Kama (Sanskrit, Pali, Devanagari: काम) beteken "begeerte, wens, hunkering" in die geskrifte van Hindoeïsme, Boeddhisme en Djainisme.[1][2][3] Kama beteken dikwels in Hindoe-, Boeddhistiese[3][4] en Indiese letterkunde[5] sensuele plesier, seksuele begeerte en ’n hunkering, maar die begrip verwys in ’n breër sin na enige begeerte, wens, passie en verlange daarna om die lewe te geniet, of na liefde of deernis.
Liefde kan met of sonder seksuele konnotasies wees.[3][6]
Kama is volgens Hindoeïsme een van die purusharthas, of doelwitte van ’n mens se lewe, asook een van die primêre behoeftes om te vervul tydens die verskillende fases van die lewe.[1][5][7]
Dit word beskou as ’n noodsaaklike en gesonde doel in ’n mens se lewe wanneer dit nagevolg word sonder om die ander drie doelwitte – dharma (etiek/pligte), artha (sukses/werk) en moksha (bevryding/vryheid van die siklus van dood en hergeboorte/verlossing) – in te boet.[1][7][8]