Kopal is 'n sambreelterm vir verskillende boomharse van uiteenlopende oorsprong wat veral as wierook en vir die vervaardiging van verwe en vernisse van hoë gehalte gebruik word.
Die term kopal is aan die Meksikaans-Indiaanse taalgebruik ontleen waar na deursigtige harse as copalli verwys is. Kopal het in die antieke oudheid (en soms nog steeds in Engelssprekende gebiede) ook as anime bekend gestaan.
Kopal is 'n half-fossiele, natuurlike hars wat in teenstelling met vars harse deur 'n duidelik hoër graad van hardheid en daarmee gepaardgaande ook 'n hoër smeltpunt gekenmerk word.
In teenstelling met barnsteen, wat al miljoene jare gelede gevorm is, is kopal 'n verharde, subfossiele hars met ouderdomme tussen enkele dekades en enkele duisend jaar. Indien kopal aan asetoon of soortgelyke vloeistowwe blootgestel word, begin sy oppervlak klewerig en glibberig te word, terwyl hierdie chemiese substansies by barnsteen geen reaksie of effek het nie. Boonop is die smeltpunt van barnsteen (200 tot 380 °C) aansienlik hoër as dié van kopal (minder as 150 °C).
Kopal word sowel uit loofbome asook uit respektiewelik naaldbome en konifere soos byvoorbeeld Nieu-Seelandse kauri-bome verkry. Daar word egter ook kopal te koop aangebied waarvan die botaniese oorsprong nie sonder meer bepaal kan word nie, byvoorbeeld in gevalle waar die subfossiele hars van boomwortels diep in die grond gedring het en eers ontgin word nadat die bome lankal verdwyn het.
Daarnaas kan kopal – net soos barnsteen – deur seestrome na veraf geleë vindplekke gespoel word. 'n Ander gemeenskaplike kenmerk van kopal en barnsteen is fossiele van byvoorbeeld insekte of plantdele wat in die vloeibare boomgom vasgevang en gepreserveer is.
In die tydperk tussen 1853 en 1970 is meer as 100 000 ton subfossiele kauri-hars kauri-kopal) in Nieu-Seeland ontgin. In Meksiko word kopal as wierook gebruik, terwyl die Maya kopal ook ingespan het om die kleurpigment Maya-blou uit indigo en palygorskiet te vervaardig. Kopal was vroeër 'n beduidende natuurlike grondstof vir die vervaardiging van verwe en lakke,[1] tog bly die industriële gebruik deesdae beperk tot lakke van hoë gehalte wat vir instrumente en bote bestem is.
Die kommersiële waarde van kopal is aan sy hardheid gekoppel. Hoe harder die materiaal (en hoe hoër sy smeltpunt), hoe waardevoller is dit.
Die verskillende soorte kopal sluit onder meer in:
Kopal met organiese insluitings word daarnaas ook in Allendale in die Australiese deelstaat Victoria en in Minzunami, Japan aangetref.