Krygswet (ook bekend as 'n staat van beleg) word in 'n noodtoestand afgekondig. Dan word die Grondwet en alle ander wetgewing tydelik opgeskort en die land deur die weermag regeer.
As tydens 'n oorlog, binnelandse oproer, burgeroorlog of na 'n staatsgreep die veiligheid en voortbestaan van die land bedreig word, het die president van die land gewoonlik die magte om krygswet in te stel om die staat en sy burgers te beskerm. Met hierdie optrede in belang van die nasionale veiligheid word alle landswette tydelik opgehef en kom die oppergesag in die hande van die militêre bevelhebbers. Die burgerlike regering word dus deur 'n militêre regering vervang om wet en orde te handhaaf. Dan het die weermag die uitvoerende gesag en gebruik drastiese maatreëls om orde te handhaaf. Die burgerlike howe word tydens krygswet gewoonlik deur 'n krygsraad vervang. Dit druis in teen menseregte soos die persoonlike en politieke vryheid van die individu, die beskerming van sy regte, regverdigheid en geregtigheid. Krygswet kan ook na natuurrampe soos aardbewings en oorstromings verklaar word. Die woord krygswet word in die moderne tyd al minder gebruik. Teenswoordig word liewer 'n noodtoestand verklaar en noodmaatreëls getref, omdat dit meer aanvaarbare regsgevolge het. Krygswet is nie soseer 'n wet nie as 'n vrymag vir die militêre bevelvoerder van 'n distrik om sy eie oordeel te gebruik soos die oorlogsituasie dit vereis. Die manier waarop dit toegepas word, hang baie af van die betrokke bevelvoerder. Ongelukkig plaas dit soms te veel mag in juis die verkeerde persoon se hande. Hierdie absolute mag laat die weg oop vir magsmisbruik en die bevolking kan hulself nie beskerm deur hulle tot die Hooggeregshof of ander howe te wend nie. Dit druis dus direk in teen die menseregte. Sodra krygswet opgehef word, word die soldate wat in hul optrede redelike perke oorskry het en verder gegaan het in hul optrede as wat billik was in die omstandighede, voor die howe gedaag. Daarom word daar gewoonlik 'n vrywaringswet aangeneem om die soldate wat te goeder trou opgetree het, te beskerm.
In 1989 is Krygswet verklaar in China na die proteste op die Tiananmen-plein.[1]
Op 28 Februarie 1933 is Krygswet verklaar in Duitsland deur President Paul von Hindenburg.[2]
Krygswet is verskeie kere in Egipte verklaar. Byvoorbeeld van 1914 tot 1923 as 'n gevolg van die Eerste Wêreld oorlog.[3] Op 26 Januarie 1952 het Koning Farouk krygswet verklaar en het die waarnemende Wafd-regering afgedank.[4]
’n Noodtoestand is afgekondig ná die November 2015 Parys-aanvalle, wat, ná vyf verlengings, in November 2017 verval het.[5][6][7][8][9]
Krygswet is verskeie kere in Ierland verklaar, insluitend tydens die Paasopstand van 1916, die Ierse Vryheidsoorlog en die Ierse Burgeroorlog.
Krygswet is in Japan ingestel tydens konflikte tussen 1894 en 1945, en tydens heropbou na die Tweede Wêreldoorlog. Die keiserlike Japannese leër het krygswet gebruik om besette gebiede te beheer.
Die Wet op Noodgevalle is die huidige wet wat die Kanadese regering noodbevoegdhede gee.
Die Wet op Noodgevalle kan ingeroep word wanneer daar 'n ernstige bedreiging vir die lewens, gesondheid of veiligheid van Kanadese is. Dit kan ook ingeroep word wanneer daar 'n bedreiging vir Kanada se soewereiniteit is.
Krygswet is op 7 Oktober 1958 in Pakistan afgekondig deur president Iskander Mirza.
Krygswet is op 13 Desember 1981 deur generaal Wojciech Jaruzelski in die Poolse Volksrepubliek ingestel om te verhoed dat die buiteparlementêre opposisie gewildheid en politieke mag in die land verkry. Duisende mense wat met die Poolse vakbond Solidarność ("Solidariteit") verbind word, insluitend Lech Wałęsa, is arbitrêr gearresteer en aangehou.
Die Pruisiese staatsgreep van 1932 het op 20 Julie 1932 plaasgevind toe Rykspresident Paul von Hindenburg, op versoek van Franz von Papen, destydse Rykskanselier van Duitsland, die wettige regering van die Vrystaat Pruise met von Papen as Rykskommissaris. ’n Tweede dekreet het dieselfde dag die uitvoerende mag in Pruise aan die Ryksminister van die Gewapende Magte Kurt von Schleicher oorgedra en fundamentele regte beperk.
Krygswet is verklaar in Augustus 1991 in die Sowjet-Unie na 'n mislukte staatsgreep.
