| |||||
Nasionale leuse: Für Gott, Fürst und Vaterland (Duits vir: "Vir God, Prins en vaderland") | |||||
Volkslied: Oben am jungen Rhein (Duits vir: "Bo die jong Ryn") | |||||
Hoofstad | Vaduz | ||||
Grootste stad | Schaan | ||||
Amptelike tale | Duits | ||||
Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike monargie Hans-Adam II Erfprins Alois Daniel Risch | ||||
Onafhanklikheid | van die Heilige Romeinse Ryk 1806 1866 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
160[1] km2 (189ste) 62 myl2 2,7 | ||||
Bevolking - 2020-skatting - 2000-sensus - Digtheid |
38 250[2] (209de) 37 132[3] 227 / km2 (57ste) 587 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2010-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2010-skatting | ||||
MOI (2019) | 0,919[7] (19de) – baie hoog | ||||
Geldeenheid | Switserse frank (CHF )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
MET (UTC+1) MEST (UTC+2) | ||||
Internet-TLD | .li | ||||
Skakelkode | +423 |
Liechtenstein (Duits: [ˈlɪçtn̩ʃtaɪn], ), amptelik die Prinsdom Liechtenstein (Duits: Fürstentum Liechtenstein), is 'n klein onafhanklike staat en landingeslote land in Sentraal-Europa wat aan die regteroewer van die Ryn in die geografiese driehoek tussen die Oostenrykse deelstaat Vorarlberg in die ooste en die Switserse kantonne Graubünden en St. Gallen in die weste geleë is.
Liechtenstein is 'n bergagtige gebied aan die voet van die oostelike Alpe met 'n Alpyns-gematigde klimaat. Die land staan bekend vir sy posseëls, wat nog steeds 'n belangrike bron van inkomste is, as 'n toerisme- en hier veral wintersportbestemming, maar is waarskynlik nog meer bekend as belastingtoevlugsoord.
Liechtenstein trek voordeel uit sy ligging by die kruispunt van belangrike handelsroetes wat Switserland met Oostenryk en Duitsland met die Switserse Alpegebied en Noord-Italië verbind.
Liechtenstein het in 1806 as soewereine staat tot die Rynbond toegetree en ná die ontbinding van die Duitse Bond in 1866 as onafhanklike vorstedom voortbestaan.
Die land vorm sedert 1923 'n monetêre en doeane-unie met Switserland wat ook sy buitelandse belange waarneem. Na die Tweede Wêreldoorlog het Liechtenstein vinnige ekonomiese groei ervaar danksy die suksesvolle kombinasie van tegniese kundigheid uit Switserland en Oostenryk met buitelandse beleggings. Die land beskik oor 'n hoogs gespesialiseerde nywerheids- en dienstesektor, terwyl tradisionele landbou steeds minder belangrik word.
Op 23 Januarie 1719 is die graafskap Vaduz en die gebied van Schellenberg volgens 'n diploma van keiser Karel VI verenig. Die nuwe entiteit se politieke status is verhef tot dié van 'n Ryksvorstedom wat Liechtenstein genoem is. Die vorstedom het destyds 'n oorwegend landelike karakter gehad, met boeredorpe as sy enigste nedersettings. So is die vorstedom se administrasie voorlopig in die mees nabygeleë stad – Feldkirch in Vorarlberg – gevestig waar die vors 'n paleis, die Palais Liechtenstein, as sy regeringsetel laat bou het.
Volgens die grondwet van 1921, wat in 2003 gewysig is, is Liechtenstein 'n erflike konstitusionele monargie op 'n demokratiese en parlementêre grondslag. Die prins van Liechtenstein fungeer as staatshoof. Die huidige staatshoof, prins Hans-Adam II von und zu Liechtenstein, wat sedert 1989 regeer het, het op 15 Augustus 2004 sy funksies as staatshoof aan sy eersgebore seun erfprins Alois oorgedra, alhoewel hy nog steeds die titel "prins" dra en formeel die staatshoof gebly het.
