huntsville (Texas), in sy monografie Kingdom of Nauvoo: The Rise and Fall of a Religious Empire on the American Frontier behandel wat op 17 Maart 2020 gepubliseer is.
Met die groot trek van setlaars na Utah het die Kerk van Jesus Christus van die Heilige van die Laaste Dae 'n tyd lank as utopies-teokratiese samelewing in 'n moeilike en uitdagende omgewing bestaan voordat dit met gevestigde strukture en binne die politieke raamwerk van Utah as nuwe deelstaat by die Unie aangesluit het om as belangrike religieus-kulturele stroming, wie se aanhangers dikwels as Amerikaners met modelkarakter beskryf word, deel van die Amerikaanse hoofstroom te word.
Die kwessie van teokratiese ambisies het in die politieke debat tydens die presidensiële verkiesingsveldtog van 2007 en 2008 weer opgekom toe Mitt Romney, 'n praktiserende Kerklidmat, kandidaat gestaan het. Die verkiesing is deur baie Amerikaners as 'n soort referendum oor lidmate se geloof en 'n stem vir Romney as 'n stem vir institusionele Mormonisme beskou.[3] Die gesiene literêre kritikus en Sterling-professor in geesteswetenskappe aan die Yale-universiteit Harold Bloom (1930–2019), wat Joseph Smith as 'n religieuse genius beskryf het, maar die moderne Kerkleierskap daarvan beskuldig het dat hulle die rug sou keer op Smith se ideale, het oor plutokratiese en teokratiese ambisies in die leierskap se geledere gekla (alhoewel hy geen spesifieke voorbeeld gee nie en blykbaar net na die feit verwys dat sommige Kerklidmate suksesvolle Amerikaanse sakemanne is) en gelykertyd teen Mitt Romney gewaarsku - wat nogtans nooit enige amp binne die Kerkleierskap beklee het nie.[4]