Kagiso Rabada | ||||||
---|---|---|---|---|---|---|
Kagiso Rabada in 2016 | ||||||
Gebore | 25 Mei 1995 Johannesburg, Suid-Afrika | |||||
Lengte | 1.91 | |||||
Kolfstyl | Linkshandig | |||||
Boulstyl | Regterarm snel | |||||
Rol | Snelbouler | |||||
Internasionale geskiedenis | ||||||
Nasionale span | Suid-Afrika | |||||
Toetsdebuut (no 323) | 5 November 2015 v Indië | |||||
Laaste Toets | 30 Maart 2018 v Australië | |||||
EDI debuut | 10 Julie 2015 v Bangladesj | |||||
EDI hempno. | 25 | |||||
T20I debuut (no 62) | 5 November 2014 v Australië | |||||
T20I hempno. | 62 | |||||
Eersterangse spaninligting | ||||||
Jaar(e) | Span | |||||
2013/14 | Gauteng | |||||
2014/15– | Lions | |||||
2016 | Kent | |||||
2017 | Delhi Daredevils | |||||
Loopbaanstatistiek | ||||||
Kompetisie | Toets | EDI | 1e rangs | A-lys | ||
Wedstryde | 30 | 48 | 48 | 66 | ||
Lopies aangeteken | 410 | 177 | 611 | 226 | ||
Kolfgemiddeld | 13.22 | 16.09 | 13.00 | 12.55 | ||
100s/50s | 0/0 | 0/0 | 0/0 | 0/0 | ||
Hoogste telling | 34 | 26 | 48* | 26 | ||
Aflewerings geboul | 5613 | 2,428 | 9,141 | 3,336 | ||
Paaltjies | 143 | 75 | 210 | 96 | ||
Boulgemiddeld | 21.59 | 27.57 | 22.95 | 30.36 | ||
5 paaltjies in 'n kolfbeurt | 9 | 1 | 11 | 1 | ||
10 paaltjies in 'n wedstryd | 4 | 0 | 5 | 0 | ||
Beste boulontleding | 7/112 | 6/16 | 9/33 | 6/16 | ||
Vangskote/Stonkings | 12/- | 13/- | 17/- | 17/- | ||
Bron: cricinfo, 3 April 2018 |
Kagiso Rabada (gebore 25 Mei 1995 in Johannesburg) is 'n Suid-Afrikaanse internasionale krieketspeler, wat in al die formate van die spel speel. Rabada, wat bekend is onder die bynaam KG,[1] is 'n snelbouler en speel plaaslike krieket vir die Highveld Lions. Hy het sy Proteabuiging in November 2014 gemaak in beperkte boulbeurtkrieket en die volgende jaar ook sy Toetsdebuut in November 2015. Hy het onder meer tydens die Kampioenetrofee 2017, die krieketwêreldbekertoernooie in 2019 en 2023, asook die T20I-wêreldbekertoernooie in 2016, 2021, 2022 en 2024 vir Suid-Afrika gespeel. Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 kon Suid-Afrika vir die eerste keer die eindstryd van 'n krieket- of T20I-wêreldbekertoernooi vir mans haal, maar hulle het naelskraap met sewe lopies teen Indië verloor.[2]
Rabada was op hoërskool by St Stithians Boys College, tot hy sy skoolloopbaan voltooi het in 2013. Teen Januarie 2018 was hy bo-aan beide die IKR-EDI-boulerranglys en die IKR-toetsboulerranglys op die jeugdige ouderdom van 22.
