Leo IV-dwergsterrestelsel | ||||
Leo IV is een van meer as ’n dosyn dowwe dwergsterrestelsels wat deel vorm van die Melkweg-subgroep. | ||||
Soort stelsel | Dwergsterrestelsel | |||
Sterrebeeld | Leeu (Leo) | |||
Tipe | dSph | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 11h 32m 57s | |||
Deklinasie | -00º 32' 00" | |||
Skynmagnitude | 15,9 | |||
Besonderhede | ||||
Afstand (ligjaar) | 590 000 | |||
Skynbare grootte | 5′,7 | |||
Kenmerke | Melkwegsatelliet | |||
Ander name | Geen | |||
|
Die Leo IV-dwergsterrestelsel is ’n satellietstelsel van die Melkweg in die sterrebeeld Leeu (Leo). Dit is in 2006 ontdek in data van die Sloan- Digitale Lugopname.[1] Die stelsel is sowat 590 000 ligjare van die Son af en beweeg weg van die Son teen ’n snelheid van sowat 130 km/s.[1]
Leo IV is een van die Melkweg se kleinste en dofste satellietstelsels. Dit het ’n absolute magnitude van −5,5, wat laer is as ’n tipiese bolvormige sterreswerm. Dit het egter ’n massa van 1,5 miljoen sonmassas. Die verhouding tussen ligsterkte en massa is sowat 150, en so ’n groot verhouding dui daarop dat Leo IV oorheers word deur baie donkermaterie.
Die sterre in Leo IV is meestal ouer as 12 miljard jaar, byna so oud soos die heelal self, en is arm aan metale. Hulle is meestal rooi reuse, hoewel ’n paar veranderlike RR Lyrae-sterre en ’n klein aantal sterre van jonger as 2 miljard jaar ook ontdek is. Dit dui daarop dat die geskiedenis van stervorming in Leo IV baie kompleks is.[2] Daar vind tans geen stervorming plaas nie.
In 2008 is nog ’n sterrestelsel, die Leo V-dwerg, naby Leo IV gevind. Dié twee stelsels kan fisiek gebonde wees.[3]