Judy Garland | |
![]() | |
Geboortenaam | Frances Ethel Gumm |
---|---|
Geboorte | 10 Junie 1922 Grand Rapids, Minnesota, VSA |
Sterfte | 22 Junie 1969 Chelsea, Londen, Engeland |
Nasionaliteit | Amerikaans |
Beroep(e) | Aktrise, sangeres |
Aktiewe jare | 1924-1969 (sangeres) 1929-1967 (aktrise) |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Judy Garland[1] (Frances Ethel Gumm; 10 Junie 1922 - 22 Junie 1969) was 'n Amerikaanse aktrise en sangeres.[2] Sy is hoog aangeslaan vir haar veelsydigheid en het onder meer 'n Juvenile Award, Golden Globe- en Grammy-pryse en 'n Spesiale Tony-toekenning gekry.
Garland is ook vir verskeie ander pryse benoem, onder meer vir Academy Awards vir beste aktrise in die herproduksie van A Star is Born en beste vroulike byspeler vir haar rol in die 1961-rolprent Judgment at Nuremberg. Op die ouderdom van 39 het sy die jongste ontvanger geword van die Cecil B. DeMille-prys vir haar lewenslange bydrae tot die rolprentbedryf.
Ná optredes in vaudeville-produksies saam met haar twee ouer susters is Garland as tiener deur Metro-Goldwyn-Mayer ’n kontrak aangebied. Sy het in meer as twee dosyn rolprente vir hulle opgetree, onder meer in nege saam met Mickey Rooney en in die 1939-film waarmee sy die meeste verbind sou word, The Wizard of Oz.[3]
Ná 15 jaar is sy vrygestel van haar kontrak, maar het hernieude sukses behaal deur konsertoptredes wat nuwe rekords opgestel het.
In 1997 is 'n Grammy Lifetime Achievement Award postuum aan haar toegeken. Verskeie van haar opnames is opgeneem in die Grammy Hall of Fame. In 1999 het die Amerikaanse Rolprentinstituut haar onder die tien grootste vroulike sterre in die geskiedenis van die Amerikaanse rolprentbedryf geplaas.[4]
Ondanks haar professionele sukses het Garland haar lewe lank persoonlike probleme gehad. Sy het oor haar voorkoms getwyfel weens regisseurs wat vir haar vertel het sy is onaantreklik en haar voorkoms op die skerm verander het. Sy het ook gereeld finansiële probleme gehad en het die belastinggaarder dikwels honderdduisende dollars geskuld.
Garland was vyf keer getroud; sy is van haar eerste vier mans geskei. Sy het tydens die grootste deel van haar loopbaan 'n stryd teen alkohol en dwelms gevoer en is op 47 jaar dood weens 'n oordosis dwelms. Sy het drie dogters gehad: Liza Minnelli, Lorna Luft en Joey Luft.
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Judy Garland. |