Die Liechtensteinse parlement (Duits: Landtag) word vir 'n termyn van vier jaar verkies. In die laaste verkiesing op 3 Februarie 2013 het die Fortschrittliche Bürgerpartei (FBP) die grootste party in die parlement gebly (met tien van altesaam 25 setels). Die nuwe regering word deur 'n koalisie van die FBP en die Vaterländische Union ("Vaderlandse Unie") gevorm. Opposisiepartye in die Landtag is die Freie Liste, 'n groen-alternatiewe party met drie setels, en Die Onafhanklikes (Die Unabhängigen) met vier afgevaardigdes.
Die huidige regeringshoof Daniel Risch (VU) is op 25 Maart 2021 ingesweer. Dominique Hasler (VU) beklee die amp van minister van buitelandse sake.
Liechtenstein se bevolking is op 30 Junie 2013 op 36 982 beraam van wie 33,6 persent buitelanders was. Van die buitelandse bevolking, wat Liechtenstein se tegniese mannekragbron aanvul, het sowat dertig persent Switserse en elf persent Duitse burgerskap gehad.
Ander belangrike groepe buitelanders is Italianers (3,3 persent), burgers van die voormalige Joego-Slawië (eweneens 3,3 persent), Turke (2,6 persent) en burgers van ander lande (4,8 persent).
Die grootste nedersettings is Schaan (5 639 inwoners in 2003 en tans die grootste dorp in Liechtenstein), die hoofstad Vaduz (5 005 inwoners), Triesen (4 633), Balzers (4 353), Eschen (3 993), Mauren (3 625) en Triesenberg (2 591).
Liechtenstein maak histories deel uit van die Retoromaanse taalgebied, tog neem die inwoners reeds gedurende die Middeleeue die Alemanniese dialek as omgangstaal aan.
Die huidige Liechtensteinse bevolking praat 'n Alemanniese dialek van Hoogduits as omgangstaal. Hierdie dialek word ook oorkant die grens in die Switserse Rynvallei van Sankt Gallen en die Oostenrykse Rynvallei van Vorarlberg as spreektaal gebesig. Daar bestaan nie so iets soos 'n standaardtaal nie, en gewoonlik beskik die meeste dorpe oor hulle eie plaaslike dialek, wat soms sterk van dié in ander dorpe verskil. Die Walserse dialek in die omgewing van Triesenberg toon die grootste afwykings; sy huidige sprekers is nasate van die Walserse immigrante wat in omtrent jaar 1300 na Liechtenstein gekom het.
Die Hoogduitse standaardtaal dien – in sy Switserse variant – as skryftaal. Switserse Duits verskil in baie opsigte van Duitsland se taalvariant – so is daar 'n meervoudsvorm van Hektar, word ß steeds as ss gespel en vir syfers groter as 999 'n spasie of die tipografiese apostroof gebruik (1'000). Die laasgenoemde is buite Switserland en Liechtenstein ongebruiklik.
Liechtenstein erken slegs Duits as sy staats- en ampstaal, terwyl die ander lande van die Duitse taalgebied ook die tale van etniese minderhede as streektale erken. Daarnaas is Liechtenstein ook die enigste oorwegend Duitssprekende land wat nie aan Duitsland grens nie.
Liechtenstein is 'n land met 'n sterk Christelike karakter. Die Rooms-Katolieke Kerk word in die Liechtensteinse grondwet amptelik erken as "landskerk" (maar nie as staatskerk nie – so word ook die Protestantse Evangeliese Kerk finansieel deur die staat gesteun). Volgens 'n opname in Junie 2003 is 75,7 persent van die in- en uitheemse bevolking Rooms-Katoliek, 7 persent is Protestante, 4,2 persent Moslems en 10,9 persent het geen besonderhede verstrek nie.
Die aartsbisdom Vaduz is op 2 Desember 1997 deur Pous Johannes Paulus II opgerig. Aangesien die Liechtensteinse regering nie vooraf oor hierdie saak geraadpleeg is nie, het die pous se beslissing baie kritiek uitgelok. Vroeg in 1998 het aktiewe Rooms-Katolieke gelowiges die Verein für eine offene Kirche ("Vereniging vir 'n oop kerk") gestig.
Die plaaslike nywerheidsektor, wat hom op die vervaardiging van spesiale produkte van hoë gehalte toespits, lewer die grootste bydrae tot Liechtenstein se bruto binnelandse produk. Die belangrikste handelsvennote van Liechtenstein is die Verenigde State, die Europese Unie en Switserland.
