| ||||
Ligging van Lebowa in Suid-Afrika | ||||
Hoofstad | Lebowakgomo | |||
Taal/Tale | Noord-Sotho | |||
Regering | Republiek | |||
Wetgewer | Parlement | |||
Historiese tydperk | Apartheid | |||
- Stigting | 2 Oktober 1972 | |||
- Weer ingelyf in Suid-Afrika | 27 April 1994 | |||
Oppervlakte | ||||
- 1994 | 21 833 km2 8 430 sq mi | |||
Bevolking | ||||
- 1994 skatting | 2 924 584 | |||
Digtheid | 134 /km² 346,9 /sq mi | |||
Geldeenheid | Suid-Afrikaanse Rand |
Lebowa (beteken Noorde in Noord-Sotho) was 'n voormalige Bantoestan (tuisland) in die noordooste van Suid-Afrika. Dit het bestaan uit twee (groter) ingeslote en 'n hele aantal kleiner gebiede, versprei deur die vorige Suid-Afrikaanse provinsie van die Transvaal. Die hoofstad was Lebowakgomo. Die tuisland was geskep om Noord-Sothosprekende mense te huisves.
Seshego het aanvanklik as die hoofstad van Lebowa opgetree terwyl die doelgeboude Lebowakgomo in aanbou was. Op 2 Oktober 1972 is interne selfregering aan Lebowa verleen, wat vir 'n groot deel van sy bestaan onder Cedric Phatudi se regering gestaan het. Die gebied was nie aaneenlopend nie, en is in twee groot en verskeie klein gedeeltes verdeel.[1] Selfs al het Lebowa groot dele van Sekhukhuneland[2] ingesluit, was dit ook die tuiste van verskeie nie-Noord-Sothosprekende stamme, insluitend die Noord-Ndebele, Batswana en die Tsongas.
Na die eerste demokratiese Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1994, is die tuisland heringelyf by die Republiek van Suid-Afrika, en wel grootliks as deel van die Limpopoprovinsie.
Die naam "Lebowa" is 'n argaïese spelling van die Noord-Sothowoord "leboa" wat "noord" beteken. Die naam is gekies as 'n kompromie tussen die verskillende Noord-Sothogroepe waarvoor dit ontwerp is.
Die Noord-Sotho Nasionale Eenheid is op 1 Junie 1960 gestig in die uitvoering van afsonderlike ontwikkeling. Dit is geskep om 'n tuisland te wees vir Noord-Sotho-volke soos die Bapedi, Batlokwa, Babirwa, Banareng, Bahananwa, Balobedu, Bakone, Baroka, Bakgakga, Bahlaloga, Batau, Bakwena, Baphuthi, Batlou en vele ander. Op 2 Oktober 1972 het dit interne selfregering gekry en is na Lebowa herdoop.[3] Vanaf die 1950's tot die 1970's is duisende mense deur gedwonge verskuiwings uit hul gemeenskappe verwyder en na Lebowa verskuif.[4]
Die eerste swart leier van die gebied was Mokgoma Maurice Matlala wat deur die apartheidsowerhede uitgekies is. Hy het eers die Noord-Sotho Nasionale Eenheid as sy Uitvoerende Hoofraadslid vanaf Augustus 1969 tot 2 Oktober 1972 gelei, toe hy die Uitvoerende Hoofminister van Lebowa geword het. Die volgende jaar van 1973 op 3 Mei het Mokgoma se Lebowa Nasionale Party die eerste verkiesings van die tuisland teen die Lebowa People's Party verloor en dr. Cedric Phatudi het oorgeneem. Hy het voortgegaan om nog twee herverkiesings in 1978 en 1983 te wen, maar is in sy derde termyn in 1987 oorlede. [5] ZT Seleka is aangestel as die tussentydse leier van die tuisland. Na verkiesings het Mogoboya Nelson Ramodike die Uitvoerende Hoofminister geword tot 1989 toe dit die kantoor van die Eerste Ministerie geword het.[6]
Op 24 April 1994 het Nelson Ramodike bedank en die tuisland het geen aktiewe administrasie gehad tot 27 April toe dit weer by Suid-Afrika geïntegreer is nie.
Die oorgrote meerderheid van sy grondgebied het deel geword van die nuutgevormde provinsie Noord-Transvaal (nou Limpopo) en 'n kleiner gedeelte het die nuutgeskepte Oos-Transvaal-provinsie (nou Mpumalanga) gevorm.
Distrikte van die provinsie en bevolking volgens die 1991-sensus.[7]
• Namakgale: 55 441 (LEB-13)
• Bolobedu: 196 669 (LEB-7)
• Sekgosese: 124 425 (LEB-10)
• Bochum: 149 869 (LEB-11)
• Mokerong: 446 155 (LEB-3)
• Seshego: 302 676 (LEB-4)
• Thabamoopo: 353 193 (LEB-1)
• Nebo: 324 909 (LEB-5)
• Sekhukhuneland: 404 335 (LEB-2)
• Naphuno: 167 665 (LEB-8)
• Mapulaneng: 215 250 (LEB-12)
• Botlokwa (LEB-10)
• Moutse-distrik (LEB-9?)
• Gaseleka (LEB-3)
• Praktiseer (LEB-6)
Moutse-distrik is in 1980 vanaf Lebowa, ten spyte van opstandige weerstand, amptelik by KwaNdebele geïntegreer.[8]