Kepler-186f | ||||
Eksoplaneet | ||||
![]() | ||||
Die grootte van Kepler-186f in vergelyking met dié van die Aarde. | ||||
Soort planeet | Superaarde | |||
Moederster | Kepler-186 | |||
Ster se eienskappe | ||||
Sterrebeeld | Swaan | |||
Regte klimming | 19h 54m 36.651s | |||
Deklinasie | +43° 57′ 18.06″ | |||
Skynmagnitude (m) | 14,625 | |||
Afstand (ligjaar) | 492 | |||
Metaalinhoud | -0,28 | |||
Spektraaltipe | M1V | |||
Planeet | ||||
Radius | 1,11 R⊕ | |||
Wentelperiode | 129,946 dae | |||
Ontdekking | ||||
Datum | 17 April 2014 | |||
Ontdekkers | Kepler-ruimteteleskoop | |||
Metode | Oorgang | |||
Status | Gepubliseer | |||
|
Kepler-186f is ’n eksoplaneet wat om die rooidwergster Kepler-186 wentel.[1][2][3] Dit is sowat 500 ligjare van die Aarde af[4] en is die eerste eksoplaneet met ’n radius min of meer dié van die Aarde wat in die bewoonbare sone van ’n ander ster gevind is. Nasa se Kepler-ruimteteleskoop het dit bespeur met die oorgangsmetode, saam met vier ander planete wat nader aan die ster voorkom – hulle is almal effens groter as die Aarde.[5] Dit is op 17 April 2014 aangekondig[5] en daarna in die tydskrif Science gepubliseer.[4]
Kepler-186f wentel elke 129,9 dae om ’n ster met sowat 4% van die Son se ligsterkte. Dit kom voor aan die buitenste rand van die bewoonbare sone, soortgelyk aan die posisie van Mars in die Sonnestelsel.[4] Die enigste fisiese eienskap wat direk afgelei kan word van die waarnemings, is die radius van 1,11 keer dié van die Aarde.[2][5] Dit is dus sowat 11% groter. Dit beteken die totale oppervlakte van Kepler-186f is sowat 23% groter en die volume sowat 37% groter as die aarde s'n.
Kepler-186f se ligging in sy ster se bewoonbare sone beteken nie noodwendig dat dit bewoonbaar is nie; dít hang ook af van sy atmosferiese eienskappe, wat onbekend is.[6] Die planeet is te ver om sy atmosfeer te bestudeer met bestaande teleskope, insluitende die James Webb-ruimteteleskoop.[2][7] ’n Eenvoudige klimaatmodel – waarin die planeet se moontlike vlugtige stowwe beperk is tot stikstof, koolstofdioksied en water, sonder inagneming van wolke – dui daarop dat sy oppervlaktemperatuur bo 273 K (0 °C) kan wees.[8]
Die ster se vier ander planete wat tot dusver ontdek is (b, c, d en e, volgens toenemende afstand van die ster af) is te naby aan die ster en dus te warm om vloeibare water te hê. Hulle het waarskynlik ’n sinchroniese rotasie, maar Kepler-186f is in ’n wyer wentelbaan, waar die ster se getykragte baie swakker is. Vanweë die stadige evolusie van rooidwerge is die Kepler-186-stelsel se ouderdom nie bekend nie, maar dit is waarskynlik ’n paar miljard jaar:[8] volgens onlangse studies sowat 4 miljard jaar.[9] Die kans dat dit ’n sinchroniese rotasie kan hê is sowat 50%.
Volgens ’n artikel van 2015 is Kepler-186f, Kepler-442b en Kepler-62f die waarskynlikste planete om lewe te huisves.[10] Studies in Junie 2018 het daarop gedui dat Kepler-186f dalk seisoene en ’n klimaat soortgelyk aan die Aarde s’n kan hê.[11][12]