Die bekendste ondernemings van die nywerheidsektor is Hilti AG (booruitrusting en boumasjiene), Ivoclar Vivadent AG (tandheelkundige tegnologie), ThyssenKrupp Presta AG (motoronderdele), Hoval AG (verwarmings- en lugreëlingstegnologie), Neztrik AG (elektrotegniese produkte), Unaxis (elektroniese produkte) en die Hilcona AG en Ospelt-groep, wat hulle albei op die vervaardiging van hoëwaarde voedselprodukte toespits.
Die tweede belangrikste sektor van die Liechtensteinse ekonomie is finansiële dienste. Die plaaslike bankbedryf het saam met die vinnige industrialisering van die land ontwikkel, maar word deur buurlande verdag gemaak, as om by geldwassery betrokke te wees.
Die grootse bankondernemings is die Liechtensteinische Landesbank, die Verwaltungs- en Privatbank en die LGT Bank. Naas hierdie drie groot inheemse banke het ook ander banke lisensies gekry sedert die jaar 1992, waaronder 'n aantal buitelandse ondernemings. Die vyf grootste banke van Liechtenstein het tans 1 400 werknemers in diens en beskik oor bates ter waarde van meer as 30 miljard frank. Net soos in Switserland word daar groot waarde aan die bankgeheim geheg.
Die Switserse frank is die wettige betaalmiddel in Liechtenstein, alhoewel die land vir spesiale geleenthede ook sy eie munte uitreik. Die bruto binnelandse produk (BBP) beloop in 2001 4,2 miljard frank, wat gelykstaan aan 'n per capita-BBP van sowat 120 000 frank (580 000 ZAR). Die sektore se aandeel in 2001 was: landbou 6 persent, nywerhede 39 persent en dienste 55 persent.
In 2003 is goedere ter waarde van 3,193 miljard Switserse frank uitgevoer, waarvan 31 persent masjiene en elektroniese toerusting, 31 persent metaalware, halfvervaardigde en vervaardigde produkte, 10 persent ru-olie, metale, boumateriale en chemiese produkte, 10 persent motors en ander vervoermiddels, 10 persent glasware, keramiek en tekstiele en 8 persent landbouprodukte en verwerkte voedsel. Die belangrikste bestemmings vir Liechtensteinse uitvoere was Duitsland (24 persent), die Verenigde State (17 persent), Frankryk (11 persent), Oostenryk (9 persent) en Italië (7 persent).
In Liechtenstein word een week- en twee dagblaaie uitgegee. Die dagblad Liechtensteiner Vaterland het die grootste drukoplaag met daagliks 10 000 eksemplare, terwyl die Liechtensteiner Volksblatt se gemiddelde daaglikse oplae 9 000 beloop. Die weekblad Liechtensteiner Woche (kort Liewo) verskyn op Sondae in dieselfde uitgewery soos die Vaterland met 'n drukoplaag van 37 500 en 'n groot advertensie-gedeelte. Die weekblad word gratis versprei.
Met Radio Liechtenstein beskik die prinsdom oor sy eie radiostasie wat sedert 2003 as openbare uitsaaier bedryf word. Radio Ri, 'n stasie met setel in die Switserse dorp Buchs, saai programme vir die hele Rynvallei uit, terwyl ook enkele Liechtensteinse munisipaliteite oor hul eie plaaslike stasies beskik.
Liechtenstein se televisiekanaal Landeskanal word as openbare uitsaaier deur die Pers- en Inligtingskantoor van Liechtenstein bedryf. Die enigste privaat uitsaaier is 1 FL TV.
Die posdiens in Liechtenstein is oorspronklik deur die Switserse Posdiens (Schweizerische Post AG) verskaf. Op 19 November 1999 is 'n nasionale posdiens gevestig volgens die Switserse voorbeeld gevestig, die Liechtensteinische Post AG, wat nege poskantore bedryf. 75 persent van die aandele in hierdie onderneming is in besit van die Prinsdom Liechtenstein, die ander 25 persent word deur die Switserse Posdiens gehou.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Liechtenstein. |