Krieket Wes-Indië | |
---|---|
Krieket Wes-Indië
| |
Engelse naam | Cricket West Indies |
Afkorting | CWI |
Lande | |
Sportsoort | Krieket |
Stigting | 1920 |
Lid van | Internasionale Krieketraad |
Aangesluit op | 31 Mei 1926 |
Vastelandse beheerliggaam | IKR Amerikas |
President | Kishore Shallow |
Hoof- uitvoerende beampte | Johnny Grave |
Setel | St. John’s, Antigua en Barbuda |
Amptelike taal | Engels |
Amptelike webwerf | windiescricket.com |
Krieket Wes-Indië (Engels: Cricket West Indies, afgekort “CWI”), voorheen bekend as die Wes-Indiese Krieketbeheerraad (West Indies Cricket Board of Control, “WICBC”) en later die Wes-Indiese Krieketraad (West Indies Cricket Board, “WICB”), is die bestuursliggaam wat krieket beheer in Wes-Indië, d.w.s. die onafhanklike lande Antigua en Barbuda, Barbados, Dominica, Grenada, Guyana, Jamaika, St. Kitts en Nevis, St. Lucia, St. Vincent en die Grenadine en Trinidad en Tobago, asook die oorsese gebiede Amerikaanse Maagde-eilande Anguilla, Britse Maagde-eilande, Montserrat en Sint Maarten. Die beheerliggaam is in 1920 gestig en in St. John’s, Antigua en Barbuda, gesetel. Sedert 1926 verteenwoordig dit Wes-Indië by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n volle lid en ook by die IKR Amerikas (ICC Americas).
Die Wes-Indiese Krieketbeheerraad is in 1920 gestig. Op 31 Mei 1926 het die Wes-Indiese beheerliggaam saam met sy Indiese en Nieu-Seelandse eweknieë volle lede geword van die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) wat voorheen slegs uit die Marylebone-krieketklub (MKK) en verteenwoordigers uit Australië en Suid-Afrika bestaan het. Hulle mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys.[1][2] In 1996 is dit in die Wes-Indiese Krieketraad hernoem; sedert 2015 dra dié beheerliggaam die amptelike naam Krieket Wes-Indië.
In 2005 het ’n groot geskil tussen die Wes-Indiese Spelersvereniging en die Krieketraad in 2005 na vore getree. Die twispunt was klousule vyf van die toerkontrak wat aan die Krieketraad “die uitsluitlike en eksklusiewe reg om reëlings te tref vir borgskappe, advertering, lisensiëring, handelsware en promosie-aktiwiteite rakende WIKR of enige WIKR-span” besorg het. Die telekommunikasiemaatskappy Digicel was destyds die borg van die Wes-Indiese span, terwyl die meeste spelers kontrakte met Cable & Wireless onderteken het.[3] Hierdie geskil, saam met ’n geskil oor betalings, het beteken dat Wes-Indië uiteindelik ’n span sonder Brian Lara en ’n aantal ander spelers vir die Wes-Indiese toer na Suid-Afrika 2004/05 met Shivnarine Chanderpaul as kaptein aangekondig het.[4] Sommige van hierdie spelers het aan die einde nogtans aan die toer deelgeneem. Die geskil was nog nie beëindig nie, wat tot die afkondiging van ’n tweede span vir die toer na Sri Lanka in 2005 gelei het.[5] ’n Ooreenkoms is eers in November 2005 bereik,[6] en ’n volstoomspan is uiteindelik vir die toer na Australië in 2005/06 benoem. Te midde van hierdie geskille het Wes-Indië die Krieketwêreldbeker 2007 aangebied, die eerste in die Amerikas.
In 2009 het ’n nuwe geskil ontstaan toe baie seniorspelers besluit het om nie aan kwessies rakende betaling en kontrak met die beheerliggaam saam te werk nie. Die Wes-Indiese Krieketraad het toe ’n tweede span saamgestel wat aan die reeks teen Bangladesj en die Kampioentrofee deelgeneem het.[7] In 2012 het beide die IKR en die FIKV (Federasie van Internasionale Krieketspelersverenigings) besluit om in hierdie jarelange geskil te bemiddel.[8] In 2014 het nog ’n dispuut tussen die WIKR en die Wes-Indiese Spelersvereniging (WIPA) daartoe gelei dat die span se Indiese toer ingekort is. Die twispunt was ’n uitgerekte betalingstruktuur tussen die spelers, die beheerliggaam en die spelersvereniging.[9] In 2015 het spelers hulself nie vir toetse beskikbaar gestel nie en met Jason Holder wat die rol van kapteinskap betree het is hulle met groot wantroue tussen veteraanboulers en Holder en die administrasie en keurders teëgekom. As gevolg hiervan het Wes-Indië tussen 1995 en 2015 21 toetswedstryde met ’n beurt verloor; vanaf 1966 tot 1995 het die span nooit meer as vier wedstryde met ’n beurt verloor nie.[10]
Krieket Wes-Indië organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Wes-Indië se nasionale seniorkrieketspan vir mans (die Windies of Men in Maroon), vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is Krieket Wes-Indië verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Wes-Indiese span.
Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Wes-Indië. Net soos ander krieketlande beskik Wes-Indië oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[11] Wes-Indië A is die tweede nasionale span van Wes-Indië en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Wes-Indië is die Regional Four Day Competition in eersterangse krieket (agt spanne), die Super50 Beker in EDI-krieket (agt spanne) en die Karibiese Premierliga in T20-krieket (ses spanne).
Krieket Wes-Indië organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het reeds opgetree as gasheer van die Krieketwêreldbeker 2007 en die T20I-wêreldbeker 2010. Wes-Indië het saam met die Verenigde State ook die T20I-wêreldbeker 2024 aangebied.[12]
Aangesien die Wes-Indiese krieketspan ’n verskeidenheid onafhanklike lande en afhanklike gebiede verteenwoordig, gebruik hulle nie ’n nasionale vlag nie. Die Wes-Indiese Krieketraad gebruik derhalwe ’n embleem met ’n palmboom en krieketpaaltjies op ’n klein sonnige eiland. Dié embleem, op ’n maroen agtergrond, vorm die Wes-Indiese vlag. Die agtergrond het soms ’n wit baan bo ’n groen baan wat deur ’n maroen baan verdeel word, wat horisontaal deur die middel van die agtergrond loop.[13] Voor 1999 het die WIKR ’n soortgelyke embleem met ’n koolpalm op ’n eiland gebruik, maar daar was nie paaltjies nie en pleks van die son is die sterrebeeld Jagter uitgebeeld. Dit is in 1923 ontwerp deur Sir Algernon Aspinall, die destydse sekretaris van die Wes-Indiese Komitee.[14]