In Julie 2016 het Rabada die eerste speler geword om ses toekennings by Krieket Suid-Afrika (KSA) se jaarlikse dinee te ontvang, insluitend die prys as die Krieketspeler van die Jaar.[3]
Hy het in Desember 2013 sy debuut vir Gauteng in die KSA Provinsiale Eendagkompetisie teen die Grens gemaak.[4]
Hy is gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig tydens die 2014 IKR Onder-19 Krieketwêreldbeker. Suid-Afrika het die toernooi gewen, en hy was hul beste bouler met die tweede meeste paaltjies (14) in die toernooi teen 'n ekonomiekoers van 3.10.[5] Hy het ook die beste syfers van die toernooi behaal: 6/25 teen Australië A.[6] Dit het gelei daartoe dat hy die titel "vinnigste en mees gevreesde bouler in die kompetisie" toegedig is.[7]
Sy vertonings in die Onder 19-Wêreldbekertoernooi het hom na die Lionsspan gelanseer vir hul laaste twee wedstryde van die Sunfoilreeksseisoen. Hy neem 7 paaltjies vir 186 in hierdie twee wedstryde.[8]
In Februarie 2015 neem Rabada 'n rekord 14 paaltjies in 'n wedstryd vir die Lions teen die Dolphins, insluitend 9 vir 33 in die tweede beurt, sy 14 vir 105 is die beste syfers in die franchise-era van Suid-Afrikaanse krieket.[9]
In Februarie 2017 is hy vir INR 50 miljoen deur die Delhi Daredevils-span gekoop vir die 2017 Indiese Premierliga,[10] en weer in Januarie 2018 deur die Delhi Daredevils in die 2018 IPL-veiling.[11]
Hy het sy Twintig20 Internasionale debuut vir Suid-Afrika gemaak teen Australië op 5 November 2014.[12]
Hy het sy Internasionale eendagwedstryddebuut vir Suid-Afrika teen Bangladesj gemaak op 10 Julie 2015,[13] en behaal sy beste syfers van 6/16 tydens sy debuut.[14]
Hy word ook slegs die tweede speler, na Taijul Islam, om 'n driekuns op debuut te behaal in 'n eendagwedstryd.[15][16] Hy het sy toetsdebuut vir Suid-Afrika teen Indië gemaak op 5 November 2015.[17] In die vierde Toets in Engeland se 2015/16-toer van Suid-Afrika, het hy afgesluit met syfers van 13/144 en lei hiermee sy span tot 'n welverdiende oorwinning. In die proses, het hy die jongste Suid-Afrikaner geword om 'n tien-paaltjie-oes in 'n Toets te neem, en die syfers was sy span se tweede beste ooit, na Makhaya Ntini se 13/132.
Rabada se eerste tien paaltjie-oes in 'n toetswedstryd was in 2016 teen Engeland gedurende die 4de Toets op SuperSport-park in Centurion. Hy neem 13 paaltjies in die wedstryd, insluitend twee vyfpaaltjie-oeste, en behaal sy beste beurtboulsyfers van 7/112 in Engeland se eerste beurt.[18] Sy tweede tienpaaltjie-oes het in 2017 teen Sri Lanka op die Nuweland-krieketveld in Kaapstad gekom. Tydens die eerste Toets op Lord’s in Suid-Afrika se 2017-toer van Engeland, is Rabada geskors vir die tweede Toets op Trent Bridge na 'n onderonsie met Ben Stokes en die gebruik van "onvanpaste taal" na Stokes uitgehaal is op die eerste dag.[19]
Hy behaal syfers van 4/39 in die derde eendagwedstryd van die Suid-Afrikaanse toer in Engeland in 2017. Na aanleiding van sy prestasie in die wedstryd, skuif Rabada op tot die topposisie vir EDI-boulers in die wêreld, en verplaas sy landgenoot Imran Tahir soos per die IKR-EDI-boulranglys. Hy word ook die jongste speler (op ouderdom 22) om die top van die EDI-ranglys te bereik sedert Saqlain Mushtaq in 1998.
In die 1ste en 2de beurt van die eerste toets van die Indiese toer in 2018 op Nuweland behaal hy onderskeidelik 3/34 en 2/41. Na aanleiding van sy prestasie in die wedstryd, het Rabada hierna die toptoetsboulerposisie in die wêreld beklee volgens die IKR-boulranglys.
Op 9-12 Maart 2018, in die tweede toets teen Australië in Port Elizabeth, neem hy 11 paaltjies vir 150 lopies en wen uiteindelik die "speler van die wedstryd"-toekenning.[20] Hierdie prestasie het hom die boonste plek op die IKR-toetsboulranglys besorg met 902 punte. Hy het slegs die vierde Suid-Afrikaanse bouler geword om 900 punte verby te steek na Vernon Philander, Shaun Pollock en Dale Steyn.[21]
Sy pa is 'n dokter[22] en sy ma Florence 'n prokureur.[23]