In 1923 het generaal Miguel Primo de Rivera beheer oor die regering oorgeneem en krygswet afgekondig na 'n militêre rebellie in Barcelona. Hy het die 1876-grondwet opgeskort en as 'n diktator geregeer.
Tydens die Spaanse Burgeroorlog het krygswet tot 1948 in Franco se Spanje gebly.
In Suid-Afrika word die verklaring van 'n noodtoestand gereël deur seksie 37 van die Grondwet en die Noodtoestandwet, 1997. Hiervolgens kan 'n noodtoestand vir slegs 21 dae verklaar word en kan slegs met toestemming van die Parlement tot drie maande verleng word. Maar op voorwaarde dat die Grondwethof die verklaring van 'n noodtoestand goedkeur. In die geval van 'n verlenging moet dit by die Verenigde Nasies aangemeld word. Goew. J.W. Janssens het op 4 Januarie 1806 op die vooraand van die Slag van Blaauwberg krygswet afgekondig. In September 1902 is krygswet in die Kaapkolonie opgehef nadat die Tweede Vryheidsoorlog beëindig is. In die Eerste Wêreldoorlog sowel as die Tweede Wêreldoorlog is daar krygswet in Suid-Afrika verklaar. Tydens die 1922-staking aan die Witwatersrand is krygswet afgekondig en hardhandig opgetree teen die stakers. Vanaf 30 Maart tot 31 Augustus 1960 was daar 'n verklaarde noodtoestand in 122 van die land se 265 landdrosdistrikte. Dit het plekke ingesluit soos Sharpeville, Langa, Mbekweni, Soweto en KwaMashu en is die ANC en die PAC verbied. En tydens die noodtoestand van Februarie 1963 is tientalle Poqo- en ANC-lede gearresteer. Op 20 Julie 1985 is die noodtoestand in sekere landdrosdistrikte afgekondig na UDF-optrede, die polisie in Maart in Uitenhage op 'n vreedsame skare skiet en op 16 Junie bomme in Durban en Johannesburg ontplof. Minder as 'n jaar later, op 12 Junie 1986, is 'n nasionale noodtoestand verklaar en aan die einde van daardie maand was meer as 20 000 mense in aanhouding.
Krygswet is verklaar op 3 Desember 2024 in Suid-Korea.
Op 19 September 2006 het die Royal Thai Armed Forces krygswet afgekondig na 'n bloedlose militêre staatsgreep in die Thaise hoofstad Bangkok, wat verklaar is terwyl premier Shinawatra in New York was om die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering toe te spreek.
Frankryk het op 27 Maart 1952 krygswet in Tunisië afgekondig en die premier (Mohammed Chenik) en drie lede van sy anti-Franse regering gearresteer.[10]
President Abraham Lincoln het krygswet in verskeie deelstate verklaar tydens die Amerikaanse Burgeroorlog om verskille teen die Unie te onderdruk. Krygswet het die weermag toegelaat om mense in hegtenis te neem en aan te hou, en om hulle in militêre tribunale in plaas van burgerlike howe te verhoor.
Krygswet gee aan die militêre owerhede die vrymag om in elke aspek van die individu se lewe in te meng. Dus het die maatreëls deur hulle getref altyd en op alle lewensterreine 'n ontwrigtende en beperkende uitwerking op die burgerlike bevolking. Tipiese kenmerke van krygswet is 'n aandklokreël, perssensuur, verbod op publikasies, konfiskering van vuurwapens, ammunisie en dinamiet in privaatbesit, beperking op beweginsvryheid, meningsuiting en vergaderings, deursoek van briewe en pakkies, interneringskampe, gevangesetting van verdagtes sonder verhoor, deportasie en die deursoek van eiendom. Fabrieksbase word soms beveel om hul produksie van 'n sekere produk te staak en 'n produk te vervaardig wat in die oorlogspoging van belang is. Die bevele is in bepaalde gevalle nog aangevul met die beslaglegging op voedselvoorrade, waens, fietse, perde, muile, donkies, saals en tooms. Gevolglik is boerdery- en handelsaktiwiteite gestrem of soms selfs gestaak. Dikwels is daar beperkings geplaas op die hoeveelheid voedsel vir mens en dier wat elke huishouding kon aanhou om te verhoed dat dit in die hande van die vyand val. Ook kon soms geen voedsel van die plase na die dorpe vervoer word sonder skriftelike toestemming nie. As 'n persoon van een na 'n ander dorp wou reis, moet hy 'n reispermit bekom en slegs sekere roetes uit die dorp na die plase in die distrik mag gevolg word. Soms moes die ligte van woonhuise gedemp word en 'n lys van die inwoners aan die voordeur bevestig word. Die burgerlike bevolking in die Kaapkolonie is tydens die Tweede Vryheidsoorlog in sekere streke verbied om khaki-klere te dra. Ook mag toe geen groot vure op heuwels aangesteek word nie uit vrees dat dit moontlik seine aan die Boere-kommando's kon wees.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Martial law. |